BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 07 Januarie 2016

‘N DOKSOLOGIE VIR DIE NUWE JAAR

- Sien God raak en begin Hom bewonder en prys!

Hoe moet ons ‘n nuwe jaar begin? Hoe moet ons na die toekoms kyk en waarop moet ons fokus?



Ons grootste probleem (nie net nou nie, maar oor die algemeen) is dat ons by onsself begin. Ons is so subjektief, so egosentries, so opgetrek met onsself. Selfs ook as ons hier in die kerk is, ja juis ook wanneer ons die Woord oopmaak of as ons bid is ons so dikwels gepreokkupeer met onsself. Hoe gaan my probleme opgelos word, hoe gaan my planne in werking gestel word, hoe gaan ek my hoogste ideale bereik? Hoe raak die droogte, Zuma en die swak Rand my sak? Weet jy, dis ‘n groot dwaasheid om op hierdie dinge te sit en broei! 

Hoe meer ek op my probleme fokus hoe groter word hulle. Jy sal weet, daar is probleme waarmee jy al jare worstel en jy kom niks verder nie. Jy bid miskien baie oor die probleme en dit help nie, al wat gebeur is jy herinner jouself net daaraan en dit maak jou dalk net meer depressief*. Of ons is geneig om altyd net planne te maak en uit te dink wat om onsself draai. Ook wat ons geestelike lewe betref, draai ons denke maar om onsself, my geloof, my getuienis, my rol in die kerk...Dit is natuurlik nie opsigself verkeerd nie, maar dis nie waar ons moet begin nie...

BEGIN BY GOD. WIE HY IS EN WAT HY DOEN!

Ons moet altyd by God begin. Dis waar die Bybel begin. "In die begin het God die hemel en aarde geskape." Dis waar Paulus ook sy brief aan die Romeine (en al sy ander briewe begin) By God... In sy aanhef tot die brief is hierdie klem al duidelik... “afgesonder vir die evangelie van God” (1:1) Moenie begin by jouself en jou behoeftes nie. Begin by God. Wie is Hy en wat het Hy gedoen en wat doen Hy nog steeds! Wees verwonderd oor God en jy sal uiteindelik ook verbaas wees oor die verskil wat Hy in jou lewe maak en hoe jou eie probleme al kleiner en minder belangrik raak!

HOE MEER EK GOD SE GROOTHEID EN GOEDHEID BESEF, HOE KLEINER KRIMP MY EIE PROBLEME!

Kom ons lees saam deur die Romeine brief en staan saam met Paulus verwonderd oor wat God doen... Sommer net so ‘n paar voorbeelde:

Dis God wat die evangelie geïnisieer en lankal deur die profete aangekondig het. “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig," (1:2)

God het julle lief en Hy skenk genade en vrede! “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1:7)

In 1:16,17 raak Paulus lieries oor die evangelie , want dis die KRAG VAN GOD... Daarna egin hy met sy uiteensetting van die evangelie boodskap...

God stort sy heilige toorn (wraak) en regverdige oordeel uit oor die goddelose mensdom. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (1:18)

Maar dis juis ook God wat ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (2:4)

En dan nadat Paulus die sondigheid van beide heiden en Jood onderstreep het, kom hy by die groot tema van die brief, God wat vryspraak gee deur die geloof in sy Seun. Vryspraak beteken dat God ons as skuldige sondaars onskuldig verklaar! “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (3:21,22) 

So bewerk God self vrede tussen ons en Hom. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (5:1)

SIEN JY, GOD SPEEL DIE HOOFROL? DIT GAAN OOR SY MAGTIGE DADE EN GROOT LIEFDE!

Ook as Paulus die probleem van ons swaarkry en verdrukking aanspreek dan fokus hy op God wat met alles ‘n doel en plan het. (vrygespreekte kinders van Good is immers soos ons al almal agtergekom het nie, gevrywaar van verdrukking en ellende nie) En dit bring ons by die verbysterende heerlike uitspraak van 8:28-30! “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Ons hele verlossing word van voor tot agter beplan en suksesvol voltooi deur God! En God gebruik alles, ja ook droogte, Zuma, siekte of ongelukke... om ons by sy heerlike doel met ons uit te bring!

