BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 21 Mei 2012

RAAKVAT REGTE RAAD

- wat “stukkende” stene weer deel maak van ‘n Goddelike tempel!

Ons bevind ons almal dikwels in ’n situasie waar ons moet raad gee. Spesifiek ook vir mense wat geestelik in die nood is. Berading is egter ’n uiters moeilike en gevaarlike saak. Dis moeilik, want mense se probleme  is so kompleks. Daar is ‘n spesifieke agtergrond, daar is omstandighede, daar is ’n verskeidenheid van persoonlikhede, daar is moontlik ook die menslike element van valsheid aanwesig. (Mense wat raad soek  is dikwels nie eerlik oor die presiese aard van hulle probleem nie, en wil eintlik net hoor wat hulle pas)  Dan is dit ook nie altyd duidelik of die betrokke persoon werklik  ’n Christen is of nie. Dit alles maak berading uiters riskant. Verkeerde raad  kan inderdaad gevaarlik wees. Dit kan iemand nog dieper in geestelike ellende laat beland. Verkeerde raad kan valse gerustheid gee of aan die anderkant iemand onnodig bekommerd maak.

So watter raad is die beste? (Maak asseblief jou Bybel oop by 1 Petrus 2:4-6.)

Petrus gee  raad in 1 Petrus 2:4 waarmee mens nooit verkeerd kan gaan nie. 

“Kom na Hom  (Christus) toe!”

Nou sal die vraag by jou opkom : Is dit regtig sinvolle en genoegsame  raad? Kan dit ’n daadwerklike verskil in mense se lewens maak? Is dit nie maar eintlik ’n niksseggende en oppervlakkige cliché om vir mense te sê : “Kom na Christus” nie?  Is dit nie ‘n oorvereenvoudiging nie?  Bied Jesus werklik ’n omvattende en realistiese oplossing vir die mens in nood?

Petrus gee vir ons antwoorde op hierdie vrae as hy vir ons die heerlikheid van Jesus Christus uiteensit deur ‘n baie treffende beeld.  Christus word  beskryf as die “lewende steen”. Wat bedoel hy met die lewende steen? Met "lewende" bedoel Petrus nie maar bloot dat Christus leef nie - dit gaan spesifiek hier oor die diepere implikasie van die opstanding. Dis juis deur die opwekking uit die dood wat God, Jesus tot hoeksteen gemaak het.  Die merkwaardige is dat hierdie Steen, Jesus Christus deur die Joodse volk, maar ook deur die mensdom in die algemeen verwerp is. (Weggegooi daar eenkant op die “site”) Jesus is geminag, afgekeur en verstoot tydens sy hele lewe op aarde. Dit was die duidelikste toe Hy veroordeel is om as ’n misdadiger te sterf. Die mensdom skreeu dit as’t ware uit : “Jesus is niks vir ons werd nie!" (dis vandag nog so) God dink egter radikaal  anders oor Jesus. Hy beskou Hom as waardevol en uiters kosbaar en bruikbaar. Die steen wat daar eenkant weggegooi lê, word as’t ware deur God opgeraap.  God verklaar deur die opwekking van Jesus uit die dood : “Hierdie Steen is presies wat ek nodig het vir my bouplan.” Wat ’n kontras - verwerp deur mense, maar uitgekies deur God! Dit plaas die opdrag om na Jesus te kom in ’n gans ander lig. "Kom na Jesus" beteken dus: “Volg God se keuse en nie mense s’n nie!” Om na Jesus te kom is die regte ding in God se oë, want Hy, Jesus is God se keuse! (vir mense wat konkrete verwerping en lyding ervaar het soos Petrus se lesers, sou hierdie woorde van Petrus nog soveel meer vertroosting gebied het. Ons troos en redding lê in Hom wat ook nes ons deur die wêreld verwerp is! God kies Hom wat deur die wêreld verwerp is, net so kan ons as verworpenes ter wille van Jesus seker wees van God se ewige guns!)

Petrus haal aan uit Jesaja 28:16 “So sê die Here my God : Ek gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op Hom vertrou hoef nie te vlug nie.”  Hierdie profesie van Jesaja is oorspronklik gerig aan die leiers van Jerusalem wat dwaaslik geglo het dat hulle veilig was. (sien verse 14 en 15) Hulle het gedink hulle is onaantasbaar teen die dreigende inval. God verklaar dat hulle hoogmoed geen skuiling sal bied nie. Net een gebou sal bestand wees teen die komende verwoesting, naamlik God se gebou, gebou op die uitgesoekte klip. Slegs die skuilplek wat God self sal voorsien, bied veiligheid.  En dis presies wat Jesus vir ons is! In Jesus is daar skuiling en sekuriteit teen God se oordele. In verbintenis aan Hom word ek deel van God se onverwoesbare gebou. Ja, die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Wat gebeur dus  as ek na Jesus kom? As ek aan Hom vas gemessel word?  Ek word ook deel van God se bouwerk, deel van God se argitektuur!  Deur my te voeg by die hoeksteen (Christus) word ek deel van die gebou. Petrus beskryf hier wat gebeur met iemand wat homself blywend aansluit by Christus. So ’n persoon word deur God as ’n lewende steen in sy huis ingevoeg.
Die geestelike huis is God se tempel, met ander woorde die kerk op aarde. Dis waar God woon. (1 Korintiërs  3:16) Petrus verskuif dan die beeld effens.  Die lewende stene, dit wil sê mense wat verbind is aan die lewende Steen, Christus is terselfdertyd ook priesters in die tempel. Mense wat toegewy is aan God, in diens van God. Hierdie priesters, (almal wat in geloof aan  Christus verbind is)  bring offers waarvan God hou. Aanneemlike offers beteken ’n lewe voor God wat Hom welbehaaglik is! (Van Houwelingen)* So word daar eer aan God gebring, so word daar aan die hoogste doelwit van menslike bestaan beantwoord. Al hierdie heerlikheid gebeur wanneer ek na Christus kom, as ek aan Hom verbind is.

My lewe is eers sinvol as ek aan Jesus verbind is!

DIE REGTE RAAD

Ons  het gepraat oor raadgee aan mense in nood. Dis eerstens belangrik om te verstaan : Waaroor gaan mense se diepste nood?  Die basisprobleem is : Ons voldoen nie aan ons skeppingsdoel nie, omdat ons sondaars is!  Ons leef nie werklik tot eer van God nie, ons kry dit nie reg nie, vanweë my eie sondigheid. (die mens dink natuurlik altyd dat die probleem elders is, soos by my agtergrond, ouers, huweliksmaat...Nee, die fout skuil in my eie bose hart!)  Dit kom daarop neer, ek is nie die mens wat ek moet wees en wat God wil hê ek moet wees nie.  By wyse van spreke, ek het ‘n nuttelose steen geword. Goed vir niks!

Nou wat is dan die regte raad vir diegene wat sê : “Ek is nie goed genoeg nie, ek is nie nuttig nie, ek het ‘n swak selfbeeld, ek word geteister deur al my mislukkings, ek voel so skuldig oor als wat al verkeerd geloop het....”   Die regte raad is : “Kom na Christus!” Hoekom? In Christus alleen is ek vir God aanvaarbaar en bruikbaar. Onthou Christus is deur God gekies om die hoeksteen van sy tempel te wees. God kies almal wat saam met (in) Christus is om ook deel van sy tempel te wees. Die status van Christene is afhanklik van die status van Christus, want hulle is aan Hom verbind. Verbind aan Jesus, word ek die weggegooide, stukkende steen, God se spesiale steen wat Hy op ‘n spesifieke plek in sy gebou wil gebruik! Dit verander als!

