BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 28 September 2018

OPSPRAAKWEKKENDE HOFSAAK!

- ‘n Skuldige seun kry weer ‘n kans! 

[ In 'n dramatiese wending in die hofsaak wat die land se verbeelding nou al vir 'n tyd lank aangryp, het die Regter onverwags ingegryp en 'n rebelse seun weer 'n kans in die lewe gegee... Ons korrespondent Hosea berig...]



Waarom maak God soveel bemoeienis met mense? God se liefde! Waarom was daar ‘n kruis? God se liefde! Almal weet dit. Waarom kry ek en jy nie op hierdie oomblik ons verdiende helse straf nie? God se liefde! Ons weet... Tog het ons maar baie min begrip van wat God se liefde regtig behels. Hoe sterk, hoe eg, hoe passievol... En juis ook die inhoud en doel van hierdie liefde is baie onbekend en word oppervlakkig versentimentaliseer en gebruik as verskoning om te sondig! 

Hosea 11 gee ’n aangrypende uitsig op God se liefde. Dis geskryf in die vorm van ’n hofgeding wat ’n vader teen ’n opstandige seun aanhangig maak. (Terloops, opstandige kinders is nie ‘n nuwe verskynsel van die 21ste eeu nie!) So ’n hofsaak was ’n baie ernstige saak soos mens kan aflei uit Deuteronomium 21:18-21. “Wanneer ‘n man ‘n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. 
Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is ‘n vraat en ‘n suiplap.’ 
Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees." Die ouers van so ’n seun moes hom na die leiers vat by die stadspoort en die skuldige seun word dan met klippe doodgegooi. Rof! 

DIE AANGEKLAAGDE

Die seun wat hier in Hosea 11 aangekla word is baie duidelik God se volk Israel. Israel word alreeds in Eksodus, God se seun genoem. “Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun.” (Eksodus 4:22) 

VERLOOP VAN DIE HOFSAAK

’n Mens sou hierdie hoofstuk in wat die hofsaak beskryf in 4 dele kon verdeel (maak gerus self jou Bybel oop by Hosea 11): 

~ 1-5 Die aanklag teen die seun en die getuienis om dit te staaf 

~ 6-7 Die oordeelsaankondiging oor die seun 

~ 8-9 Die hersiening van die oordeel 

~ 10-11 Die nuwe begin 



1) Die aanklag teen die seun Israel gaan daaroor dat hulle God se liefde verwerp het en ontrou geword het deur aan die Baäls te offer. 

“Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. 
Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.” (Hosea 11:1,2) 

Baälgodsdiens het ’n geweldig appel op die mense gehad. Dit was ’n vrugbaarheidsgodsdiens gepaardgaande met onsedelike rituele. Lekker vir die vlees! Dit was net so verslawend en verleidelik as vandag se dekadente Huisgenoot, TV programme en allerlei vorms van pornografie.... Op aangrypende manier lê God bewyse voor van sy liefde vir die seun. Hy verwys spesifiek na die verlossing uit Egipte. Israel was maar nog ’n seuntjie, ’n jong volkie toe het God hulle uit slawerny in Egipte verlos. God die liefdevolle vader het hierdie seun leer loop. Hy het hulle, hand aan hand bygestaan in die eerste swak treetjies van volkwees. Dit verwys na God se sorg oor sy volk in die woestyn. Ja, hierdie liefdevolle vader het sy jong seuntjie ook in sy arms opgetel en gedra. Maar wat is die reaksie wat hy kry? Tragies. Die seun maak asof die Pa nie bestaan nie. In vers 4 word daar verder uitgebeeld wat die pa vir die seun gedoen het. God het die juk van Israel afgehaal en vir hulle kos gegee. ‘n Juk was ‘n simbool van slawerny. Verder, gevangenes het ’n nekring gedra en hulle hande is ook daaraan vasgemaak. Die Here het die slawehandelaar se toue en nekring van sy seun Israel afgehaal en hy het dit vervang met liefdesbande (mensebande, koorde van liefde) God se verbondenheid met sy volk was ’n liefdesverbintenis, ’n verhouding. God staan nie bloot in ’n juridies tegniese verhouding met sy volk nie maar in ’n innig menslike verhouding. T.s.v.  hierdie liefde bly die seun Israel koppig en weier om te bekeer en dit gaan weer lei tot slawerny. Hierdie keer onder Assiriese verdrukking. (5) 

2) Die seun Israel is baie duidelik skuldig. Volgens Deuteronomium moet ’n opstandige seun na regte die doodstraf kry. God se volk word dus ter dood veroordeel. (Is dit nie wat ek en jy en elke sondaar verdien nie?) Die straf sal deur middel van oorlog voltrek word. Die Assiriërs sal sommige vermoor en die res as slawe wegvoer. God straf! Dis ’n feit waarvan ons nie kan wegkom nie. 

3) Hersiening van die vonnis. In vers 8 kom daar ‘n dramatiese kragtige wending in saak. Hoor God se hart! “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” (Adma en Sebojim was twee susterstede van Sodom en Gomorra wat destyds vernietig is) Dis asof daar ’n tweestryd in God se gemoed is – ja, daar is gloeiende toorn weens Israel se sonde, maar daar is ook ’n onuitblusbare liefde. God se heiligheid en eer vereis dat die seun gestraf word en tog....die liefde brand nog steeds in sy hart. “My seun, ja, jy is skuldig en jy verdien straf, maar my seun ek het jou te lief! Ek kan jou nie los nie! Die rede vir die ommekeer in God se straf is duidelik : MY LIEFDE BRAND TE STERK! God se liefde triomfeer oor die straf wat die seun verdien. 

God gaan Israel se opstand wat die dood verdien met liefde beantwoord! 

4) Hierdie liefde behels ’n nuwe begin. “Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ‘n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië. Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.” (10-12) Sy liefde sal wederliefde opwek sodat hulle agter Hom sal aankom soos destyds uit Egipte. Daar word ’n nuwe Uittog voorspel. God gaan ’n ’n nuwe begin maak en ’n splinternuwe verhouding tot stand bring. Die kern van die nuwe begin is : Hulle sal die Here volg! Hierdie belofte aan Israel het waar geword toe God sy Seun Jesus na hierdie wêreld gestuur het om die verhouding tussen Hom en sy volk te herstel. Jesus, God se Seun sterf i.p.v. die seun (verbondsvolk). Die oplossing van die "Goddelike dilemma" vind ons by die kruis - Sy Goddelike toorn oor die sonde van sy volk en Sy Goddelike onuitblusbare liefde kom daar bymekaar, wanneer die Seun die toorn verduur wat oor Israel (die seun) moes kom! Terloops hierdie Seun het ook ‘n draai in Egipte gemaak! Matteus herinner ons daaraan wanneer hy die geboortegeskiedenis van Jesus vertel.* Hy dra ons straf wat ons verdien en as ek in Hom glo gaan ek vry. Dan is ek nuut en vrygespreek in God se oë! ( 2 Korintiërs 5:21) 


Wat sê die feit van God se liefde vir jou op hierdie oomblik? 

