BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 09 Junie 2012

BOU OP GOD SE BELOFTES


- die fondasie van 'n huis van sekerheid! (Maak oop by Romeine 4)

Dis so oneindig belangrik om seker te wees van vrede met God en jou ewigheidsbestemming...

Daar is net een fondasie vir sekerheid - nie ons eie godsdienstigheid nie, nie ons eie goedheid nie, nie ons omstandighede nie, nie ons gevoelens nie, maar net GOD SE BELOFTES! Uiteraard  moet ons eers oortuig wees van die betroubaarheid van God se beloftes, voordat dit vir ons van enige praktiese nut kan wees. Ons moet weet : God kan nie lieg nie!  Dis gelukkig  ’n duidelike Bybelse waarheid : Numeri 23:19

“God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?"

  (Lees ook Titus 1:2;   Hebreërs 10:23)

Omdat God nie kan lieg nie, is sy beloftes waar!

Die praktiese implikasie is : God se beloftes tel oneindig  meer as die beskuldigings van Satan of my eie gewete, verwarrende en wisselende gevoelens en al die mislukkings van die verlede en hede!  Ja, dit tel ook meer as die sigbare werklikheid van my eie sonde en my onvolmaaktheid!

Wat bedoel ek daarmee? Kom ons kyk saam na Romeine 4:18-25 

In die begin van Romeine 4 het Paulus dit reeds duidelik gemaak, dat Abram nie vrygespreek is weens goeie dade nie, maar slegs op grond van sy geloof!  (hierdie feit is opgeteken ook  juis ter wille van ons, want ons word ook vrygespreek deur geloof - vers 23,24) In die gelese gedeelte word nou verder ingegaan op die aard van sy geloof.

Geloof is ‘n praktiese saak. Abram se geloof het beteken dat hy  ’n keuse moes maak : Kyk hy na die sigbare feite of glo hy God se belofte? Die sigbare feite was :  Hy en Sara was reeds oor die muur. Hoogs bejaard. Te oud vir kinders hê!  Ouerskap was biologies vir hulle onmoontlik!  Dis die ware nugtere feite. 

Maar God se belofte was : Ek sal jou die vader van baie nasies maak! So, Abram moes besluit, wat weeg die swaarste, wat tel die meeste, die feite, wat waar was of God se beloftes? Abram het God se belofte geglo en so eer aan God gegee! (20) LW - as ons kinderlik God se beloftes glo bring dit eer aan Hom! As ons twyfel, dan maak ons God tot leuenaar en bring oneer aan Hom. Hoekom glo Abram  vir God en steur hy hom nie aan die feite nie? Hy glo dat God die mag het om te doen wat Hy beloof het! (Vers 21) 
God se beloftes weeg swaarder as die mees sekerste feite, want Hy kan nie lieg nie en Hy het inderdaad die mag om te doen wat Hy beloof. Ons kom op ons pad telkens voor dieselfde keuse te staan : die sigbare feite of God se beloftes.

Kom ons maak nou hierdie situasie op onsself in ons toestand as sondaars van toepassing : Die sigbare ware feite oor myself is : ek is ’n sondaar, ek is skuldig! Maar...God se belofte is : Vertrou op my Seun Jesus wat die sondestraf in jou plek gedra het. Wie in Hom glo word nie meer veroordeel nie en staan nie meer skuldig nie!  ’n Christen is dus iemand wat God se beloftes glo ten spyte van  wat hy weet, waar is van homself. God se kind sê : In Jesus staan ek regverdig voor God ten spyte van  die sondes van my verlede, ten spyte van  my huidige sondigheid waarvan ek diep bewus is, (en natuurlik oor hartseer is) ten spyte van  die feit dat ek nog steeds ’n stryd teen my sondige natuur het. 
Ware geloof, ware sekerheid kyk die duiwel vas in die oë as hy jou teister en sê : “Kan jy jouself ’n Christen noem, kyk net wat het jy weer gedoen!”  Dan sê ware geloof : “Ja, dis waar ek is ’n sondaar, maar Jesus Christus het juis vir sondaars gesterf!” Dan sê ware geloof, “ja, ek is vrygespreek want ek glo in God wat Jesus oorgegee het vir my sonde en opgewek het vir my vryspraak.”  ( D.Martyn Lloyd-Jones  : “Faith is this confident protest against every voice that assails us from within and from hell” 

Sekerheid baklei terug op grond van God se beloftes.

Sekerheid beteken nie afwesigheid van stryd nie, maar sekerheid beteken dat ek die aanvalle van die Satan op grond van God se beloftes beveg!

Ons dink in hierdie Pinkstertyd spesifiek aan die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees bewerk sekerheid in ons harte. Hoe? Deur ekstra gesigte, drome of tekens? Nee, Hy  werk deur die Woord. Hy vestig ons aandag op God se beloftes. Hy skep vertroue in die beloftes van God. Hy oortuig my, hierdie beloftes is ook vir my. Hy maak die Woord lewend vir ons.  ’n Ander instrument wat Hy gebruik is die Nagmaal. Dis eintlik ‘n sigbare onderstreping en bevesiging van die beloftes in die Woord. Ek sien en proe as't ware die beloftes. In die Nagmaal kom sê Jesus (deur die Heilige Gees) baie direk: “Dis vir JOU persoonlik, my liggaam is gebreek en my bloed is vergiet vir JOU sondes, so seker as wat jy die brood eet en die wyn drink! Hier, vat dit! Glo en leef! Vertrou en juig!”

Die werk van die  Heilige Gees is deurslaggewend vir ons sekerheid. En dis hier waar maklik  fout kom  - ons bedroef Hom (Ef 4:30) Ons bedroef Hom deur kwaaivriendskappe, deur onvergewensgesindheid, deur die Woord en Woordverkondiging af te skeep, deur ongeërg te wees oor “sondetjies” Dit kom alles daarop neer : ons maak die Stem stil en hartseer wat ons moet vertroos en sekerheid gee! As jy die versekering en vertroosting van die Heilige Gees wil beleef, maak erns met die Woord en die sakramente, maar doen ook afstand van dinge wat Hom bedroef! 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.