Die oplossing vir stukkende mense (stene) is dus : Volkome vertroue op Jesus en sy genoegsame offer aan die kruis,  ’n vasgryp van Hom, nadere kontak met Hom. Roep sy Naam aan! (Rom 10:13) Gehoorsaamheid aan Hom. Verdere groei in kennis van Hom, binne die konteks van ‘n gemeente waar Hy in waarheid gedien word! Ons as mense se diepste primêre behoefte is aan Jesus Christus self. Dis baie belangrik dat ons nie bloot simptome (uiterlike probleme) aanspreek nie, maar mens se werklike nood  en dis die behoefte aan vrede met God deur Jesus Christus!

As ek sê dat  “Kom na Jesus” die regte raad is, bedoel ek dis die basiese en wesentlike raad, wat die wesentlike nood van mense aanspreek. Ek bedoel nie dis verkeerd om ander praktiese riglyne uit die Woord aan mense te gee (oor huwelik, gesin, kinders, finansies ens.) nie. Alle praktiese riglyne sal egter eintlik op een of ander manier juis aansluit by hierdie basiese opdrag. Dis tog eers as ek werklik by Jesus vrede gevind het en my aan Hom onderwerp het, dat ek kan begin werk aan my huwelik, sal weet hoe om my kinders te hanteer,  leer hoe om ook my finansies volgens sy wil te bestuur ens.


POSITIEWE RAAD

Kom ons benader berading uit ‘n baie positiewe hoek. Nie “wat is jou probleem?” nie, eerder 'n positiewe uitdaging: “Wil jy graag dat jou lewe ’n sinvolle offer van dankbaarheid sal wees, wat aangenaam voor God is?”  Dis slegs moontlik deur te skuil by Jesus Christus, die vlekkelose offerlam van God wat al ons onvolmaakthede bedek. Verder : “Wil jy deel wees van die imposante tempel van God wat verlig word met sy teenwoordigheid  en weerklink van lofsange tot sy eer?” Die antwoord is  : “Kom na Jesus.” As jy verbind is aan Jesus die lewende Steen, gebruik God jou tot sy eer.  As jy vas aan Jesus is, is jy God se keuse vir Sy gebou, want Hy het Christus gekies.  My waarde en bruikbaarheid lê nie in myself nie, maar in Jesus Christus aan wie ek verbind is. Hoe wonderlik om te besef - ons as “sondige stene” het baie growwe kante, onafgewerk, vol krake, eintlik onbruikbaar,  maar as ons in Christus is, word al ons defekte uitgekanselleer deur sy soendood en is ons geskik, meer nog, uitgekies vir sy gebou tot sy eer!  Aan die ander kant.  As jy op jou eie bene wil staan, op jou eie goedheid, godsdiens of mooi hoedanighede wil staatmaak, is jy sommer net ’n gebarste steen, deel van die ontsierende hoop bourommel en bestem vir die ashoop! Niemand kan bekostig om nie verbind te wees aan Jesus die lewende hoeksteen nie!

Weereens. Wie jy ook al mag wees. Die beste raad wat ek jou kan gee, is duidelik en eenvoudig: “KOM NA JESUS”

Hoor dan die belofte in vers 6 : “Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”  Kom jy?

* Daar is gebruik gemaak van Clowney en Van Houwelingen se kommentare


Vrydag 18 Mei 2012

ZUMA PORTRET

- giftige adder pik sy baas.

RSG berig : Die ANC is ontsteld oor 'n portret van president Jacob Zuma wat in die Goodman gallery in Johannesburg uitgestal word. In die afbeelding is die president se privaatdele ontbloot. Die ANC se woordvoerder, Jackson Mthembu sê die kunswerk tas die waardigheid van die president aan. Hy sê in geen land in die wêreld sal die reg van burgers - wat nog te sê dié van die president - so misbruik word nie. Die party het sy prokureurs opdrag gegee om die gallery te versoek om die portret te verwyder.

Ek is geen Zuma aanhanger of ANC ondersteuner nie, maar ek kan my tog  vereenselwig met die verontwaardiging oor die veelbesproke Zuma skildery. Alle Christene sal vanuit ons respek vir God se Woord sulke immorele kuns verwerp met die minagting wat dit verdien ongeag wie nou daardeur benadeel word. Tog is dit ook ons Christelike plig om daarop te wys dat Zuma en sy party self hierdie  giftige adder van goddeloosheid deur hulle beleidsrigtings sowel as optrede help grootmaak het.

Die ANC en al die medewerkers aan die uiters liberale Suid-Afrikaanse grondwet het net hulleself te blameer vir hierdie siek gemors waarin die land hom bevind. Dis die gevolg van ‘n grondwet wat net mense se regte beskerm terwyl dit God se wette vertrap. Dis 'n dokument wat geskoei is op die humanistiese vryheid van die outonome mens. Hierdie eensydigheid is ‘n giftige adder wat vertroetel word en een of ander tyd sy slim base gaan byt.  Dis wat nou gebeur het toe Brett Murray onder die dekmantel van hierdie (valse) vryheid ruimte gevind het vir sy vieslikheid.  Dis eintlik logies dat ‘n grondwet sonder God op die ou end sal “backfire”.  God het sy wette daargestel, eerstens tot sy eer, maar ook om ons as sy skepsels, wat eer aan Hom moet bring  te beskerm. As ‘n land (sy president, regering,  grondwet en burgers) nie meer ontsag het vir God en sy gebooie nie, moet hulle nie dink dat hulle skotvry daarvan gaan afkom nie.

Die ANC kla nou weer oor die reg van die ('n) mens wat geskend word, maar wat van God se REGTE AS SKEPPER wat permanent in hierdie gruwelike grondwet (en deur 'n heidense veelwywer) geskend word?


Die ANC in hulle protes dink alweer net in die een rigting/groef waarin hulle altyd vasval. "Dis rassisties en teen Swartmense gemik", is hulle beswaar. Weet hulle dan nie van die Swart kunstenaar, Ayanda Mabulu se skildery, "Un-mute my tongue", wat beide 'n kaal Zuma en kaal Tutu afbeeld nie? Nee, ANC, die probleem moet eerder gesoek word by 'n samelewing, wat hulle nie meer steur aan God se Woord nie. En julle en julle president, is aandadig!

‘n Goddelose grondwet soos die van Suid-Afrika wat nie respek het vir lewe nie (aborsie toelaat), wat die huwelik minag (gay huwelike erken) en wat dus die regte van die mens (skepsels) hoër ag as die regte van God (Skepper) is uiteindelik ‘n dokument van die dood. Dit verskans sonde. En sonde lei tot die dood.

Mag Zuma en ander leiers hulle tot God bekeer en die land tot sy eer regeer!

DIE BITTER HOË HEKKIE

- waaroor gebede struikel en die plafon wat ons versugtinge terugkaats. 