God se liefde is ’n onverdiende liefde, ’n onuitblusbare brandende liefde, ’n roepende en soekende liefde. Vers 8 sê dit so sterk. Sit jou eie naam daarin. God sê : Ek het jou lief, selfs al is jy ’n rebel; Ek het jou lief, selfs al het jy van my vergeet en is jou Bybel toe onder die stof, Ek het jou lief, selfs al het jy my verlaat en geld en eer nagejaag, Ek het jou lief, selfs, al het jy amper geen tyd vir my gehad nie, Ek het jou lief, selfs al het jy elke gebod van my verontagsaam, al het jy my geterg met jou blatante sonde.... Ek het jou lief, selfs al het jy my nie lief nie. My liefde is te sterk , ek kan jou nie net sommer los en aan jouself oorlaat nie. Ek kan jou nie afskryf nie!” 

Kom terug! 

Baie belangrik - God se liefde hang nie maar in die lug nie, God se liefde sê nie, dinge moet nou maar aangaan soos dit is nie! God se liefde wil ’n nuwe begin maak met jou! En dis hoekom Jesus na hierdie wêreld gestuur is. God se liefde is ’n appèlerende liefde, dit roep jou op om terug te keer. Dit roep jou op om Jesus te aanvaar en te omhels. Ons verdien die ewige doodstraf, maar God se liefde sê vir ons daar is ’n nuwe kans. Daar is volkome vergifnis en lewe in Jesus. Baie mense verstaan God se liefde verkeerd en maak dit ’n bespotting. Jy sien God se liefde sê NIE bly maar soos jy is nie. Gaan maar aan met jou verkeerde lewe nie! NEE! NEE! God se liefde nooi jou uit en sê : Kom ons begin nuut! Kom terug! Juis omdat ek jou liefhet kan en moet jy terugkom!  

"Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.” (Hosea 12:7) 



GOD SE ONUITBLUSBARE LIEFDE ROEP JOU TOT BEKERING EN ‘N NUWE TOEKOMS! 





* Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: "Uit Egipte het Ek my Seun geroep." (Matteus 2:14,15) 


Vrydag 14 September 2018

BYBELSE BALANS

EN AGAB OP SY WA !


“Iemand het egter losweg ‘n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat...” ( 1 Konings 22:34)

‘n Onbekende naamlose soldaat skiet sommer lukraak ‘n pyl af. Hierdie pyl tref egter niemand anders nie as Agab die goddelose koning van Israel. Is dit toevallig? Nee, Agab sterf soos God reeds vantevore aangekondig het, na die wrede moord op die onskuldige Nabot wie se wingerd hy so graag wou gehad het. 

Nou is die vraag, wie het Agab doodgemaak : God of die soldaat? 

Ja, Agab se dood het ‘n menslike oorsaak, die pyl van ‘n boogskieter. Was dit sommer toevallig, ‘n blote gelukskoot? Nee, Agab se dood het ‘n Goddelike oorsaak, dit was presies so deur God beplan. Die belangrikheid van menslike aksies en menslike verantwoordelikheid word net so in die Bybel beklemtoon soos Goddelike aksies en Goddelike soewereiniteit. 

Josef word deur sy broers verkoop. Dit was verkeerd en hulle bly verantwoordelik vir hulle eie gruwelike sonde. Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak. “Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Psalm 105:16,17. God se daad van stuur word parallel genoem met die daad van verkoop deur sy broers! Die een weerspreek nie die ander nie. 

Kom ons toets hierdie beginsel met nog ‘n gebeurtenis. Wie het Jesus gekruisig? Wie is verantwoordelik vir sy dood? Die skare in Jerusalem, Pilatus, Kajafas, Judas, die Romeinse soldate of die Satan self? Ja, hulle was almal verantwoordelik en dus skuldig. Petrus beskuldig juis die volk van hierdie vreeslike onreg. Maar daar is ook ‘n ander waarheid wat in balans hiermee is. “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” Dis wat Petrus sê in sy toespraak op Pinksterdag in Handelinge 2:23. God is volkome in beheer, als gebeur soos wat Hy bepaal!

Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid is altyd in balans. 

Mense vergeet dit so maklik. Soms is dit vir ons gerieflik om menslike verantwoordelikheid te ontken. As iemand teen ‘n roekelose spoed jaag en so verongeluk, dan word die skouers maklik opgetrek en gesê : “Ag, wat sy strepie was maar getrek.” Dis waar, maar dis eensydig. God het ook vir ons die gebod gegee wat ons beveel dat ons nie menslike lewe (ook ons eie) in gevaar mag stel nie. God het ook vir ons die opdrag en verantwoordelikheid gegee om landswette te gehoorsaam. Die Bybel leer vir ons op baie plekke dat ons dade gevolge het. (Kliek - SWAPE EN SOTTE IN SPREUKE) Ons kan nie maar ons skouers optrek en onskuldig pleit nie. 

Die Bybel sien geen teenstrydigheid tussen menslike verantwoordelikheid en Goddelike soewereiniteit nie.

Dit geld ook vir ons geloofspad. Ons kry die ernstige opdrag in Filippense 2:12. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” of soos die OAV dit nog sterker stel : “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing”

Menslike verantwoordelikheid! Ons plig! Maar net daarna die wonderlike versekering. “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2:13 Goddelike soewereine genade. Ons moet werk ja, maar dis eintlik Hy wat ons die wil gee om te werk. Beide waarhede : die onteenseglike opdrag aan onsself én God wat alles bewerk soos Hy wil moet ernstig opgeneem word. Beide moet in balans gehou word.

Nog ‘n soortgelyke voorbeeld. Daar kom na elkeen ‘n dringende uitnodiging om na Jesus te kom. Dit behels ‘n keuse van my kant af.

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) Dis jou verantwoordelikheid om hierdie besondere uitnodiging te aanvaar. Aan die anderkant as jy dit aanvaar is dit nie jou goedheid nie, maar dit was Jesus se wil om Homself aan jou bekend te maak. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matteus 11:27) Hierdie waarheid word immers bevestig in Johannes 6:44. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie;...”

Dit bring mens nou natuurlik weer by die ou strydpunt rondom die uitverkiesing. So baie Bybelse tekste beklemtoon God soewereine en onvoorwaardelike uitverkiesing. God kies ons van voor die grondlegging van die wêreld om sy kinders te wees. Dis 'n waarheid waaroor ons moet juig en bly wees! Daar is egter net so baie tekste wat die belangrikheid van ons keuse onderstreep. “Kies wie julle wil dien, vandag as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie, kom kry die water, elkeen wat wil… “ Ons moet beide waarhede ernstig opneem. Ons moet beide aspekte preek.

Paulus lê baie klem op die feit dat ons nét deur die geloof gered word sonder enige werke of verdienste van ons kant. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Rom 3:28) Jakobus stel dit weer duidelik dat geloof sonder werke heeltemal nutteloos is. “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” (Jakobus 2:24) 

Is dit ‘n teenstrydigheid? Nee, Paulus vertel ons hoe ons gered word en dat redding alles net genade is. Hy sê dit vir mense wat die genoegsaamheid van Jesus se offer bevraagteken het en op eie prestasies, afkoms en wetsonderhouding wou staatmaak vir hulle redding. Jakobus praat aan die anderkant met mense wat genade wil misbruik en op hulle louere wil rus. Hy wil ons bewaar van ‘n valse skyngeloof. Dis vir mense wat redeneer, ons kan maar leef soos ons wil , want ons glo mos! Vir gesonde gebalanseerde Christenskap het ons beide waarhede nodig.

