BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 28 September 2018

OPSPRAAKWEKKENDE HOFSAAK!

- ‘n Skuldige seun kry weer ‘n kans! 

[ In 'n dramatiese wending in die hofsaak wat die land se verbeelding nou al vir 'n tyd lank aangryp, het die Regter onverwags ingegryp en 'n rebelse seun weer 'n kans in die lewe gegee... Ons korrespondent Hosea berig...]



Waarom maak God soveel bemoeienis met mense? God se liefde! Waarom was daar ‘n kruis? God se liefde! Almal weet dit. Waarom kry ek en jy nie op hierdie oomblik ons verdiende helse straf nie? God se liefde! Ons weet... Tog het ons maar baie min begrip van wat God se liefde regtig behels. Hoe sterk, hoe eg, hoe passievol... En juis ook die inhoud en doel van hierdie liefde is baie onbekend en word oppervlakkig versentimentaliseer en gebruik as verskoning om te sondig! 

Hosea 11 gee ’n aangrypende uitsig op God se liefde. Dis geskryf in die vorm van ’n hofgeding wat ’n vader teen ’n opstandige seun aanhangig maak. (Terloops, opstandige kinders is nie ‘n nuwe verskynsel van die 21ste eeu nie!) So ’n hofsaak was ’n baie ernstige saak soos mens kan aflei uit Deuteronomium 21:18-21. “Wanneer ‘n man ‘n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. 
Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is ‘n vraat en ‘n suiplap.’ 
Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees." Die ouers van so ’n seun moes hom na die leiers vat by die stadspoort en die skuldige seun word dan met klippe doodgegooi. Rof! 

DIE AANGEKLAAGDE

Die seun wat hier in Hosea 11 aangekla word is baie duidelik God se volk Israel. Israel word alreeds in Eksodus, God se seun genoem. “Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun.” (Eksodus 4:22) 

VERLOOP VAN DIE HOFSAAK

’n Mens sou hierdie hoofstuk in wat die hofsaak beskryf in 4 dele kon verdeel (maak gerus self jou Bybel oop by Hosea 11): 

~ 1-5 Die aanklag teen die seun en die getuienis om dit te staaf 

~ 6-7 Die oordeelsaankondiging oor die seun 

~ 8-9 Die hersiening van die oordeel 

~ 10-11 Die nuwe begin 



1) Die aanklag teen die seun Israel gaan daaroor dat hulle God se liefde verwerp het en ontrou geword het deur aan die Baäls te offer. 

“Toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. 
Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.” (Hosea 11:1,2) 

Baälgodsdiens het ’n geweldig appel op die mense gehad. Dit was ’n vrugbaarheidsgodsdiens gepaardgaande met onsedelike rituele. Lekker vir die vlees! Dit was net so verslawend en verleidelik as vandag se dekadente Huisgenoot, TV programme en allerlei vorms van pornografie.... Op aangrypende manier lê God bewyse voor van sy liefde vir die seun. Hy verwys spesifiek na die verlossing uit Egipte. Israel was maar nog ’n seuntjie, ’n jong volkie toe het God hulle uit slawerny in Egipte verlos. God die liefdevolle vader het hierdie seun leer loop. Hy het hulle, hand aan hand bygestaan in die eerste swak treetjies van volkwees. Dit verwys na God se sorg oor sy volk in die woestyn. Ja, hierdie liefdevolle vader het sy jong seuntjie ook in sy arms opgetel en gedra. Maar wat is die reaksie wat hy kry? Tragies. Die seun maak asof die Pa nie bestaan nie. In vers 4 word daar verder uitgebeeld wat die pa vir die seun gedoen het. God het die juk van Israel afgehaal en vir hulle kos gegee. ‘n Juk was ‘n simbool van slawerny. Verder, gevangenes het ’n nekring gedra en hulle hande is ook daaraan vasgemaak. Die Here het die slawehandelaar se toue en nekring van sy seun Israel afgehaal en hy het dit vervang met liefdesbande (mensebande, koorde van liefde) God se verbondenheid met sy volk was ’n liefdesverbintenis, ’n verhouding. God staan nie bloot in ’n juridies tegniese verhouding met sy volk nie maar in ’n innig menslike verhouding. T.s.v.  hierdie liefde bly die seun Israel koppig en weier om te bekeer en dit gaan weer lei tot slawerny. Hierdie keer onder Assiriese verdrukking. (5) 

2) Die seun Israel is baie duidelik skuldig. Volgens Deuteronomium moet ’n opstandige seun na regte die doodstraf kry. God se volk word dus ter dood veroordeel. (Is dit nie wat ek en jy en elke sondaar verdien nie?) Die straf sal deur middel van oorlog voltrek word. Die Assiriërs sal sommige vermoor en die res as slawe wegvoer. God straf! Dis ’n feit waarvan ons nie kan wegkom nie. 