Matteus 6:14,15 “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

As ons nie kan bid nie, as ons nie werklik kontak met ons hemelse Vader kan maak nie,  beteken ons Christenskap niks nie. Gebed is die vernaamste manier hoe  kinders van God hulle dankbaarheid vir verlossing prakties uitleef. Uit Jesus se mond het ons nou al ‘n hele paar belangrike dinge geleer oor gebed :
  • Ware gebed is nie ‘n hipokritiese  ritueel nie, maar egte kontak met ons Vader.  Dis ‘n lewe voor die aangesig van God. 
  • Ware gebed word beloon deur ons Vader wat presies weet wat ons behoeftes is. Gebed werk!
  • Ware gebed vereis ‘n U draai, weg van ek-gesentreerdheid na ‘n fokus op God (U). Dit gaan eerstens oor God se eer, God se koninkryk en gehoorsaamheid aan God se  wil.
  • Ware gebed sluit in dat mense wat God se eer nastreef en oppad is na die koninkryk vir alle behoeftes op die pad mag bid,  insluitend ons fisiese nood, vergifnis en beskerming. Dis dinge wat God se kinders almal nodig het.

Ons kyk nou na nog ‘n laaste belangrike beginsel uit Jesus se lering hier oor gebed : Ware gebed kom uit ‘n vergewensgesinde hart. Anders gesê, alle gebed wat nie uit ‘n vergewensgesinde hart kom nie, sal misluk. Vergewensgesindheid is ‘n kernsaak as dit by ware gebed kom . Matteus 6:14,15 lyk dalk soos ‘n voetnoot by die vyfde bede, maar dit verwys terug na die hele gebed wat handel oor ingang in die Koninkryk.*

Dis asof Jesus hier net ‘n laaste dringende vermaning wil byvoeg en sê : “Kyk jou gebed kan honderd suiwer geformuleer wees, maar as dit uit ‘n bitter onvergewensgesinde hart kom, word dit onmiddellik gediskwalifiseer." 

Moenie dat jou gebed oor die laaste hekkie struikel nie! 

Dis ‘n besonder bitter hoë hekkie, die hekkie van onvergewensgesindheid!

Hoe pas vergifnis en koninkryk en gebed bymekaar? Ons het gesien : gebed draai om God en sy koninkryk. Dit gaan oor God se prioriteit as Koning, maar ook oor ons deelwees van die koninkryk en ons oppadwees na die koninkryk. Daar is net een manier hoe ons deel kan word van die koninkryk - deur genade en vergifnis wat ons van God ontvang.    Die basiese beginsel van die koninkryk is vergifnis. As ons dus genade en vergifnis aan andere weier,  beteken dit ons verwerp die basisbeginsel van die koninkryk. As ek weier om  vergifnis te skenk, bly ekself ook sonder vergifnis en kan ek nie in die koninkryk ingaan nie. So slaan ekself die deur van die koninkryk toe. Onvergewensgesindheid is die grootste faktor wat ons gebede bederf en uitkanselleer. Onvergewensgesindheid is die grootste praktiese rede waarom mense die koninkryk sal misloop.  Kom ons toets dit aan ‘n paar ander Skrifgedeeltes:

Markus 11:25 “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” 
Net soos in die Onse Vader koppel Jesus vergifnis as ‘n vereiste aan gebed en die ontvangs van vergifnis.

As ons verder in Jesus se woorde oor hierdie saak gaan soek sien ons dat dit nie net oor gebed gaan nie, maar oor ons eie vergifnis en dus ook oor ons verlossing as sodanig.

Matteus 5:7 “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”   
Ons het almal barmhartigheid nodig. Al is jy in ’n kerk gebore, al was jy jou hele lewe lank godsdienstig en al het jy geen erediens of biduur gemis nie, sonder Jesus se genade, barmhartigheid en vergifnis sal jy nooit in die Koninkryk kan ingaan nie.  Hierdie Saligspreking sê dus : Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit aan ander mense!  Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie,  sê dus maar net : “Ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie.” Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus waarlik in Jesus  glo. Martyn Lloyd-Jones stel dit so treffend :
“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins, and I am unforgiven” 
As ek vergifnis weier aan ander is dit die duidelikste bewys dat ekself nog nooit vergifnis ontvang het nie en dus verlore is, oppad na die ewige straf! 

Matteus 5:23,24 “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”
Vergifnis en vrede is belangriker as enige uiterlike godsdienstige aksie!

Matteus 18:21-35 (lees gerus in jou Bybel) Ons ken hierdie gelykenis...  Hoe tree die koning uiteindelik op teen sy amptenaar wat weier om die ander een te vergewe?  Woedend! Vers 34 (lees) En dan sê Jesus hierdie skrikwekkende woorde : “So sal my Vader wat in die hemel is ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (35) Jy gaan nie met ‘n onvergewensgesinde hart by God verbykom en in die koninkryk inglip nie.

Maak seker dat jy self vergifnis ontvang het deur Jesus Christus en neem ‘n besluit voor God om alle oortreders in jou lewe te vergewe. (Onthou dis ‘n besluit en nie ‘n gevoel nie!) Moenie dat jou gebede en inderdaad jou reis na die koninkryk oor die laaste hekkie struikel nie! Moenie teen ‘n plafon vasbid nie!

* Dr Jakob van Bruggen, Matteüs - Het evangelie voor Israël

Maandag 14 Mei 2012

HEL EN HUWELIK

“My huwelik is inderdaad hel, ja”, hoor ek iemand hardop dink.  (dis nie waaroor dit primêr vandag gaan nie, maar as dit die geval is, pleit ek by jou om eerstens jouself en ook julle huwelik te onderwerp aan die evangeliebehandeling wat mense én huwelike nuut maak!)

Ek wil sommer net die aandag vestig op die helse aanslag teen die Goddelike instelling van die huwelik. Satan haat God en hy openbaar dus ‘n giftige passie om alle Goddelike ordes en instellings te probeer vernietig. Hoog op sy doodslys is die Godbedoelde huwelik tussen een man en een vrou as lewenslange verbintenis. Twee onlangse gebeurtenisse op die internasionale verhoog, het dit maar net weer onderstreep. In Frankryk en die VSA. Die Franse se nuutverkose sosialistiese president, Francois Hollande het blykbaar nie juis veel respek vir die huwelik nie. Hy het sy vorige jarelange saambly maat, Segolene Royal (by wie hy vier kinders het), verruil vir die geskeide joernalis Valerie Trierweiler. Die Franse het dus nou ‘n presidentspaar wat ongetroud saamleef. Sulke losbandigheid veroorsaak in ‘n sondeverdraagsame sekulêre samelewing soos Frankryk natuurlik nie eers meer ‘n muispiep van verontwaardiging nie. (In alle billikheid teenoor, Hollande;   Sarkozy sy teenstander, is self ook al darem deur meer as een vrou.) Nog meer skokkend, is Barack Obama se openbare ondersteuning van  “homoseksuele huwelike” is. Hy is die eerste Amerikaanse president wat openlik so ‘n standpunt huldig! Suid-Afrika is Amerika natuurlik ver voor in boosheid, want daar is dit mos al ou nuus. Vanuit die politiek, die media en veral die vermaaklikheidswêreld word ons gebreinspoel om God uit te tart en sy waardes en ordes te minag. Die wêreld en sy leiers is in openlike opstand teen God. 