So is daar baie ander waarhede wat ons in balans moet handhaaf. Moet ons bid of werk vir ons kos? Ons moet bid, want Jesus het dit vir ons in die Onse Vader geleer. Beteken dit dat ons nie moet werk nie, en moet wag soos Elia dat die kraaie vir ons kos bring? (Nee, Elia het ‘n unieke opdrag van God gehad.) Die Bybel maak dit wel baie duidelik dat ons moet werk vir ons kos! "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." (2 Tessalonisense 3:10) Daar is ‘n Bybelse balans – bid en werk! 

Ons sien hierdie kombinasie baie treffend in die geskiedenis van Nehemia se opbou van die muur van Jerusalem. Daar is ernstig, gebid en gevas. Daar is net so ernstig hard gewerk en gebou. Hulle was ook gereed met hulle swaarde om hulle te verdedig teen die vyande wat die muur se bou wou keer. Gebed, maar ook troffels en swaarde was die instrumente... 

Ook wat die uitdra van die evangelie betref moet ons vashou aan beide bid en werk. As ons eksamen skryf,  bid en leer, as ons siek is… bid en medisyne gebruik.

Baie waarhede in die Bybel wat lyk of dit mekaar weerspreek. Dit weerspreek nie mekaar nie, maar is aanvullend. Ons moet elke waarheid ernstig opneem, maar nie eensydig opneem en verabsoluteer nie.

Simmetrie en balans is ‘n kenmerk van geestelike volwassenheid en insig. Baie dwalinge ontstaan juis wanneer een Skrifwaarheid bo ander beklemtoon word. Mag ons groei na geestelike volwassenheid wat Bybelse waarhede in balans sal hou! 

Erkenning aan Peter Barnes, Holding Two Truths Together, Banner of Truth, Dec 1997

Vrydag 07 September 2018

LGBTQI+ en wat nog?

Dis met diepe skok en ontnugtering dat ek die artikel van Prof. Nadia Marais in DIE KERKBODE getiteld, "Jesus diskrimineer nié", gelees het. Die konteks is die gay debat wat nou weer in die kollig geplaas is deur die hofsaak wat deur ‘n groep ontvrede lidmate gemaak is om die 2016 sinodebesluite ongedaan te maak. 



Nadia verwyt die kerk en skryf o.a. in haar betoog soos volg : 



“Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.” 


Sy wil dus beweer dat wanneer ons in getrouheid aan die Woord, sodomie en sogenaamde selfdegeslagverhoudings afkeur en mense in hierdie konteks tot bekering oproep, ons eintlik besig is met diskriminasie en nog erger, geweld! Sy berei eintlik die weg hier voor vir die kriminele vervolging van mense wat aan God se Woord getrou wil bly! 'n Baie verontrustende wending...!

Haar hele betoog is dat Jesus teen niemand diskrimineer nie. Sy noem dan byvoorbeeld iemand soos Saggeus, die belastingontduiker! Sover stem ek natuurlik heeltemal saam. Ek het self al dikwels oor Saggeus gepreek om die absolute nie-diskriminerende genade van Jesus uit te wys. Jesus het gaan oorbly by die slegste ou op die dorp, en dit gee inderdaad hoop vir sondaars, waaronder ekself! Wat Nadia egter verswyg is dat Saggeus deur Jesus se ontmoeting verander is! Hy het nie ‘n gierige skelm gebly nie, want wie genade ontvang soos hy kan nie anders as om nuut te word en die rug op jou ou leefstyl te draai nie. 

Natuurlik is God se genade net soveel bedoel vir LGBTQI+ mense (elke keer as ek weer sien kom daar nog ‘n letter by, ek wonder hoekom noem hulle nie maar die groep sommer A-Z nie?) soos vir alle sondaars! Daar is genade vir moordenaars, maar beteken dit ons moet sê dis reg hulle kan maar aanhou moor? Daar is genade vir pedofiele, kannibale, diewe, skynheiliges... maar beteken dit ons moet dit goedkeur dat hulle met hulle leefstyl onverhinderd voortgaan as lidmate van Jesus se kerk? En nog erger moet die kerk sover gaan om hierdie slegte dade goed te praat en amptelik te seën (soos wat die gay aktiviste soos Nadia wil hê)? Nadia en haar mede aktiviste is immers luidkeelse voorstanders van die siening dat die kerk amptelik sogenaamde selfdegeslagverbintenisse moet bevestig. 

Nadia is ‘n professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar denke is alles behalwe sistematies en haar teologie kom uit alle bronne behalwe die Bybel. Ek sidder om te dink dat mense soos sy ons nuwe geslag predikante moet vorm, ek bedoel vermink! 

Nadia, ons moenie God se genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy genade word nooit in die Skrif buite die konteks van sy heiligheid geplaas nie. Wanneer dit gebeur, maak ons die fout van Ussa. (kliek) Genade gee ons nie 'n vrypas om God te tart nie!

Nadia se manier van redeneer is gevaarlik! Dit bedreig die heiligheid van die kerk, maar ook gewetensvryheid as sodanig! Dis juis die liberaliste wat die grootste vervolgers van Jesus se kerk gaan word!

Dinsdag 04 September 2018

SKOKKEND : Ussa sterf

omdat hy sy hand na die verbondsark uitsteek. Hy wou keer dat dit nie afval van die wa nie en God tref hom onmiddelik met die dood! Dis ‘n verhaal (2 Samuel 6) wat vir ons ongemaklik laat voel, onverstaanbaar en onregverdig klink. Ussa keer dat die ark nie op die grond val nie. Tog sekerlik ‘n goeie daad? Ons verwag dat hy dalk ‘n stem uit die hemel sou hoor wat sê : “Dankie Ussa!” In plaas daarvan word Ussa deur God gedood. Summiere teregstelling op die plek! 



“Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis*, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” (2 Samuel 6:6,7) 

Wat het hier gebeur? Was God onregverdig of dalk erger, in ‘n slegte bui of wispelturig? Ons moet onthou die verbondsark (‘n Goue kis met die tien gebooie daarin, met ‘n goue deksel waarop twee gerubs was.) was ‘n besonder heilige voorwerp. Sy normale plek was in die allerheiligste, die heel heiligste deel van die tabernakel waar die hoëpriester net een maal per jaar mag ingegaan het. God het duidelike voorskrifte gee t.o.v. die vervoer van die verbondsark. 

"Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet ‘n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met ‘n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek...Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. (Numeri 4:5,6,15!) 

Om te raak aan die ark of een van die heilige voorwerpe was strafbaar met die dood! Dit was ‘n duidelike Goddelike bevel! Die ontwerp van die ark self het dit al inherent duidelik gemaak. Daarom was daar ringe aan die ark met draaghoute sodat by die vervoer van die ark niemand daaraan sou hoef te raak nie! Die ark moes dus gedra word! (Hulle het dit baie goed besef - sien vers 13) Daar is geen voorsiening gemaak vir vinnige vervoer op ‘n wa nie. Die ark was meer as maar net nog ‘n houtkis, dit was die setel van God se heilige teenwoordigheid. "...Dit is die ark waaroor die Naam: "die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon", uitgeroep is." (2) Dis op die deksel van die ark waar die hoëpriester die bloed van die jaarlikse versoenoffer moes sprinkel! 

DIS GEVAARLIK OM TE VERGEET DAT GOD HEILIG IS! 

A Ussa sterf, sterf hy dus nie onskuldig nie. Hy het ‘n duidelike voorskrif en wet van God oortree. Hy sterf as iemand wat God se waarskuwings geïgnoreer het. Die doodstraf wat Ussa kry is nie onregverdig of onredelik nie. Dit was nie ‘n gril of bevlieging van God nie. Dit was niks buitengewoon nie. Wat wel skokkend voorkom is die skielikheid en finaliteit van hierdie straf. 

