BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 01 Oktober 2017

VASTE SEKERHEID

- te midde van baie onsekerhede op ons geloofspad. 


Alle mense het ‘n behoefte aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal hê. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal hê... Ons sou graag sekerheid wou hê oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van nature bang en onseker (en moet mens seker byvoeg, nuuskierig!). Dit kom vanaf die sondeval en ons verjaging uit die sekuriteit van die paradys, weg van God se nabye teenwoordigheid... Ons soek gedurig na waarborge, insigte en antwoorde rakende die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak! (waarsêers en waterwysers, toordokters en slamse, kaart- en palmlesers, spiritiste ens.) Hulle soek antwoorde op hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge maar al te graag om so ‘n houvas op mense te kry. 

Moet ons en kan ons, spesifiek as kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel gee en spesifiek die 1 Johannes brief is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van sekerheid en “onsekerheid” is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd onseker sal wees in die sin dat ons nie weet hoe dit gaan wees of presies wanneer wat gaan gebeur nie. 

SEKERHEID 

Waaroor kan en moet ons seker wees? 

Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in 1 Johannes eksplisiet genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie. (God glo nie in ateïste nie!) Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel veronderstel dit maar net! God is daar en dis net die dwaas wat in sy hart sê dat daar geen God is nie. Kyk na die sterre en seisoene, die woestyne en die woude...wie anders kan die oorsprong daarvan wees as God? “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:1) 

[God se skildery by Swakopmund]

Ons kan (en moet) seker wees dat ons kinders van God is. Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik die groot doel waarom hy dit skryf. “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:12,13) 

Ons kan seker wees van God se liefde. “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” (1 Johannes 3:1) Dit gaan saam met die vorige saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike bewys van die Vader se liefde. (Dink net, gewone mense in ‘n direkte verwantskap, ‘n Vader-kind verhouding met die Almagtige God!) Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van God se liefde staan vas. Hierdie Vaderliefde is konkreet eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis! Al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (1Johannes 4:10) 

Ons kan seker wees van God se einddoel met ons. “Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.” (1 Johannes 3:2) Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy sal wees. Ons sal in sy heerlikheid deel. Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21) Hierdie doelwitte van God kan deur geen teenstand van die wêreld en die Bose gekeer word nie! Ja, en terloops van hierdie teenstand kan elke kind van God ook seker wees! “...En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.” (1 Johannes 3:1) 

ONSEKERHEID 

Die kind van God kan bly wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” (1 Johannes 3:2) God het nog nie als vir ons gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n belangrike onderskeid. "Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet" (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming uitbring. 

Ons sien dit baie treffend in die lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring. Dis vaste sekere doelwitte en onveranderlike beloftes. Abram glo, maar Abram het nie vooraf geweet wat alles oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie, oor die toets wat sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol verrassings. Ons weet nie wat môre, volgende week en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God die goeie werk wat Hy in ons begin het sal klaarmaak en voltooi. (Filippense 1:6) 

EERSTE PRIORITEIT

En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie waar ons nie als weet nie? “Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.” (1 Johannes 3:3) ‘n Belangrike ideaal en fokuspunt vir elke kind van God. Hou jouself rein! Die wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekings en probleme môre sal bring nie. Maar vandag, nou moet ons heilig lewe. Los die vrese en bekommernisse oor môre en leef volgens God se geopenbaarde wil in sy Woord. Raak ontslae van als wat verkeerd, vuil en veragtelik is! Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse gehoorsaamheid ! Dit moet ons fokus wees te midde van baie dinge wat ons nie weet of nou reeds verstaan nie. 

Om dit op te som: Ons is seker van God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid, ‘n onwrikbare vastigheid te midde van ons onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindelik by ons bestemming aan.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.