BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 05 Desember 2013

WAS PAULUS LIEFDELOOS?

- ‘n reaksie op Johan Rossouw se gedagtes in die FELDMUIS

[Ene Johan Rossouw het na aanleiding van ‘n vorige berig rondom Ds. Kökö in die Feldmuis (omsendbrief van die kerkkantoor van die NGK in Namibië) nogal wilde stellings kwytgeraak en ‘n klomp aantygings teen die kerk gemaak. Dis in die jongste Feldmuis opgeneem.*Sekere aspekte van Johan se “Kersbrief” het my so ontstel dat ek nie anders kan as om gou daarop te reageer nie.]

Beste Johan, aangesien jou bewerings in die openbare domein is, vergun my om ook in die openbaar sekere opmerkings daaromtrent te maak ter wille van die eer van God en die opbou van die gelowiges:
~ Johan, ongetwyfeld het baie mense al deur liefdelose optrede binne (en buite) die kerk skade gely en dit moet betreur word, maar jy skep ‘n eensydige karikatuurbeeld van die kerk om simpatie vir jou saak te wek. Soos ek die kerk vandag oor die algemeen ervaar (nie slegs my eie denominasie nie), word daar meer na die anderkant toe oortree naamlik (liefdelose) goedkeuring van sonde en die versuim van ons plig om medegelowiges te waarsku teen afvalligheid en alle vorme van boosheid. Oor die algemeen word sonde selde by die naam genoem en kerklike tug (oor leer en lewe) het ‘n rariteit geword. In die harde werklikheid van die lewe het die skending van die huwelik – hetsy deur egskeiding, saamwonery, buite egtelike verhoudings en dergelike booshede verwoestende gevolge. Deur hierdie dinge stilswyend goed te keur (soos algemeen gebeur) word nóg die liefde nóg die eer van God gedien.

~ Johan, jy skets ook ‘n eensydige en vals beeld van God en die evangelie. Jy beweer : “God het elkeen onvoorwaardelik lief en Hy het reeds almal se sondes volledig afgewas en vergewe” Wie is die “almal”? Inderdaad het God alle mense ("die wêreld”) lief, maar juis daarom word alle mense opgeroep tot bekering sodat vergifnis daarop kan volg! “Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.” (Handelinge 3:18,19) Nie, alle mense ontvang en beleef vergifnis nie, maar slegs die wat hulle bekeer en die evangelie glo! Jesus se liefde, verdraagsaamheid en geduld teenoor sondaars staan vas, maar die einste Jesus het sondaars tot bekering geroep, hulle sondes ontbloot (soos in die geval van die saambly-vrou van Samaria) en die begenadigdes aangemoedig om nie meer te sondig nie! Dis seker nie nodig dat ek al die toepaslike Skrifgedeeltes hieroor aanhaal nie...

~ Johan, dit klink amper asof jy jou skaar by die veroordeelde profete van die Ou Testament wat deur God beskuldig word dat hulle nie aan sy volk reguit hulle sondes bekend gemaak het nie en gemaak het of als maar reg is, terwyl dit nie die geval was nie. Hierdie profete het by wyse van spreke maar net die mure afgewit en niks aan die barste gedoen nie... Gaan lees God se aangrypende aantygings teen onder andere die profete en priesters in Esegiël 22... Die priesters het nie meer die onderskeid tussen rein en onrein gemaak nie...presies dit wat ons in die lou kerk van ons tyd sien. Wat ons nodig het in die kerk is nie “people’s pleasers” nie, maar manne van God wat die moed het om sonde aan te spreek, sodat daar bekering, vergifnis en blydskap kan volg.... Wat ons broodnodig het is om weer die profeet Miga se boodskap te hoor : “So sê die Here oor die profete wat my volk verlei, die profete wat van vrede praat so lank hulle kos kry, en as iemand hulle nie bly instop nie, oorlog teen hom verklaar: Daar is vir julle net nag, nie ‘n gesig nie, donkerte, nie ‘n voorspelling nie.
Die son sal ondergaan vir hierdie profete, die dag sal pikdonker word oor hulle. Die sieners sal teleurgestel staan, die voorspellers sal bedroë daarvan afkom. Hulle sal almal treur en hulle baard bedek as teken van rou, want God sal nie antwoord nie. Ek, daarenteen, het baie krag, ek het die Gees van die Here, ‘n sin vir reg en die moed om aan Jakob sy sonde bekend te maak, aan Israel sy oortreding.” (Miga 3:5-8)

