BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 21 November 2014

UITGEWIS!

- Dis die beste nuus wat jy nog ooit gehoor het. 


“Uitgewis!” Dis ‘n baie sterk woord. As ’n mens iets of iemand uitgewis het, bly daar niks van oor nie! ‘n Vyand wat uitgewis is, is totaal vernietig en verdelg! Dink nou net bietjie as God iets uitgewis het.... wat word daarvan? Wat bly oor? God se daad van uitwissing is finaal, volkome, volledig. Nou hoor ons dat God ons sondes uitgewis het... 

“Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) 

Drie sake vra ons aandag: 

1) Die werklikheid van ons sonde. Die aaklige realiteit van sonde is ‘n onontkombare feit. Dis groot, dis baie, dit het tragiese gevolge. In jou eie lewe en in ander mense se lewe. Ons kan nie ons sonde wegredeneer nie, dis daar. Dis erg, dis baie - ’n skrikwekkende lang lys vol bedrog, valsheid, dade teen medemense (selfs ons eie geliefdes)... en dan praat ons nie eers van verkeerde gedagtes, motiewe, gesindhede... Ja, wat dit veral erg maak is dat alle sonde, sonde teen God is*. Die gevolge is afgryslik. Dis inderdaad ’n donker dik wolk wat oor ons hang en ons hele lewe negatief beïnvloed en tot in die ewigheid strek. Dit belemmer en befoeter ons verhouding met God en naaste en selfs ons omgewing op alle vlakke. ’n Donker wolk wat keer dat ons nie die strale van God se heerlikheid kan raaksien en waardeer nie - vat ons blydskap weg, ’n donker wolk wat verhoed dat ons die warmte van God se liefde kan voel skyn dit laat ons vrees, donker wolk. Hierdie donker wolk voorspel vir ons dat daar enige oomblik ’n storm gaan losbars, die toornige storm van God se ewige oordeel... Daar is geen menslike oplossing vir die donker wolk van sonde nie. Tog probeer die mens in sy dwaasheid juis dit doen met allerhande saamgeflanste beteuterde poginkies. Kom ons kyk na ‘n paar. Ons probeer dit : 

Vergeet : Ek probeer my sondebewustheid afskud en nie daaraan dink nie. Sommige dink dalk dat hulle dit goed regkry, maar God vergeet nie onvergeefde sonde nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van afrekening wees waartydens alle sonde, ook die diep verborge sonde, aan die lig sal kom. 

Versag : Ek probeer my sondes met allerhande eufemismes en trooswoordjies “kleiner en sagter” maak. Ek het nie die sinkplate by die myn gesteel nie, ek het dit net gescore; Ek was nie dronk nie, ek het net bietjie te veel gekuier, Ek hoereer nie,( dit klink darem te erg), ek knyp net die kat in die donker! 

Verskuif : Ek blameer my moeilike ouers, ongenaakbare eggenoot, onregverdige baas, opstandige werkers “wat my siel hel toe sleep...” 

Vergoed : Ek probeer vergoed vir my slegte dade deur dit met goeies uit te kanselleer. deur godsdiens en goeie dade. (As ek ‘n slag in kerk was, voel ek bietjie beter al het ek aan Saterdag se rugbywedstryd gedink tydens die preek...) Ek probeer beter voel deur meer te bid, meer Bybel te lees...Maar helaas, my sondeskuld agtervolg my soos ’n skaduwee. 

Verminder : ek werk daaraan om my sonde bietjie te beskaaf en te beteuel. Ek probeer darem om ’n Christen te wees, ek het miskien al met ’n paar lelike dinge opgehou. Dis ‘n futiele oefening! 

Kan jy iets aan ’n dreigende onweerswolk doen, kan jy met jou kaal hande ’n haelstorm keer? 

Nee, ons is magteloos. Ons is magteloos ten opsigte van ons sondeskuld en die oordele van God wat dit op ons gaan afbring! 