Wat behoort ons as Christene se reaksie wees?

  • Ons moet met vasberadenheid teen die stroom van goddeloosheid swem. Dit vereis ‘n lewe volgens die liefde wat ten minste twee fasette insluit : “Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.” (Romeine 12:9) Liefde is nie normlose sentimentaliteit nie,  maar ‘n lewe binne die gebooie en grense wat God bepaal het. Daar kan nie iets soos ‘n “gay huwelik” bestaan nie, want dis ‘n verbreking van God se grense wat Hy vir die welsyn van die mens gestel het. Net so haat God egskeiding, want dit is niks anders as geweld nie! (Maleagi 2:16)

  • Ons moet die evangelie aan en binne in die sondige wêreld verkondig. Nooit mag ons vergeet dat God se genade boodskap van geloof en bekering juis vir sondaars, ja vir veragters van sy gebooie bedoel is nie. Jesus het immers gekom om sondaars te soek en te  red, die ergstes! Dis wat sy ontmoeting met Saggeus ons wil leer. (Lukas 19:10) Haatveldtogte is dus nie die antwoord nie, evangelieverkondiging wel! 1 Korintiërs 6:9-11 stel dit duidelik dat daar hoop en vergifnis is vir alle soorte sondaars wat hulle tot Jesus Chrstus bekeer!

  • Ons moet ons Goddelike plig en opdrag nakom om die goddeloses te waarsku. Dis juis God se manier om hulle te red, want God begeer nie die ondergang van die onregverdiges nie, maar juis hulle bekering. As ons hierdie Goddelike opdrag verontagsaam, gaan God van ons rekenskap eis. (Esegiël 3:18,19) Hierdie waarskuwings mag egter nie koue, afsydige en hardvogtige geraasmakery wees nie. Om die waarheid in liefde te praat. (Efesiërs 4:15) Dis die Bybelse balans.

  • Ons kan te midde van die wêreld en sy konings en presidente  se waansinnige opstand teen God, gerustellend weet : “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit.”  Die goddelose mensdom en sy leiers, verbeel hulle dat God se gebooie (ook sy bepalings vir die huwelik)  ‘n juk is wat hulle kan afgooi. “Pasop, julle gaan soos ‘n kleipot flenters geslaan word! Wees gewaarsku, konings...Zuma, Obama, Hollande...”  (Psalm 2)

  • Wat die huwelik in besonder betref, rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op ons wat Jesus se heerskappy oor ons lewens bely. Mag ons die aardse huwelik in woord en daad,  hoog en heilig ag, as ‘n lewende afbeelding van die volmaakte hemelse verhouding tussen die Lam en Sy bruid! Helse magte tier teen die huwelik, maar God wat ons losgekoop het deur die bloed van die Lam sal ons (en ons huwelike) bewaar, sodat ons eenmaal met vreugde kan aansit by die ewige  Bruilofsmaal!

Vrydag 11 Mei 2012

'N GEES KAN NIE 'N GRAAF OPTEL NIE, 'N SIEL KAN NIE SPIT NIE...

- God is nie net besorg oor ons siele nie, maar oor ons hele menswees!

Dit help om te bid! Oor alles!  Gebed maak ‘n verskil! Dis ‘n seker feit,  want Jesus het mos reeds in Matteus 6:6 duidelik gesê : “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” Opregte Godgewilde gebed lewer resultate! Maar hoe lyk sulke gebed wat volgens God se bedoeling en wil is?  Om mee te begin : Dis nie nodig  om God met ‘n stortvloed van woorde te probeer dwing nie. (7,8) Dit gaan dus nie oor ‘n gebedstruuk of spesiale gebedsresep nie. 

Wat is ware gebed dan? Kyk gerus maar weer na die bekende Matteus 6:5-15.  Die Onse Vader wat Jesus self vir sy dissipels geleer het is die model waarop alle ware gebed geskoei is. (Ons hoef dus nie altyd net hierdie presiese woorde te bid nie, maar die fokus sal dieselfde wees) Verlede keer het ons na die eerste drie bedes gekyk. Die boodskap daaruit is baie duidelik : Ware gebed plaas die fokus op God. As ek werklik bid op die manier wat God wil hê ek moet bid, maak ek ‘n U draai. Ek skuif van die ek na die U! Ek veg nie meer vir my naam, my koninkryk (belange) en my wil nie, maar vir God ....  

Hieruit is dit duidelik, die groot meerderheid gebede sneuwel nog voordat ons begin bid het. 

Ons gaan mos na ons kamers met ‘n inkopielys wat draai om “I, me and myself.” Deur ons selfsugtige gebede verklaar ons eintlik : Here ek gee nie om of ek U eer nie, ek gee nie om wat gebeur met U kerk en U koninkryk nie, ek gee nie om of ek U wil gehoorsaam nie, maar asseblief Here, ek is so belangrik, ek het meer geld nodig, ek het ‘n beter man of vrou nodig, ek het soeter kinders nodig...ek, ek, ek,...” Weet julle en dan is ons nog vermetel genoeg om die Here te verwyt dat Hy nie gou genoeg spring en ons wenslys waar toor nie!

Ons moet dus altyd die boodskap van die eerste drie bedes onthou, as ons vir ons  behoeftes bid! Ja, jy het reg gehoor! 

Ons mag inderdaad ook vir ons eie behoeftes bid. 

Hierdie hele gebed kom mos uit Jesus se mond. 

Net eers oorsigtelik. Wat leer die laaste drie bedes vir ons?
~ Hierdie bedes is net bedoel vir mense wat hulle beywer vir  God se Naam, koninkryk en wil. Dis nie ‘n blanko tjek vir almal nie. Dis slegs  vir mense wat ‘n passie het vir God se eer. Slegs vir mense wat oppad is na die koninkryk.  Slegs vir mense wat ‘n verlange het om self volgens God se wil te leef. Die Onse Vader is dus in ‘n sin ‘n reisgebed op ons pad  na God se Koninkryk!
~ Terwyl ons so oppad is het Hy ons die voorreg gegee om sekere dinge van Hom te vra.  Hoekom? Ons as kinders van God het ook  bepaalde behoeftes en nood. Ons het fisiese versorging, voortdurende vergifnis en beskerming teen die bose elke dag nodig!. Vir hierdie dinge mag ons dus met vrymoedigheid vra. Hierdie gebed leer ons dus indirek, ook om ‘n realistiese verwagting te hê oor die tyd waarin ons ons nou bevind.  Ons kan verwag dat ons hierdie dinge nodig sal hê. Dis nie vreemd dat kinders van God,  hierdie behoeftes het nie. Wat ‘n wonderlike troos! Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Sy Vader bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid, gevare waarmee ons te kampe het... “Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (8)
~ Hierdie bedes is ‘n aanduiding van die Vader se besorgdheid oor ons hele lewe. God is nie net ‘n God van die siel nie. Hy is ‘n Vader wat oor die totale welstand van sy kinders besorg is. Al sy kinders s’n. 
~ Daar is geen plek vir selfsug in hierdie gebed nie. Let op : “Ons”.  Ware gebed bring ons by ‘n dubbele bekering : van ek na U, maar ook van my  na ons!

