BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 01 November 2013

HOOR EK GOD REG?

- Wat is sy plan en doel met my?


“God het ‘n plan vir jou lewe, ‘n doel met jou bestaan!” Dis ‘n frase wat mens dikwels hoor. Dis natuurlik baie waar – God het ‘n duidelike plan vir elkeen van Sy kinders. Daar is egter ook groot misverstande en wanopvattings oor die saak. Baie mense dink hierdie plan is ‘n groot geheim en dat ons allerhande tegnieke nodig het (soos tekskaartjies uit ‘n doos trek, die Bybel lukraak oopslaan ens.) om uit te vind wat dit is. Hulle koppel dit veral aan sake soos waar moet ek studeer, waar moet ek bly, waar moet ek gaan woon, of met wie moet ek trou...?
Dit raak vir sommige ‘n ingewikkelde las, want “hoor” ek God reg, wonder hulle? Moet ek vir allerhande tekens uitkyk en hoe moet ek daardie tekens interpreteer? Wat van al die kere wat mense al vertel het : “Die Here het vir my gesê” of “Ek het die Here gehoor” en dan groot flaters begaan het of skandes oorgekom het?

Kom ons stel ons gemoed oop dat Romeine 8:28-30 ons skewe denke oor hierdie sake bietjie regtrek.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.


GOD SE VERKLAARDE DOELWIT VIR SY KINDERS :
GELYKVORMIG WORD AAN JESUS


1. God se plan met sy kinders is nie ‘n geheim nie, maar word baie duidelik gestel. Hy wil ons verander om gelykvormig te wees aan Jesus. Eerste op God se agenda vir sy kinders (LW –SY kinders) is nie om ‘n goeie selfbeeld te hê nie, is nie ‘n kommervrye bestaan van voortdurende gesondheid en onbeperkte welvaart nie, maar om te word soos Jesus! Om die gesindheid, die waardes en die karakter van Jesus te vertoon! Om soos Jesus op te tree teenoor daardie moeilike plaaswerker of eggenoot, om die belastingopgawe in te vul soos Jesus dit sou doen... Dis God se bestemming vir jou! Dis God se wil vir jou, daarvan kan jy seker wees! Met ander woorde, heiligmaking! Dit word so mooi bevestig in 1 Tessalonisense 4:3. "Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid."

2. God gebruik alle omstandighede in sy kinders se lewens om hierdie doel te bereik. Let op : “Ons weet” – dis ‘n vaste onbetwiste feit! Hy laat alles meewerk om ons by hierdie eindpunt van Jesusgelykvormigheid te laat uitkom. God gebruik natuurlik in die eerste plek die duidelike opdragte in sy Woord om ons te leer en ons gedrag te verander. Maar soos dit met kinders gaan, is ons dikwels ongehoorsaam en halsstarrig om die duidelike bevele in sy Woord te gehoorsaam en toe te pas. Dan gebruik Hy ander metodes. Ja, ook slegte omstandighede, siekte, swaarkry, mislukkings, rampe – allerhande stampe en stote... Jy sal weet wat Hy op hierdie stadium in jou lewe gebruik...

Kennis van hierdie metodes van God bewaar ons van moedeloosheid en fatalisme. Ek, as kind van God kan weet dat niks in my lewe toevallig is nie, ek is nie oorgelewer aan een of ander blinde noodlot nie, maar alle slegte (en goeie) dinge wat oor my pad kom is instrumente in God se hand om my te vorm soos Hy wil! Dit gebeur nie sommer nie - God het dit baie spesifiek vir my ontwerp en beplan...

3. God sal beslis die finale doelwit met sy kinders bereik. Dit word in hierdie gedeelte, verheerliking genoem. Hier kry ons ‘n asemrowende beskrywing van die stappe of trappe van God se genadewerk in die lewens van Sy kinders. Elke kind van God is slegs ‘n kind van God omdat God eerste in ons begin werk het. Maar waar begin God se werk in ons? Dit begin by God se verkiesing lank tevore. Hoe lank tevore? Openbaring 13:8 sê dat God se kinders se name reeds van die skepping af (grondlegging van die wêreld) in die boek van die lewe geskryf is. In Handelinge 13:48 lees ons toe Paulus gepreek het, het al die heidene wat bestem was vir die ewige lewe, gelowig geword! Dis hulle wat God bestem het om gelykvormig soos Jesus te wees. En hierdie mense het HY ook geroep. Dit gebeur deur die verkondiging van die evangelie en die innerlike oortuigingswerk van die Heilige Gees. Dis wanneer jy weet ek moet nou reageer op die uitnodiging van Jesus! (Dink aan daardie wonderlike dag toe Jesus die goddelose skelm, Saggeus uit die boom geroep het by sy naam...) As jy dan reageer deur geloof en bekering, word jy vrygespreek. Hierdie vryspraak beteken dat God jou sonde nie meer toereken nie. Hy hou dit nie meer teen jou nie! Dis die grootste geskenk wat ‘n sondaarmens ooit kan ontvang. (Romeine 4:7,8 verduidelik dit so mooi.) Verheerliking volg uiteindelik op vryspraak. Dis die finale stadium van ons verlossing, wanneer ons heeltemal soos Jesus sal wees. Dit lê nog in die toekoms, maar dit word hier in die verlede tyd gestel, as ‘n afgehandelde saak omdat Paulus so 100 persent seker is dat dit al plaasvind. Ja, God se kinders gaan deel in dieselfde heerlikheid (volmaaktheid en eer) as Jesus! Dit word reeds deur Paulus in Romeine 8:17 in vooruitsig gestel : "En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid."

