BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 19 Oktober 2012

NET DESPERATES


 - gaan deur die smal deur.

Nie almal wat dink hulle sal in die koninkryk van God ingaan sal daar wees nie. Nie almal wat uiterlik deel is van die kerk sal uiteindelik gered word nie. Dis die skokkende onthulling wat deur die gelykenis van die 5 dwase en 5 verstandige meisies verwoord word. (Matt 25) Dit laat mens onwillekeurig wonder : Hoeveel mense sal dan gered word? Sal dit maar min wees? 

Lukas 13:22-30 gee ‘n belangrike perspektief hierop. Iemand het op ‘n stadium die moed gehad om hierdie belangrike vraag direk vir Jesus te vra : “ Here, is dié wat gered word maar min?” (23) Die agtergrond van die vraag, was dalk die idee wat destyds geheers het dat almal in die volk Israel gered sal word, behalwe ‘n paar uitstaande slegte sondaars! (Jesus se lering oor die noodsaak van bekering sou mense dalk hieroor kon laat wonder.) Wat antwoord Jesus? Soos gewoonlik gee Jesus ‘n verrassende antwoord... Jesus antwoord nie met statistiek nie, maar met ‘n uitdaging (Vers 24) en ‘n waarskuwing.  (Vers 27,28)

UITDAGING. 

“Span al jule kragte in om by die smal deur in te gaan.” (NAV) “Stry hard om in te gaan deur die nou poort.” (OAV) 
Met ander woorde: Moenie somme maak en spekuleer  nie, maar maak seker en werp alles in die stryd dat jy wel sal ingaan! Iets pla ons miskien aan hierdie antwoord. Ons weet mos baie goed dat ons net uit genade gered word. Ons weet tog dat ons beste pogings en godsdienstige prestasies nie vir ons die ewige lewe kan koop nie. Hoe nou?  Klink dit nou of Jesus sê dat ons met eie krag of inspanning  in die koninkryk moet kom? Nee, allermins! Jesus praat  nie teen redding uit genade nie. Dis ‘n waarheid wat vasstaan in die hele Bybel van voor tot agter. Jesus onderstreep  maar net dat redding bedoel is vir die wat dit regtig wil hê, genade is vir dié wat  regtig met hulle hele hart daarna verlang! Hierdie beginsel vind ons reeds in die Ou Testament waar die Here sê : “En julle sal my soek en vind as julle na my vra met julle hele hart.” (Jeremia 29:13)  Jesus wil dus sê : "Die genadegeleentheid moet heelhartig benut word, NOU!"
Hoekom, nou? Jesus beklemtoon dit met die verhaal van die eienaar wat sy deur sluit en mense wat dan tevergeefs sal klop. (Baie dieselfde situasie as wat ons in die gelykenis van die tien meisies kry, waar vyf voor ‘n geslote deur beland het.)

"Span al julle kragte in" beteken dus : 

Gryp ten volle die genade aan terwyl 
die geleentheid daar is.

Werp jy alles in die stryd om die genade deelagtig te word? Iemand wat regtig in God se genade en vergifnis belangstel sal sekere dinge anders doen. As ek met my hele hart verlang na God se genade en vergifnis sal:
~ ek elke kans aangryp om die Woord te hoor. Deur die Woord kom geloof en deur geloof word ons gered. (Iemand wat Sondag vir Sondag laat slaap en ander dinge eerste stel is nie juis baie ernstig oor genade nie)
~ ek wegbly van plekke en dinge en mense wat my verder van God wegtrek. Iemand wat skoon voete wil hê, bly tog weg uit die modder. Is daardie TV program wat ek so graag kyk bevorderlik vir verlange na ‘n rein hart?
~ ek andere van harte vergewe soos ek wil hê God moet my vergewe. Bitterheid is ‘n seker struikelblok wat vergifnis by God verhinder! 
~ ek die verlossing najaag as eerste prioriteit en soek met ‘n passie, omdat dit die belangrikste ding in my lewe geword het. Politiek, sakebelange en rugby kan maar eers ‘n bietjie wag!

WAARSKUWING. 

Jesus onderstreep die erns van sy uitdaging met ‘n waarskuwing. “Baie, verseker ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.” Baie mense leef onder ‘n vals illusie. So baie gaan te laat uitvind dat hulle nooit gered was nie en dat God hulle nooit geken het nie. (Vers 27, 28)

Jesus sluit sy waarskuwing af met hierdie veelseggende en betekenisvolle uitspraak : “Daar is laastes wat eerste sal wees, en eerstes wat laaste sal wees.” (30) Onthou net weer Jesus se hoorders het waarskynlik gedink dat almal wat aan die volk Israel behoort, gered sal word - hulle is die eerstes. Die heidene en die baie slegte mense (soos tollenaars en prostitute) sal nie gered word nie - hulle is die laastes. Nou keer Jesus alles om. Hy wil vir hulle sê : Baie mense wat bevoorreg is, wat deel is van die Verbondsvolk sal uitendelik verlore gaan. Maar daar gaan slegtes wees, heidene, sondaars en uitgeworpenes wat uiteindelik gered sal word!

In die Lukas evangelie self kry ons ‘n pragtige voorbeeld van iemand wat laaste was, maar toe uiteindelik tog eerste gekom het. Terselfdertyd is hy ook ‘n voorbeeld van iemand wat alles in die stryd gewerp het. Die misdadiger aan die kruis.  Hy was een van die laastes. Hy was ‘n slegte mens wat iets vreesliks moes gedoen het, anders sou hy nie tot ‘n kruisdood veroordeel gewees het nie. Maar hy word nou ‘n eerste, ‘n bevoorregte, want hy kry toegang tot die koninkryk van God. Hy het al sy kragte ingespan om in die koninkryk in te gaan. Weereens dit beteken nie dat hy deur sy eie goeie werke of prestasies gered is nie. Dit beteken maar net hy het die genade heelhartig aangegryp en die geleentheid vir redding voluit benut. Ons weet mos wat het gebeur : Terwyl sy medemisdadiger met Jesus spot, het hierdie sterwende man met sy laaste krag uitgeroep : “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” (Lukas 24:42) ‘n Desperate roep van iemand wat na genade smag. Hy kry  dan ‘n  heerlike waarborg uit Jesus se mond : “Ek verseker jou : Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.” Inderdaad het hy genade gevind. ‘n Laaste een wat eerste gekom het! ‘n Sondaar wat al sy krag ingespan het om by die smal deur in te gaan!

Ja, wondergenade : ‘n Desperate sondaar is veilig deur die smal deur tot in die Koninkryk!

Woensdag 17 Oktober 2012

CHRISTENE WAT ROU


- is huil nie vir ongelowiges en sissies nie?

Mag ‘n kind van God treur oor ‘n ramp wat ons tref, ‘n groot verlies, ‘n geliefde wat gesterf het?  Daar mag sommige Christene wees wat trane en treur as ‘n teken van kleingeloof of minderwaardige Christenskap probeer afmaak. Maar so ‘n houding het geen Bybelse gronde om op te staan nie.