Kom ons kyk (baie kortliks) na die drie behoeftes waarvoor ons aangemoedig word om te bid:
  • Daaglikse brood.  As mense wat kinders van die koninkryk is, het ons nog steeds liggaamlike behoeftes. God weet dit. Ons is mense van vlees en bloed en ons Vader wil nie net in ons geestelike behoeftes voorsien nie, maar ook in tydelike en liggaamlike nood!  Ook ons liggame is belangrik. Ons weet mos  ‘n gees kan nie ‘n graaf optel nie! En by wyse van spreke : dis dikwels nodig in ons beywering vir die Koninkryk om ‘n graaf op te tel en te spit. Om fisies dinge te doen, om te leef en te werk as mense.   Daarom is dit so heerlik om te hoor dat ons mag bid vir “daaglikse brood” Die presiese vertaling van die woord epiousios ("daaglikse") is onbekend. Ons moet dit  uit die konteks probeer aflei. Die konteks is die voorrang van God se naam, koninkryk en wil. Hierdie brood (behoeftes) is dus nie bedoel om van vet  en  ryk te word nie. Dis nie in diens van die eie ek en die belangrike self nie! Dit gaan oor die praktiese lewensbehoeftes wat ek (ons) as mense nodig het  in ons beywering vir God  se Naam, koninkryk, wil...  “Nodige brood”* sou ook ‘n moontlike vertaling kon wees. Soos God vir sy volk voorsien het (deur manna), wat hulle nodig gehad het vir hulle reis oppad na Kanaän, so voorsien Hy in ons behoeftes oppad na ons ewige tuiste! En so terloops, ons weet die manna was vir elke dag net genoeg! Dit het daaglikse en voortdurende afhanklikheid van God in die hand gewerk.
  • Vergifnis. As mense van die koninkryk is ons nog steeds feilbaar. Ons kan steeds sondig! Ja, ook ware gemeentes van Jesus bestaan nog steeds uit gebroke mense! Hierdie bede verseker ons weer, daar is iets soos vergifnis! (Ps 130) Ons mag daarvoor vra vir myself en ook vir ander saam met my op die pad! Dit verhinder dat ons moed verloor en tou opgooi langs die pad van die geloof. Dit gee hoop, dit laat ons volhard!
  • Bewaring van die Bose.   As mense van die koninkryk het ons te make met die aanslae en versoekings van die Satan. Dis normaal! Juis omdat ons aan die kant van God en sy koninkryk is, is die Bose ons vyand. Ons kan hom nie met eie krag oorwin nie, maar moet daarvoor bid.  Hoe wonderlik. Ons het nie iets anders as gebed nodig om die Bose te oorwin nie! Nie botteltjies olie om aan ons huise te smeer, voorgeskrewe beswerings of ander bygelowe nie. Net ware Godgesentreerde gebed!


Is jy oppad na Koninkryk! Bid met vrymoedigheid vir al die behoeftes en nood wat ons op hierdie pad ervaar! Bid vir mekaar! 

* La Sainte Bible stel dit so :  “Donne-nous aujourd’hui la nourriture nécessaire”

Dinsdag 08 Mei 2012

NIE VOETE NIE

- maar God se versorgende genade hou my op my voete.

Soos dit gaan in alle beroepe en bedrywe, het stalletjiehouers by feeste en skoue ook ‘n standaardklagte. (of dit gaan oor verskoning of dalk 'n manier van selfvertroosting is, weet ek nie) In hulle geval is dit : “Hier is nie voete nie!” Ek weet, want ek het ook (seker  genoeg)  “gefees en geskou” vanuit ‘n boekstalletjie.  Kom ek vertel.

In 2004 het ek my as werklose in die Vaaldriehoek bevind. Maar God wat getrou bly, gee altyd weer uitkoms. Ons Vader versorg ons nie net wat betref ons geestelike nood nie, maar voorsien ook in ons fisiese behoeftes.  Hiervoor gebruik Hy normaalweg mense. In hierdie geval, was dit deur my aptekersvriend, Josef Coetzee van Sonlandpark Apteek, wat ook die baas van Woordverspreiding Uitgewers is. Hy het  my genader  met ‘n voorstel om Christelike boeke by skoue en feeste te verkoop. So het dit gekom dat ek in die winter van 2004 die boonste deel van die land met boeke, tafels en plakkate deurkruis het... in my Toyota Tazz 1300 en ‘n klein waentjie.

My eerste probeerslag was in Mei by die Pogietersrus Skou en ek het afgesluit met die Vaalharts Skou op Magogong in Oktober. In die tydperk het ek kennisgemaak met ‘n wye verskeidenheid van mense, plekke en dinge. Van die Garnaalkarnaval by Komatipoort tot die Gariepfees by Kimberley. So ver noord as Louis Trichardt en so ver wes as Upington.

Nou kyk, om ‘n stalletjiehouer by ‘n fees te wees is geen maklike werk of vinnige geldmaak nie. Beslis nie as jy Christelike boeke verkoop nie. Jou normale feesganger is nie juis daar om geestelike versterking te soek nie, maar om allerhande behoeftes van ‘n meer vleeslike aard te bevredig. Dis ook nie juis die lees-tipe nie, maar eerder die eet en die jol soort  wat by ons feeste aangetref word. (laat ek onmiddellik bieg, by ‘n werklike groot skou soos  Nampo, en die groot kunstefeeste soos KKNK en Aardklop was ek nooit nie) Ek moes dus baie hard werk om ‘n Christelike boek aan die (dikwels etende) fees en skougangers verkoop te kry. So moenie dink jy sit op ‘n stoel agter ‘n tafel en wag dat belangstellendes jou gretig nader nie. Nee, jy staan op jou voete, roep nader, bied ‘n gratis traktaatjie aan, praat en verduidelik! Ai, hoeveel keer het ek die belangstelling probeer wek deur te vertel van Bunyan se karakters wat hulself in die Kasteel van Vertwyfeling bevind het en deur die Reus Wanhoop gemartel is!  En nadat jy jou saak met oortuiging en entoesiasme gestel het, hoor jy dalk die gevreesde woorde, iets in die lyn van : “Ons kom maak later weer ‘n draai.” Dis een van die model antwoorde wat gedekodeer,  min of meer beteken : “Jy het nou klaar jou asem op ons gemors. Ons sien jou gelukkig nooit weer nie.”  Nou, ja, met wie gaan ek die volgende oortuigingsgesprek aanknoop...?

Maar die boekverkopery het darem baie meer as net  teleurstellings en seer voete opgelewer.  Inderdaad het ek baie van Bunyan se “Die Christen se Reis na die Ewigheid” verkoop.  Maar daar was ook ander bonusse....die opwinding van nuwe mense leer ken, onverwagse herontmoetings en sommer  ‘n verskeidenheid van ervarings!  Verrassings! Na baie jare het ek my Matriekafskeidmeisie op Upington se Kalahari Kuierfees raakgeloop en my niggie in Kimberley.  Op Lichtenburg, ‘n toegewyde Christen  Afrikaanssprekende vrou wat aan die Russies Ortodokse kerk behoort. (Rita O’Sullivan, ek wonder wat het van jou geword?) Die groot voorreg om tydens my besoek aan die Ellisras Bosveldfees saam met André en Janet Botha van Bushveld Biltong House te kuier. (Julle groot liefdesgawe was op daardie tydstip in ons lewens besonder kosbaar) Willie Korb se aangrypende getuienis van genade wat hy op Brits met my gedeel het... Hendrik Pretorius wat my op Nelspruit kom bemoedig het. Annette Olivier op Komatipoort  wat vir my pannekoek gebring het.  Phillip Gittens se gasvryheid en ondersteuning in Kimberley. Gert Oosthuizen hulle by wie ek op Secunda kon oorbly... En, Josef, weereens dankie vir die geleentheid. Aan julle almal sommer ‘n groot dankie, en mag die Here julle ryklik seën!

