BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 04 Oktober 2016

BOSE BELYDENIS

-bevestig morele en akademiese bankrotskap van Teologiese Fakulteite.



‘n Groep sogenaamde jong teoloë van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik (sien onder) waarin hulle (heeltemal tereg) verklaar dat seksualiteit ‘n gawe van God is. Maar dan gaan hulle voort : “Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.” Nou ja, daar het jy dit! Dis immers die logiese uiteinde van die gay agenda. Watse perversiteite sou met “ander seksualiteite” bedoel word? Sorteer bloedskande, bestialiteit en pedofilie ook onder hierdie wye noemer? Gaan daar verwag word dat predikante binnekort die verhouding tussen ‘n man en sy hond kerklik moet bevestig? Enige kind van God kan net verslae luister en wonder of sy ore hom nie bedrieg nie. Moet mens nou verstik aan smart of stik van woede? Smart oor die verwoestende effek van die waansinnige dwaalteologie op die fakulteite waar NG predikante opgelei word op jong lewens. ‘n Heilige woede oor die Naam van ons Here Jesus en sy kerk wat deur die modder gesleep word.

Opmerklik word geen Bybelse bewyse aangetoon om al hierdie soorte perverse vorme van seks goed te praat nie. Dis seker nie vreemd as mens in ag neem dat dit by ons student ingehamer word dat die Bybel maar net nog ‘n Midde-Oosterse boek vol foute is nie. En dit lyk nie asof hulle leer van die sondeval nie... Benewens die gebrekkige Skrifkennis wat hier ten toon gestel word wonder mens ook maar onwillekeurig hoe lyk die morele lewens van hierdie jong kenners wat eeue van kerklike etiek met hulle nuutgevonde wysheid wil omverwerp? En wat raak hulle nie als van die kansels kwyt nie?  Ja, ewe vroom verklaar hierdie groepie dat Jesus die Heer is. Maar ons moet tog weet as ons bely dat Jesus die Heer is, het dit konsekwensies vir ons hele lewe, 'n lewe wat volgens Sy norme en wil geleef moet word. Oor Sy wil wat betref seksualiteit is die Woord mos baie duidelik. Kliek op BYBELSE RIGTING OOR SEKSUALITEIT

Dis tyd dat predikante, kerkrade, ringe en sinodes hulle gepoleerde kerklike taal sal laat vaar en reguit praat. Reguit praat soos die Skrif praat. Paulus was immers vir ons ‘n goeie voorbeeld van iemand wat nie onder die druk van politieke of kerklike korrektheid geswig het nie. Hy stem immers saam dat die Kretensers, “leuenaars, ongediertes, lui vrate” genoem moet word. Ek wil liewers nie heeltemal sulke beskrywende taal oor hierdie groepie kenners van seksualiteit waag nie, maar op die beste is hulle totaal onkundig, arrogant en ongeskik vir die bediening. (Hierdie insigte wat hulle toon hoort eerder by entrepreneurs in die sekstoerisme bedryf!) Die waarheid moet ‘n slag duidelik gesê word... 

Maar daar moet nog duideliker gesê word dat die teologiese fakulteite waar NG bedienaars tradisioneel opgelei is, tans onder die bewind van vals profete staan en dat ons ons gelowige kinders onder geen omstandighede daar sal laat studeer nie. 

Daar wag ‘n groot oordeel vir hierdie tipe profete wat alles wat verkeerd is, reg noem, omdat hulle die Woord van die Here verwerp het : “Hulle het ‘n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sê net: "Alles is reg! Alles is reg!" Maar niks is reg nie. Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot ‘n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sê die Here.” (Jeremia 8 :11,12)

As daar belydenis nodig is, is dit skuldbelydenis, 'n skuldbelydenis van ons almal (insluitende hierdie jong teoloë) dat ons ongehoorsaam was (en is) aan die standaarde van God se Woord. 'n Belydenis wat sigbaar moet word in bekering!






