BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 04 September 2018

SKOKKEND : Ussa sterf

omdat hy sy hand na die verbondsark uitsteek. Hy wou keer dat dit nie afval van die wa nie en God tref hom onmiddelik met die dood! Dis ‘n verhaal (2 Samuel 6) wat vir ons ongemaklik laat voel, onverstaanbaar en onregverdig klink. Ussa keer dat die ark nie op die grond val nie. Tog sekerlik ‘n goeie daad? Ons verwag dat hy dalk ‘n stem uit die hemel sou hoor wat sê : “Dankie Ussa!” In plaas daarvan word Ussa deur God gedood. Summiere teregstelling op die plek! 



“Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis*, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” (2 Samuel 6:6,7) 

Wat het hier gebeur? Was God onregverdig of dalk erger, in ‘n slegte bui of wispelturig? Ons moet onthou die verbondsark (‘n Goue kis met die tien gebooie daarin, met ‘n goue deksel waarop twee gerubs was.) was ‘n besonder heilige voorwerp. Sy normale plek was in die allerheiligste, die heel heiligste deel van die tabernakel waar die hoëpriester net een maal per jaar mag ingegaan het. God het duidelike voorskrifte gee t.o.v. die vervoer van die verbondsark. 

"Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns nader kom. Hulle moet die voorhangsel wat as bedekking dien, afhaal en die ark waarin die getuienis is daarmee toemaak. Hulle moet ‘n seil van gebreide vel daaroor gooi, en dit met ‘n groot blou doek toemaak. Dan moet hulle die draaghoute weer insteek...Net voor die kamp versit, moet Aäron en sy seuns eers die gewyde voorwerpe saam met hulle gereedskap toemaak, en dan moet die Kehatiete nader kom om dit te dra. Hulle mag nie aan die gewyde voorwerpe raak nie, want dan sal hulle sterwe. Hierdie voorwerpe van die tent van ontmoeting moet deur die Kehatiete gedra word. (Numeri 4:5,6,15!) 

Om te raak aan die ark of een van die heilige voorwerpe was strafbaar met die dood! Dit was ‘n duidelike Goddelike bevel! Die ontwerp van die ark self het dit al inherent duidelik gemaak. Daarom was daar ringe aan die ark met draaghoute sodat by die vervoer van die ark niemand daaraan sou hoef te raak nie! Die ark moes dus gedra word! (Hulle het dit baie goed besef - sien vers 13) Daar is geen voorsiening gemaak vir vinnige vervoer op ‘n wa nie. Die ark was meer as maar net nog ‘n houtkis, dit was die setel van God se heilige teenwoordigheid. "...Dit is die ark waaroor die Naam: "die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon", uitgeroep is." (2) Dis op die deksel van die ark waar die hoëpriester die bloed van die jaarlikse versoenoffer moes sprinkel! 

DIS GEVAARLIK OM TE VERGEET DAT GOD HEILIG IS! 

A Ussa sterf, sterf hy dus nie onskuldig nie. Hy het ‘n duidelike voorskrif en wet van God oortree. Hy sterf as iemand wat God se waarskuwings geïgnoreer het. Die doodstraf wat Ussa kry is nie onregverdig of onredelik nie. Dit was nie ‘n gril of bevlieging van God nie. Dit was niks buitengewoon nie. Wat wel skokkend voorkom is die skielikheid en finaliteit van hierdie straf. 

Die eintlike rede waarom ons geskok en dronkgeslaan word deur die verhaal van Ussa is omdat ons nie die Bybelse begrippe van heiligheid, geregtigheid, sonde en genade reg verstaan nie. Anders gestel ons as mense is kansvatters wat God se genade misbruik en dink dat genade iets is wat ons verdien. Ons raak mak vir God. “Ag, dis mos vanselfsprekend, God sal en moet my mos genadig wees,” is die gedagte diep in ons agterkoppe! 