Die eintlike rede waarom ons geskok en dronkgeslaan word deur die verhaal van Ussa is omdat ons nie die Bybelse begrippe van heiligheid, geregtigheid, sonde en genade reg verstaan nie. Anders gestel ons as mense is kansvatters wat God se genade misbruik en dink dat genade iets is wat ons verdien. Ons raak mak vir God. “Ag, dis mos vanselfsprekend, God sal en moet my mos genadig wees,” is die gedagte diep in ons agterkoppe! 

RC Sproul in sy boekie “The Holiness of God”** gebruik ‘n uitstekende voorbeeld om hierdie arrogante houding te illustreer: Hy het 250 studente in sy OT klas gehad. Sy studente moes drie take voltooi. Hy het vooraf die inhandigdatums deurgegee en dit duidelik gestel dat as die taak nie op die regte tyd ingehandig word nie, jy ‘n druipsimbool (F) daarvoor sou kry. Die eerste taak moes op die laaste dag van September in wees. 225 van die 250 studente s’n was betyds. Die ander 25 het bewend en beangs vir uitstel gepleit. RC het toegegee aan hulle pleidooie en uitstel gegee. Die studente was baie dankbaar en vol mooi woorde en beloftes! Toe kom die einde Oktober. Net 200 van die 250 was betyds. Die ander was senuagtig, maar glad nie paniekerig nie. Weer vol verskonings, verduidelikings en mooi beloftes. Weer was RC hulle genadig. “Maar onthou”, het hy gesê, “geen uitstel die volgende keer nie. Dan druip julle die taak as julle laat is!” Die studente was baie bly : “Prof Sproul, ons is lief vir jou, jy is wonderlik!” RC was nou hulle held! ‘n Regte Mr. Popularity!

Raai wat het gebeur aan die einde van November met die inhandiging van die derde taak? Net 150 van die 250 se take was betyds in! “Waar is julle take?”, het hy gevra? Een het geantwoord : “Moenie worry nie prof. ons werk daaraan…” Toe het RC sy punteregister gevat en die name begin aflees. Die wat nie ‘n taak ingegee het nie, het ‘n F gekry. Die studente was verontwaardig en het hardop geprotesteer. “Dis nie billik nie!” RC het met ‘n spesifieke student gepraat. “Jy sê dis nie billik nie?” “ Nee!”, antwoord die student. “Wel, wil jy regverdigheid hê? “Ja” “Goed, as jy daarop aandring,sal jy dit kry. Verlede keer was jou taak ook laat. Ek gaan jou nie net hierdie keer ‘n F gee nie, maar ook vir die vorige taak. Ek sal jou vorige punt verander na ‘n F, want dis wat jy regverdiglik verdien.” Die student was stomgeslaan. Geen argumente nie. Hy het om verskoning gevra en was te dankbaar om net een F te kry in plaas van twee. 

Die studente (en ons) vat genade as vanselfsprekend op! Ons dink ons verdien genade, ons moet genade kry. Nee, genade word nie verdien nie. God skuld ons ook nie genade nie. Ons verdien straf en oordeel. Ons verdien die straf van Ussa! God se toorn is oor ons en dis ‘n regverdige toorn, want ons is skuldig aan die oortreding van sy wette. 

GOD SKULD ONS NIE GENADE NIE; HY SKENK DIT WEL! 

Nou hoor (sien) ons hier aan die nagmaalstafel hoe God se toorn vir Jesus aan die kruis getref het! Ons hoor hoe die Goddelike wraak vir Jesus getref het in ons plek en dat ons vry kan wees van skuld en straf! Maak dit ons dankbaar? Of dink ons dat ons kanse kan vat met God se heiligheid ? God skuld nie vir ons genade nie, Hy skenk vir ons genade deur Jesus. Hy hoef ons nie te spaar nie, dis sy goedheid en guns. Hoor wat sê God vir Moses. “...want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” (Eksodus 33:19) 

Genade is regtig genade! Vrye onverdiende guns alleen! Maar pasop, Hy is nog dieselfde heilige God! Ons moet Hom nie tart nie. Ons moenie kanse vat nie. Ons moenie dink ons verdien genade of is geregtig daarop nie. Oor genade kan ons net oneindig dankbaar wees! 

Die Nagmaal vertel ons van genade. Jesus het in my plek die toorn en straf gedra. Sy liggaam is vir my gebreek, sy bloed het vir my gevloei! Maar die Nagmaal is juis ook die heilige Nagmaal. Ons moet dit nie ontheilig deur dit ongeërg of onnadenkend te gebruik nie. Ons moet dit nie ontheilig deur onberouvol te volhard met sonde en ongeloof nie! Onthou wat het met Ussa gebeur! God is nog dieselfde heilige God wat bedoel wat Hy sê! 

*Heiligskennis is die skending of ontering van iets wat heilig is. (Eng = sacrilege) 

**p124ev 


Saterdag 18 Augustus 2018

GEEN KORTPAD

- Vergeet maar van kitsoplossings en maklike resepte vir heiligmaking en geestelike volwassenheid!



Ons mos hou almal maar van kortpaaie en kitsoplossings. Skoolkinders wens hulle kon net hulle handboeke onder die kopkussing sit en siedaar! Gierige grootmense val na al die jare nog steeds vir gou-ryk-word skemas... Hierdie drang na kortpaaie kry mens ook by ons as Christene ten opsigte van ons geestelike lewens. Ons soek na kitsoplossings vir ons stryd teen sonde en onvolmaaktheid, ons soek na kitsantwoorde vir sukses in evangelisasie, ons soek na suksesresepte vir gebed en maklike wenresepte vir kerkgroei. En daarom gebeur dit so dikwels dat net soos gierige mense maklik gevang word deur kitsrykword skemas ons as Christene maklik kan val vir allerhande geestelike resepte en foefies wat maklike vinnige oplossings bied. Maar, helaas...die einde is groot teleurstellings, skade en verwarring. (Al die mense wat by ‘n spesiale diensreeks “omgeval" het, se lewens daarna getuig nie juis van die vrugte van die Gees nie...) Veral as iets gewerk het vir ’n ander persoon of ’n ander gemeente dan wil ons dit sommer ook net vinnig by ons toepas. God werk egter anders - Ja, Hy werk kragtig en radikaal - maar nie met eenvormige kitsoplossings nie. Ja, Hy gee sommige mense wonderlike ervarings wat binne ’n oomblik ’n reuse verskil maak, maar selfs ’n besondere keerpunt ervaring is slegs maar net ’n deel van die pad wat God met sy kinders stap. God stap ’n pad met elkeen van ons. God gaan geduldig op weg met sy kerk. Hy werk deur langsame prosesse. Dis ’n feit - daar is baie bewyse vir hierdie beginsel. Mense word nie onmiddellik na hulle bekering hemel toe oorgeplaas nie. Die baie Nuwe Testamentiese vermanings oor sonde en stryd wys dat dit “normaal” is vir ’n Christen om te stry teen sondes en om met probleme te kampe te hê. 


God se werkinge met sy volk in die Ou Testament is ’n verdere bewys dat Hy tyd en prosesse gebruik om sy doelwitte te bereik.

Die verlossing uit Egipte en die daaropvolgende woestyntog en verowering van Kanaän is uitstekende voorbeelde. Daar is immers duidelike parallelle tussen ons verlossing en die redding uit Egipte, tussen ons heiligmaking en die woestyntog ens.