*Uittreksel uit die e-KERKBODE :

Jong teoloë steun besluit oor gays

Neels Jackson

e•Kerkbode | September 28, 2016 

‘n Groep van 24 jong predikante en proponente van die NG Kerk het ‘n belydenis uitgereik waarin hulle hulle volle steun verklaar vir die besluite wat die Algemene Sinode van 2015 geneem het oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Die volledige belydenis lui soos volg:

Belydenis van Jong Proponente en Predikante aangaande Selfdegeslagverhoudings 

As jong proponente en predikante van die NG Kerk glo ons dat dit belangrik is om ‘n bydrae te lewer tot die gesprek oor die 2015-besluit van die AS oor selfdegeslagverhoudings. Ons glo dat ons nie langer kan stilbly oor die hantering van persone in selfdegeslagverhoudings nie. Ons ondersteun die besluit oor selfdegeslagverhoudings heelhartig en betreur die hantering en gebrek aan implementering van die besluit. Ons glo dat die Bybel, ons geloofsbelydenisse, en die gereformeerde tradisie ons dring om anders te dink en te praat oor LGBTIQ+ persone binne die huidige debat. Verder is ons van mening dat ons nie oor mense kan praat nie, maar dat ons deurgaans ook met LGBTIQ+ persone in gesprek moet bly aangesien dit ‘n direkte impak op mense se lewens en toekoms het. As proponente en predikante binne ‘n belydende kerk meen ons dat dit belangrik is om ons belydenis aangaande die Godgegewe menswaardigheid van alle mense duidelik te verwoord. Daarom bely ons:

Ons glo in die Drie-enige God, die gemeenskap van Trinitariese liefde waarbinne alle mense tuiskom.

Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.

Ons glo in Jesus Christus, wie se lewe, dood, en opstanding ons verlos en versoen, met God en met mekaar.

Ons glo in die Heilige Gees, wat ons vertroos en bemoedig, en deur wie ons tot ‘n gemeenskap van radikale liefde, gasvryheid, en geregtigheid omvorm word.

Ons glo dat Christus deur Woord en Gees oor die kerk regeer en dat die kerk moet getuig van die goeie nuus van die Evangelie aan alle mense.

Jesus is die Heer.

Die goeie nuus van die Evangelie, soos verwoord in die hele Bybel en nie alleenlik enkele uitverkore teksgedeeltes nie, is die uitgangspunt van hierdie oortuiging. Dit is vanuit hierdie oortuiging dat ons ‘n prinsipiële standpunt inneem aangaande selfdegeslagverhoudings. Hierdie behels die volgende:

Eerstens skaar ons onsself ten volle by die Seisoen van Menswaardigheid, asook die gepaardgaande waardes van respek, liefde, luister, en omarming.

Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ‘n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.

Derdens weier ons om kerklike diskriminasie teen mense te aanvaar, hetsy op grond van ras, gender, of seksuele oriëntasie. Ons is van mening dat dit niks minder is as om mense van die volheid van God se liefde, geregtigheid, en gemeenskap te weerhou nie.

Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.

Vyfdens verstaan ons dat verhoudings kern tot menswees is en dat mense binne verhoudings die Drie-enige God uitbeeld. Dit beteken vir ons dat menslike seksualiteit floreer binne verhoudings wat gekenmerk word deur liefde en trou.

Sesdens is dit ons bede dat die hantering van hierdie saak by die komende buitengewone sinode en toekomstige kerkvergaderings met die nodige wysheid, waardigheid, en inklusiwiteit sal geskied.

Dit is vanuit ons geborgenheid in en liefde vir die kerk dat ons hierdie standpunt inneem. Ons droom van ‘n kerk waar meer mense, nie minder nie, omarm en gekoester sal word binne die gemeenskap van gelowiges.

Onderteken deur die volgende jong proponente en predikante van die NG Kerk (alfabeties gelys): 
Rozelle Bosch 
Bianca Botha 
Magriet de Villiers 
Riaan de Villiers 
Calvyn du Toit 
Elaine Dippenaar 
Eduard Enslin 
Juanita Greyvenstein 
Hanneke Janse van Vuren 
Benjan Knoetze 
Manitza Kotzé 
Nadia Marais 
Nina Muller van Velden 
Carike Noeth 
Melissa Opperman 
Helgard Pretorius 
Fourie Roussouw 
Annelet Slazus 
Sunelle Stander 
Sharaine Steenberg 
Niel Steyn 
Dawfré Theron 
Elzanne van der Westhuizen 
Anje Zeeman 



Baälaanbidding en seksuele losbandigheid gaan hand aan hand...

Lees ook gerus ds. Hector Jooste se brief aan DIE KERKBODE. Kliek op BRIEF


21 opmerkings:

  1. Johannes

    Eerstens weereens baie dankie vir jou tydige en duidelike uitwysing van die duiwel se werk.