Kind van God, dink jy nou regtig ons moet probeer sterker wees as die dapper krygsman Dawid, ‘n leeujagter en ‘n reusdoder? Dink weer. Toe Dawid en sy manne ontdek dat hulle vesting Siklag verbrand is en hulle vroue en kinders ontvoer is, het hulle so “hard gehuil dat hulle nie meer kon huil nie.” (1 Samuel 30:4)

Beweer  jy regtig ons is taaier  as die onverskrokke eerste Christene in Jerusalem wat getreur het oor Stefanus wat deur ‘n wrede dood van hulle af weggeneem is?  Ons lees : “Godvresende mense het vir Stefanus begrawe en daar is baie oor hom gerou.” (Handelinge 8:2)

Probeer ons dalk “geesteliker” en minder mens wees as Jesus? Sy hartseer en trane oor sy vriend Lasarus se dood word baie duidelik en meer as een keer  vermeld in Johannes hoofstuk 11. Die OAV stel dit so : “...het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel” (33) “Jesus het geween.” (35) “En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword...” (38)

Kinders van God mag maar emosies hê. 

Vreugde en blydskap, maar ook droefheid en rou. In die Ou Testament vind menslike emosies seker die duidelikste neerslag in die Psalms. Vreugde en rou lê soms baie na aan mekaar soos in Psalm 30:12 waar ons lees : “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans.” Smart en ellende word dikwels pynlik eerlik en reguit verwoord : “Die swaarkry het vir my te veel geword; ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie.” Gelowiges hoef nie vals te wees, en ons hartseer en benoudheid weg te steek nie. Ons mag maar eerlik dit wys en daaroor praat, met ons medemens en ja, ook met God! Moenie bang wees om oor dood of verlies te praat nie. Dis feite van alledaagse menswees. In die Nuwe Testament word ons nêrens beveel om ons hartseer weg te steek of te ontken nie. Ons kry immers ‘n direkte opdrag om te treur saam met die wat treur! (Romeine 12:15) As dalk jy iemand anders moet troos, moenie te veel wonder wat om te sê nie, wees net eg, eerlik en natuurlik.

“daar is ‘n tyd om te treur.” (Prediker 3:4).

Kinders van God mag maar rou, maar hoe moet ons rou? En hoe sal ons rou verskil van die wêreld s’n wat God nie ken nie?

Christene se rou en smart (juis oor ellende wat vir ons onverstaanbaar is) dryf ons na  ‘n nuwe berusting en vertroue in God.   Psalm 131 is ‘n juweel! Ons probeer nie alles uitpluis en onsself moeg maak met antwoorde soek nie, maar  werp ons met kinderlike vertroue op God, in tye van smart. By Hom vind ons rus soos ‘n klein kindjie by sy moeder.
Hierteenoor gebeur dit nogal dikwels dat die goddelose en onverskillige se smarte hulle verder verhard teen God.

Christene se rou bevat ‘n sterk element van hoop.  Die opstanding van Jesus uit die dood, open vir ons ‘n nuwe bestaan na die graf. “Daarom, alhoewel ons treur, treur ons nie soos mense sonder hoop nie." (1 Tessalonisense 4:13,14)

Om te rou  is menslik.  Natuurlik beteken treur nie altyd noodwendig trane nie. Dit behels wel dat ons eerlik sal wees oor die pyn van ons verlies. Die Heilige Gees wat in elke kind van God woon, maak nie van ons super bo-aardse en emosielose wesens nie,  maar juis meer eg mens. 

Kinders van God is voete op die grond realistiese mense!

Om self te rou, maar ook  medelye te hê  met ander wat rou is  deel van ons as Christene se lewe in hierdie stukkende wêreld van afskeid, seer en dood. Uiting gee aan ons gevoelens van rou is  belangrik vir die helingsproses. Ons hoef nie in ontkenning of in ‘n skyndapperheid te leef nie. Die Heilige Gees maak ons juis meer eerlik, deursigtig en oop. Ons kan eerlik wees oor ons hartseer, want ons weet juis dat ons God, die God van alle vertroosting is, wat op sy tyd en sy manier ons aanraak en heelmaak. Die troos van God, kan die hartseerste tyd in ons lewens ‘n tyd van groot seën maak. Teen die einde van die jaar waarin hy die dood van sy pasgebore seun gesien het, en toe die dood van sy vrou en daarna aanvalle op sy eie gesondheid beleef het, het Hudson Taylor geskryf: 'Dit was die hartseerste en geseënde jaar van my lewe'. Wanneer dit sonnig is, wil ons hardloop en speel. Dis wanneer dit die donkerste is wat ons die Vader se hand die styfste vashou!

Met erkenning aan Grantley Morris vir sy artikel op www.net-burst.net 

Saterdag 13 Oktober 2012

UITGESLOTE GASTE

- voorkom ‘n ewig afgryslike teleurstelling.

Dis ’n groot ontnugtering as mens ’n onverwagse teleurstelling op die lyf loop!  Dis ‘n groot skok as mens dink als is reg en te laat uitvind, dit was nie...  Hier in Matteus 25:1-13  word so ’n skokkende ontnugtering beskryf : bruilofsgaste wat voor ’n toe deur te staan kom en summier weggewys word. Hulle hoor al die vrolikheid en feestelikheid wat binne aangaan, maar hulleself is eensaam buite uitgesluit! So iets sou nooit in die konteks van Midde-Oosterse gasvryheid gebeur nie. Dis abnormaal. Dis juis hierdie abnormale gebeurtenis in die verhaal wat Jesus gebruik om Sy luisteraars te skok en ‘n ewigheidsbelangrike waarheid by hulle (en ons)  tuis te bring.

Kom ons kyk bietjie dieper na die gelykenis. (Natuurlik is dit belangrik om nie in te veel detail te verval en ‘n simboliese betekenis in als te soek nie - dit gaan eerder oor ‘n paar duidelike lyne) 

Daar is tien meisies in die verhaal, ‘n afgeronde getal. Hulle  lyk dieselfde en op die oog af kan jy geen verskil sien nie! Almal lyk gereed, almal vol verwagting. Almal het lampe, almal het olie. Tog is daar ’n dieperliggende  verskil : Een groep  tref ekstra voorsorgmaat reëls. Hulle vat  ekstra olie saam, hulle het  verder gedink, hulle maak dubbeld seker, en is gereed om enige gebeurlikheid te hanteer. Die ander het net bloot nie gedink dat ekstra olie nodig sou wees nie. 

Die groot saak, die finale verskil en onderskeid  is : Vyf was gereed en vyf nie!

Die bruidegom bly ongewoon lank weg, om een of ander rede het hy sy koms uitgestel. Dit word bewys deur die feit dat almal aan die slaap raak. Dan kom Hy wel op ’n tydstip wanneer niemand dit verwag nie. Die betekenis daarvan is baie duidelik. Dit sluit aan by Jesus se uitdruklike uitspraak dat Hy soos ‘n dief in die nag sal kom - onverwags! (Matteus 24:43-44) Terloops, weereens ‘n bewys, niemand sal die dag en datum kan uitwerk nie!

Die vyf meisies wat goed voorbereid was ondervind geen probleem nie. Die ander vyf probeer haastig ’n plan maak. Hulle is egter te laat.  Laat planne werk nie noodwendig nie. Ook ‘n goeie plan wat te laat is, is te laat om nog ‘n verskil te maak! Die skokkende is dat hulle voor ’n geslote deur kom en dat alle pleidooie om dit oop te maak tevergeefs is. Wat ‘n afgryslike lot! Geen tweede kans! Die skerp punt is : So sal dit nooit by ’n aardse bruilofsfees gaan nie. So sal dit wel gaan as die Hemelse Bruidegom Jesus kom.  

