BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 24 April 2014

GOEIE NUUS OP ‘N SLEGTE DAG!

- die evangelie van ons redding vereis onmiddellike aanvaarding.


Verlede naweek het ons weer die basiese feite van Jesus se sterwe en opstanding in herinnering geroep. Hierdie groep feite word deur Paulus, evangelie, GOEIE NUUS genoem.

“Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” ( 1 Korintiërs 15:1-4)

Die woord "evangelie" het natuurlik nie uit die lug geval nie. Dis ‘n bestaande woord wat nou deur Paulus met ‘n nuwe ryk inhoud gevul is. Kom ons kyk vlugting na die agtergrond van term evangelie :

In die Hellenistiese (Griekse) wêreld dui dit op belangrike nuus van die keiser en sy edikte - dis “euangellion” genoem, want dit het vrede en voorspoed ingehou vir die hele gemeenskap. 

In die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuagint/LXX) is hierdie woord gebruik vir die proklamasie van die blye eindtyd nuus van verlossing soos ons dit aantref in Jesaja 52:7.* (Vgl. Romeine 10:15) Die inhoud van die goeie nuus aan Israel was : “Sion, jou God is koning!” 

In alle waarskynlikheid het Jesus self hierdie Ou Testamentiese gebruik van die woord in die Christelike woordeskat ingebring soos byvoorbeeld in Matteus 11:5 waar ons lees : “aan armes word die evangelie verkondig” 

GOEIE NUUS OOR ONS REDDING

Paulus laat ons in geen onsekerheid wat die evangelie beteken nie. Die evangelie is die goeie nuus oor ons verlossing/redding. Dis soos Efesiërs 1:13 dit noem. “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het.” Die verlossing is bewerk deur Jesus se kruisdood, begrafnis en opstanding. (soos reeds gesien in 1 Korintiërs 15) Weereens, die evangelie is nie als wat in die Bybel staan nie, maar spesifiek die goeie nuus, afkomstig van God wat handel oor sy Seun, Jesus en wat Hy gedoen het. 

Reg in sy inleiding van die brief aan die Romeine stel Paulus dit al baie duidelik :

“Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.” (Romeine 1:1-4)

Dis belangrik dat ons sal raaksien dat die evangelie nie bestaan uit ‘n klomp opdragte nie, maar uit ‘n paar kort duidelike feite. Die evangelie sê dus nie vir ons – “doen dit en doen dat” nie, maar dit is gedoen! Dis klaar, dis afgehandel, dis voltooi... Die evangelie gaan oor Jesus en wat Hy gedoen het! Die evangelie is dus nie ‘n selfhelpplan of ‘n resep wat ek moet aanmaak en wat dalk kan misluk nie. Nee, die evangelie is waarlik goeie nuus, ongemengde suiwer goeie nuus, daar is geen vangplek of diskwalifiserende kleinskrif nie... Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n praktiese voorbeeld. 

WARM SON, VROT VRUGTE, UITERSTE ELLENDE...

Gestel jy het verval in absolute armoede, jy het jou werk verloor, jou huis verloor... Jy bly nou onder ‘n paar sinkplate en verkoop derdeklas afval vrugte en groente langs die pad. Jou produkte lok meer vlieë as kopers... Toe op ‘n baie slegte dag, terwyl jy in depressie en wanhoop langs die pad in die son sit en warm kry, stop daar ‘n blink motor. Dis die prokureur van die dorp. Hy klim uit met ‘n dokument in sy hand. Hy vra wie jy is en nadat hy seker gemaak het, sê hy vir jou : “Meneer, ek het vir jou baie goeie nuus! Jy was seker nie bewus daarvan nie, maar jy het ‘n verlangse familielid gehad daar in die Boland. Hy het nou te sterwe gekom en volgens sy testament is jy die enigste erfgenaam van sy wynlandgoed en al sy ander besittings. Jy moet net die dokumente in my kantoor kom teken en dan reëlings tref om dit in ontvangs te neem. Jou vliegtuigkaartjie en alle onkostes word deur die boedel gedra... Kyk hier is die afskrif van die testament...”

Goeie nuus op ‘n slegte dag! Dis presies wat die evangelie van Jesus behels, goeie nuus op ‘n slegte dag. Ja, ons omstandighede op geestelike gebied is sleg. Ons is geestelik bankrot, oneindig diep in die skuld by God, diep verdorwe, slawe van sonde, op pad na ‘n ewige straf. Maar nou kom die evangelie. Jesus het deur sy kruisdood, ons straf gevat en ons skuld uitgewis. Meer nog deur sy soendood het ons erfgename geword van God se onwankelbare koninkryk!

Die evangelie is waarlik goeie nuus en tog is dit moontlik om dit af te lag, te wantrou of  nie te glo nie. Dis eintlik ondenkbaar, maar dit gebeur wel. Die gevolg is dat die sondaar dan in sy ellende bly en uiteindelik velore sal gaan. Ja, ten spyte van die goeie nuus, verkies baie mense nog steeds om hel toe te gaan...Om terug te keer na die arm man by die vrugtestalletjie. As jy die prokureur wantrou en nie reageer om die erfenis in ontvangs te neem nie, dan gaan jy in jou armoede bly en in jou ellende krepeer en dit sal net jou eie skuld wees. 

Wat maak die man langs die pad? Wel, as hy die goeie nuus glo, dink ek hy los die stalletjie net so (hy los sy ou sukkelbestaan letterlik agter hom), klim dadelik saam met die prokureur in die kar en gaan neem sy erfenis met blydskap en dankbaarheid in besit! Hy glo en die bewys dat hy glo sien mens in sy reaksie! (as hy nie glo nie, bly hy net so daar in die son sit...)

Ja, die evangelie is goeie nuus en ons moet met geloof en bekering daarop reageer. Dis hoe ons deel word van God se volk. (sien weereens Efesiërs 1:13) Glo jy die goeie nuus van jou bevryding of staan jy nog soos ‘n slaaf van die duiwel vrot vrugte in die son en verkoop? Los tog die verskonings en teenargumente soos : "Ek voel nie nou reg nie, ek wil nog eers dit of dat afhandel, ek wonder darem of dit vir my bedoel is, want ek is so sleg..." Pasop, uitstel mag dalk veroorsaak dat jy die Goeie Nuus kan laat verbygaan...

Waarom wag en wonder, hierdie goeie nuus verdien onmiddellike aanvaarding!




*Jesaja 52:7 in die Septuagint lees : ως ωρα επι των ορεων ως ποδες ευαγγελιζομενου ακοην ειρηνης ως ευαγγελιζομενος αγαθα οτι ακουστην ποιησω την σωτηριαν σου λεγων σιων βασιλευσει σου ο θεος

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.