    Tweedens net enkele opmerkings (mens sou natuurlik veel kon sê oor hierdie verklaring deur die sogenaamd jong teoloë):

    1. Onder andere word die volgende stelling gemaak: “Ons glo in God wat lewe skenk aan alles en almal, en wat elke mens, sonder uitsondering, met onvervreembare waardigheid geskep het.” Die “onvervreembare waardigheid” waarna hier verwys word, het my laat besef dat hierdie “teoloë” nog nooit eers Genesis 3 gelees het, of dat hulle dit gelees het maar geheel en al glad nie verstaan wat daar geskryf staan nie. Om hulle te help om te verstaan wat Genesis 3 onder andere bedoel, kan hulle dit oorweeg om hoofstuk 1 en 2 van Calvyn se Institusie te gaan lees. Dit is twee kort hoofstukke. Miskien kan dit help om hulle duistere verstande te verlig.
    Kortom, om te praat van ‘n “onvervreembare waardigheid” waarmee God die mens sou geskep het, is ‘n totaal on-Bybelse begrip. Inteendeel, God waarsku die mens juis baie pertinenent betreffende die VERVREEMBAARHEID van hierdie waardigheid (Gen. 2: 17).

    2. Vervolgens verklaar hulle, en ek haal aan “Tweedens is ons dit eens dat die kerk as liggaam van Christus haarself op ‘n besondere wyse teen onreg moet posisioneer en by verontregtes moet skaar. Daarom is geen vorm van onreg binne die kerk, hetsy by wyse van sinodale besluite of gebrek aan implementering van sinodale besluite, aanvaarbaar nie.”

    Hierop antwoord ek as volg: God se Woord alleen bepaal wat reg en wat verkeerd is (2Tim. 3: 16 en 17 asook HK Sondag 33, vr. en antw. 91). Die Algemene Sinode van 2015 het ‘n ONREGTE besluit geneem toe hy sy besluit oor gays en die kerk geneem het. Die gay-besluite van die AS-2015 was en is en sal altyd ‘n ONREG wees. Dus sou ek hierdie mense aanraai om in lyn met hulle eie standpunt so gou as moontlik te begin om hulle te beywer vir die totale tot-niet-making van die 2015-gaybesluite.


    3. Laastens die volgende wat hulle verklaar: “Vierdens beskou ons seksualiteit as ’n gawe van God. Hiermee bedoel ons die volle spektrum van seksualiteit, wat nie net heteroseksualiteit insluit nie, maar ook homoseksualiteit, biseksualiteit, transseksualiteit, interseksualiteit, en ander seksualiteite.”
    Hierdie valsheid waaraan hierdie stomme mense glo gaan dan sekerlik uiteindelik tot gevolg moet hê dat die Teologiese Fakulteite aan Suid-Afrikaanse universiteite spoedig aandag sal moet gee aan die inrigting van ‘n Departement van Sekskunde en Seks-aanmoediging. Hoe anders gaan hulle dan nou deel met hierdie sogenaamde gawes. As dit gawes is soos hulle dit stel, dan moet die gawes mos ontdek en ontgin word! Dit klink vir my dat Orgie-kunde waarskynlik binnekort een van die vakke sal wees wat aan teologiese fakulteite gedoseer gaan word.
    Hoe verskriklik!!! So is ons dan nou ook weer terug by die vrugbaarheidskultusse (Baäl, Astarte en Asjera) waardeur die volk van die HERE so dikwels onmeetbare skade aangedoen is in Ou Testamentiese tye!


    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Hector vir die perspektiewe, ja, om dit op te som – daar is nou in beginsel openlike Baälaanbidding binne die NG Kerk!

      Vee uit
  2. Hierdie is die wrange vrugte van baie jare se teologiese agteruitgang en verloning van die waarheid by Teologiese Fakulteite.

    Jesus se woorde in die bergrede is van toepassing:
    "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!" (Matt. 7: 13-16 )
    "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!" (Matt. 7: 22-21 )

    Markus 12:24 is op hulle van toepassing. "En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?"

