BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 12 Mei 2016

GOD IS DRIE-ENIG

- en Hy is as Drie-enige God betrokke by ons verlossing! 


Die lewende God openbaar Homself aan die mens as ‘n Drie-enige God - Vader, Seun en Heilige Gees! Dis seker die mees kern belydenis en waarheid van die Christelike geloof.* Dis nie bloot ‘n ingewikkelde mens uitgedinkte teorie nie, dis ‘n praktiese en heerlike werklikheid. Die Bybel in geheel (nie net enkele tekste nie) beskryf God  so en ons wat sy kinders is beleef dit so. Hierdie God as drie-enige God maak ‘n heerlike verskil in sy kinders, ‘n verskil wat sigbaar word in nuwe lewens. Ongelukkig bestaan daar dikwels groot onkunde oor die Drie-eenheid , mens hoor partykeer iemand bid : “Vader, dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het.” Dis nie soos die Bybel praat nie! (Die Vader het nie vir ons gesterf nie, die Seun het) God openbaar Homself nie net as Drie-enige God nie, Hy is betrokke by ons as Drie-enige God. As Drie-enige God kies Hy ons, roep ons, red ons, bewaar ons, heilig ons en uiteindelik gaan Hy ons verheerlik en vervolmaak . 

Die Almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees is by jou redding betrokke! Dit kom onder andere so duidelik in hierdie groetwoord van Petrus aan die begin van sy brief aan die verstrooide Christene na vore. 

"Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!" (1 Petrus 1:1,2)

Kind van God, jou redding is baie groter, vaster en heerliker as wat jy besef. Ons beperk ons siening van redding dikwels tot die aanneming van Jesus en natuurlik kry ons die duidelike opdrag om in Jesus te glo, Hom aan te neem, na Hom te kom (als sinonieme), en ja, dis ‘n kernmoment, maar ons verlossing is baie meer omvattend. Ons verlossing is niks minder as ‘n omvattende Goddelike ingryping nie! ‘n Magtige wonderwerk van die Drie-enige God. Daarom is ons verlossing vas en seker, ewige en heerlik! Ons geloof is trinitaries – dis ‘n geloof in die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons moet dit nie verskraal nie! 

Hier in die Pinkstertyd gaan die klem val op die unieke en heerlike werk van die Heilige Gees, maar ter aanvang gaan ons net so oorsigtelik kyk na die rol van die Vader, Seun en Heilige Gees in ons redding:

Vader : Van ewigheid het Hy ons verlossing beplan en vir Hom mense uitgekies. Dit word juis so heerlik beklemtoon deur Petrus omdat die Christene vir wie hy skryf eers heidene was wat uitgesluit was van God se verbond en beloftes. Hy wil sê : “Ja, ook julle is uitgekies, julle wat eens ver was en glad nie deel van God se volk nie!” (Sien 1 Petrus 2:10) Dis duidelik, God die Vader het ons verlossing geïnsinieer, Hy het Jesus gestuur om ons verlossing te bewerk! Hy het ons van ewigheid af lief!

Heilige Gees : (Petrus noem Hom tweede, daarom behandel ek dit so.) Die NAV gebruik die woord “afgesonder”, letterlik staan daar “heiligmaking van die Gees”. Dit gaan hier waarskynlik (as mens na die konteks kyk) oor die aanvanklike werk van die Heilige Gees, die wonder van die wedergeboorte, die werk van die Heilige Gees wat tot ware bekering en egte geloof in Jesus lei. Dis die radikale gebeurtenis wat hierdie voormalige buitestanders daartoe gebring het om deel van God se uitverkore volk te word. (Daar is ook ‘n ander betekenis van die woord heiligmaking, wat verwys na die voortgaande proses van vernuwing, om al heiliger word in ‘n Christen se lewe – dis ook die werk van die Heilige Gees en ons sal daarby kom as ons praat oor wandel deur die Gees en vervulling met die Gees) Die hoofsaak is, die Heilige Gees maak die verlossingswerk van Jesus van toepassing op ons. Hoe? Hy oortuig ons van sonde, Hy maak ons gewete wakker, Hy laat ons ons nood besef, Hy openbaar Jesus aan ons, Hy wederbaar ons... sonder die ingrypende werk van die Heilige Gees kan niemand ‘n kind van God word nie.

Seun : Jesus Christus het deur sy bloed ons verlossing bewerk. Die kruisdood staan sentraal in Jesus se werk. Geen kruis, geen verlossing! Daar is my straf gedra, daar is my skuld betaal, daar is die oorwinning oor Satan en sy aanklagte verseker deurdat die skuldbewyse teen my uitgewis is! (Sien Kolossense 2:14) Jesus het die transaksie afgehandel en die Heilige Gees bring ons tot geloofsgehoorsaamheid om persoonlik voor Hom te buig in geloof en so deel te kry aan die vergifnis wat Hy deur sy offer bewerk het. 

EN ONS KINDERTJIES?

Wat ‘n heerlike troos, die lewende Drie-enige God is besig met ons, betrokke by ons – en nie net met volwassenes nie, maar ook reeds met klein kindertjies van gelowige ouers! Of dit nou vir ons sin maak of nie, dis die duidelike boodskap van die Bybel – “Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur." (Psalm 71:5,6) Geld dit wat in hierdie Psalm staan ook vir ons in die Nuwe Testament? Ja, beslis, want die Nuwe Testamentiese kerk word beveel om Psalms te sing!** Die Bybel sal ons mos nie beveel om iets te sing wat nie waar kan wees nie! God is inderdaad by magte om ook in klein kindertjies reeds binne hulle bevatlikheid en veral volgens sy soewereine genade te werk! 

Mag ons jong kindertjies ook die werk van die Heilige Gees beleef, om uiteindelik persoonlik tot geloof in Jesus te kom en so die Vader as hulle Vader te eer! Mag ons elkeen die sekerheid hê dat ek persoonlik deel is van God se uitverkore volk en mag ons Hom daarvoor dank met heilige lewens! Mag daar soos Petrus se wens sê : “Genade en vrede in oorvloed vir ons wees!”

*Groepe soos die Jehova Getuies wat hierdie belydenis verwerp staan dus heeltemal buite die Christelike geloof. Skrikwekkend blyk dit ook dat in sekere Hebrew Roots kringe die Drie-eenheid ook geminag word! (Kliek op MAANKYKERS)

** “...en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” (Efesiërs 5::19)




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.