BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 26 Maart 2013

LIG UIT LEVITIKUS

- offers wat “verveel” en vermoei, verduidelik ons die OFFER wat versoen en verkwik! 


As ons “Levitikus” hoor dink ons : Offers, offers, offers...Kom ons blaai bietjie vinnig saam deur Levitikus. Ons kyk net so rakelings na die soorte offers : Brandoffer (hoofstuk 1), Graanoffer (hoofstuk 2), Maaltydoffer (hoofstuk 3), Sondeoffer (hoofstuk 4), Skuldoffer (hoofstuk 5). Sjoe, dis ‘n hele mondvol! Jy proe amper al die bloed...

Wat is die betekenis van hierdie onderskeie offers? Net baie kortliks. Die brandoffer gaan oor versoening. (1:4) Van al die offers is hierdie die enigste waar die dier totaal verbrand moes word. Die dier verteenwwordig die sondaar, en word dus plaasvervangend in die plek van die sondaar totaal vernietig. Die een wat offer bly leef, omdat die dier in sy plek gesterf het. Die graanoffer het geen bloed behels nie, maar gaan net daaroor dat ek iets teruggee aan God waartoe Hy my instaat gestel het. Met die maaltydoffer word die aanbidder toegelaat om die meeste van die offerdier self te eet. Dit gaan oor ‘n ete in die teenwoordigheid van God. Dit dui op gemeenskap (fellowship) met God en die genieting van sy seëninge. In die sondeoffer gaan dit oor versoening (4:35). Dit dui hier op die noodsaaklikheid van straf vir sonde. Die dier dra die straf in plaas van die een wat offer. (moontlik was die fokus van die sondeoffer, versoening vir spesifieke sondes , terwyl dit by die brandoffer gaan oor sondigheid in die algemeen)* Die skuldoffer lyk of dit ‘n variasie van die sondeoffer was en het dus ‘n soortgelyke betekenis. (pasop net om te sterk onderskeid te maak tussen die verskillende offers) 

Hierdie offers is deurlopend gebring. Maar, die verstommende feit, dit was nog nie genoeg nie! (Ja, jy het reg gelees!) 

Een maal ‘n jaar het die Groot Versoendag plaasgevind. 

Dit word breedvoerig beskryf in Levitikus 16. Die agtergrond vir hierdie instelling, was die grusame dood van Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu. (16:1) Ons lees van hierdie skrikwekkende gebeure in Levitikus 10:1-3 as volg: “Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was. 
‘n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here. 
Toe sê Moses vir Aäron: "Die Here het gesê: Wie ‘n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees." Aäron was sprakeloos.” 

Tydens die Groot Versoendag moes die hoëpriester dan ‘n offer bring, eers vir homself en al die priesters. (16:6) Onthou hulle was ook mense en dus ook sondaars! Dit was dus vir hulle lewensgevaarlik om in die teenwoordigheid van die heilige God te kom! Daarna word versoening gedoen vir die sondes van die volk. Onder andere was daar twee bokke betrokke. Die een is geoffer. Die ander een is die woestyn ingejaag, nadat die volk se sonde op hom oorgedra is. Levitikus 16:20-22 vertel hiervan : "Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring.
Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. 
So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na ‘n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word." 

VERVEEL DIE OFFERS JOU DALK?

Offers, offers en nogmaals offers... nimmereindige detail, eindelose herhaling. Dis net nooit genoeg nie, dit kry nooit einde nie. Waarom al die offers, hoekom al hierdie bloed? Dit gaan oor die probleem wat ontstaan wanneer ‘n heilige God in verhouding staan met onheilige mense. Hoe kan sondige mense in die teenwoordigheid leef van ‘n sondelose God, sonder dat Hy hulle vernietig? Die antwoord was : offers en allerhande voorskrifte en wette! As mens lees van al hierdie offers is dit byna asof mens vermoeid en selfs verveeld raak. In ‘n sekere sin is dit reg as jy so voel. Hierdie eindelose offers laat mens verlang na ‘n OPLOSSING. 

Die OPLOSSING het gekom – die volmaakte en genoegsaame offer van Jesus aan die kruis! 

Al die aspekte van die verskillende offers vind ons in die kruisoffer van Jesus. Jesus is die finale sondeoffer en skuldoffer. Hy het ons straf gedra. (1 Petr 2:24, Jesaja 53:5,6) Hy is die brandoffer, wat totale dood in ons plek verduur het. Hy is die genoegsame graanoffer wat deur sy gehoorsaamheid dank en eer aan God gebring het. Hy is die maaltydoffer deur wie ons gemeenskap met God beleef – spesiaal ook in die Nagmaal word ons uitgenooi om hierin te deel.  Jesus vervul ook die betekenis van die Hoëpriester en die groot Versoendag. Hebreërs 9:11-15 maak dit so duidelik. 
"Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 
Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring. 
Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 
Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang." 

Hoe heerlik! Die Ou Verbond met sy vereistes en offers is vervang deur ‘n Nuwe Verbond met ‘n Verlosser! 

Praktiese Opmerkings 

1. Ons het te doen met ‘n heilige God. Hy is nie ons speelmaatjie nie. Ons kan nie sommer net in sy teenwoordigheid instorm nie. Selfs die hoëpriester het eers ‘n offer nodig gehad om in sy teenwoordigheid te kom. 

2. Jesus se kruisdood is die eenmalige genoegsame offer (boetedoening) vir al ons sondes. Nie ons trane, gebede, beloftes, mooi praatjies en godsdienstigheid kan ons skuld wegvat nie, sy kruisdood alleen doen dit. Hier is die geheim van 'n bevryde gewete!

3. Het jy al sy offer aanvaar? Het dit persoonlik vir jou betekenis? Dink aan die bok wat die woestyn ingejaag is. Kom lê jou sondes op Jesus, of liewer aanvaar dat God dit gedoen het – aanvaar in die geloof dat Hy jou sondes weggeneem het en dank Hom! 

4. Die boodskap van offers en bloed, die boodskap van die Gekruisigde Christus is ‘n gruwel vir baie postmoderne mense, maar elke kind van God weet, hier het ons te maak met die krag van God en ons enigste fondasie van hoop. Dr. Flip Schutte (een van Abel Pienaar se meelopers) en voormalige Hervormde predikant skryf oor sonde en sê dan : “Ek het nie bloed, of die dood van 'n verlosser nodig om daarvan ontslae te raak nie.” Dis natuurlik glad nie so ‘n nuwerwetse tipe van denke as wat hy dit wil laat klink nie. Reeds in Paulus se tyd, was die kruisboodskap vir die Jode ‘n aanstoot en vir die ander onsin, maar vir elkeen wat deur God geroep is, is die Gekruisigde Christus die krag van God! Wat sê die Woord? “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 
...Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. (1 Korintiërs 1:18,23) 

Mag ons oë geopen word vir twee waarhede

  • Die erns van sonde in die aangesig van die heiligheid van God! 
  • Die genoegsaamheid en finaliteit van die offer wat Jesus aan die kruis gebring het! Ons vrede, ons sekerheid lê nie in die krag van ons geloof of in die kwaliteit van ons toewyding nie, maar in die onoortreflike volkomenheid van Jesus se eenmalige offer! Dis nou genoeg  rede om Paasfees met blydskap te vier!
*Sien Vern Poythress vir inligting oor die offers.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.