    Hulle verloën die ernstige waarskuwings van die Skrif wat waarsku oor hulle wat in sonde voortlewe:
    "Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie" 1 Kor 6:10
    Hulle glo ook nie krag van die evangelie nie:
    "En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God." 1 Kor 6:11

    Hierdie "jong teoloë" is misleide misleiers, wolwe in skaapsklere, wat Satan se werk doen. Soos jy sê, Johannes, dit maak beide kwaad en harsteer. Mens kan net bid vir hierdie blindes leiers, "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie." (Lukas 23:34)

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  3. Bi-seksialiteit impliseer tog dat die persoon dan n gawe vir seksualiteit het om te poog na n verhouding met ten minste twee persone, waar los dit die slim jong mense dan met die gebod rond-om egbreuk. Of is dit nou aanvaarbaar om in n huwelik te tree met twee persone, een man en een vrou.

    ag nee dit is tog n gekke spul. Uitgedink en verwoord deur dwase en swape.

    Interesant dat die groep wat die verklaring doen bestaan uit 17 dames en 7 mans.

    AntwoordVee uit
  4. Stof tot nadenke: as ek so vinnig tel is omtrent 6 van die 24 name manlik. Die res is almal vroulike name. Het die NG kerk nie die pad reeds duister geraak met die toelating van die vrou in die amp nie? Dis reeds daar waar die vrou se rol misken is as moeder, as omgee mens en die man as rigtinggewer...Ek wonder maar net.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Jy is heeltemal reg! Ekself meen die Skrif is teen die vrou in die regerende en lerende amp.

      Vee uit
    2. Ook die aantal vroue onmiddelik waargeneem, en ja ek dink hierdie laaste "bastion" (die geloof as deel van die kulturele) van die Afrikaner is reeds vernietig, waarvan die vernietiging sedert einde 60's stelselmatig ingevoer is en mid 80's in volle bloei was.

      Maar natuurlik moet 'n mens versigtig wees om 'n identiteit aan die geloofslewe te gee. Die antwoord blyk te wees erens tussen Wereldraad v Kerke en "oop" gemeentes. Persoonlik sou ek se die lede moet afhanklik wees en die versameling van verskillende onafhanklike lede moet slegs van God kom.

      In die NG Kerk het die wolf nou sy skaapklere uitgetrek en baie volg nogsteeds blindelings.

      Kan 'n gelowige hom nogsteeds in naam verbind met hierdie kerkverband?

      Vee uit
  5. Ek het op die volgende afgekom uit 'n boek van E H Broadbent. Hy haal Jan Amos Comenius, 1592-1670, aan. Sien u geagte leser, dalk iets hierin, in die uitgerekte toutrekkery oorhierdie lasterlike sg. beleidenis nou ter sprake:

    “The great number of teachers is the reason of the multitude of sects, for which we shall soon have no names left. Each church reckons itself as the true one, or at least as the purest, truest part of it, while among themselves they persecute each other with the bitterest hatred. No reconciliation is to be hoped for between them; they meet enmity with irreconcilable enmity. Out of the Bible they force their different creeds; these are their fortresses and bulwarks behind which they entrench themselves and resist all attacks. I will not say that these confessions of faith – for that they are so, we can admit in most cases – are bad in themselves. They become so, however, in that they feed the fire of enmity; only by putting them away altogether would it be possible to set to work on healing the wounds of the Church… To this labyrinth of sects and various confessions another belongs; the love of disputation.

    What is attained by it? Has a single learned strife ever been settled? Never. Their number has only been increased. Satan is the greatest sophist; he has never been overcome in a strife of words….In divine service the words of men are usually heard more than the Word of God. Each one chatters as he pleases, or kills time by learned disquisitions and disproving the views of others. Of the new birth and how a man must be changed into the likeness of Christ to become partaker of the divine nature (2Pet. 1:4), scarcely anything is said. Of the power of the keys, the Church has almost lost the power of binding, only the power of loosing remains…The sacraments, given as symbols of unity, of love and of our life in Christ, have been made the occasion of bitterest conflict, a cause of mutual hatred, a center of sectarianism ….

    In short, Christendom has become a labyrinth. The faith has been split into a thousand little parts and you are made a heretic if there is one of them you do not accept…What can help? Only the one thing needful: return to Christ, looking to Christ as the only Leader, and walking in His footsteps, setting aside all other ways until we all reach the goal, and have come to the unity of the faith (Eph. 4:13). As the Heavenly Master built everything on the ground of the Scriptures, so should we leave all particularities of our special confessions and be satisfied with the revealed Word of God which belongs to us all. With the Bible in our hand we should cry: I believe what God has revealed in this Book; I will obediently keep His commands. I hope for that which He has promised. Christians, give ear! There is only one Life, but Death comes to us in a thousand forms. There is only one Truth, but Error has a thousand forms. There is only one Christ, but a thousand Antichrists…So thou knowest, O Christendom, what is the one thing needful. Either thou turnest back to Christ or thou goest to destruction like the Antichrist. If thou are wise and wilt live, follow the Leader of Life.”