Ja, uit ‘n stalletjiehouer se oogpunt, was daar nooit genoeg voete en verkope nie. Maar ook in hierdie tye het die Here vir my (en my gesin) op ons voete gehou en nooit laat val nie. Ook hierdie was ‘n tydperk van ryke genade en onverdiende guns!



Ek en my boeke op Brits 2004

Maandag 07 Mei 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (10)


- Babilon val!

Die klem in Openbaring val baie sterk op die sekerheid van oorwinning. (Onthou weer hierdie boek moes verdrukte gelowiges vertroos en aanmoedig tot volharding) Die oorwinning wat Jesus reeds deur sy kruisdood en opstanding behaal het, het heerlike gevolge. Hierdie vaste oorwinning gaan uiteindellik daartoe lei dat al die vyande van Jesus en sy kerk totaal vernietig gaan word. Dit word o.a. uitgebeeld deur die val van Babilon. (sien hoofstuk 18) Nou wie en wat is Babilon? Dis belangrik om nie hier allerhande raaiskote te waag nie, maar terug te gaan na wat die Skrif self sê.

Hier kry ons nog ’n duidelike voorbeeld van hoe Johannes ’n tema uit die Ou Testament neem en dit ’n ruimer inhoud gee, om ’n waarheid in sy geskrif oor te dra! Daar is  ’n merkwaardig opvallende ooreenkoms tussen wat Jeremia 50,51 oor Babel, Israel se groot vyand sê en dit wat Johannes  in Openbaring 18 oor Babilon sê. Kom ons kyk net na een voorbeeld. 

Vergelyk Openbaring 18:2 

“Geval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere.” (Skielike val en word ‘n puinhoop)

met Jeremia 51:8 

“Babel kom skielik tot ‘n val, hy stort ineen” (Skielike val)

en Jeremia 50:39

“Die stad sal bewoon word deur hiënas en jakkalse, daar sal volstruise bly; die stad sal nooit weer bewoon word nie, niemand sal ooit weer daar bly nie.” (Puinhoop)

Kyk gerus self ook na  Openb 18:4  en Jer 51:6 (vlug m.a.w. geen kompromie);  Openb 18:20 en  Jer 51:48 (vreugde oor haar vernietiging). So wie is Babilon? Babel was in die tyd van ou Israel die vervolger en verleier van God se volk.  In lyn met hierdie betekenis :  Babilon in Openbaring is al die vervolgers en verleiers van God se kerk. Die simbool van almal wat deur alle eeue God se volk wou skade aan doen. Ons kan dit dus nie vasmaak aan net een instansie of groep mense nie. Vir die eerste Christene sou dit duidelik gesinspeel het op die mag van die goddelose Romeinse ryk! In die tyd van die Reformasie het die ware kerk die bloeddorstige mag van die Roomse Kerk aan hulle lyf gevoel en daarom het hulle in Babilon ‘n verwysing na hierdie kerk gesien. Deur die eeue heen het die magte wat die kerk vervolg het, verskillende vorme aangeneem en verskillende name gehad. Die punt is net : Laat al God se kinders weet, Hy  sal beslis wraakneem op al die vervolgers van sy kerk, al lyk dit vir ons op hierdie oomblik dat hulle skotvry kom. God self neem wraak op sy tyd. (Vgl. Rom12:19)  Die loflied van die menigte in die hemel besing hierdie oorwinning. Openbaring 19:1-4. Hierdie finale vernietiging van die vyand sal gevolg word deur die Bruilofsfees van die Lam. (19:6-8) 

Die bruid (Jesus se kerk) word gekontrasteer met die prostituut/sedelose vrou,  Babilon! Die sterkste moontlike kontras : die rein heilige bruid van Jesus teenoor die sedelose onheilige prostituut.  Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus  en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb 18:16 met Openb 19:8. Hier in Openbaring 19 stel  Johannes  net die bruid vinnig voor en teken haar dan in detail vanaf Openb 21:9ev. (Sy word daar beskryf as die Nuwe Jerusalem).  ‘n Kontras dus  tussen tussen twee "stede", Babel en Jerusalem! Terloops, hy  gebruik dieselfde werkswyse met die prostituut, hy noem haar vinnig  in Openb 14:8 en gee volle inligting eers in Openb 17:1-6 (Lees) Dis ’n verdere bewys dat Johannes eers  temas kortliks aan die orde stel en dan later  al hoe duideliker uitbeeld - dit gaan nie oor kronologiese voorspellings nie! Dit gaan oor vaste sekerhede wat Openbaring verkondig om God se kinders te bemoedig!

Dalk 'n laaste vragie: Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die mag en wellus van die onheilige prostituut?


Vrydag 04 Mei 2012

"U"-DRAAI IN DIE BINNEKAMER

- rewolusie teen die “Eie Ek”

Die Onse Vader is oorbekend, maar ek wil jou uitdaag om weer ‘n slag eerlik hierna te kyk...en meer nog, dit opreg te bid voor die aangesig van God! Dis ‘n stuk Goddelike dinamiet wat alle mensgerigte godsdiens en selfsug aan flarde skiet! Wie dit opreg bid beleef ‘n rewolusie in sy hart, want dit onttroon die “Eie Ek” So maak ek  ‘n opregte oorgawe aan God my Verlosser. Hierdie is nie maar ‘n mooi rympie wat ons denkloos kan voortbabbel nie, dis ‘n lewensveranderde gebed. Dit trek ‘n duidelike streep tussen selfgerigte menslike godsdiens en ware Godgesentreerde aanbidding! Wie dus die Onse Vader opreg kan bid is besig met ware aanbidding. Wie wegskram van die Onse Vader se implikasies beweeg in die rigting van vals aanbidding. Ons gaan nou net stilstaan by die eerste drie bedes (Matteus 6:9,10) en spesifiek by die betekenis en die implikasies van die kort voornaamwoord “U”. 

Dis die fokus: Nie ek nie, maar U! 

Nie my Naam nie, maar U Naam! Nie my koninkryk nie, maar U koninkryk!  Nie meer my wil nie, maar U wil!  Dit kom neer op ‘n “U draai” - weg van mensgesentreerdheid na Godgesentreerdheid! Kom ons kyk na ‘n paar praktiese implikasies:

Die erkenning van die voorrang van Sy Naam, Sy koninkryk, Sy wil. God se Naam, koninkryk en wil kom eerste. Dis die belangrikste! Sien ons die prioritet van God se Naam, m.a.w. sy reputasie  en eer raak? Esegiël 36:20-23 wys hoe belangrik dit vir God is. (lees) Besef ons dat die koms van God se koninkryk belangriker is as enige ander saak, ambisie of projek? God se koninkryk is die wenperd!   Wie sy hoop op iets anders stel gaan verloor. Net God se koninkryk het werklike waarde, alle menslike aspirasies en prestasies gaan verkrummel. (Dink maar aan die beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het) Tel God se koninkryk vir jou meer as jou sportprestasies, rykdom en persoonlike belange? Glo ons dat God se wil die hoogste en volmaakste uitdrukking is van wat goed is?  Net God se wil is perfek. God se wil  en geen mens se opinie nie, ook nie die meerderheid se opinie nie, is die enigste norm in die heelal. Wat die res van die mensdom en sy modes sê dra geen gewig nie! Ware heiligheid word gemeet aan onderwerping aan God se wil. Hiervan is Jesus se gebed in Getsemane die uiterste voorbeeld : “...nogtans nie my wil nie, maar U wil.”