Deuteronomium 8:1-5 is ‘n uitstekende voorbeeld van Ou-Testamentiese lering wat vir ons wonderlike insig gee in God se werking met ons op die pad van heiligmaking. 

1."Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het.

2."Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.

3. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

4. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

Moses is hier aan die woord. Hy spreek die volk toe in die woestynvlakte oos van die Jordaan.* Die oos Jordaangebied is nou reeds verower en nou moes hulle nog die Jordaan oorsteek om Kanaän te verower. In die eerste gedeelte van Deuteronomium gaan Moses se preke oor dit wat God gedoen het en nog sal doen. Spesifiek in hfst. 7-11 gaan dit oor lesse wat tydens die woestyntog geleer is. Die volk Israel het 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf. Dit kom rofweg daarop neer dat Israel veertig jaar geneem het om ’n tog te voltooi wat eintlik maar 11 dae sou kon duur.** Die rede vir die rondswerf was hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.....(behalwe natuurlik in die geval van Josua en Kaleb) Hier in 8:2-5 kry ons ’n opsomming van dit wat die Here vir hulle geleer het gedurende die lief en leed van veertig jaar:

1) God het hierdie pad gebruik om vir hulle nederigheid (2) te leer. (OAV - verootmoediging). Israel se hoogmoed en trots moes afgebreek word. Hulle moes leer dat hulle niks sonder God is of kan nie. (Vgl. 1:41-46)***   As kinders van God moet ons ons plek voor Hom ken - in nederigheid en gebrokenheid. Christene het gedurig nodig om dit te leer - ons het dit nie sommer vanself nie. Ons vroomheid is dikwels deurspek met hoogmoed en ’n hoe dunk van onsself. “Ek is gered en nou gaan ek die wêreld omkeer.” Ons moet onthou - God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. God gebruik baie metodes om ons nederigheid te leer, selfs ons sonde, mislukkings en foute. Die selfversekerde Petrus moes eers deur ‘n baie diep mislukking en teleurstelling gaan. Hy kan ook ander ellende en beproewinge gebruik. Soos die doring in die vlees” in Paulus se geval... Kind van God - God gaan vir my en jou nederigheid leer al kos dit wat! Ja, ons kry die opdrag om onsself te verneder onder sy hand, maar ons gehoorsaam dit nie juis dikwels nie en daarom gebruik Hy die toetse en beproewings op die harde “woestyn pad” van die geloof.

2) In tye van swaarkry en moeilikhede, en teleurstellings word, is Israel se gehoorsaamheid getoets.(2b) Ons werklike gesindheid teenoor God se wet en wil word geopenbaar as ons onder druk kom. Ons weet ons moet geduld hê as een van die vrugte van die Heilige Gees. Maar hoe sal ek ooit weet of ek geduldig is voordat ek vir ure in ’n ry moet staan en wag om dan nog verder te wag terwyl ‘n onbeholpe amptenaar ongewillig of onbevoeg is om my vinnig te help? God verwag vriendelikheid. Om tussen vriendelike mense se vertoef sal nooit ’n toets wees of ek vriendelikheid het nie - daarom het die Here jou dalk in ’n kantoor vol onvriendelike mense geplaas. Die groot eis van die wet is liefde - om te weet of daar liefde in jou hart is plaas die Here jou in ’n huis saam met ’n moeilike eggenoot of kinders. Op die moeilike woestynpad van die geloof word ons gelouter, word die verborge sondige geneigdheid van ons harte aan die lig gebring en ons gehoorsaamheid word deeglik getoets.

3) Tydens die woestyntog moes Israel afhanklikheid van en vertroue op God en sy beloftes te leer ken. (3) God het vir sy volk in ’n woestyn gesorg. Gevoed en geklee en beskerm. In ’n woestyn waar daar nie kos is nie het Hy vir hulle kos gegee. Hy het hulle van brood voorsien en van vleis voorsien. (Vgl. 2:7) Geloof in God en afhanklikheid van God is iets wat ons nie in boeke kan leer nie. Geloof in die lewende God word net deel van ons in die harde woestyn wêreld van krisisse, finansiële nood, die magteloosheid van ’n siekbed... Die ware aard van ons geloof kom aan die lig - is dit net mooi woorde en fyn uitgewerkte teorie? In die woestyn omstandighede waar mense nie meer kan help nie word ons gedwing om ons ten volle op God en sy beloftes te verlaat. “Niemand kan nou iets meer doen nie, Here net U alleen.” Ons moet ook leer dat alles eintlik om God self gaan, sy Woord en sy karakter en nie dit wat Hy vir ons gee nie! Hy is baie meer wonderlik en heerlik as dit wat HY vir ons gee. Ons moet Hom aanbid vir wie Hy is!

4) Israel is in die woestyn onderwerp aan onderrig en dissipline. (5) die woestyntog was ’n leerskool van vaderlike dissipline. Die lewe wat God van hulle verwag moes ingeoefen word. Hulle moes op die harde manier leer om sy wet te gehoorsaam en sy wil te doen. Op die harde manier moes hulle die gevolge van ongehoorsaamheid leer ken - dink maar aan die verhaal van die giftige slange. Hulle moes leer om God se opdragte ernstig op te neem, want hulle sou dit baie nodig kry in die verowering van Kanaän. As kinders van God moet ons dikwels op die harde manier leer om sy Woord en wil te gehoorsaam. Het dit al gebeur dat jy ’n ding doen of na ’n plek gaan en jy beleef so ‘n vae onrus? Jy weet dis verkeerd, maar dan doen jy dit steeds. En wat gebeur dan dikwels? Dit loop dit uit op ’n groot mislukking, hartseer of selfs skade! Dan besef mens die Here het die hele tyd deur sy Gees met my gepraat, maar ek wou nie hoor nie. Nou moet ek voel. Dis nie lekker nie, maar dit sal my leer om volgende keer meer sensitief te wees vir sy stem.

Elke kind van God is in ’n proses van voorbereiding. 

Voorbereiding vir die beloofde land, voorbereiding tot diensbaarheid. Partykeer verloop baie jare voordat Hy jou vir ‘n groot lewenstaak gebruik of wanneer Hy dink HY het jou nou genoeg aan ‘n bepaalde les laat leer. Dink maar aan die geskiedenis van Moses, Paulus , Jesus...

Kom ons aanvaar met opgewondenheid dat Hy besig is met ons, met my, jou in die spesifieke krisisse wat ons dalk nou mag beleef. 

Kom ons onderwerp ons met blymoedigheid aan sy dissipline. 

Kom ons wees wakker om te verstaan, wat Hy vir ons wil leer en wat Hy in ons wil verander. 

Kom ons sien sy liefde in alles raak. Wat jy dalk NOU beleef is nie lekker nie, maar weet dit is ‘n Liefdevolle Vader wat besig is met opvoeding!

*“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.” (Deuteronomium 1:1)

**“Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom.” (Deuteronomium 1:2)

*** Dit gaan hier oor die rampspoedige veldtog teen die Amoriete toe Israel teen hulle gaan veg het sonder dat die Here by hulle was! Israel moes die onderspit delf.


Oom Willie de Bruijne is die afgelope week oorlede... ook hy het 'n lang en harde pad gestap!

Donderdag 09 Augustus 2018

HUIL JESUS OOR JOU?

BENUT BETYDS DIE GENADE, WANT GENADETYD KAN VERBYGAAN! 


