BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 19 Mei 2013

GREEP VAN DIE GELUKSGODIN

die gevaar van lotery en gelukstrekkings.

Waarom behoort 'n Christen hierdie dinge te vermy?

Die bekende prediker en kragtige evangelis, Dr Willie Marais (wat baie mense in Suid-Afrika en Namibië se geestelike vader is)  antwoord hierdie vraag baie duidelik in sy outobiografie, “ ‘n Man van God gestuur” in ‘n hoofstukkie getiteld, Afgodediens. Dr Willie vertel :

Na ‘n oggenddiens in Randfontein word ek genooi vir ‘n koppie tee by twee mense wat met my oor hulle probleem wou praat. By hulle huis het dit my opgeval dat dit dié mense seker aan geen aardse goed ontbreek nie. Die tee is buite op die stoep bedien wat byna net so deftig was soos binne-in die huis.

Dit was ‘n baie hartseer verhaal wat ek moes aanhoor. Hulle enigste seun was ‘n wegbreker. Daar was byna nie ‘n sonde wat hy nie gepleeg het nie. Om sake te vererger het hy net weggeraak en nie weer iets van hom laat hoor nie en toe sê die moeder : “My man en ek bid al so lank dat ons kind gered moet word, maar ons gebede word nie verhoor nie. Ons huil soms ons kussings nat, maar daar kom geen antwoord nie. U is ‘n man van God. As u bid sal u verhoor word. Sal u nie asseblief vir die Here vra om ons kind te verlos nie.”

Op daardie oomblik bring die huishulp die tee en daar kom ‘n tydjie van stilte terwyl mevrou die tee inskink. Teen die muur het daar ‘n oorspronklike skildery gehang. Voor ek my kom kry, vra ek wat die skildery gekos het. Mevrou antwoord toe: “Niks nie, ons het dit met ‘n lootjie gewen.” Vir ‘n oomblik was ek spyt dat ek die vraag gevra het, want haar antwoord dwing my toe om iets onvriendeliks te sê terwyl ek ‘n gas in hulle woning is. Levitikus 5:1 leer dat as jy bewus is van ‘n kwaad en jy praat nie, dan staan jy ook voor God skuldig. Die volgende oomblik sê die Heilige Gees vir my dat dié skildery die oorsaak van hulle probleem met hulle kind is. Dié skildery het hulle huis onder ‘n banvloek gebring (vgl Deuteronomium 7:25,26). Hulle sonde van lotery (vgl Jesaja 65:11-15) het hulle in hulle kind (vgl Gen 9:24,25) uitgevind. (vgl Numeri 32:23) Dit was van die Here dat ek die vraag gevra het, want sodoende het ek onwetend my vinger op die oorsaak van hulle probleem gelê.

Ek sê vir hulle: “U was waarskynlik nie daarvan bewus dat die oomblik toe u daardie lootjie uitgeneem het, u die tafel vir die geluksgod gedek het nie, want in lotery word die prys wat gewen word nie bepaal deur  eie prestasie nie, maar deur geluk. Die Here spreek ‘n vloek uit op mense wat aan loterye deelneem. Die Woord van God sê : “Maar julle wat die HERE verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat 'n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot--
Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie.
Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.
Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.  En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as 'n woord van verwensing laat agterbly, en die Here HERE sal jou ombring.” (Jesaja 65:11-15) Die naam vir die geluksgod is Gad en vir die godin van die noodlot Meni. Deur ‘n lootjie uit te neem, beledig ons die een ware God wat voorsien. (vgl Genesis 22:14) Nou moet afgode in plaas van God in ons begeerte voorsien. Dit is tot God wat ons moet bid : “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” (Matteus 6:11); nie tot Gad en Meni nie. Die oomblik toe u die prys gewen het en dit  u woning ingedra is, het daar ‘n afgod sy intrek in u woning geneem, want hierdie skildery het deur die lotery ‘n afgod geword. Daar staan geskrywe : “Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God 'n gruwel.
En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal 'n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.”

Die Skrif beveel ons om die praktyke van die sondige natuur (vgl Galasiërs 5:19-21) dood te maak deur die Gees wat in ons woon sodat ons kan lewe (Romeine 8:13). In die Nuwe Testament het die mense wat byvoorbeeld met toorkunste omgegaan het hulle boeke gebring en voor almal verbrand (Handelinge 19:19). Ek glo dat hierdie afgod wat in julle huis gekom het iets te doen het met dit wat met julle kind gebeur het.” Nadat ek vir hulle ‘n ernstige gebed gedoen het, het ek vertrek. Ek kan nie onthou of ek tee gedrink het nie. Ek dink die oomblik was te ernstig om gesellig te verkeer.

Vier maande later het ek weer die voorreg gehad om in Randfontein te preek. Na die diens het dieselfde mense my weer genooi om by hulle te kom tee drink. Ons het weer op dieselfde plek op die stoep gaan sit. Die muur waar die skildery gehang het, was leeg. Ek vra : “En wat het van die skildery geword?”

Mevrou antwoord : “Dit is die rede waarom ons u genooi het om weer by ons te kom tee drink. Ons het goeie nuus om u te vertel. Verlede keer het u met ons oor die skildery gepraat en ons daarop gewys dat lotery deur God vervloek is. U motor was skaars om die hoek, toe het my man die skildery afgehaal, die vleisbyltjie geneem en dit stukkend gekap, tamatiekas-plankies daaroor gebreek, ‘n bietjie parafien daaroor gegooi en die skildery aan die brand gesteek. Die rook van die skildery het nog opgetrek in ons agterplaas toe ons telefoon lui. Dit was ons seun. Hy het op daardie selfde oomblik toe die skildery gebrand het, kragdadig tot bekering gekom.”

Dit spreek seker vanself?

Vir verdere inligting, kliek op LOTERY

Is jy lus om na ‘n preek van Dr. Willie Marais te luister? Kliek op ELKEEN WAT DIE NAAM VAN DIE HERE AANROEP


2 opmerkings:

  1. Dit herinner my aan die SA regering war destyds in die tagtiger jare die verdedigings- of bonusobligasies in die lewe gebring het om die oorlog te finansier. My pa het vir die hoof van die Weemag geskryf en hom op die gevaar gewys van die geluksgodin en vertroue in haar.Ons moet geloofsvertroue in God he en nie op die geluksgodin staatmaak nie. DIe generaal skryf toe terug en wou weet wat is my pa se bydrae tot die oorlogspoging? My pa antwoord toe dat hy vier seuns gegee het vir diensplig om die land te verdedig en hyself kook op die kommandokampe. Hy het nie weer van die generaal gehoor nie.
    Wolf Cilliers.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Wolf, die einste dr. Willie Marais het destyds die Eerste Minister gewaarsku teen bonusobligasies, maar dit het op dowe ore geval. Die res is geskiedenis...

      groetnis

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.