Drie sake is opvallend en vra ons aandag:

• Almal was nie gereed nie.  Hulle lyk dieselfde, deel dieselfde verwagting, maar almal was nie gereed nie. Dis duidelik dat hierdie boodskap nie gemik is op buitestaanders wat ooglopend nie gereed is nie, maar op mense in die  kerk wat dink dat als reg is. Die waarheid is : Almal wat formeel tot die kerk van Jesus behoort,  is nie noodwendig  gereed nie! Almal wat gedoop en aangeneem is, is nie outomaties gered en gereed  nie!  Nie gereed vir die dood, nie gereed vir die wederkoms nie! Daar wag nare verassings. Jesus het dikwels op hierdie waarheid gesinspeel - Sien Matteus 7:21 (vgl. vers 12 in die gelykenis) “Maar die bruidegom antwoord : ‘Ek sê  vir julle : Ek ken julle nie!’” Skrikwekkende woorde! Die meisies voor die toe deur was nie gerat vir ’n lang wag nie. Olie wys nie op ’n spesifieke saak nie - die punt is maar net hulle was nie voorbereid nie, hulle was nie gereed nie. Daar is verskeie redes waarom kerk mense nie gereed sal wees nie. Sommige het hulle nog nooit tot Christus bekeer nie, andere het afgedwaal... Die gelykenis van die Saaier wys ons daar  kan verskeie redes waarom mense wat wel die Woord hoor nie altyd vrug dra nie.

• Daar vind ’n onherroeplike skeiding plaas as die Bruidegom,  Jesus  weer kom! Geen tweede kans nie. Net soos in die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Ook Hebreërs 9:27 dui daarop. “ ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterf, en daarna kom die oordeel.” (Terloops dit is genoegsaam bewys dat die hele mite van reïnkarnasie* ‘n bedrogspul van Satan is. Daar bestaan nie so iets nie.)  As die deur gesluit is, is hy gesluit tot in alle ewigheid!

• Tot almal wat kan hoor kom  hier ’n duidelike oproep en vermaning! Vers 13. “Waak dan omdat julle nie weet  op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” Dit wil maar net sê : Wees voorbereid. Maak seker dat jy gereed is. Vriend, moenie deel wees van die vyf dwase meisies se somber statistiek nie. Dis bitter noodsaaklik om hierdie boodskap en waarskuwing uit Jesus se eie mond te hoor. 

Die algemene indruk, as ons rondom ons kyk en mense se prioriteite gadeslaan is dat die verre meerderheid  nie juis besig is om voor te berei nie! 

So baie leef sorgeloos met ‘n valse illusie van sekerheid en saligheid. Grusame ontnugtering is die voorland!

Baie maak nie erns  met die Woord nie, hulle benut nie hulle kanse nie.
Baie mense het ‘n valse sekerheid, gebou op godsdienstigheid, gevoelens of aannames, maar nie op die genoegsame versoeningswerk van Jesus nie!
Baie steur hulle nie aan heiligheid nie - hulle dink dis nie nodig nie. Hulle vergeet Hebreërs 12:14 se dringende waarskuwing.
Baie kerklidmate sit onder die geklank van die Woord, maar het nog nooit ’n drastiese keuse gemaak om Jesus te volg nie...hulle stel altyd deur maar weer uit.
Baie het moeg en pap en slap in toewyding geword... die opgewondenheid om Jesus te volg het verdwyn.
Baie leef in onvrede, bitterheid, met wrokke...hulle weier vergifnis aan ander en wys so dat hulleself nog nooit vergifnis ontvang het nie.
Baie het lou geword. Hulle dink, praat en doen maar net soos die sondige wêreld rondom hulle, hulle is lankal nie meer warm nie...
Baie is net besig om aardse skatte bymekaar te maak, en dis ‘n duidelike bewys dat hulle geen aanddele het in die koninkryk van God nie!

Dis alles simptome van olie wat opgeraak het en lampe wat nie brandend is nie! Die gevaar van ‘n geslote deur is die   grusame gevolg...

BRAND JOU LAMP?



Die koms van Jesus gaan onverwags wees. Ons dood kan onverwags wees. Beide - ons dood of Jesus se koms is nou ‘n jaar nader, as wat dit verlede jaar hierdie tyd was! Is jy voorbereid? Brand jou lamp? Waarmee is jy besig?

Die oplossing is : tref bestyds voorsorg! Hoe? Wees eerlik oor jou toestand, erken voor die Here : Ek is nie gereed nie! Reageer op Jesus se uitnodiging! Kom net soos jy is, kom kry die lewe verniet, maar kom betyds!  Dis ‘n waarheid wat alreeds in die Ou Testament  onderstreep word in Jesaja 55:1 (lees dit gerus) Maar ook vers 6 is dringend belangrik. “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.”

Roep na  Hom. Vind Hom! Volhard in waaksaamheid!

* Baie in ons dag glo hierdie leuen van Satan. Selfs iemand soos die skryfster Annelie Botes.

Dinsdag 09 Oktober 2012

BISARRE ABELSE BABBELING

- soos kaf in die wind.

Daar is ‘n groep verdwaaldes wat hulle graag self tipeer as soekers en hulle onder die skyn van nederigheid beroem op die feit dat hulle altyd soekers sal bly. Onder hulle tel die uitgesproke Abel Pienaar, een van Rapport se aangestelde dwaalskrywers in diens van die liberale pers se aanslag op die Christelike geloof. Hierdie voormalige NG predikant (en tans deel van die "Renaissance Spirituele Gemeenskap") probeer homself verkoop as ‘n eerlike neutrale soeker. (weliswaar met ‘n "breë Christelike denkraamwerk"??) Nou wonder mens waarna hy soek, want vanuit die staanspoor bestaan daar vir Abel nie iets soos waarheid nie. Hy verklaar  : “Daarom is my oortuiging om nie ‘n afgod te maak van enige leerstelling oor of van die goddelike nie. En alhoewel ek nog bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) werk, is ek oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en menslike gemeenskap van alle tye en kulture...” Abel se beweerde neutrale openheid en breë Christelikheid is natuurlik pure verdigsel. Hy is nie neutraal nie, want sy denke is deurspek met Oosterse godsdiens en heidense denke soos die panteïsme.

[Hieronder volg Abel se geloofsbelydenis. Ek gee dit weer in kursief en lewer kortliks kommentaar op elke artikel vanuit ‘n Bybelse perspektief]

Geloofsbelydenis van ‘n soeker

Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos
wie se naam verander soos die
soekers tydelik vind en noem.

Abel soek in die wind en die gevolg is ‘n waardelose en waarheidlose  windlawaai. Hy glo iets, maar daardie iets is alles en dus niks. Sy selfgewaande geloof is totaal sonder inhoud.  Uiteindelik dink hy sy eie antwoorde uit en skep hy sy eie “windwaarhede”.  Hierteenoor glo die Christen in ‘n Ewige God wat Homself duidelik bekend gemaak het in Jesus Christus as die finale hoogtepunt van die Godsopenbaring. (Hebreërs 1:1-3) Daar is vir ons ‘n duidelike Naam gegee waardeur ons gered kan word, die Naam, Jesus Christus! (Handelinge 4:12) Hierdie Jesus is die enigste Middelaar tussen die enigste ware God en die mens. (1 Timoteus 2:5)

Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.

Abel is sy eie god. Hoe kan dit anders want sy “god” het geen identiteit en geen naam nie? Wat bly dan oor as dat ek maar op myself aangewese moet wees?  Onsinnige selfaanbidding!  Die ware God het Homself duidelik bekend gemaak. Ons God is die Vader van ons Verlosser Jesus Christus en daarom (en net daarom) ook ons Vader. Nêrens bely Abel vir  Jesus Christus nie. Dit wys dat hy deur die Satan verblind is en dan verstaan mens ook sommer waar sy windwyshede vandaan kom. Ja, inderdaad is hy deur sy god, die god van hierdie wêreld verblind, sodat hy nie die lig van die evangelie kan sien nie. (2 Korintiërs 4:4) Abel se god is uiteindelik (of hy dit weet of nie)... die Satan self!