    “But you, Christians, rejoice in your being caught up,…hear the words of your Heavenly Leader, ‘Come unto Me.’…Answer with one voice, ‘Even so, we come’.”

    AntwoordVee uit
  6. Ek stem saam met kommentare hierbo.

    Ek wil beklemtoon dat die 'Jesus is die Heer' kon geskryf gewees het as 'jesus is die heer' Vir hulle is daar waarskynlik min verskil tussen die 'Jesus' wat hulle bely en 'n Meksikaanse 'gentleman' met die naam 'Jesus'
    Ons sal moet vrede maak. Die Woord van God is vol van waarskuwings oor afvalligheid, verdraaiing van die waarheid, misleiding en vervolging van God se ware kinders in die laaste dae.
    Dit laat die klem val op die belangrikheid daarvan dat ELKE ware gelowige die Woord van God móét ken, die tyd moet uitkoop en Sy Woord en die waarheid moet saai. Dis een ding om te sê jy stem nie saam met die uitsprake hierbo nie, maar dis 'n ander ding om 'n geloofwaardige en betroubare getuie vir Jesus Christus te wees, wat die Woord van die waarheid reg sny en waardeur jy siele kan red.

    Weereens dankie vir jou Blog, Johannes!

    AntwoordVee uit
  7. Ek hoop nie jy gee om nie, maar ek plaas 'n skakel na my eie reaksie op hierdie "belydenis": http://bybelwaarheid.com/index.php/af/die-kerk/item/295-n-seisoen-van-dwaasheid

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. William ek voldoen aan jou versoek. Ek kan ook elkeen aanmoedig op jou kommentaar (wat ek dink goed gefundeer is) te lees.

      William skryf o.a. : "Die "belydenis" openbaar 'n baie interessante beskouing van die Kerk, en dit is gebou op die gedagte dat God aan die kant van die verontregtes is. Daarom moet die Kerk as liggaam van Christus "haarself teen onreg posisioneer en by die verontregtes moet skaar". Waar dit natuurlik nie gebeur nie, word dit beskou as "kerklike diskriminasie".

      Dit is duidelik wie die verontregtes is, naamlik almal wat 'n "alternatiewe" seksualiteit het en in 'n "alternatiewe" verhouding betrokke is. Die politieke oorwegings van Belhar is nou omgeswaai in seksuele oorwegings, maar die onderliggende beginsel is dieselfde: Indien die Kerk SGV weerstaan, en nie die Algemene Sinode se besluite implimenteer nie, is sy besig om teen die "verontregtes" te diskrimineer."

      Vee uit
  8. Johannes ek stem saam dit is ʼn bose belydenis. Ek was absoluut geskok toe ek dit lees. Dit lyk vir my Sodom en Gomorra was ʼn piekniek. As dit is wat die studente saam bring van die kweekskool dan is die kerk besig om oor die afgrond te stort. Die Woord sê ʼn bietjie suurdeeg maak die hele deug suur. Een verkeerde doktrine lei tot ʼn ander een en so hou dit aan totdat die hele kerk besoedel is. “and the whole church will be come ruined by moral impurities.”

    Ek het ook gesien dat die meeste van hierdie sogenaamde teoloë vrouens is. Johannes ek stem met jou saam dat die Skrif wel teen die vrou in die regerende en lerende amp is. Die Skrif maak ook nie voorsiening vir vroue in die amp van ouderling nie, en die vrou in die amp van diaken slegs onder sekere voorwaardes. Die Skrif maak egter voorsiening vir die vrou om te profeteer en in tale te spreek binne die erediens.

    Groete in Christus
    Boeta

    AntwoordVee uit
  9. Ek stem saam met Ds Johannes en die kommentaar hierbo.