Jesus huil. Die Seun van God is in trane. Waarom? Ons vind hierdie gebeurtenis in Lukas 19:41-45. Ons is hier by die intog van Jesus in Jerusalem m.a.w. kort voor sy gevangeneming en kruisiging. Huil Jesus oor die pyn en dood wat vir Hom wag? Is Jesus hartseer oor die afskeid wat Hy moet neem van sy moeder, sy dissipels? Nee, Jesus huil oor die goddelose stad Jerusalem. Wie is hulle? Afgodsdienaars, rowers, heidene? NEE! Verbondsmense, tempelgangers en Skrifkenners aan wie die beloftes van genade behoort. 

“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” (41,42) Jesus is bitterlik bedroef, want hulle het die tyd van genade, die geleentheid tot redding by hulle laat verbygaan. Hulle was blind vir die genadekans wat na hulle kant toe gekom het. 

GENADE ONBESKRYFLIK GROOT SOOS BELOOF IN DIE VERBOND 

Wat ’n heerlike ding is genade tog nie! Genade beteken God kom besoek ons met onverdiende guns alleen. “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (44 OAV) Hy besoek ons om ons te red. God besoek vir Jerusalem en ons om redding te bring. Jerusalem het hierdie kans laat verbygaan. God het genade beloof in die verbond met Abraham, Isak en Jakob. Dis hierdie genadeverbond wat God tot aksie laat oorgaan het om die volk destyds uit Egipte te red. “Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

As ons die lofsang van Maria lees dan sien ons, God se verbondsbeloftes is ook die rede hoekom Jesus deur God gestuur is! “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." (Lukas 1:54,55) 

Jesus se koms na hierdie wêreld, sy menswording, maar ook sy kruis en opstanding is ‘n vervulling van die verbondsbeloftes aan Abram. 

God besoek ons ook in genade deur Jesus. Hy sê vandag vir jou: “My Seun het al julle sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra. Hy het alles volbring. Hy het alles gedoen wat nodig was om vergifnis te bewerk. Hy het die volle prys betaal.” Hierdie genade maak ‘n appèl op elkeen wat hoor... 

Genade nooi ons : “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) 

Genade verseker ons : “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37) 

God se genade is volledig en heerlik. Die slegste mens wat bestaan kan dit nou op hierdie oomblik ondervind. Miskien is jy tans betrokke in ‘n buite egtelike verhouding, besig met bedrog, vol haat en bitterheid of dalk net ’n klipharde onbekeerde vorm godsdienstige.... Genade is nommerpas vir jou! As jy God se geskenk in Jesus aanvaar en Hom dank vir sy dood, staan jy op van jou rekenaarskerm of selfoon as ’n mens wat in God se oë nog nooit gesondig het nie! Doen moeite en gaan lees Hebreërs 8:12

Genade skenk volkome vergifnis en maak van rebelle kinders van God! 

Dis hierdie genade wat die vuil besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het nuut gemaak het. 

Dis deur God se genade dat die Samaritaanse vrou met haar vyf mans van die verlede en sondige saamblyverhouding, lewende water by Jesus gekry het 

Dis deur genade dat die skelm Saggeus ‘n kind van Abram geword het. 

Genade is oneindig in omvang! Kom ons sê dit weer - vir die ergste sondaar op aarde kan ek nou verseker : “Glo in Jesus en jy sal gered word!” 

GENADE KAN MISGELOOP WORD 

Die genade aanbod is egter beperk in tydsduur - Dit kan onbenut verbygaan, misgeloop word, verpas word! Jesus self wou so graag dat Jerusalem se mense God se genade ontvang. Hy het ‘n hart vir hierdie stad gehad. Hoor die versugting van sy hart... "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!" (Lukas 13:34) 

God se genadetyd kan tot ‘n einde kom en dan begin sy onafwendbare oordele. Baie mense glo dit nie – “God is mos liefde.” Die Bybel leer duidelik dat diegene wat sy genade aanhou verwerp onder sy oordele gaan deurloop. 

Dit was letterlik die geval met Jerusalem - Jesus kondig Jerusalem se oordeel aan : “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." ( 43,44) Dit het toe gebeur...

Die verbondsteken aan hulle liggame het nie die Romeine se swaarde gekeer nie! Hulle bevoorregte status het nie God se oordele afgeweer nie! 

Deur die eeue heen het dit gebeur dat God se genadetyd verbygaan en dan kom sy oordele. Dit het gebeur tydens die sondvloed, dit het gebeur met Sodom en Gomorra, met Israel en met Juda .... menseslagtings, ballingskap... Ja, Jesus se oordeelswoorde oor Jerusalem is letterlik vervul in 70nC. Dit was 'n afgryslike slagting en ongekende verwoesting...

Die punt is : Daar kom ‘n tyd wanneer God sê : “Genoeg is genoeg!” Al die oordele, oordele, rampe in die geskiedenis wys heen na die werklikheid van Goddelike oordeel. Dis als ’n voorfilm vir die groot finale oordeel. 

Genadetyd kan verbygaan! Ons moet mense ook hierteen waarsku, maar ons moet dit nie met ’n harde selfgeregtigheid doen nie, maar met bewoënheid soos Jesus. 

KLIM OP! 

Geliefdes ons bly geestelik gesproke in ’n beleërde stad. Die stad se naam is hierdie sondige wêreld. God se skrikwekkende toorn het die stad reeds omsingel. Hy staan gereed om die goddelose wêreld finaal te oordeel en vir ewig te straf. Maar op hierdie oomblik staan ’n trein gereed. Dis ‘n GENADETREIN! Dis die trein van God se verbondsbeloftes. Dis die laaste en enigste ontvlugting uit hierdie verdoemde stad. Die trein se naam is eintlik JESUS. Het jy al opgeklim? Voor Hom gebuig? Sy beloftes geglo en toegeëien? Talm jy? Huiwer jy nog? Waarom langer wag? Die trein kan enige oomblik vertrek. Dan is die laaste kans vir ewige verby... Dan kan die verbondsbeloftes nie meer troos bring nie..

KLIM JY?


Sondag 05 Augustus 2018

SATERDAG OP TSINTSABIS

- trane en evangelie toe 'n getroue Boesmanbroer begrawe is.

Dit was 'n emosionele terugkyk, tuiskoms en evangelie geleentheid. Toti Tsam een van die eerste Boesmanbekeerlinge wat deur my oorlede pa, Johan de Koning se bediening op die plase in die Tsumeb omgewing die Here gevind het, is verlede Saterdag begrawe op Tsintsabis. Dis 'n nedersetting so ongeveer 60 km noord van Tsumeb. Toti was destyds 'n plaaswerker op Paul Smith se plaas Driehoek, oos van Tsintsabis. Daar onder 'n groot wildevye boom wat skuins groei het Toti die saak met sy Verlosser uitgemaak. Oom Reinhard Friederich een van die baie bekende Duitse boere in die omgewing, 'n sendingvriend en kenner van die Hai//om Boesmans en hulle taal het aan die groot groep mense vertel hoe opgewonde my pa was oor Toti en sy broer Atrabe se bekering. Dit was die jaar 1972. Dit was ook lekker dat Rudolf, oom Reinhard se seun wat ook 'n hart het vir hierdie mense, saam was by die begrafnis.