Ek glo dat elke vorm van lewe
‘n manifestasie van God se liggaam is
en daarom wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.

Abel ontken die grens tussen Skepper en skepsel. Alles is vir hom, God. (Panteïsme) Abel se soeke het hom weer terug gelei tot  by die heidendom wat bome en diere aanbid! Hy aanbid en vereer die skepping en dus homself. Dis presies wat volgens Romeine 1:18-23 gebeur as ons nie God as God eer en dank nie. En dit het skrikwekkende gevolge soos ons verder in daardie hoofstuk lees... Ons glo dat daar 'n ewige onderskeid is tussen Skepper en skepsel. Ons glo nie dat die mens ooit 'n god word nie, maar dat ons as kroon van die skepping, ons sin en vreugde vind in die aanbidding van die een ware Skeppergod!

Ek glo in die liefde
wat mense inspireer
tot eerlikheid en weerloosheid
wat soms die ewige
tydelik sigbaar maak.

Abel glo in die liefde, maar dis vir hom ‘n normlose vaagheid. Slegs kinders van God weet wat ware liefde is, want ons het die uiterste vorm en hoogste norm daarvan aan die kruis gesien, toe die Sondelose in die plek van sondaars gesterf het. God het ons  eerste liefgehad en hierdie liefde roep ‘n wederliefde by ons op. Dis ‘n liefde met inhoud, naamlik die opdragte van ons Verlosser Jesus Christus, wat gesê het : “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly...” (Johannes 15:10)

Ek glo dat ek en almal om my
deel is van dieselfde siklus
van geboorte tot dood tot geboorte.

Hier verraai soeker Abel sy oorgawe aan Oosterse bygeloof in  ‘n nimmereindigende siklus! Hy is nie so neutraal en onskuldig as wat hy probeer voorgee nie. Gelukkig is die Christen nie vasgevang in ‘n eindelose siklus nie, maar doelgerig oppad na ‘n heerlike voleinding, wanneer al God se vyande verslaan sal wees en God ten volle geëer sal word. (1 Korintiërs 15:24-28)

Ek glo dat vrede
voortvloei vanuit ‘n aanvaarding van wat jy is
en dit bepaal die misterie van wie jy is.

Abel het hier ‘n halwe waarheid beet, wat gegrond is op ‘n gevaarlike leuen. Reg teen die Bybel in wat leer dat ons sondaars is wat onder die regverdige toorn van God staan. Dis eers wanneer ‘n sondaar tot geloof in Jesus Christus gekom het, dat hy vrede met God het en daarom ook in vrede met sy medemens en homself kan leef. (Romeine 3:23,24; 5:1)

Ek glo dat die lewe ‘n dans is
en die doel daarvan – om jouself
in die ritme te verloor.

Abel mag dalk dans, maar hy weet nie waarom of waarheen nie. Wat ‘n stukkie leë nikseggende wollerige retoriek! Die “verloor” maak wel ietwat sin. Abel het duidelik koers verloor en as hy hom nie bekeer tot God en sy Seun Jesus Christus nie, gaan hy vir ewig verlore wees. Dis net die kind van God wat vrede met God deur die kruis van Jesus gevind het, wat nou en tot in ewigheid kan rondspring van vreugde! Ja, ons het ‘n duidelike doel en sin in hierdie lewe, en in die lewe hierna : om die Lewende God te aanbid en te geniet! Die doel van my lewe is nie myself nie, maar God!

Ek glo dat die wat soek sal vind
en wat hulle vind sal hulle verder laat soek
want alle waarheid en kennis
van God en die lewe
is altyd voorlopig.

Abel kom hier op die klank af  na aan die Bybelse waarheid, wat  wel duidelik leer dat die wat soek sal vind. Hy bedoel egter nie die Bybelse soeke  en die Bybelse Antwoord,  naamlik Jesus Christus nie. Abel en sy vriende sal ongelukkig bly soek, want hulle soek op die verkeerde plek. God openbaar Homself in sy Woord, en dis waar ons moet soek. Ons weet ook dat niemand van ons van nature God soek nie (Romeine 3:11), maar gelukkig soek God se uitverkiesende genade ons eerste op! Ja, die kind van God se verstaan is inderdaad in baie opsigte nog gebrekkig - niemand van ons is nou al instaat om die volle omvang van sy heerlikheid en genade te begryp nie, maar om te beweer dat alle waarheid tydelik is, is ‘n infame leuen. Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6) - en Hy is nie voorlopig nie, maar God se finale spreke tot die mens. Hierdie Waarheid kan ons ken, en deur hierdie Waarheid word ons vrygemaak! (Johannes 8:32) En hierdie Waarheid is weereens, die Seun van God! (Johannes 8:36) Sy versoeningswerk deur sy kruis en opstanding was finaal en genoegsaam, beslis nie net voorlopig nie.

Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.

Abel verval hier in ‘n  onsinnige sirkelredenasie.  Wat of in wie glo Abel - daar is dan volgens hom geen kennis van God beskikbaar nie?  Waarop stel hy sy hoop? Vir wie het hy lief? Sy vae onwerklike god, wat eintlik hyself is? Hy probeer vir Paulus na-aap, maar anders as by Paulus het Abel se geloof, hoop en liefde geen inhoud nie. Uiteindelik glo hy in die liefde, maar dis ‘n liefde van sy eie illusie, aangesien Abel duidelik die unieke enigste ware liefde wat God deur sy Seun Jesus Christus bewys het, minag en verwerp. Christene kan slegs liefde betoon, omdat God ons eerste liefgehad het deur die Gekruisigde! Die natuurlike (nie-wedergeborene) is nie instaat tot ware liefde nie, omdat die sondeval ons vol selfsug en selfgesentreerdheid gelaat het.

Abel Pienaar

Abel is allesbehalwe ‘n soekende reisiger na die waarheid. Nee, as beoefenaar van die Zen Boeddhisme is hy eintlik maar niks anders as ‘n afgodsdienaar nie. Sy betrokkendheid by Tai Chi en meditasie laat mens sterk vermoed dat hierdie “spirituele begeleier” diep in die net van die okkulte vasgevang is. Dit laat mens sidder om te dink waarheen hy sy aanhangers begelei!

Nee wat Abel, jy gorrel in die wind! Die gelowige wat die Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar en wie se oë deur die Heilige Gees geopen is om die Woord (Jesus) in die Woord te aanskou is nie meer ‘n kind van die wind nie. Ons is gelukkig ook nie meer swerwers sonder roeping nie, want God het ons uit genade geroep om erfgename van Hom te word. Ons is ook nie meer soekers wat nooit vind nie, want God het ons eerste gevind en gegryp, en daarom kan ons ons losmaak van dit wat agter is en uitstrek na dit wat voor is met die heerlike vooruitsig van ‘n hemelse prys! (Filippense 3:12-14)

Abel (en sy mede Nuwe Hervormers en Vervormers)  is nie 'n regtig vry nie, al beskou hulle hulself as  vrydenkers. Nee, hulle is verknegtes van die Verleier! Vryheid is alleen te vinde in ons Verlosser Jesus wat ons vrygekoop het met sy kosbare bloed!