    Die onderliggende ongeloof is 'n veel groter probleem as bloot seksbeskouing en -misbruik.
    God word reeds baie wyd in die NGK en ander kerke nie meer erken as die almagtige Skepper van hemel en aarde nie. Die Godlose "Evolusie oor miljoene jare" is die wagwoord waarteen niemand mag skop nie, selfs nie eens die Gees nie, soos Hy die skepping in Gen 1-11 en in die hele Skrif as geskiedkundige feite uitbeeld. Die God ontkennende onbewese evolusie word aan skole en universiteite voorgesit as wetenskap, wat dit nie is nie. Wetenskap bestaan uit waarnemings en bewysbare teorie. Skeppingsleer erken ook bewese wetenskap as God se voetspore van Sy skepping. Evolusie en skeppingsleer verskil radikaal by die siening oor die oorsprong van wetenskaplik waargenome verskynsels: Geen skepper, lukraak evolusie oor miljoene jare, teenoor Gen 1-11. Dit meng nie.

    U kan gerus hieroor naslaan in die uitstekende wetenskaplike webwerf http://creation.com wat feitelike bewyse bied deur gekwalifiseerde wetenskaplikes op hul daaglikse werksgebied bv genetika, geologie, fossiele, dateringsmetodes, ens.

    AntwoordVee uit
  10. Daar is twee groot probleme met die kerk se teologiese rigting:
    1. Miskenning van God as almagtige Skepper van die heelal soos hierbo gewys. Rom 7:20-24.
    Jesus, die Apostoliese Geloofsbelydenis, Paulus en die kerk oor bykans 6000 jaar (van Adam af), erken God as Skepper in 6 normale dae.
    Die eintlike krisis is dat God as almagtige Skepper misken word en Sy Woord se gesag verflenter word deur o.a. Genesis 1-11, Jona en ander Bybeldele as mites of onbetroubaar te definieer. Genesis bevat die hele Bybel in kernagtige vorm oor God se mag, die oorsprong van alles ook die erfsonde (geneigdheid tot sonde geërf as afstammelinge van een man en vrou) en voorspelling van die Verlosser.
    Volgens Romeine 1:16 tot 2:2 word ontkenners deur God oorgegee aan hul oorgeërfde geneigdheid tot sonde.
    Ons sien die duidelike vrugte daarvan in die sinodebesluite, in lidmate se aanvaarding dat God nie geskep het soos in die Bybel nie, en die 24 misleide jongmense se “belydenis”. Menswaardigheid is nou die norm, nie verlossing nie. Wat is die volgende modewoord?

    2. Die ontkenning van die erfsonde.
    Deur Genesis 1-11 as mites af te skryf, word erfsonde en straf daaroor ontken.
    Die krag van die Heilige Gees word sodoende ontken, wat mense oortuig van sonde, verlossing in Jesus en die Evangelie in mense tuisbring. Dit ontken ook die herskeppende krag van God wat mense, deur hul erfsonde vasgevang (Rom 7), red, as nuwe mense weer gebore laat word en dan in 'n nuwe lewe in Christus lei. So verloor ons ons identiteit as sondaar en word weer gebore met 'n nuwe naam – "seun van God" = volgeling van die Christus. Watter ongelowige sal na Jesus wil kom as sy volgelinge orgieë hou, onsedelik lewe, roofbuit verdeel, skei, egbreuk pleeg, mekaar vervloek en skel, lieg, nie eens hul Bybel glo nie, nie hul God as Skeppergod eer met soewereine mag om sy wette te stel nie, ens?
    Ons staan in en voor die gemeente as geredde kinders van God. Almal is as opperste sondaars gebore met dwars geneigdhede. Almal kan net deur God gered word en moet stry teen die sonde in ons. Daar is geen uitsondering nie soos beweer word van homoseksueles. Die heteroseksueel kan mos nie nou in onsedelikheid voortgaan omdat hy so gebore is nie.
    Jakobus sê dat ons ons geloof uit ons lewenswyse moet bewys.

    3. Die opdrag om die evangelie uit te dra, word verwoes.
    Gee 'n Bybel vir 'n ongelowige. Sê dan vir hom wat ek nou net hierbo gesê het. Genesis is mites. Hoe gaan hy ooit die evangelie reg verstaan: sonder 'n Skeppergod, sonder Sy reg om wette te stel, mitiese skeppingsverhaal en vloed, geen huweliksinstelling nie, geen sondeval en erfsonde, geen moederbelofte van die Verlosser? Waar kom mense dan vandaan (evolusie?)? Wat is sonde? Waarom sondig alle mense? Ongeloofbare woorde van die Bybel.
    Wat sê so 'n sendeling vir sy eie kinders? Evolusie en skepping - hoe kry hy dit bymekaar?