Die prysgawe en afstand doen van my naam, my koninkrykie en my sondige wil. Dit gaan in die Onse Vader oor ‘n  keuse teen myself, en vir God. Vir God se eer, vir God se koninkryk, vir God se wil. Dit sal elke ander  keuse beïnvloed wat ek maak. “Hoe raak dit hierdie ding wat ek wil doen, hierdie vriendskap, hierdie planne... ?” Wie eerlik die Onse Vader bid, ondergaan dus ‘n pynlike bekering, ‘n doodmaak van die self, maar ek beleef juis ook ‘n wonderlike bevryding - ek hoef nie meer angstig te wees oor my naam en reputasie en my eer nie, ek hoef nie meer met hand en tand te veg vir my ou klein koninkrykie (dit kan my gemeente, my plaas, my besigheid, my ego...wees) en sy belange nie, my wil hoef nie te gebeur nie, want God se wil is beter... ja, beter ook vir my, want Hy is ‘n liefdevolle Vader! ‘n Heerlike stuk gemoedsrus, ‘n vind van vrede in die volmaaktheid van God!

Die beskikbaarstelling van myself. My gebede is nie eerlik as ek dit nie self my vir die vervulling daarvan bewyer  nie. Ek moet myself beskikbaar stel vir die heiliging van God se Naam. Hoe? Deur so te leef dat almal sal sien dat God die belangrikste persoon is in my lewe. Deur so op te tree dat mense sal dink en sê : “Wat ‘n wonderlike God dien hy.” My keuses - selfs in klein sake soos kleredrag en ontspanning - moet wys dat God se waardes swaarder vir my weeg as menslike standaarde en opinies. Ek moet myself beskikbaar stel vir die koms van sy koninkryk. Ek onderwerp myself aan sy koningskap, maar moet ook prakties daarvoor werk. Deur getuienis met woorde en dade. Ek moet myself beskikbaar stel vir die bevordering van sy wil. Ek moet vra dat Hy my so deur sy Heilige Gees sal regeer dat ek dit wat God wil hê sal doen en sal liefhê. Dit beteken praktiese gehoorsaamheid aan sy Woord, al bots dit met my wil en gevoelens. “Here, ek voel nie meer lief vir hierdie vrou van my nie, maar ek sal haar liefhê, want dis U opdrag en wil! Here, ek voel nie lus om daardie ou wat my so sleg behandel het te vergewe nie, maar ek sal dit doen, want dit is wat U wil van my vra...”

Dis seker al teen hierdie tyd vir elkeen van ons duidelik. Die sondige mens kan en wil nie uit sy eie uit die Onse Vader bid nie. Ons harte is van nature net ingestel op ons eie belang, eie eer, eie gerief en op ‘n mensgemaakte plesiergerigte godsdiens. (Soos wat Israel rondom die Goue Kalf beoefen het) Hierdie gebed wys ons dus op die noodsaak van die wedergeboorte! Net as ek ‘n nuwe hart met ‘n nuwe visie ontvang het, kan ek my vereenselwig met die Onse Vader en dit opreg bid.

Hierdie eerste drie bedes het ten slotte nog die volgende praktiese nut :

‘n Toets vir die toestand van ons harte. Dis ‘n skeidsregter wat oordeel oor my diepste motiewe terwyl ek met God se dinge besig is. Dit wys uit of ek my al werklik  bekeer het van die afgode (veral die selfgod) tot die lewende God! Dit ontbloot die gruwelikste selfsug wat insluip in ons vroomste woorde en dade!

‘n Teenmiddel teen sondige hoogmoed wat hardnekkig en voortdurend in ons harte wortel skiet.. Elke keer as ek hierdie gebed opreg bid, is dit as’t ware ‘n nuwe bekering, om my opnuut in nederigheid  te onderwerp aan God en word hierdie onkruid uitgetrek.

‘n Troos dat God die dinge waarvoor Hy wil hê dat ons bid definitief sal laatgebeur op die bestemde tyd. God sal hierdie gebed nie onbeantwoord laat nie. Al lyk die wêreld nou hoe goddeloos en chaoties, ons kan rustig weet : God se Naam sal geheilig word. Ja, elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is! God se Koningsheerskappy sal finaal heerlik sigbaar word en elke vyand sal die onderspit delf  en in die poel van vuur gewerp word. God se wil sal geskied. Elkeen van God se raadsplanne sal tot in die fynste besonderhede tot op die letter toe uitgevoer word en niemand sal dit kan dwarsboom nie.

Calvyn sluit sy bespreking van die eerste drie bedes van die Onse Vader af met ‘n klomp goue waarhede, wat mens tot diep nadenke stem:

"Wanneer ons dit bid, moet ons God se heerlikheid alleen voor oë hou, onsself nie in aanmerking neem of enige voordeel vir onsself in gedagte hê nie. Hoewel daaruit groot voordeel na ons toe kom, moet ons dit nogtans nie hier vra nie. Hoewel al hierdie dinge egter nietemin op die bestemde tyd moet gebeur, ten spyte van ons gedagtes, ons wense en ons gebede, moet ons nogtans daarvoor bid en vra. En dit is vir ons ook van groot belang om so te getuig en te bely dat ons diensknegte en kinders van God is en ons sover dit in ons vermoë is, vir hierdie eer te beywer wat ons aan Hom as ons Here en Vader verskuldig is, en ons waarlik ten volle daaraan oor te gee. Mense wat derhalwe nie met so ‘n gesindheid en met so ‘n ywer ter bevordering van God se heerlikheid bid dat God se Naam geheilig mag word, dat sy koninkryk mag kom en dat sy wil mag geskied nie, moet nie as sy kinders en diensknegte beskou word nie." (Inst.3.20.43)

Kom ons bid die Onse Vader in nederige onderwerping, maar ook met ‘n helder sekerheid en blydskap!

Dinsdag 01 Mei 2012

ALLES NUUT!

- ‘n belofte aan stukkende mense in ‘n stukkende wêreld.

“Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5) In ‘n stukkende wêreld soos hierdie ondermaanse van ons,  kan daar geen heerliker belofte as juis dit wees nie! En belangrik, dis “Hy wat op die troon sit”,  God self, wat dit beloof! Daarom kan ek en jy hierdie belofte glo en daaroor bly wees!