RC Sproul in sy boekie “The Holiness of God”** gebruik ‘n uitstekende voorbeeld om hierdie arrogante houding te illustreer: Hy het 250 studente in sy OT klas gehad. Sy studente moes drie take voltooi. Hy het vooraf die inhandigdatums deurgegee en dit duidelik gestel dat as die taak nie op die regte tyd ingehandig word nie, jy ‘n druipsimbool (F) daarvoor sou kry. Die eerste taak moes op die laaste dag van September in wees. 225 van die 250 studente s’n was betyds. Die ander 25 het bewend en beangs vir uitstel gepleit. RC het toegegee aan hulle pleidooie en uitstel gegee. Die studente was baie dankbaar en vol mooi woorde en beloftes! Toe kom die einde Oktober. Net 200 van die 250 was betyds. Die ander was senuagtig, maar glad nie paniekerig nie. Weer vol verskonings, verduidelikings en mooi beloftes. Weer was RC hulle genadig. “Maar onthou”, het hy gesê, “geen uitstel die volgende keer nie. Dan druip julle die taak as julle laat is!” Die studente was baie bly : “Prof Sproul, ons is lief vir jou, jy is wonderlik!” RC was nou hulle held! ‘n Regte Mr. Popularity!

Raai wat het gebeur aan die einde van November met die inhandiging van die derde taak? Net 150 van die 250 se take was betyds in! “Waar is julle take?”, het hy gevra? Een het geantwoord : “Moenie worry nie prof. ons werk daaraan…” Toe het RC sy punteregister gevat en die name begin aflees. Die wat nie ‘n taak ingegee het nie, het ‘n F gekry. Die studente was verontwaardig en het hardop geprotesteer. “Dis nie billik nie!” RC het met ‘n spesifieke student gepraat. “Jy sê dis nie billik nie?” “ Nee!”, antwoord die student. “Wel, wil jy regverdigheid hê? “Ja” “Goed, as jy daarop aandring,sal jy dit kry. Verlede keer was jou taak ook laat. Ek gaan jou nie net hierdie keer ‘n F gee nie, maar ook vir die vorige taak. Ek sal jou vorige punt verander na ‘n F, want dis wat jy regverdiglik verdien.” Die student was stomgeslaan. Geen argumente nie. Hy het om verskoning gevra en was te dankbaar om net een F te kry in plaas van twee. 

Die studente (en ons) vat genade as vanselfsprekend op! Ons dink ons verdien genade, ons moet genade kry. Nee, genade word nie verdien nie. God skuld ons ook nie genade nie. Ons verdien straf en oordeel. Ons verdien die straf van Ussa! God se toorn is oor ons en dis ‘n regverdige toorn, want ons is skuldig aan die oortreding van sy wette. 

GOD SKULD ONS NIE GENADE NIE; HY SKENK DIT WEL! 

Nou hoor (sien) ons hier aan die nagmaalstafel hoe God se toorn vir Jesus aan die kruis getref het! Ons hoor hoe die Goddelike wraak vir Jesus getref het in ons plek en dat ons vry kan wees van skuld en straf! Maak dit ons dankbaar? Of dink ons dat ons kanse kan vat met God se heiligheid ? God skuld nie vir ons genade nie, Hy skenk vir ons genade deur Jesus. Hy hoef ons nie te spaar nie, dis sy goedheid en guns. Hoor wat sê God vir Moses. “...want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.” (Eksodus 33:19) 

Genade is regtig genade! Vrye onverdiende guns alleen! Maar pasop, Hy is nog dieselfde heilige God! Ons moet Hom nie tart nie. Ons moenie kanse vat nie. Ons moenie dink ons verdien genade of is geregtig daarop nie. Oor genade kan ons net oneindig dankbaar wees! 

Die Nagmaal vertel ons van genade. Jesus het in my plek die toorn en straf gedra. Sy liggaam is vir my gebreek, sy bloed het vir my gevloei! Maar die Nagmaal is juis ook die heilige Nagmaal. Ons moet dit nie ontheilig deur dit ongeërg of onnadenkend te gebruik nie. Ons moet dit nie ontheilig deur onberouvol te volhard met sonde en ongeloof nie! Onthou wat het met Ussa gebeur! God is nog dieselfde heilige God wat bedoel wat Hy sê! 

*Heiligskennis is die skending of ontering van iets wat heilig is. (Eng = sacrilege) 

**p124ev 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.