    Wat glo u en ú kinders hieroor?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek glo in God die Vader, die ALMAGTIGE SKEPPER van hemel en aarde...

      Vee uit
    2. Hercules is "spot on" met Creation Ministries International as bron ven feitelike kennis oor die evolusie leer. Daar is so baie vooraanstaande wetenskaplikes uit die hede en die verlede wat gelowige kinders van GOD is/was, wat uitstekende materiaal daar gestel het wat die evolusie leer totaal sonder antwoorde laat. Professore Jonathan Sarfati, Werner Gitt en talle ander. Ook ongelowiges soos Michael Behe met sy "Darwin's Black Box". Nee wat, ons hoef glad nie te twyfel aan die skeppingsvermoë van die GOD van die Bybel nie. Kry die DVD by CMI "GOD of Wonders" - 'n briljante stuk werk. CMI het ook 'n kantoor in Durbanville met Prof. Johan Kruger as leier.

      Vee uit
  11. God is lief vir die mense maar haat die sonde. Dit sê nog nie dat ons vir die sonde moet plek maak nie. Ek is sterk teen die gif wat die jong mense in God se kerk wil inspuit

    AntwoordVee uit
  12. Die volgende teks uit Jesaja is baie toepaslik in hierdie geval:

    "Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die HERE nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!
    Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun,
    daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ’n los stuk wat wil val, wat oorhang in ’n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.
    Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van ’n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie." Jesaja 30:8-14

    Philip, Kaapstad

    AntwoordVee uit
  13. Johannes, iets heel anders. Ek haak sommer hier aan omrede ek nie weet waar om 'n nuwe onderwerp op die tafel te sit nie. Se asseblief iets oor die wetenskap en die teologie. Hoe moet ons die wetenskaplike bewyse oor die ontstaan van die heelal en die mens verstaan in die lig van die skeppingsverhaal? Die twee weerspreek mekaar tog totaal. Ons kan nie die wetenskaplike feite aflag nie, wat maak ons? As die skeppingsverhaal onder verdenking kom, hoekom dan nie ook die Christusverhaal nie? Hoe verstaan jy die ding? Help asseblief.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie vir jou vraag. Ek skryf nie eintlik hieroor nie, want mense kan jou so maklik verkeerd verstaan en in ‘n kamp jaag.
      Ekself sien geen botsing tussen wetenskap en die Bybel nie. God is immers God van die wetenskap, want dis deel van ons kultuuropdrag om wetenskap te beoefen. Kom ons kyk na die skepping. Ek dink dat die wetenskap wat oor die algemeen verklaar dat die aarde baie oud is nie in botsing is met die skeppingsverhaal nie. Ek glo nie die skeppingsverhaal wil vir ons presies die prosesse beskryf waarvolgens God geskep het nie, maar dat God wel die Skepper en Onderhouer is van als, die Koning van die heelal. Die skeppingsverhaal gee ‘n teologiese perspektief op die skeppingsgebeure maar beskryf nie die fisika of chemie of letterlike tydsverloop nie. (Die dae van Genesis een is heel waarskynlik nie bedoel as 24uur dae nie, want die son wat vir die 24 uur siklus verantwoordelik is saam met die draai van die aarde, is eers op die vierde dag geskep) Kom ek verduidelik met ‘n ander voorbeeld : God gee reën! (Ek kry die voorbeeld by JI Packer. ‘n gereformeerde teoloog) Dis ‘n teologiese waarheid. Ons kan egter die wetenskaplike prosesse betrokke by reën soos verdamping, kondensasie, laagdrukstelsels ens. wetenskaplik ondersoek en probeer verklaar, maar dit verander hoegenaamd niks aan die feit dat God die Gewer van reën is nie. Hy is immers die God wat natuurwette ook geskep het en gebruik. Dieselfde voel ek oor die skepping. Ons kan wetenskaplik kyk na prosesse en dit toets en teorieë formuleer (en probeer verkeerd bewys), maar dit verander hoegenaamd niks aan die feit dat God die Skepper is nie.

      Dis net in kort, daar is nog baie sake soos byv. die verskillende genres in die Bybel ook ter sprake.

      Lees gerus die Blog van my vriend dr. Wille Mcloud, Life in the Universe. Hy is 'n wetenskaplike en 'n diep gelowige kind van God.

      Vee uit
  14. Die toorn van die Almagtige God gaan losbars oor alle goddeloses, spoedig!
    Nie een sal ontvlug nie.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.