Addendum

Abel sanik nou weer onlangs in Beeld (20 Februarie 2013) dat die kerk 'n geleentheid tot "oop gesprek" misloop deur die Kerkbode se onttrekking aan die Woordfees. Sy uitsprake wys maar net weereens sy totale geestelike onkunde en absurde arrogansie. Van wanneer af is dit die kerk se roeping om "oop gesprek" met wolwe in skaapsklere te voer? Is Abel werklik so oningelig of is dit nou maar net 'n manier waarop hy wil skerm vir die Kerkbode se omstrede kletsjoernalis Jean Oosthuizen wat nou in die warm water beland het? Abel  behoort mos te weet dat Elia nie gesprek met die Baäl profete op Karmel gevoer het nie, maar eers met hulle gespot het... en toe laat slag het! En ook in die Nuwe Testament is die kerk se taak nooit "oop gesprek" nie maar duidelike en vreeslose verkondiging van die Waarheid!

Saterdag 06 Oktober 2012

GERED UIT 'N GRAFBESTAAN

- Jesus is bedrywig in Satan se "scrapyard"

Kom ons gestel vir ’n oomblik dat daar destyds ’n Departement van welsyn in Palestina en omstreke was. Sê nou maar met  ’n hoofkantoor in Jerusalem. Dan sou jy daar iewers in ’n rak ’n stofbedekte lêer gevind het, gemerk mnr. So-en-So van Gerasa. Stofbedek, want niemand sou meer die moeite doen om aan hierdie saak aandag te gee nie. As jy die lêer wel sou oopmaak sou jy gou verstaan waarom dit daar eenkant vol stof lê. Dis een droewige verhaal van hopelose ellende. Die kliënt het geen vaste adres nie, bevind homself iewers tussen die grafte, dis onmoontlik om met hom te kommunikeer, hy is van sy verstand af, hy is ’n gevaar vir die samelewing, niks anders as ’n wilde dier nie - volgens alle logika volkome onrehabiliteerbaar. (Die gebreekte kettings is  ‘n verdere grusame bewys dat die enigste beskikbare “behandeling” nie juis suksesvol was nie!) Eintlik was hy maar net iemand uit wie se pad mens moes bly. Sonder hoop, afgeskryf ....tot op daardie dag....tot op die ingrypende dag toe Jesus Christus die Seun van God op sy pad gekom het.

Markus 5:1-20 gee vir ons ’n dramatiese vertelling van  hierdie merkwaardige en aangrypende gebeurtenis. Daar is twee pole in die vertelling wat uitstaan: Die ellendige toestand van hierdie man in die mag van die Bose. Die ander pool (en dis waar die klem val) is die Goddelike almag van Jesus wat hom bevry het. 

1) Die haglike hopelose toestand van hierdie man. Markus skets dit vir ons in volle realistiese detail. (Dis eintlik ‘n beskrywende videoskoot) Lees vers 3-5. Kan jy vir jou so ’n bestaan voorstel? In hierdie man se lewe kan mens duidelik sien waarom Jesus die duiwel as ’n mensemoordenaar beskryf.  Hy is ’n sprekende voorbeeld van die duiwel se vernietigingswerk. Afgetakel na gees en liggaam.  Die beeld van God is bykans onherkenbaar in hom geskend. Hy het inderwaarheid ’n doodsbestaan, ‘n graflewe  gevoer, buite enige hoop (let op die herhaling van “grafte” - 2,3,5)

Klink dit alles bekend? Mens hoef nie vêr te gaan soek nie. Die duiwel se verwoestingswerk in mense is ’n alledaagse gesig en werklikheid al mag die besonderhede van hierdie  man se situasie verskil.  Hy doen dit op sigbare maniere sowel as op subtiele wyses. Satan belowe wel aan mense die lewe,  maar hy takel hulle af tot ’n minderwaardige doodsbestaan. Satan maak slawe van mense al dink hulle hulle is vry - net soos in die geval van hierdie man. Slawe van slegte en vernietigende gewoontes wat hulle  aftakel. Slawe van hulle sondige begeertes, vasgevang in ’n dodelike web waarvan die uiteinde die ewige dood is. Uiteindelik beroof die duiwel jou van alle vrede en rus en jy word ’n beangste vlugteling wat nie meer kans sien vir die lewe nie. Satan dompel mense in ‘n grafbestaan van vrees, disternis en sinloosheid! Dit gebeur ook met goeie ordentlike  kerkmense, ja! 

Dis moontlik om selfs met ‘n glimlag in die kerk te sit, terwyl ek eintlik maar ‘n graflewe sonder vreugde en vrug voer!

Maar terug by die man van Gerasa - sy lewe was een groot stuk ellende. ’n Somber uitsiglose bestaan van duisternis en grafte!

2) Jesus se genadige almag bring ‘n omkering in die toneel. Teen die donker agtergrond van uiterste ellende skyn die helder lig van  Jesus se krag en barmhartigheid. Let op die absolute kontras tussen 3-5 en 15. Kyk die groot verskil tussen wat hy was en wat hy nou is. Totaal ’n nuwe mens - geestelik, emosioneel, selfs uiterlik! Nie meer ’n werktuig en woonplek van Satan nie,  maar nugter onderworpe aan die Seun van God!  Wat maak die verskil, of eerder Wie maak die verskil? Jesus Christus die Seun van God. Dis op hierdie Jesus wat die klem en fokus in Markus se vertelling val. Onthou die evangelie wat hy skryf is die evangelie van Jesus en spesifiek Jesus die Seun van God. Jesus die Seun van God - dis Markus se groot tema. (1:1)  Hierdie verhaal is ’n klinklare bewys dat Jesus die Seun van God is, selfs die Bose erken dit! As Seun van God is Jesus almagtig. Markus vertel vier agtereenvolgende verhale om dit aan te toon. Jesus maak die storm stil (mag oor die natuur). Jesus genees die vrou wat aan ongeneeslike bloeding ly  (mag oor siekte).  Jesus maak Jaïrus se dogtertjie lewend. (mag oor die dood).  In hierdie vertelling gaan dit oor Jesus se mag oor die Bose. Jesus bevry hierdie man uit die kloue van Satan. Jesus doen hierdie bevrydingswonder in ’n heidense gebied van duisternis. (die groot trop varke is seker al klaar ’n aanduiding daarvan - die Jode was mos nie ywerige varktelers nie)

Jesus bevry hierdie man uit sy ellendige bestaan. Twee uitstaande eienskappe van Jesus as Seun van God kom hier na vore. Soos reeds gesê - Jesus se almag. Hierdie man was nie net deur een gees beset nie - Sy naam was Legio. (’n legioen was ’n Romeinse leërafdeling van ten minste 6000 man sterk) Hierdie man was totaal besmet en oorgeneem deur ’n klomp demone. Jesus bevry hom in ’n oogwink. Ons sien hier ’n praktiese demonstrasie van Jesus se oorhand en oppergesag oor die Satan. Ons aanskou hier ’n klinklare konkrete bewys van die waarheid wat ons in
1 Johannes 3:8 lees : 

“Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn,  om die werke van die duiwel te verbreek!” 

Geliefde, mag ons harte op hierdie oomblik verbly word deur Jesus se almag en mag ons opnuut (of dalk die eerste keer) ons vertroue in Hom stel!

As Jesus se krag om te verlos indrukwekkend is, dan is sy liefde, barmhartigheid en medelye met ’n ellendige sondaar net so aangrypend. Ons moet verstaan,  hierdie man was seker nie juis ’n mooi prentjie nie! (Hy het sleg gelyk en geruik!) Waar ander mense  maar sal wegkyk of  sal hulp aanbied aan iemand  met meer potensiaal,  ontferm Jesus Hom oor hierdie mens in die diepste denkbare nood. Jesus is onbevooroordeeld barmhartig teenoor die mees diep gesonke sondaar!