Dan kan Paulus nie anders nie as om die heerlike gevolgtrekking in vers 8:31-39 te maak nie! (lees dit in jou eie Bybel weer ‘n slag aandagtig)

GEHEIMENIS

Maar Paulus is nog nie klaar gepraat oor God nie. Die volgende saak wat hy aanspreek is die hele kwessie van Israel. Mense sou kon wonder of God se plan met Israel misluk het, want hulle het Jesus dan verwerp. Paulus gebruik hierdie saak om die onbeskryflike wysheid van God en sy soewereiniteit en sy weergalose genade te onderstreep. God gee sy genade soewerein aan wie Hy wil! (9:15-16) Dan verduidelik Paulus dat alles deel van God se plan was. Deurdat Israel die evangelie verwerp het, het die heidennasies nou ook ‘n kans gekry om deel van God se volk te word. So sal al God se uitverkorenes uiteindelik gered word! Dis ‘n groot geheimenis! “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het;” (11:25) Terloops, God se werkinge is ‘n geheimenis, en as jy ooit voel om God se planne en werkinge met jou te kritiseer, sit liewer jou vinger voor jou mond soos Job en swyg. Want wie kan God verstaan?

DOKSOLOGIE

En as Paulus so oor die grote God gepraat het, oor sy liefde en sy genade, oor sy heiligheid en sy oordele, oor sy ewige uitverkiesing en soewereiniteit, dan kan hy nie anders as om uit te bars in ‘n lofprysing (doksologie) nie!

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (11:33-36)

Dit gaan oor een heerlike saak – GOD IS REGTIG GOD, ver verhewe bo ons begrip en verstand. Ons kan Hom nie analiseer,ontleed of "uit figure" nie! Ons kan Hom nie verstaan nie, maar kan maar net sy grootheid, wysheid, almag, genade... bewonder en Hom aanbid! Hy is God, Hy het ons nie nodig nie, ons het Hom nodig! Hy skuld ons niks nie, en tog is sy genade onbeskryflik groot!

O, vriende, so dikwels verval ons in die vermetele dwaasheid om vir God te wil reghelp en raadgee... is dit nie totaal simpel nie? Ons nietige mense wil vir die Skepper van die oneindige heelal, vertel wat Hy moet doen... Ons sondige wesens wil kritiek lewer op die regverdigheid van die liefdevolle God wat sy Seun vir ons geoffer het...

God is die bron van alles, alles begin by Hom! God is die bewerker van alles, Hy voer sy planne uit en daarom sal niks en niemand Hom stuit nie! God self, sy eie heerlikheid is die doel van alles. Dis so duidelik ook van toepassing op ons verlossing : God het ons eerste uitgekies en ons verlossing beplan en sy Seun gestuur as soenoffer, Hy maak deur die Heilige Gees die verlossing 'n werklikheid in ons lewe deurdat Hy vir ons geloof en bekering skenk. Hierdie verlossing dien alles tot die eer en verheerliking van sy Heilige Naam, ja alles tot Hom!

Mag ons as mense ons nederige plek ken. Mag ons bevry word van die verknegting aan onsself! Die heelal draai nie om my nie, maar om God. En tog hierdie grote God is my genadig deur Jesus! Hy spreek skuldige nietige mense vry en maak hulle sy eie kinders en erfgename sodat ons Hom, Abba, Vader mag noem!

Wat is dus die beste manier om 2016 mee te begin? Fokus op God en loof Hom. Begin met ‘n doksologie. Begin sommer elke dag van jou lewe so! AMEN!

*Natuurlik mag ons ons probleme voor die Here in gebed bring. (Vgl. Filippense 4:6), maar gebede wat altyd net in die eerste plek oor myself en my behoeftes gaan, is nie in lyn met God se wil nie. Soos ons in die ONSE VADER geleer word moet gebed in die eerste plek op God se eer en koninkryk fokus. Selfsugtige gebede sonder dank aan God wat net altyd op my probleme en behoeftes fokus gaan my inderdaad depressief maak.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.