BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 19 April 2014

EK GLO IN DIE OPSTANDING...

- en dit het heerlike implikasies wat ‘n groot verskil maak.

Die feit van God se verbysterende groot krag is oorweldigend duidelik. Dis duidelik uit die skepping... dink maar net aan die geweldige krag van vuur, water en wind of iets soos elektrisiteit en kernkrag... Dink aan ons son en die ontsagwekkende hoeveelheid energie wat elke sekonde daar opgewek word...dink aan die ontelbare miljarde brandende sterre in die heelal... Vanoggend herdenk ons egter die belangrikste en mees verreikende demonstrasie van God se krag – die historiese liggaamlike opwekking van Jesus uit die dood! Dis iets op ‘n heel ander vlak, onbegryplik heerlik! Ja, ons as mense kan iets verstaan van die krag van vuur, water, wind en elektrisiteit. Ons kan dit beheer en gebruik. Selfs kernkrag kan ons tot ons voordeel inspan. Vir byna alles het ons as mense ‘n plan en ‘n oplossing. Maar teenoor ‘n lyk staan ons magteloos en radeloos. God se krag ken egter nie perke nie. Die leë graf van Jesus getuig op besondere wyse daarvan. Dink aan die geweldige krag van God wat Jesus se dooie mishandelde liggaam weer opgewek het tot lewe en tot ewige heerlikheid aan die regterhand van God. Nog wonderliker, dit raak ons ook prakties op baie maniere!
Paulus bid in hierdie Efesiërs 1:15-23 vir God se kinders. Hy bid dat God hulle oë sal open vir ‘n klomp heerlike dinge wat waar is van elke kind van Hom. (en natuurlik nét van God se kinders!) Ons gaan net ‘n bietjie dieper kyk na ‘n enkele faset in vers 18-20. “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het.” Paulus wil hê hierdie Christene moet sommer ‘n klomp wonderlike dinge besef... Hy het reeds melding gemaak van die heerlike hoop op ‘n erfenis wat hulle het. Kinders van God, onthou daar wag ‘n heerlike erfenis vir julle! Hierdie erfenis is nie maar net leë en vae beloftes nie. Julle het krag ontvang om hierdie erfenis te laat realiseer, om dit in besit te neem.** Dan maak hy ‘n dramatiese uitspraak : Die krag wat nou in julle werksaam is, is dieselfde krag waarmee God vir Jesus opgewek het! In die Grieks stapel Paulus sommer vier sinonieme op vir die woord krag/mag : dunamis , energeia, kratos, isgus. Hiermee beklemtoon hy die oorweldige grootheid en sekerheid van hierdie krag se werksaamheid in ons!

Die hoofgedagte van die apostel in hierdie onderdeel is : Moenie moedeloos word nie. Ek bid dat God julle oë sal open vir sy krag wat in julle werksaam is. Dit is die waarborg dat julle die erfenis sal kry. Onthou hierdie krag is dieselfde as die geweldige krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het!*

Mag ons oë oopgaan vir hierdie feit! 

Die lewewekkende, reddende en bewarende krag van God is werksaam in elke kind van God! 

Kom ons dink bietjie prakties en algemeen vanuit ook ander dele in die Nuwe Testament daaroor:

~ Hierdie krag is ‘n verlossende krag. Ons word mos gered deur die evangelie, die goeie nuus van Jesus se sterwe en opstanding te glo. Hierdie evangelie is nie maar sommer ‘n mensgemaakte plan of flou sprokie nie, maar dis die krag van God! “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: "Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe." (Romeine 1:16,17) Dit ruk ‘n sondaar voor die gapende afgrond van die hel weg! Dit verander ons status van veroordeeldes tot verlostes! Ons behoort hoegenaamd nie verbaas te wees dat die kind van God per definisie iemand is wat reeds die lewegewende kragtige werking van God beleef het nie - die kind van God was mos dood, maar is nou saam met Christus lewend gemaak tot 'n nuwe bestaan en status!  "En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes..." (Efesiërs 2:1) Kind van God jy het reeds 'n kragtige bonatuurlike wonderwerk beleef, en God sal voortgaan om met sy krag in jou te werk!

~ Hierdie krag laat ons oorwin in moeilike tye. Ons is swak - liggaamlik, emosioneel, geestelik... Ons is kwesbaar en broos. Soos kleipotte, sê Paulus, maar die krag van God werk in ons en daarom sal ons staande bly! “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” (2 Korintiërs 4:7)

~ Hierdie krag stel ons in staat om heilig te wil lewe en te kan lewe! “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer." (Filippense 2:12,13)

~ Hierdie krag stel ons in staat om die evangelie uit te dra! “Van hierdie evangelie het ek ‘n dienaar geword, ‘n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk." (Efesiërs 3:7) Kind van God jy het die krag om ‘n getuienis te lewer en mense van Jesus te vertel. Jy het geen verskoning om stil te bly nie...

~ Hierdie krag is baie groter as wat ons kan dink of voor kan bid en maak dus die onmoontlike moontlik. As ons dit besef kan ons uitdagings aanpak wat op menslike vlak onmoontlik lyk. “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.” (Efesiërs 3:20) Wanneer ons swak en vol mislukkings voel, moet ons hierdie waarheid opnuut glo en vasgryp! 

~ Hierdie krag stel ons in staat om staande te bly teen die aanvalle, versoekings, liste en misleiding van die Bose magte wat ons teister. “Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.” (Efesiërs 6:10,11)

Hierdie krag verseker ons van 'n heerlike toekoms met verheerlikte liggame...

~ Hierdie selfde krag wat Jesus opgewek het gaan ons liggame ook in heerlikheid opwek om vir ewig in heerlikheid in God se teenwoordigheid op die nuwe aarde te woon. (1 Korintiërs 15) Jesus is die Eersteling wat opgewek is en sy opstanding waarborg ons opstanding!*** Vir ons wag daar ook ‘n posisie van ewige heerlikheid.

Die geweldige krag waarmee God Jesus uit die dood opgewek het, is nou werksaam in jou, kind van God! 

Ons hoef dus nie vreesbevange verloor-Christene te wees wat gedurig vir sonde swig nie. Ons hoef nie onseker en bang te wees vir hierdie lewe of die ewigheid nie. Ons hoef nie skaam en minderwaardig in hoekies te gaan wegkruip nie. Ons mag ook nie allerhande verskonings maak om minderwaardige Godonterende lewens te lei nie.

Ken ons hierdie krag? Dis moontlik om onkundig hieroor te wees. Juis daarom Paulus se gebed dat God hierdie Christene se oë sal open. Onthou hierdie krag werk in elkeen wat glo! (1:15,19) Soos die opstanding van Jesus ‘n feit is, so is die krag van God wat in sy kinders werksaam is, ook ‘n feit! Mag God ook nou op hierdie oomblik weer ons oë open en fokus op hierdie bevrydende waarheid!

AS EK GLO IN DIE FEIT VAN JESUS SE LIGGAAMLIK HISTORIESE OPSTANDING, MOET EK OOK GLO AAN HIERDIE SELFDE KRAG VAN GOD WAT IN MY WERKSAAM IS, ANDERS IS EK INKONSEKWENT!

* Hendriksen

** Dis opvallend dat in 1 Petrus 1:3-5 ons hierdie selfde konnotasie kry, tussen die feit van die opstanding, die lewende hoop op die erfenis en die feit dat ons en ons erfenis deur die krag van God bewaar word! “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.”

*** Thomas Goodwin : “His ressurection has the power of all ressurections contracted in it.”

Vir meer oor die feit van Jesus se liggaamlike opstanding, kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.