God is egter nie magteloos nie. Dit bring ons by die tweede punt: 

2) God se hantering van ons sonde. Ons kan niks effektief omtrent hierdie donker dreigende sondewolk doen nie, MAAR GOD KAN. God het. Hy het dit uitgedelg. God sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis...” Hoor ons dit, God verlustig Homself in hierdie kragtige uitspraak. Ek het dit gedoen in genade, ek het dit gedoen in medelye, ek het dit gedoen in regverdigheid, ek het dit gedoen in liefde, ek het dit gedoen net omdat ek wou , omdat ek God is, terwille van my eer. God doen dit want Hy is getrou aan Homself en sy beloftes. God is die een wat genade bewys en verlossing bewerk - vanaf Genesis toe Hy in sy goedheid vir Adam en Eva klere van vel gemaak en die moederbelofte gee het...Dwarsdeur die geskiedenis sien ons God se genade, maar een toneel staan bo alles uit. Golgota. Die kruis. Jesaja 53 verduidelik so goed wat daar gebeur het...**

God se uitwissing van ons sonde is totaal en volkome –“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jesaja 43:25) Vergelyk ook Jeremia 31:33,34. Hoeveel sonde en simptome van sonde is daar nie by ons aanwesig nie - sondes van die liggaam, die oog , die oor, growwe openbare sondes, geheime weggesteekte sondes (maar net so aaklig), sondes van die gedagtes, en verbeelding, sondes by die huis, die skool , die werk , hier by die kerk... Herhaalde sondes, opsetlike sondes, twyfel, laster, direkte sondes teen God, sondes teen jou medemens, teen jouself, noem maar op ... God laat geen kategorie uit nie – Hy het alles uitgedelg. Weereens, waar en wanneer het God ons sondes uitgewis, uitgedelg? Dit het by die kruis gebeur. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” ( Kol 2:13,14) Op Golgota is ons sondeskuld, hierdie sondeskuld wat verdoemend teen ons getuig, finaal en volledig uitgewis! Ja, jy onthou dit nog miskien, ander mense onthou dit, sommige sondes laat lewenslange letsels na - maar daar waar dit saakmaak - in die gedagtes van God - is dit uitgewis. God se uitwissing van sonde, God se vergifnis van sonde is iets buitengewoon wonderbaar en finaal! “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. “ (Miga 7:18,19) Ja, Hy het ons sondes in die diepte van die see gewerp! (en onthou : visvang is verbode)

3) Ons gepaste reaksie op God se genadedaad. God verwag geen teenprestasie nie. Genade is genade. Dit word nie verdien nie, dit kan nie verdien word nie, dit benodig geen aanvulling nie. Dis ’n geskenk. ’n Mens betaal of werk nie vir ’n geskenk nie, maar ’n geskenk lok wel reaksie uit. Dis mos so....Watse reaksie is hier gepas? Watse reaksie verwag God van ons noudat ons gehoor het, dat Hy ons sondeskuld uitgewis het? God sê vir sy volk : “Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos...” Wie die Goeie Nuus van die verlossingsdaad op Golgota werklik glo draai om van die ou pad en aanvaar dit met dankbaarheid... Die Goeie Nuus van die uitwissing van ons sondes laat elkeen wat dit glo in sy spore omdraai. Mense wat ongesteurd voortgaan, wys dat hulle God se genade verwerp het, dat hulle die boodskap van die kruis minag. Hulle sal die gevolge moet dra.

Soos jy hier lees val jy in een van twee groepe en in elke geval is hier vir jou ‘n kragtige boodskap:

~ Jy het nog nooit die Goeie Nuus (evangelie) werklik geglo nie. Miskien is jy baie godsdienstig, maar jy het nog nooit in dankbaarheid die evangelie aanvaar nie. By jou wil ek spesiaal pleit : Sien raak die werklikheid en feit van jou sonde, maar hoor dan die Goeie Nuus! “Ek het dit uitgewis...” Kom vandag, NOU na Jesus toe. Aanvaar in die geloof wat Hy reeds lankal gedoen het. As jy Hom aanvaar het, kan jy verseker weet ook jou sondes persoonlik is vir eens en altyd uitgewis.

~ Jy het hierdie boodskap lank reeds aanvaar en geglo. Tog kom daar twyfel by jou op as jou gedagtes begin rondhardloop : “Wat van hierdie vreeslike ding, wat van daardie sonde waarin ek herhaaldelik geval het, wat van my daaglikse mislukkings...?” Geliefde kind van God, hoor gelowig wat sê God. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” Vat God op sy Woord, want Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. As Hy sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” dan bedoel Hy dit. Laat sy Woord vir jou genoeg wees en los al die “maars”. Sy Woord tel meer as ons gewete, ons mislukkings of ander se opinie.  Mag hierdie kragtige uitspraak van God rus, vrede, sekerheid en blydskap in jou hart bring. Bedink dit en Bêre dit in jou hart! Vier dit in die Nagmaal. Dis 'n feit so seker as die brood en wyn wat jy voor jou oë sien en met jou mond proe!



*In Psalm 51:6 bely Dawid : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.”

**"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."

[Met erkenning aan Donald MacDonald, CHRISTIAN EXPERIENCE, hoofstuk 5]


In die diepte van die see...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.