Toti en 'n ander Boesman bekeerling, Markus is later op 'n keer deur my pa saamgeneem na die verjaarsdag geleentheid van die Dorothea Sending noord van Pretoria om te gaan getuig van wat die Here vir hulle gedoen het. Maar ook hier in die omgewing is mense wat nog vertel hoe Toti hulle na die Here gebring het. Een van hulle is 'n tuinwerker van my vriend Andries Gous.  Andries, wat self nou 'n kosbare bediening onder die Boesmans op die Oerwoud nedersetting het, was ook by die begrafnis.

Vir ons haastige westerse mense was dit 'n lang (en luide!) begrafnis, maar die hoofsaak is die evangelie van hoop kon uitgedra word. Die dood is 'n vyand wat oorwin is deur ons Here Jesus. Ja, die dood is soos 'n aaklige skerpioen, maar sy angel is nou af! Daarom hoef ons nie te treur soos mense sonder hoop nie. Dit was vir my 'n reuse voorreg om aan so 'n groot klomp mense die kernwaarhede van die evangelie uit te spel soos ons dit saamgevat kry in 1 Korintiërs 15. "Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte."

Die groot skare mense wat geluister het, van wie baie deesdae aan elke denkbare vorm van dwaalleer blootgestel word, moet ons tog met groter erns laat bid dat die Here van die oes arbeiders in sy oesland sal stuur. Miskien is jy wat hier lees dalk deel van die antwoord van hierdie gebed...

Almal staan tou om eers die oorskot te besigtig.

Op sy laaste aardse reis.


Vrydag 03 Augustus 2018

RENTMEESTERSKAP

- Leef met vreugde voluit en verantwoordelik! 



Is geld en goed gevaarlik? Ons het al gekyk na die dwaasheid van hebsug (Kliek op DWAAS), maar nou moet ons positief vra, wat nou? Miskien is jy bekommerd oor jou selfgesentreerde en geldgedrewe leefstyl en wil jy graag leef soos God wil hê. Nou wonder jy : “Wat moet ek maak met geld en besittings, maar ook al my ander bates soos gesondheid, verstand en geleenthede? Hoe moet ek my plaas benut of my besigheid bestuur? En veral tyd wat seker die kosbaarste bate is, hoe moet ek dit aanwend?” Die gelykenis van die TIEN MUNTSTUKKE in Lukas 19:11-27 is fundamenteel belangrik om reg te lewe as kind van God. 

ONS TYD OP HIERDIE AARDE 

Die agtergrond van die gelykenis is baie belangrik. “Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.” (11) Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Kinders van God gaan nie dadelik hemel toe nie... Die nuwe hemel en nuwe aarde lê nog in die toekoms. Nou wag daar eers werk vir ons... 

Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. 

Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor gee. As jy ‘n kind van God geword het, het jy ‘n baie spesifiek taak en roeping hier en nou op aarde. Hierdie taak en roeping kan mens saamvat met die term RENTMEESTERSKAP. Hierdie begrip word mooi in die gelykenis duidelik gemaak! 

Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant, die onbekeerdes. Dis hulle wat die koningskap van Jesus doelbewus verwerp! “Sy landgenote het hom egter gehaat en ‘n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.” (14) Hulle sal by die wederkoms gestraf word. “En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" (27) Ons moet sommer nou al besef - Die regte gebruik van geld en alle ander bates begin by bekering tot Christus. Die regte leef van die lewe begin wanneer ek regtig Jesus se koningskap aanvaar! As ek Jesus as my Verlosserkoning aanvaar word ek vertrou en bemagtig met sekere gawes en goedere. Terloops : Het jy al voor Hom gebuig? 

Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en verpligtinge van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God word as ’n rentmeester aangestel. “Hy het gesê: "‘n Man van adellike afkoms het na ‘n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 
Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’ (12,13) 

Dit beteken prakties dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee van wat jy hiermee gedoen het. 

BESITTINGS 

Terloops ons besit niks nie! (Hoor ons mooi?) Dis ‘n totale illusie as jy dink iets is regtig joune! 

God is die enigste Besitter in die heelal. 

Alles wat ons het is net vir ons geleen. Dit behoort aan God, Hy gee dit soos Hy wil en Hy kan dit vat wanneer Hy wil. Toets dit maar – jy het geen waarborg dat jy more oggend eiendom, gesondheid of verstand gaan hê nie! Ook nie eens vrou of kinders nie! Ons het nie besittings nie, maar wel verantwoordelikhede! As rentmeesters van dit wat aan ons toevertrou is moet ons verantwoording doen aan die Eienaar. 

Dink ‘n slag ernstig oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as : kind van God in ’n gemeente (heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê, maar ook my broers en susters), man van ’n vrou, pa/ma van kinders, bestuurder van eiendom, geld, bates, ‘n werkgewer/werknemer. En moenie vergeet nie, elke kind van God is geroep as dissipelmaker! In jou kring en jou omgewing. Wees eerlik, praat jy met mense oor Jesus?

Wend jy jou geld, kragte, tyd en geleenthede aan op 'n manier wat wys dat jy God en jou naaste liefhet, of gaan alles oor jou eie gerief en roem?

Onthou al hierdie posisies of gawes is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. 

Alles wat ons het (of is) moet benut, bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk! 

Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se eer en voordeel gebruik word. Dit was die probleem met die ryk dwaas in Lukas 12. Sy entrepreneurskap was nie die probleem nie, sy selfgesentreerdheid was sy sonde. Hy het vir homself geleef, want hy het God nie geken nie! 

BELONING 

Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. 

“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 
Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’ 
Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is ‘n goeie slaaf. Omdat jy in ‘n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’ 
"Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ 
Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’ 
(15-19) 

Interessant! Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! Hy het hulle ‘n geleentheid gegee om die vreugde van betrokkenheid by sy koninkryk te ervaar! 

DIE GEVAAR AN PASSIWITEIT 

Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. 

"Nog ‘n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ‘n doek gebêre. 
Ek was bang vir u, want u is ‘n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’ 
Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is ‘n slegte slaaf! As jy geweet het ek is ‘n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’ 
Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’ (20-24) Vergelyk ook Matteus 25:29,30.* Ontrouheid in rentmeesterskap is ‘n ernstige saak. Dis afvalligheid, dis ongehoorsaamheid, rebellie, sonde! Dit wek God se wraak op! 

Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. (Anders gestel – wat moet ‘n mens doen om veroordeel te staan? Niks !) Hou maar net aan om vir jouself te leef ! 

Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, dis skynvroomheid, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied. Die geleenthede en kanse wat ek kry as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen. 

Kind van God, daar is werk om te doen! Jy het iets beter en belangrikers om aan te werk as net jou eie aftreeplanne!

Onthou jy het ‘n roeping! Dis elke kind van God se roeping : WEES GETROU IN JOU RENTMEESTERSKAP! 

*Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 
En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners." (Matteus 25:29,30)


Het jy al so 'n enkele laaaang wors gesien!

Woensdag 01 Augustus 2018

DIEFSTAL NOU WETTIG?

- Die skokbesluit van die ANC moet ons weer laat nadink oor God se wet in geheel.



Dwarsoor die wêreld word God se wette geminag. Dit gebeur natuurlik orals en daagliks sedert die sondeval in elke land en onder elke volk en nasie. Ja, ook elkeen van ons is skuldig...  Ons het dit eintlik al so gewoond geraak, ons kom dit skaars agter en dis natuurlik ‘n groot en gevaarlike fout! As 'n land se grondwet egter amptelik goedkeuring gee aan die oortreding van God se wet, raak dit bitterlik ernstig...