Anders gesê, Kind van God, die werk wat God in jou begin het sal HY beslis klaarmaak. Daar kan geen twyfel wees nie, God sal sy doelwit naamlik gelykvormigheid aan Christus met jou bereik, al moet Hy nou ook watter metode gebruik! Ons kry dieselfde waarheid in Filippense 1:6. Dis ‘n heerlike versekering en troos!

God se plan met die lewe van sy kinders is nie sommer so ‘n onseker mogge troffe sakie nie. Dis ‘n plan van ewigheid af en dit kan nie sommer ontspoor nie. Ja, op hierdie pad kan ons struikel en val, maar God sal sy kinders altyd weer terug bring op koers, al moet Hy dan nou ook soms hardhandig met ons werk. Dis waar sy tug inkom. Hebreërs 12:4-10 verduidelik dit so mooi. Kyk weer na die doelwit soos dit in vers 10 gestel word – “sodat ons in sy heiligheid mag deel.” 

BEROEP, TROU, WOONPLEK...?

Maar wat dan nou van praktiese sake soos : “Watter rigting moet ek studeer” of “Met wie moet ek trou?” As God besig is om jou te vorm na die beeld van Jesus, en as jy vorder in gelykvormigheid aan Hom, sal Hy jou ook hierin lei. (Deur die beginsels van die Woord, deur omstandighede, deur vriende se raad...) Dit sal gewoonlik op so ‘n manier gebeur dat jy dit amper nie eers agterkom nie. Wie al meer leef soos Jesus, sal al hoe meer die regte opsies kies, wat God gelukkig sal maak, want jou begeertes sal al meer in lyn met sy heiligheid en sy begeertes vir jou wees. Psalm 37:3-5 sê tog immers : “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg." Anders gesê, streef na heiligmaking, dan sal jy by die regte besluite uitkom. Of in die taal van Petrus, Werp alles in die stryd om jou geloof te verryk... dan gaan jy al hoe meer die regte keuses maak! 

Wat ons nodig het om God se plan vir ons lewe te verstaan en bereik is nie ingewikkelde magiese, semi-heidense divinasie tegnieke nie, maar najaging van gelykvormigheid aan Jesus op alle lewensterreine! Anders gesê gehoorsaamheid aan God se duidelike opdragte aan sy kinders in die Woord.

3 opmerkings:

  1. More Johannes
    Eerstens baie dankie vir die boodskappe op jou blog. Ons gebruik dit gereeld met Bybelstudie hier in Mogadisjoe, hier is mos nie 'n kerk nie. Ek wil jou graag die volgende vra:
    God is alwetend, so waarom sal Hy bemoeienis met iemand maak as Hy vooraf weet die person gaan hom nooit bekeer nie? Hoekom dan moeite doen met iemand as Hy weet dit sal tevergeefs wees? Ons sal graag jou mening hieroor wil hoor.

    Groete
    Stephan

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Stephan, dis baie aangenaam of van julle daar uit Somalië te hoor!

      Jou vraag het natuurlik betrekking op die uiters diepsinnige waarheid van God se genadige uitverkiesing. Iet wat ons met ons beperkte verstand nooit hier en nou ten volle sal kan begryp nie.

      Ek dink Romeine hoofstukkke 9-11 gee wel insig hierin. Sien veral 9:19-23. Dit gaan daaroor dat God verheerlik moet word en SAL word. Sy heerlikheid (wat insluit dat die reg en regverdigheid aan sy kant is) sal gedien word deur die voorwerpe van sy toorn (hulle wat kans gegee is om te bekeer en nie wou nie) sowel as deur die voorwerpe van ontferming (die wat die kans tot bekering aangegryp het, natuurlik nie omdat hulle so oulik was nie, maar omdat God so genadig was via ssy uitverkiesing en vryspraak deur die geloof.)

      Van ons kant moet ons nie vrae vra agter die beloftes van God nie. Ons kan met vrymoedigheid God se uitnodigings verkondig en weet dat God sy genade beloftes werklik bedoel. Hierdeur sal God verheerlik word ongeag die reaksie. Diegene wat Hom verwerp se skuld sal net nog groter wees en dit sal bewys dat God regverdig is. So sal hulle ook (noodgedwonge) eer aan God bring! Diegene wat gehoor gee, sal ook eer aan God bring as tekens van die triomf van sy genade!

      Vee uit
    2. Stephan dalk kan jy die artikel LIEWE LULU op hierdie Blog (weer) lees. http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/2013/03/liewe-lulu.html

      Groetni en vrede vir julle daar bo in Afrika!
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.