Jesus spesialiseer in die herwinning en herstel van afgeskryfde wrakke in Satan se skrootwerf!

Jesus se almag en barmhartigheid bring volledige bevryding en herstel in hierdie man se lewe. ’n Vuil grafbewoner, ‘n  besete boemelaar word ’n verkondiger van God se boodskap! (20) ’n Willose werktuig van die duiwel word herstel  en omvorm in ’n herout van God! Jesus verlos hierdie man nie net van ‘n aardse grafbestaan nie, maar ook van die ewige helse graf!

Twee laaste sake :

~ Alle mense is nie besetenes nie. Maar, alle mense wat nog nie deur Jesus verlos is nie, is slawe, slagoffers en werktuie van Satan. Alle mense het Jesus se reddende  mag en barmhartigheid nodig!

~ Hierdie verhaal wat Markus vertel het ’n blye hoopvolle einde - ’n man wat bevry is en ’n boodskapper word van God se groot dade. Tog is daar ook ’n hartseer kant. Die mense van die omgewing vra dat Jesus moet weggaan. Hoekom? Ons weet nie presies nie. Miskien was hulle bang vir Hom en sy groot krag, bang Hy raak betrokke in hulle lewens. Heel waarskynlik ontsteld oor die verlies van ’n groot trop varke. Hulle varke het vir hulle meer getel as die bevryding van ’n gebroke medemens.  Hoe dit ook al sy, hulle toon nie veel belangstelling in Jesus nie. Dis tragies, want baie van hulle het seker ook nood gehad.... Wat ’n ironie! Hierdie man wat tot die laaste vlak van die samelewing gedaal het,  sal eendag ’n bewoner wees van die nuwe aarde, terwyl baie van die ordentlike en welaf mense van Gerasa  dalk nie daar sal wees nie, omdat hulle die kans laat verbygaan het om die Magtige Verlosser te vind! 

Geliefde, moenie jou oor die “varke” (allerhande aardse kleinighede) bekommer en so die verlossing mis nie!

Dinsdag 02 Oktober 2012

DIE MAG VAN 'N MOOI VROU!

- om haar man vir Christus te wen.

Dis ‘n opsigtelike tragedie : Huisgesinne en huwelike is in groot chaos. Die ergste  is dat baie Christene se huise en huwelike nie juis altyd  beter lyk as die van die wêreld daarbuite nie. Dit doen soveel oneindige skade aan die beeld van die evangelie. Dis nie God se bedoeling nie! As God mense red, wil Hy ons totale lewe vernuwe. Dit sluit die huwelik in. Daarom kry ons baie spesifieke opdragte oor die verhouding tussen man en vrou in die Skrif.

Petrus gee onder leiding van die Heilige Gees praktiese opdragte aan mans en vroue in 1 Petrus 3:1-7. Ons kyk vandag wat hy vir die vrou sê:

“NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,
maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,
soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie." (OAV)

Kom ons herinner ons net eers aan die wyer konteks  waarbinne hierdie opdragte aan die vrou (en later ook man) kom. Dit hang nie in die lug nie. Twee sake is van belang:  

Dis deel van die groot opdrag in 1 Petrus 2:11,12.  Hier  gaan dit  oor ‘n skoon lewenswandel, ‘n voorbeeldige en aantreklike lewensstyl te midde van ‘n bose en vyandige wêreld. Kinders van God  is in hierdie wêreld, maar ons is geroep om anders te wees. Ook wat betref ons huwelike en gesinne, moet ons opvallend anders wees! Ons moet deur ons voorbeeld die Christelike boodskap “versier” sodat ons die ongelowiges daardeur kan wen vir die waarheid! Mense moet vra : “Hi, hoekom is julle gesin so gelukkig?” Ons huwelike moet modelle wees wat buitestaanders se onregverdige kritiek teen die kerk tot swye sal bring!
Tweedens is hierdie opdragte ook ‘n onderdeel van die deurlopende belangrike beginsel van onderdanigheid in 1 Petrus 2:13 (dit word herhaal in 18,3:1)

Die saak wat Petrus aanspreek is spesifiek die verhouding van die vrou met haar eie man in die huwelik.   

Hierdie opdragte van Petrus ontspring natuurlik uit ‘n spesifieke situasie in die werklike lewe as agtergrond, wat heelwaarskynlik algemeen voorgekom het. Dikwels het net een lid van ‘n egpaar uit die heidendom tot bekering gekom. Dit skep besondere probleme en uitdagings. Hoe leef ‘n vrou in ‘n huwelik saam met ‘n ongelowige man, wat dus ongehoorsaam is aan die Woord? Dis vandag nog steeds ‘n aktuele krisis.  Gewoonlik hanteer die meeste Christen  vroue dit ongelukkig verkeerd. (Julle weet mos wat hulle doen :  hulle kry boekies en blaadjies en DVDs, bel die dominee om te kom praat ens. Die gevolg : pappie word net al kwaaier en bestee al meer tyd weg van die huis om te vlug vir sy vroutjie se gepreek!) Petrus maak dit baie duidelik wat die vrou se werkswyse moet wees. Hy gee ‘n heder antwoord. (al is dit nie die lekker en maklike antwoord wat ons wil hoor nie)

Die Christen vrou moet haar onbekeerde man vir Christus wen, deur wandel sonder woorde! Sy moet ‘n woordlose evangelie bring! Haar lewe moet ‘n getuienis wees met groot oortuigingskrag! Natuurlik, kom ons erken,  dis veel gevra en beslis nie maklik nie. Kom ons wees eerlik : dit vereis opregte toewyding, onselfsugtige Christenskap, eindelose geduld en selfs die bereidheid om te ly! Dit vra bonatuurlike deursettingsvermoë! Gedryf deur ‘n passie vir God se eer en ‘n werklike liefde vir die man.  Ondersoek die motief van jou hart. Is dit nie dalk :  “ek wil tog hê hierdie ou moet ‘n Christen word sodat die lewe vir my makliker kan wees” nie? (LW - dit gaan hier oor mense wat reeds getroud was, toe die vrou tot bekering gekom het. Baie gelowige vroue sit met die pyn van ongelowige mans omdat hulle direk teen God se opdragte met onbekeerde mans getrou het. En dit  terwyl die Bybel dit verbied.)

As die vrou die man so met haar leefstyl  kan wen is al die moeite en opoffering dit werd. Hoe lyk hierdie lewenswandel? Dis ‘n lewe volgens die beginsels van : Onderdanigheid, Reinheid en Godvresendheid.

OPGEMAAK OF NUUTGEMAAK?

Petrus maak hierdie beginsels op ‘n praktiese saak wat vir vroue belangrik is van toepassing. Hoe maak ‘n vrou haarself aantreklik? ‘n Vrou kan op een van twee kante konsentreer : Uiterlike of innerlike. Waar gaan sy al haar energie (en geld) insit?  Klere of karakter? Gesig of gees? Petrus is duidelik, die klem moet nie op die uiterlike val nie! (Natuurlik propageer Petrus nie onversorgdheid nie.) Hy spreek wel ‘n baie teer saak aan in die sensuele en oppervlakkige kultuur waarin ons ons bevind. Maar hierdie probleem is nie iets nuuts nie.  Petrus se vermaning herinner sterk aan die van Jesaja 3:16-24 Luister bietjie!

