BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 10 Februarie 2014

DR. WILLIE MARAIS OORLEDE

- die ontmoeting met die slegste vrou in Kaapstad

Die welbekende prediker en geestelike vader van baie, dr. Willie Marais is volgens 'n berig gister oorlede. Hierdie getuie van God is oor jare heen deur die Here gebruik om baie mense na die Verlosser te lei. Soms was dit weens ‘n besondere woord van “wysheid” op die kansel. Onder diegene wat Christus as Verlosser onder sy dienste gevind het, was ook die “slegste vrou in Kaapstad” Dr. Willie vertel self daarvan in sy outobiografie, “‘N MAN DEUR GOD GESTUUR”

Tydens een van my preke in ‘n gemeente in Kaapstad, het ek in my boodskap gesê : “Al sit die slegste vrou in Kaapstad vanaand in hierdie gebou en sy sou haar tot God bekeer,
sal God haar vanaand van al haar sondes reinig deur die bloed van die Lam, want die woord van die Here sê dat ‘die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde...As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.’ (1 Joh 1:7,9) Ja, daar staan geskrywe : ‘Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.’

Verder sê ek “Mevrou, ek smeek jou, aanvaar die versoening met God wat Christus Jesus vir jou aan die kruis op Golgota verwerp het! (vgl. 2 Kor 5:18-21) Ek kwoteer die Bybel in Engels en sê: “It is written: “Therefore if any man be in Christ he is a new creature: the old things are passed away; behold, all things are become new’ (2 Cor 5:17). Mevrou, doen dit asseblief sommer nou! Want die Here sê: “in die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is dit die dag van heil. Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie’ (2 Kor 6:2,3). God se tyd is altyd nou. Vervloek is môre!”

Min het ek geweet waarom ek van “die slegste vrou in Kaapstad” moes gepraat het. In die kerk het daar twee vroue gesit agter een van die pilare waarop die dak van die kerkgebou gerus het. Daar was sitplek net vir hulle twee. Die een was ‘n maatskaplike werkster, die ander een ‘n prostituut.

Die middag het die maatskaplike werkster lank by hierdie prostituut gepleit om die aand saam te kom kerk toe. Sy het baie verskonings aangebied om nie te kom nie. Sy het byvoorbeeld gesê dat almal haar ken en dat hulle aanstoot sal neem as hulle haar in die kerk sien en indien sy in die geselskap van die maatskaplike werkster gesien word, die mense sal dink, sy behoort ook aan hulle groep. Sy het uiteindelik ingestem om saam te gaan toe sy verneem van die weggesteekte bankie met sitplek net vir twee en op die voorwaarde dat hulle vroeg sou gaan sodra die kerk oopgesluit word en net die koster daar sal wees. Toe hulle naby die kerk kom, wou sy omspring met: “Nee, ek gaan huis toe. Ek hoort nie in ‘n kerk nie. Ek is die slegste vrou in Kaapstad. Ek weet dit. U weet dit en God weet dit.” Die maatskaplike werkster het haar egter aan die arm gevat en gesê: “Nee, nou draai u nie om nie. U het belowe.” Toe ek in my preek na die “slegste vrou in Kaapstad” verwys het, het sy onmiddellik geweet die Here praat met haar. Sy was Engelssprekend. Toe ek die Bybel in Engels kwoteer, het sy die boodskap goed verstaan en toe ek die oproep maak dat sy haar “nou” moet bekeer, het sy dit daar en dan gedoen.

Na die diens het ‘n klompie jongmense my kom vra om hulle te help om kinders van die Here te word. Ek het hulle heel voor in die kerk laat sit en die weg van saligheid aan hulle verduidelik. ‘n Bietjie verder weg het ek twee vroue sien sit, net asof hulle vir my gewag het. Toe die jongmense loop, het hulle opgestaan en nader gekom. Die een was ‘n ware dame, jy kon dit duidelik sien; die ander een, alreeds baie deur die sonder verniel. Dié een stap toe vinniger vooruit tot by my. Sy steek haar hand uit om my te groet. Toe praat sy: “Meneer, ek is die slegste vrou in Kaapstad met wie u in u preek gepraat het. Maar ek het gedoen wat Meneer gesê het ek moet doen.” Terwyl sy dit gesê het, het die trane vryelik oor haar wange gestroom en op haar klere en op die mat van die kerk gedrup. Haar poeier was so dik aangeplak dat die trane letterlik twee voortjies op haar wange gemaak het. Haar gesig het geblink en ek het geweet dat sy met God ‘n ontmoeting gehad het.

As jong seun in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika het ek saam met my ouers 'n reeks dienste op die Van der Watt stadion by WHS van dr. Willie Marais bygewoon. Dit was boeiend en aangrypend. Hy het 'n passie gehad vir die evangelie en ook 'n besondere intellek, met die vermoë om Bybeltekste uit die hoof aan te haal wat verstommend was. Hy was nog 'n prediker wat die Bybel geglo het... sulke manne het skaars geword...



NASKRIF : Vir dr. Willie se siening oor dobbelary en lotery , kliek op LOTTO

1 opmerking:

  1. Wat 'n Man van DIE WOORD. Johannes ek onthou daai Pinksters op die WHS sport stadion.Oom Wille het ook my hart daar aangegryp, al het ek in my Pajamas in die Kombi gesit en luister, het DIE WOORD van GOD vlees kom word deur hierdie kosbare dienskneg van die HERE. Ons EER VADER vir sy Lewe.Albie Steenkamp

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.