Ons voel almal die werklikheid van ‘n stukkende bestaan op aarde aan ons eie lyf. Die daaglikse pyn van 'n morele en fisiese skrootwerf. Ja, God het alles goed geskape, maar toe die mens die duiwel se leuens geglo het in die paradys, het als stukkend geword. Ons hele lewensloop word gekenmerk deur gebrokenheid. Ons menslike bestaan gaan gebuk onder sonde, swaarkry, siekte en sterflikheid. Sonde het ons lewens kom verwoes, lelik en oud gemaak. Wrakke! Hierdie ellende wat sonde gebring het is op alle terreine van die lewe sigbaar, maar die effek word dalk die ergste gevoel op die gebied van die huwelik, seksualiteit en gesinsverhoudings! En die rede hiervoor is maar al te duidelik. Toe God die mens as Sy verteenwoordiger en beeld gemaak het, word daar pertinent gemeld dat Hy man en vrou geskape het. (Genesis 1:27) Ons geslagtelikheid, ons man- en vrouwees en spesifiek soos dit in die huwelik moet uiting vind, is bedoel as ‘n vertoonvenster van die heerlikheid van God. Dit is veronderstel om iets te demonstreer van die volmaakte harmonie en liefdesgemeenskap binne in die heilige Drie-Eenheid. Nou, verstaan jy waarom Satan hom toespits om die huwelik en als wat verband hou met die mens se geslagtelikheid, te skend en te ontsier. En hierdie skending soos ons maar al te goed weet, veroorsaak onbeskryflike smart en hartverskeurende skade. Dit hoor en sien ons elke dag!

Maar nou het ons hierdie belofte. ‘n Belofte van nuutmaking. Hoe doen God dit? Wat behels dit alles? Raak dit ons volle menswees? Ook die huwelik? 

Die antwoord kry ons in 2 Korintiërs 5:17 

“Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Jesus Christus is die sleutel tot die nuutmaking van die mens.  Trouens, dit gaan oor iets baie wyer as net die mens! In Hom maak God die ganse skepping nuut. ‘n Volledige  herskepping van die totale werklikheid  wat deur die sonde geskend is. Jesus is self die begin van hierdie herskepping en die waarborg van die suksesolle voltooiing en uiteindelike triomf daarvan. Wie aan Jesus behoort, “in Hom”  is, is reeds deel van die nuwe skepping en self ‘n nuwe skepsel.

Wat beteken hierdie nuutmaking nou prakties vir my en jou? Dit kom na vore in die drie (tyds)aspekte van ons verlossing. 

  • Dit gaan in die eerste plek oor  vryspraak.(regverdiging) Dis die volledige kwytskelding en  vergifnis wat ‘n sondaar ontvang as hy sy vertroue in Jesus stel. Die heerlike belofte van die Nuwe Verbond beskryf die heerlikheid hiervan so in Hebreërs 8:12. “Oor hulle ongeregtigheid sal ek genadig wees, en aan hulle sondes nooit meer dink nie”. Die vryspraak wat ons ontvang in Jesus beteken dat ons volkome nuut is in God se oë, bedek met Jesus se volmaakte geregtigheid!   


Glo jy dit werklik? Hoe raak dit jou siening oor jouself, oor ander Chrstene? Oor jou Christen eggenoot?

  • Maar ons word nie maar net vergewe nie. Vergifnis  lei ook tot ‘n verdere heelmaak en nuutmaakproses.  Ons moet leer leef volgens ons nuwe status as vrygespreektes. Ons noem dit heiligmaking. Dit beteken dat ons daagliks en al hoe meer  verander na die beeld van Christus. Ons begin al hoe meer optree soos Hy sou opgetree het. Natuurlik, dit vat harde werk en daaglikse gehoorsaamheid aan God se Woord. Dis ‘n voortdurende stryd wat ons met die krag van die Heilige Gees teen die ou natuur, sonde en Satan stry! Maar ons stry dit positief, wetende dat God ons reeds as sy kinders aangeneem het uit genade!
  • Maar dis nog nie al nie... daar kom ook ‘n finale nuutmaking. Dis wat hier in Openbaring beloof word. Alle sonde en alle gevolge van die sonde sal dan uitgewis word.  Al die trane van ons oë sal afgevee word. Alle gevolge en letsels wat die sonde agtergelaat het, sal vir ewig verdwyn. Ons noem dit verheerliking. As volmaak nuwe mense sal ons vir ewig in God se teenwoordigheid leef en Hom loof! Ja, God gaan by ons woon! (Openbaring 21:3)

Nuutmaking moet dus verstaan word vanuit 3 perspektiewe : Vryspraak (as reeds afgehandelde feit), Heiligmaking (as voortgaande proses), Verheerliking (dit word finaal voltooi by die wederkoms)

Hoe raak bogenoemde waarhede ons huwelik?

Vryspraak. As beide eggenote* Jesus as Verlosser aanvaar het, beteken dit dat al my en my maat se  sonde en oortredings van die verlede vergewe is. Om ou koeie uit die sloot te haal en verwyte rond te slinger pas dus nie en wys dat ek die vryspraak nie reg verstaan of waardeer nie! Ek moet weet en glo dat my maat volledig vergewe is en uit hierdie oogpunt na hom of haar kyk.

Heiligmaking. As altwee huweliksmaats Jesus ken, beteken dit  ook dat hulle die Heilige Gees ontvang het, wat hulle daagliks krag sal gee om nuut en anders in hulle huwelik te leef.  Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons krag om daagliks teen die sonde te kies (dit sluit ook dinge in soos ons selfsug, opstandigheid, selfbejammering, onvergewensgesindheid ens. wat so skadelik is vir ‘n huwelik) Die Heilige Gees maak my hart sag sodat ek my foute kan erken en die Here (en my maat) om vergifnis kan vra.

Verheerliking. Kinders van God wat ook in die huwelik stry teen sonde en versoeking en dalk moedeloos raak daaroor, kan uitsien na en versterk word deur die feit van ons finale nuutmaking by die wederkoms. Daar kom ‘n tyd wanneer ons nie meer ontsier sal word deur sonde, misverstand en onvolmaaktheid nie.

Die aardse vorm van die huwelik gaan nie bly voortbestaan nie  (Matteus 22:30), maar ons gaan volle vervulling en harmonie beleef as ewige bruid, ja, vrou van die Lam! (Openbaring 21:9ev) Dit gaan ‘n voortgaande Fees van volmaakte vreugde wees!

Hierdie Bybelse feite oor die nuutmaking  spoor ons aan om ons huwelike volgens God se Woord tot sy eer in te rig, al beleef ons moeilike tye, teleurstellings en versoekings!


Bogenoemde is 'n basiese samevatting van die boodskap by Sakkie en Erna  Schreuder se seëningsgeleentheid oor hulle huwelik. Sakkie en Erna, ons is saam met julle bly en wens julle die oorvloedige belewenis van God se genade toe, as deel van ons gemeente. Ons is regtig lief vir julle!

*As jy in ‘n huwelik is met ‘n ongelowige is dinge natuurlik baie ingewikkelder en, helaas soms skrikwekkend moeilik! Dis waarom ons nie met ‘n ongelowige mag trou nie. As jy reeds in so ‘n huwelik is, is als egter nie verlore nie! Dis moontlik dat God deur jou getuienis en veral jou leefstyl, jou maat ook kan red. Maar weet, dis gewoonlik nie ‘n maklike pad nie. As die vrou die gelowige is, moet sy veral weet dat haar man nie deur woorde gewen sal word nie, maar deur ‘n heilige onderdanige lewenswandel. (1 Petrus 3:1)  Sterkte!