BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 04 Januarie 2012

FONDASIE VAN ONS SEKERHEID

Iemand het gesê dat ‘n skip nie vastigheid kry deur die anker in sy eie ruim te gooi nie, maar die anker juis na buite te werp om tot rus te kom op die vastigheid van die seebodem. Hierin is ‘n kosbare geestelike waarheid opgesluit. Ons kry nie vaste sekerheid deur ons binneste gevoelens of die kwaliteit van ons geloof te analiseer nie. (Buitendien, wie kan tevrede voel met sy eie geloof?) Nee, ons kry sekerheid, deur die genoegsaamheid en volkomenheid van ons Verlosser Jesus te bedink en te bewonder! Ons geloofsoog moet op Jesus en sy afgehandelde versoeningsoffer aan die kruis gevestig wees! Sy volmaaktheid (nie my geloofspogings nie) bring rus in my gemoed.

Charles Haddon Spurgeon, ook bekend as die prins van predikers kon die waarheid oor Christus se genoegsaamheid op besondere wyse oordra. Die sondaar se sekerheid lê nie in sy eie pogings, strewes of gevoelens nie, maar in Jesus Christus se genoegsame verdienste aan die kruis! Hoor bietjie hoe treffend stel hy dit:


Onthou sondaar, dis nie jou vashou aan Christus wat jou red nie - dit is Christus; dit is nie jou blydskap in Christus wat jou red nie - dis Christus; dit is selfs nie eens geloof in Christus nie - alhoewel dit die instrument is - dit is Christus se bloed en verdienste. Daarom moet nie na jou hoop kyk nie, maar na Christus, die bron van jou hoop, moenie na jou geloof kyk nie, maar na Christus die outeur en voleinder van jou geloof; en as jy dit doen kan tien duisend duiwels jou nie onderkry nie...! Daar is een ding wat ons almal verduister in ons prediking, alhoewel ek glo ons doen dit nie opsetlik nie - naamlik die groot waarheid dat dit nie ons gebede, ons geloof, ons dade, ons gevoelens is waarop ons moet rus nie, maar op Christus en op Christus alleen. Ons is geneig om te dink dat ons nie in die regte toestand is nie, dat ons nie genoeg voel nie, in plaas daarvan om te onthou dat ons besigheid nie met onsself is nie, maar met Christus. Laat ek u smeek : Kyk net na Christus, moet nooit verlossing verwag van jouself, van predikante of van enigiets behalwe Christus nie; hou jou oog eenvoudig op Hom; laat sy dood, sy angste, sy sugtinge, sy lyding, sy verdienste, sy heerlikheid, sy voorbidding, vars in jou gedagtes wees. As jy in die oggend opstaan, kyk na Hom; as jy in die aand gaan lê, kyk na Hom.


Mag jou hart en gedagtes in 2012 gefokus wees op die heerlike genoegsaamheid van ons Here Jesus Christus!

(Bron : Iain Murray, THE FORGOTTEN SPURGEON)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.