~ Johan jou sienings bots ook met die Nuwe Testament se boodskap oor wet en genade. Dis persoonlik een van my groot vreugdes om die heerlike radikaliteit van genade te verkondig. Ek is baie lief vir die kragtige belofte in Hebreërs 8:12. Hierdie oorvloedige genade beteken egter nie dat ons maar lustig in sonde kan voortgaan nie! (Romeine 6) In die einste Hebreërs word gelowiges teen afvalligheid gewaarsku en word dit beklemtoon dat God ‘n “verterende vuur” is! Heeltemal reg, ons word sonder wetsonderhouding vrygespreek. Maar hierdie vryheid van die wet, beteken beslis nie ‘n vrypas om te sondig nie. Juis in Galasiërs waar Paulus die duidelikste praat oor die vryheid van die wet, waarsku hy ook in die sterkste moontlike taal teen sonde – by die naam – en hy waarsku onder andere teen dinge waaroor jy blykbaar wil hê die kerk moet swyg! In Galasiërs 5:16-21 lees ons : “Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid,afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.” Gaan jy konsekwent wees en Paulus as liefdeloos beskryf?

~ Johan, ek wonder, is jou siening van die kerk nog in lyn met die Twaalf Artikels? Ons glo in ‘n “heilige algemene Christelike kerk.” Om die heiligheid van die kerk te beskerm moet daar ook teen sonde gewaarsku en opgetree word. Wat maak jy met 1 Korintiërs 5? Onder andere gee Paulus die baie sterk opdrag in 12-13 : "Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: "Verwyder die slegte mens onder julle uit!" Sjoe!!(Weereens, was Paulus liefdeloos toe hy hierdie opdragte gegee het?) Ja, ons glo ook in die “vergifnis van sondes” – Goddank dis ons (my) enigste hoop! Die Bybel leer egter dat sondes (spesifiek van mense wat reeds God se kinders geword het) vergewe word via die weg van belydenis! (saamstem, erken dat ek verkeerd is) As die kerk eerlik en in liefde mense op hulle sondes wys, is dit die pad van herstel wat so aangetoon word en het dit niks met verwerping te make nie! My vriend, hoe gaan mense tot belydenis van sonde kom as die kerk vir hulle aanhou vertel dat als maar reg is? En as hulle volhard in sonde en nie wil luister nie, is die kerklike opsig en tug nie ‘n genademiddel wat God in die kerk se hand geplaas het nie? Onderskryf jy nog die Nederlandse Geloofsbelydenis wat ons leer dat tug een van die kenmerke van die ware kerk is?

~ Johan, ek lei uit jou brief af dat die jongste Algemene Sinode se besluit (of dan gebrek aan besluit) oor die gaykwessie die “trigger” was wat jou tot die bewerings in jou skrywe gebring het. Kom ons kry hieroor duidelikheid. Die kerk (en die AS) se plig is nie om verandering te bewerk of die status quo te probeer handhaaf nie, maar om onvoorwaardelik aan God se Woord gehoorsaam te word, al beteken dit dat ons met die tydsgees moet bots en spot en vervolging moet verduur! Jy beroep jou op Gereformeerde beginsels... een van die belangrikstes is juis Sola Scriptura! Dit het baie van ons geloofsvoorvaders op die brandstapel laat beland en as ek die tye reg lees is vervolging weereens die voorland van elkeen wat kompromisloos aan die Woord gehoorsaam gaan probeer wees... Oor die GAY DEBAT as sodanig het ek ‘n Bybelse gebalanseerde boodskap probeer formuleer. (Kliek op BYBELSE ANKERS)

Johan onthou tog, liefdevolle, maar vreeslose verkondiging van die volle waarheid (ook die hel), die eer van God en die ewige welsyn van die sondaar is dinge wat nie teenoor mekaar staan nie, maar juis saamgaan en bymekaar hoort! Kom ons hoor mooi wat die Woord sê...

Mag jy ‘n Kersfees beleef waarin dit weer duidelik besef word, dat Jesus juis gekom het om sy volk van hulle sondes te verlos! (vir die volle betekenis hiervan, Kliek op WATTER JESUS?)

Groete

Johannes de Koning

*Johan Rossouw se skrywe soos geplaas in die Feldmuis :

Ek het die berig baie interessant gevind en kon nie help om te wonder deur watter bril kyk die NG Kerk spesifiek, maar ook die uitgebreide kerk familie, na mense binne die kerk en daarbuite nie.

Hierdie gedagte het by my opgekom na aanleiding van die Sinode se onlangse besluit om die status quo met betrekking tot gays te handhaaf. 

“Het die kerk al probeer bepaal:

§ Hoeveel lidmate is al deur die kerk hel toe gestuur/veroordeel/as onaanvaarbaar verwerp op grond van hul dade of wie hulle is? 