"Die Here het ook gesê:
Die vroue in Jerusalem is hoogmoedig.
Hulle loop neus in die lug en swaai hulle heupe.
Hulle kyk vir die mans en knip hulle oë,
hulle skud die ringe om hulle enkels.
Maar die Here sal hulle koppe vol sere maak,
en hulle hare sal uitval.
Daardie dag sal Hy hulle mooi goed wegvat:
die ringe om hulle enkels en die juwele
wat lyk soos die son en die maan,
die oor-ringe en die armbande en sluiers,
die kop-ringe en die kettings om hulle enkels,
die mooi gordels om hulle lyf, die reukwater,
die juwele om hulle nekke,
die ringe aan hulle vingers en die neusringe,
die mooi rokke, die doeke om hulle skouers, die handsakkies,
die spieëls, die lang rokke, die kopdoeke en die kort jassies.
Wanneer die Here
al die mooi goed weggevat het,
dan sal die vroue nie meer
lekker ruik nie, hulle sal stink.
Hulle sal nie meer mooi gordels dra nie,
hulle sal toue om hulle lyf dra.
Hulle sal nie hulle hare kan vleg nie,
want hulle sal kaalkop wees,
hulle sal nie meer mooi klere dra nie,
hulle sal rouklere dra.
Hulle sal nie meer mooi wees nie,
daar sal brandmerke op hulle lywe wees,
want hulle sal slawe wees."

Sjoe!!! Klink amper of Jesaja deur die Huisgenoot geblaai of een van ons winkelsentrums besoek het!

Waaroor gaan dit? Die profeet Jesaja veroordeel die ryk hooghartige dames van Jerusalem wat hulle slegs oor hulle uiterlike voorkoms bekommer, terwyl die samelewing innerlik verrot is. Dis gewoonlik die tendens, hoe groter die geestelike armoede, hoe meer word daar op uiterlike vertoon en uitspattigheid gefokus om te probeer kompenseer! 

Ook Paulus maak soortgelyke opmerkings as Petrus in 1 Timoteus 2:9-10 (lees) Die Bybelse siening staan  in skerp  kontras met die algemene opvattings van die wêreld. Ons hoor dit mos : van kleins af word kinders aangemoedig om “sexy” te wees! Pasop: Ouers voer hulle kinders verkeerde waardes op subtiele maniere, sonder dat hulle dalk self daarvan bewus is!

Petrus se punt is nie ‘n  legalistiese verbod op alle mooi klere of grimering nie. (waar sou mens in elk geval die streep trek?)  Nou wat wil hy dan  tuisbring? Die punt wat hy wel maak  is tweeledig : 
1) Die oorweldigende waarde van innerlike skoonheid bo uiterlike versiering. 
2) Die groot gevaar van uitspattige sensuele versiering.

Weereens durf ons geen kleinlike wettiese reëls hieroor maak nie.  Elke Christen vrou moet onder leiding van die Heilige Gees, volgens die beginsels van die Woord en binne die konteks van bepaalde kultuuromstandighede, eerlik voor die Here keuses maak. Dit gaan eerstens natuurlik oor jou eie diepste motiewe, maar vir die Christen vrou wat ander se geestelike welsyn op die hart dra, ook  oor die vraag of my kleredrag en grimering ander in versoeking kan lei.

Positief : 

Die geheim van die Christen vrou se standhoudende skoonheid lê nie in  hoe sy haarself opmaak nie, maar hoe die Heilige Gees van God haar nuutmaak! 

MAGTIGE MOOI VROUE

Die innerlike mooi Christen vrou het ‘n magtiger wapen om haar man mee te beïndruk as bloot uiterlike aantreklikheid.  Konsentreer daarop!  Die uiterlike  het slegs ‘n kortstondige duur : die hare moet telkens teen groot koste weer oorgedoen  word, die duur klere is volgende seisoen weer uit die mode... Daarteenoor word  ‘n sagmoedige, bedagsame karakter net al mooier. Dis die gees wat daagliks deur die Gees vernuwe word!  Dis wat God sien en hoog ag!

SARA OF ISEBEL?

Petrus verwys na die verlede en merk op dat dit altyd so was dat heilige vroue hulle versiering in die innerlike gevind het.
Hulle geheim? Hulle het op God gehoop! Sara was so ‘n voorbeeld. Sy het nie ‘n maklike lewe gehad nie... op die trekpad, vol onsekerheid, baie noue ontkominge... Tog het sy getrou aan Abram gebly en hom gerespekteer. Petrus haal aan uit Gen 18:12 . Dit gaan oor respek. Hoop op God sal lei tot respek vir die man. Pasop hoe jy oor jou man praat of na hom verwys as jy saam met vriendinne is!  Respek te alle tye!  Volg Sara se  voorbeeld na.  

So baie vroue is eerder dogters en nabootsers van Isebel....Die listige koningin met agterbakse planne wat haar  swakkeling man  Agab totaal oorheers het. Hierdie bose koningin kon nie God se oordele vryspring nie, haar oogverf en mooigemaakte hare ten spyt! (2 Konings 9:30)

 ‘n Innerlike mooi vrou is ook ‘n dapper vrou. Hulle "vrees geen verskrikking nie" Dit gaan nie hier oor ‘n aanmoediging om die Comrades te hardloop of Kilimandjaro te klim nie. Maar om dapper, standvastig, vol geloof in moeilike omstandighede, veral huislike omstandighede te wees! Om onder ‘n onbekeerde man ‘n stille blymoedige Christelike getuienis te handhaaf verg veel meer as om Kilimandjaro te bestyg!

Ek hoop jy sien raak dat hierdie gedeelte nie bloot ‘n polemiek is oor grimering en kleredrag nie. Hoor die positiewe noot in hierdie vermanings : die innerlike skoonheid van ‘n vrou is ‘n magtige instrument om ‘n verskil te maak in haar man se lewe en in haar huis, maar bo alles is hierdie innerlike skoonheid kosbaar voor God! 

My liewe vriendin, moenie die klem laat val op opmaak nie, maar laat toe dat die Heilige Gees jou nuutmaak! Dan is jy mooi... en magtig! Magtig in God se diens!


Maandag 01 Oktober 2012

LIEFDE DEUR DIE LIGGAAM

- Jesus is so aktief op aarde.

Die kinders van God op aarde vorm saam een liggaam.  Dis ‘n diep Bybelse  waarheid, met geweldig heerlike praktiese implikasies.
Dis nie maar net ‘n mooi teorie nie. As julle my sal verskoon om persoonlik te raak : ons het hierdie waarheid die afgelope tyd (met my Pa se afsterwe en begrafnis) op ‘n besonder positiewe manier beleef. In die ondersteuning, meelewing en sorg wat ons ontvang het van ons eie gemeente, die NGK Tsumeb, maar ook van die NGK Kerk Meersig in Walvisbaai en van ‘n ryke verskeidenheid van God se kosbare kinders. Kom ons dink bietjie oor hierdie belangrike saak vanuit die bekende 1 Korintiërs 12.*  Ons kyk na ‘n paar feite oor die liggaam, ‘n paar foute wat reggestel word as ons die realiteit hiervan besef,  en die voorreg en vreugdes wat deelwees van die liggaam meebring...

FEITE 

Kinders van God vorm nie net ‘n liggaam in die algemene sin van die woord nie, maar  spesifiek die liggaam van Jesus Christus  op aarde. (12;27) Dis ’n feit.  Ja, Jesus het opgevaar hemel toe, maar in ‘n sekere sin is Hy steeds daagliks sigbaar en tasbaar hier op aarde  teenwoordig. Natuurlik deur sy Heilige Gees, maar ook in die sigbare gestalte van die ware kerk. 