Die jongste aankondiging van Cyril Ramaphosa* dat die ANC die voorgestelde wysiging van die Suid-Afrikaanse grondwet gaan steun om onteiening sonder vergoeding te wettig, bewys net weer die roekelose ruggraatloosheid en onverantwoordelikheid van hierdie organisasie. (Hulle is tog so bang om stemme aan die EFF af te staan) Dis niks anders as die wettiging van diefstal nie! Dis die minagting van die agste gebod. God is goed en sy gebooie is goed en is onder andere bedoel om die mens te beskerm. Die agtste gebod gaan oor die beskerming van die mens se eiendom. Laat die ANC gewaarsku wees, hierdie stap gaan net tot groter armoede en ellende lei in ‘n land wat reeds bankrot gesteel is!** Diefstal kan nie op die lange duur welvaart en stabiliteit skep nie. Vra vir Zimbabwe... Dit sou wel ‘n paar skelms op die kort termyn kon bevoordeel.

Baie mense sal ontsteld wees oor hierdie verwikkelinge. Maar nou moet ons pasop dat ons nie hier skynheilig raak nie. Daar is ook lankal reeds ander gebooie van God wat amptelik deur die grondwet van ons suidelike bure geminag word. 

Deur aborsie op aanvraag toe te laat word die sesde gebod vertrap! Deur gay huwelike te sanksioneer word die sewende gebod geminag! 

Is ons net so ontsteld oor hierdie vertrappings van God se wil of gaan ons net skree oor die nuutste vergrype omdat dit ons sakke raak? Laat ons eerlik wees en onsself toets oor ons erns met betrekking tot God se wil en wet in geheel! Kyk maar hoe het die instelling van die huwelik onder ons eie blanke Afrikaners verval… Kom ons treur ook daaroor. Laat ons onsself afvra of ons regtig ‘n passie het vir God se eer!

PASOP VIR OORVEREENVOUDIGING VAN DIE GESKIEDENIS!

Maar terug by die planne vir onteiening sonder vergoeding. Daar is diegene wat dit sou kon goed praat deur aan te voer dat hierdie voorgestelde onteiening net ‘n regstelling is van onregte van die verlede. "Kolonialisasie het meegebring dat mense hulle grond en eiendom verloor het, nou met hierdie mense hulle grond terugkry." Dis die simplistiese redenasie van die populiste. Kom ons wees eerlik: Beslis het daar onregte in die verlede plaasgevind! Een voorbeeld wat mens na aan die hart lê is die verdrywing van die Boesmans uit baie gebiede in die Kaapprovinsie! Dis ‘n hartseer deel van ons geskiedenis wat vir jare grootliks verswyg is!*** Ons mag dit nooit ontken nie. Baie ander voorbeelde sou seker ook genoem kon word. Maar natuurlik is die geskiedenis baie meer kompleks as wat die aanhitsers en populiste van ons tyd wil erken. Dis nie net Europese setlaars wat andere se grond afgevat het nie. Dit was algemene praktyk onder al die inheemse volkere. Swart stamme het die oorspronklike Boesman inwoners verdryf of onderdruk. Swart volkere het mekaar uitgeroei en verdryf. Dink maar aan Shaka, Silkaats en die Mfecane (Difaqane)! Ons voorgeslagte het ook oor die algemeen nie net sommer grond gesteel en verower nie, maar het onbewoonde grond beset of daaroor onderhandel en dit op wettige wyse bekom. Suid-Afrika was destyds baie yl bevolk met groot oop ruimtes, daar was nie die miljoene inwoners van vandag nie. Ons kan nie sommer hedendaagse toestande terugprojekteer op ‘n totaal ander tyd en omstandighede nie. Onthou daar was nie iets soos kaart en transport in ongetemde Afrika nie!

Om Jan van Riebeeck skuld te gee vir al die huidige ellende is eenvoudig nie histories verdedigbaar nie.

Ons weet ook almal dat die armoede probleem en stadige pas van grondhervorming nie bloot deur veranderinge aan die grondwet opgelos gaan word nie. Die probleem is nie die grondwet nie, maar onbevoegdheid en veral roekelose diefstal van die ANC elite en hulle trawante! Die voorgestelde verandering van die grondwet is ‘n rookskerm en reklamefoefie om die massale diefstal en vernietiging van die Suid-Afrikaanse ekonomie deur hierdie boosdoeners weg te steek en so die onkundige kiesers om die bos te lei.

Inderdaad is grond ‘n emosionele kwessie en die belangrikheid van ekonomiese volhoubare en regverdige grondhervorming kan nie gesystap word nie! As nugtere denke en basiese regsbeginsels nie die maatstaf gaan wees nie, gaan dit egter tot ongekende chaos en ellende lei! Korrupsie en goedkoop populisme is ‘n waarborg vir ontsporing en ontnugtering.

WAT NOU?

Hoe moet die Christen nou reageer as God se wette in ‘n land geminag word?

  • Ons mag dit nooit goedkeur nie! Ons mag ook nie stilbly ter wille van politieke korrektheid nie. Onreg van die verlede (hoe min of baie ook al) kan nie deur nog onreg te pleeg reggestel word nie. Maar onthou ons moet ook standpunt inneem vir AL God se gebooie, al maak dit ons ongewild ook tussen ons eie mense!
  • Ons moet deernis, begrip en medelye hê met armoede. Hier moet ons versigtig wees. Om net uit te deel gaan nie help nie. Die mens se diepste probleem is sy sonde probleem en daarom bly evangelieverkondiging die eerste prioriteit vir die kerk van Jesus. Saam met die uitdra van die evangelie sal ons wel ook op tasbare wyse menslike nood moet help verlig. Dit sluit in dat gelowiges kreatief betrokke moet raak by prosesse en projekte wat regverdig en ekonomies volhoubaar is. Dis uiteindelik tot almal se voordeel. 'n Christelike werksetiek sal gevestig moet word. Armoede sal nie verlig kan word sonder eerlike harde werk nie! Om te staak en af te brand gaan nie 'n land vorentoe vat nie!
  • Ons moet hand in eie boesem steek en selfondersoek doen. Hoe dikwels is ons wat onsself kinders van God noem skuldig aan oneerlikheid (daai belastingvorm!) diefstal en gierigheid. Hierdie sondes is nie net beperk tot die Guptas en Zumas nie! Die hebsug van die hede en verlede moet bely word.
  • Ons moet as kinders van God wat onverdiende genade en vergifnis ontvang het, waak dat ons harte nooit deur bitterheid en haat besmet word nie. Juis ook nie wanneer ons ly onder onregverdige optrede van goddelose leiers en hulle volgelinge nie. Wraak is God se prerogatief!
  • Ons moet bid! Vir Christene vandag in Suider-Afrika is Paulus se dringende versoek in 1 Timoteus 2:1,2 meer relevant as ooit tevore! “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.”
VOETNOTAS
* RSG nuusbulletin 31 Augustus om 8:00 - "...Ramaphosa sê die ANC sal wysgigings aan artikel 25 van die grondwet en die onteinening van grond sonder vergoeding onomwonde steun."
** Na Ramaphosa se dwase aankondiging het die Rand dadelik drasties verswak!
*** Sien die goed gedokumenteerde boek van Sandy Gall, "Slaughter of the Innocent". Dit handel oor die tragiese verdrukking van die San (Boesman) deur wit en swart in Suidelike Afrika.

Lees gerus ook die bering in (kliek)  MAROELAMEDIA