3) Hersiening van die vonnis. In vers 8 kom daar ‘n dramatiese kragtige wending in saak. Hoor God se hart! “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.” (Adma en Sebojim was twee susterstede van Sodom en Gomorra wat destyds vernietig is) Dis asof daar ’n tweestryd in God se gemoed is – ja, daar is gloeiende toorn weens Israel se sonde, maar daar is ook ’n onuitblusbare liefde. God se heiligheid en eer vereis dat die seun gestraf word en tog....die liefde brand nog steeds in sy hart. “My seun, ja, jy is skuldig en jy verdien straf, maar my seun ek het jou te lief! Ek kan jou nie los nie! Die rede vir die ommekeer in God se straf is duidelik : MY LIEFDE BRAND TE STERK! God se liefde triomfeer oor die straf wat die seun verdien. 

God gaan Israel se opstand wat die dood verdien met liefde beantwoord! 

4) Hierdie liefde behels ’n nuwe begin. “Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ‘n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië. Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.” (10-12) Sy liefde sal wederliefde opwek sodat hulle agter Hom sal aankom soos destyds uit Egipte. Daar word ’n nuwe Uittog voorspel. God gaan ’n ’n nuwe begin maak en ’n splinternuwe verhouding tot stand bring. Die kern van die nuwe begin is : Hulle sal die Here volg! Hierdie belofte aan Israel het waar geword toe God sy Seun Jesus na hierdie wêreld gestuur het om die verhouding tussen Hom en sy volk te herstel. Jesus, God se Seun sterf i.p.v. die seun (verbondsvolk). Die oplossing van die "Goddelike dilemma" vind ons by die kruis - Sy Goddelike toorn oor die sonde van sy volk en Sy Goddelike onuitblusbare liefde kom daar bymekaar, wanneer die Seun die toorn verduur wat oor Israel (die seun) moes kom! Terloops hierdie Seun het ook ‘n draai in Egipte gemaak! Matteus herinner ons daaraan wanneer hy die geboortegeskiedenis van Jesus vertel.* Hy dra ons straf wat ons verdien en as ek in Hom glo gaan ek vry. Dan is ek nuut en vrygespreek in God se oë! ( 2 Korintiërs 5:21) 


Wat sê die feit van God se liefde vir jou op hierdie oomblik? 

God se liefde is ’n onverdiende liefde, ’n onuitblusbare brandende liefde, ’n roepende en soekende liefde. Vers 8 sê dit so sterk. Sit jou eie naam daarin. God sê : Ek het jou lief, selfs al is jy ’n rebel; Ek het jou lief, selfs al het jy van my vergeet en is jou Bybel toe onder die stof, Ek het jou lief, selfs al het jy my verlaat en geld en eer nagejaag, Ek het jou lief, selfs, al het jy amper geen tyd vir my gehad nie, Ek het jou lief, selfs al het jy elke gebod van my verontagsaam, al het jy my geterg met jou blatante sonde.... Ek het jou lief, selfs al het jy my nie lief nie. My liefde is te sterk , ek kan jou nie net sommer los en aan jouself oorlaat nie. Ek kan jou nie afskryf nie!” 

Kom terug! 

Baie belangrik - God se liefde hang nie maar in die lug nie, God se liefde sê nie, dinge moet nou maar aangaan soos dit is nie! God se liefde wil ’n nuwe begin maak met jou! En dis hoekom Jesus na hierdie wêreld gestuur is. God se liefde is ’n appèlerende liefde, dit roep jou op om terug te keer. Dit roep jou op om Jesus te aanvaar en te omhels. Ons verdien die ewige doodstraf, maar God se liefde sê vir ons daar is ’n nuwe kans. Daar is volkome vergifnis en lewe in Jesus. Baie mense verstaan God se liefde verkeerd en maak dit ’n bespotting. Jy sien God se liefde sê NIE bly maar soos jy is nie. Gaan maar aan met jou verkeerde lewe nie! NEE! NEE! God se liefde nooi jou uit en sê : Kom ons begin nuut! Kom terug! Juis omdat ek jou liefhet kan en moet jy terugkom!  

"Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.” (Hosea 12:7) 



GOD SE ONUITBLUSBARE LIEFDE ROEP JOU TOT BEKERING EN ‘N NUWE TOEKOMS! 





* Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: "Uit Egipte het Ek my Seun geroep." (Matteus 2:14,15) 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.