§ Hoeveel babas is al weggewys en nie gedoop deur die kerk omdat hulle buite-egtelik gebore is?

§ Hoeveel moeders van buite-egtelike kinders is al weg uit die kerk omdat hulle veroordeel is en op neergesien word nie? 

§ Hoeveel pare is al veroordeel en uit ampte verwyder omdat hulle geskei het of buite-egtelike verhoudinge gehad het? 

§ Hoeveel pare is al veroordeel omdat hulle saambly (onlangse uitspraak op Kanaal 7 dat saambly is gelyk aan hoerery)? 

§ Hoeveel gays is al uit die kerk omdat die kerk hulle onaanvaarbaar vind vir God?

§ Hoeveel alkoholiste is al verdoem deur die kerk omdat hulle bloot nie in staat is om te rehabiliteer nie?

“Soos Ds. Kökö, sê die werk van die kerk is om elkeen te help om sy/haar eiewaarde in Christus te ontdek sodat hy/sy in staat is om sy/haar eie vermoëns maksimaal te benut.

“Dit wil eerder vir my voorkom asof die kerk haarself gevestig het in die rol van die oudste broer in die verhaal van die verlore seun. Klaarblyklik sonder sonde, maar altyd gereed om die splinter in die ander een se oog raak te sien sonder om bewus te wees van die balk in sy eie wat hom heeltemal blind laat. Ek skryf dit toe aan kerkleiers se weiering om God se onvoorwaardelike liefde en vergifnis soos uitgebeeld teenoor die verlore seun, te aanvaar, te glo en vir lidmate te verduidelik. Veel eerder word mense veroordeel en bang gemaak vir die hel en die oordeelsdag. 

“Enersyds roem ons op die gereformeerde beginsels van geloof, genade, Christus se verdienste en die Woord, maar as ons ons medemens moet vergewe dan dink ons nie Christus se verdienste is goed genoeg nie en hou ons hulle aan die “wet” en ons eie oordeel dat hulle vir God onaanvaarbaar is. Ons vergeet gerieflikheidshalwe dat Paulus sê dat indien ‘n mens deur die wet te onderhou, gered kan word, dan het Christus verniet gesterf. Ek wonder as God ons sou moes oordeel op grond van ons vergifnis van mense, wie sou dit kom maak?

“Die Bybel leer ons ook dat God self die verhouding tussen ons en Hom kom herstel het. Weereens gerieflikheidshalwe aanvaar ons dat God net die verhouding tussen “my” en Hom kom herstel het maar nie tussen die sondaar (die wêreld) en Hom nie.

“Ek hoop van harte dat ons die Kersfees die ware boodskap van verlossing, nl. “God het elkeen onvoorwaardelik lief en Hy het reeds almal se sondes volledig afgewas en vergewe” aan ons mense sal bring sonder die MAAR “Jy moet onthou om sonder sonde te lewe anders is jy nie vir God aanvaarbaar nie”.

“Christus groete en ‘n geseënde Kersfees.”


2 opmerkings:

  1. BAIE dankie dominee Johannes, dat u hierdie saak aanspreek.

    Daar is 'n nuwe "mode" om mense wat enigsins die kwade aanspreek, as liefdeloos uit te maak. Hier is 'n reeltjie uit 'n stuk op ons webwerf:

    "Lidmate wat die afgelope aantal jare hierdie onheilige suurdeeg in die kerk probeer aanspreek het, is op allerande maniere beledig en is beskuldig van leuens en liefdeloosheid"

    Lees verder hier:

    http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/55-ng-kerk-kat/700-brief-aan-moderamen-van-as-2012-11-23.html

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Inderdaad moet ons daarna streef om waarheid en liefde saam vas te hou. Natuurlik kon net Jesus hierdie fyn balans volmaak onderhou. Ons moet beslis waak teen 'n neiging om sinies te word en altyd probeer om die klem op die heerlike positiewe evangelie van radikale genade te laat val. Ek bedoel ons moet seker maak dat ons meer "vir" iets sal wees as "teen" iets, al sal ons dit nie kan vermy om die verkeerde ook aan te spreek nie! Stryders vir die waarheid wat nie op die positiewe blye evangelie fokus nie, loop beslis die gevaar om weens gedurige stryd "bitterbekke" te word! Hierteen moet ons beslis waak deur mekaar ook te bemoedig met die heerlike boodskap : "Diss volbring!" en "Hy het waarlik opgestaan! "
      Mag die Here ons onderskeiding en fyn aanvoeling gee!
      groete in Sy diens
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.