Die oomblik as jy wedergebore word, word jy deel van die liggaam van Jesus. Dit raak sigbaar en formeel bevestig as die Here jou by ‘n  gemeente voeg. (Handelinge 2:47) En wonderlik, so  is Jesus self  betrokke deur jou. 

Jy word inderdaad ‘n kanaal van Jesus se liefde!

Ons moet die kerk as liggaam van Jesus ernstig opneem. Vir Jesus self is dit geen geringe saak nie. Ons kry ‘n treffende bewys hiervan  as Jesus die onbekeerde Paulus oppad  na Damaskus ontmoet en konfronteer : “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Ons weet Paulus het nooit eers vir Jesus op aarde gesien nie. Hy het wel die kerk vervolg en Jesus beskou dit as vervolging van homself.) Dis duidelik : Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus, wat jy vir die kerk voel, voel jy vir Jesus - dis sy liggaam!  Ons durf nie Jesus losmaak van sy kerk nie. 
Dis onmoontlik om te sê : “Ek neem Jesus ernstig op, maar ek voel nie veel vir sy liggaam nie.”  Dis absolute onsin om te beweer :“Ek het Jesus lief”, maar ek het nie Sy liggaam die gemeente lief nie. Of, “ek het Jesus lief”, maar ek beoefen my totale Christenskap voor die TV as ek daar na ‘n diens kyk en ek wil nie by ander kinders van God betrokke raak nie.

Twee verdere belangrike feite oor die liggaam word hier uitgelig : Eenheid en diversiteit. Anders gestel : ons is ten nouste saamgebind, maar ons is nie presies dieselfde nie, ons verskil in baie opsigte. 

Die eenheid word beklemtoon deur die feit dat ons met dieselfde Gees  gedoop is en dat alle kinders van God dus deur dieselfde Gees deurdrenk word. Dis so heerlik! As ek ‘n kind van God is, woon die Heilige Gees mos  in my. As jy ‘n kind van God is woon die Heilige Gees ook in jou - dis dieselfde Heilige Gees. Hy is een.  So ontstaan daar ‘n diep band van eenheid tussen God se kinders. Dis groter en sterker as kulturele of selfs familiebande.  Hierdie eenheid is dus nie ‘n kunsmatige geforseerde saak nie, maar ‘n bonatuurlike band en eenheid wat deur die inwonende Heilige Gees bewerk word!

Maar daar is ook ‘n heerlike en nuttige diversiteit in die liggaam van Jesus. (14) Dis nie maar ‘n toevallige verskynsel nie, dis deel van die essensie van liggaam wees. Dis ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid. Geen enkele lid kan volledig liggaam op sy eie wees nie!  Immers hoe lank dink jy sou ‘n oog of hand op sy eie kon oorleef? Die verskillende gawes en funksies in die liggaam moet ons nie jaloers maak of minderwaardig laat voel nie, maar laat juig!

FOUTE

As ons die feite oor Jesus se liggaam ernstig opneem sal dit ons van ten minste twee foute of  bose sienings bewaar. Aan die eenkant  van hoogmoed en baaspelerigheid. Ek durf nie myself bo ander lede met ander funksies en gawes ag nie. Ek mag onder geen omstandighede hoogmoedig raak oor die gawes wat ek ontvang het nie, want die Here het vir elkeen van sy kinders gawes gegee om ‘n spesifieke rede. Wat my gawe ookal is, ek het dit ontvang om die res van die liggaam te dien. Die oog kyk nie net ter wille van homself nie, maar hy kyk juis sodat die hand en voet hulle werk kan doen. Ons gawes is bedoel vir diens aan ander en nie om ons eie eggo’s op te pomp nie. (Vgl. 1 Petrus 4:10) Geen leraar mag ook dink : "Hierdie is my kerk nie" Nee, dis bloot 'n deel van die liggaam van Christus ir wie ek moet bedien!

Die feit van die verskeidenheid van gawes moet ons ook bewaar van minderwaardigheid en gevolglike onbetrokkenheid. As jy deel van die liggaam is, het jy beslis ’n funksie. Net soos ’n oor, oog, been, hand vanselfsprekend elkeen ’n werk het, kry jy onmiddellik ’n werk en ’n plek in die gemeente, die oomblik as jy deur die geloof aan Jesus verbind word. Dis daarom nie ‘n kwessie  of jy ’n werk het nie, jy het dit, miskien voer jy dit nog net nie uit nie! Miskien is jy in opstand teen jou taak. 

As ons nie erns maak met ons plek en funksie nie, is daar twee ernstige negatiewe gevolge. Dit gebeur ongelukkig elke dag voor ons oë!

Onbetrokkenheid het ernstige gevolge vir die liggaam. As ’n enkele liggaamsdeel disfunksioneel word, is daardie hele liggaam gebreklik en minder effektief. Ander dele word ook oorwerk, moedeloos of raak geestelik siek weens jou afsydigheid. Ons lewer dan maklik kritiek oor die gemeente wat dit of dat verwaarloos, maar dis dan al die tyd my eie skuld dat die liggaam nie behoorlik funksioneer nie!

Onbetrokkenheid het ook ernstige gevolge vir jou as onaktiewe liggaamsdeel. Ons weet as ‘n liggaamsdeel nie meer gebruik word nie soos byv. ‘n been wat baie lank in gips is, atrofeer dit. Dit krimp sommer weg! Onbetrokke lidmate, raak dikwels heeltemal weg en uiteindelik los van Jesus self! 

Weet dit : 

As jy onbetrokke in die gemeente is, verkeer jy in gevaar!

VOORREG EN VREUGDE

Dis ‘n groot voorreg en geleentheid om deel te wees van Jesus se liggaam. Alles wat jy as Christen in gehoorsaamheid aan Christus doen is belangrik. Jy vervul so ‘n praktiese funksie van Jesus namens Hom, as deel van sy liggaam. Sterker gestel : Jy, ja, jy broer en suster  is vir iemand anders Christus se stem, hande, voete... Prakties gesê : As Jesus een van sy mense (‘n ander deel van die liggaam) met kos wil bedien, laat val Hy dit nie uit die lug nie. Hy stuur iemand soos jy met ‘n mandjie. As  Jesus een van sy volgelinge wil troos, stuur Hy jou om jou arms om daardie persoon te slaan. (jy word Jesus se arms) As Jesus ‘n boodskap van bemoediging of waarskuwing aan ‘n medegelowige wil oordra, gebruik hy gewoonlik nie ‘n engelkoor nie, maar jou menslike stem. Jy is Jesus se stem. Wat ‘n vreugde om te kan weet dat ek ‘n verlengstuk is van Jesus se aksie op aarde! Dit gee sin aan die lewe. Maar dit gaan ook verder. Jy gee namens Christus, maar jy ontvang ook soveel van Hom via sy liggaam. Die gemeente as liggaam van Jesus  beskerm en voed en ondersteun jou. So beleef jy dan hoe Jesus Christus self jou versorg, beskerm, bedien...sy liefde is ‘n daaglikse realiteit in die liggaam.

Is jy werklik al deel van die liggaam van Christus? Is jy besig om jou God bepaalde funksie te verrig?

*Hierdie is net enkele praktiese gedagtes en nie 'n volledige uitleg van die betrokke hoofstuk nie.


Broers in die Here van NGK Meersig in Walvisbaai, vir wie ons beleef het as die hande en voete van Jesus. Dankie, Wynand, ds.Peet en Pieter!