BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 12 April 2013

TWEEDE KANS

- kan God ‘n diepgevalle kind van Hom heeltemal vergewe en weer vrugbaar gebruik? 

Toe jy die eerste keer as sondaar na Jesus gekom het, was God se vrye genade en volkome vergifnis iets wonderlik. Op grond van sy Woord het jy geglo dat Hy jou alle sonde, ja ook die ergstes heeltemal vergewe het. Hy het jou vrygespreek, as kind aanvaar en jou aangestel om vir Hom te getuig. Alles het goed gegaan…maar toe val jy baie diep in een of ander groot openbare sonde wat groot skande oor jou gebring het. Huweliksontrou, egskeiding, bedrog, dronkenskap of dwelmverslawing… Jy het 'n "backslider" geword. Nou worstel jy met die vraag : “Kan God my weer vergewe?” Miskien besef jy : “Ja, Hy kan my vergewe, maar ek sal nooit weer bruikbaar wees in sy koninkryk nie, ek sal nooit weer die volle vreugde beleef om vir Hom nuttig te wees nie. Miskien is ek nou verdoem tot ‘n tweedeklas Christenskap…” Die duiwel bly ook nie stil in sulke situasies nie. Hy probeer jou oortuig : “Kyk toe jy tot bekering gekom het, het God jou al jou sonde vergewe, want jy was onkundig en in duisternis. Maar nou het jy mos van beter geweet, jy is mos vooraf gewaarsku, maar jy was steeds ongehoorsaam…nou is daar vir jou geen hoop meer nie…” 

As jy al ooit deur hierdie gedagtes geteister is (of mense ken wat daardeur geteister word), kyk gerus saam met my na die aangrypende gesprek tussen Jesus en Petrus langs die meer, kort na Jesus se opstanding in Johannes 21:15-19. 

Petrus die rots. 

Ons ken die geskiedenis van hierdie “rots” - hy het Jesus drie maal openlik opsetlik verloën. Hy vloek sommer! Matteus 26:74 berig : Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Ek ken die man nie!" Die rots het verkrummel, die pilaar het geval, die staatmaker het gevou. Petrus was een van daardie ongelukkige mense wat openlik gesondig en in die skande beland het. Sy sonde kon nie verberg word nie, almal het daarvan geweet. ‘n Mens kan jou indink die vernedering, hartseer, selfverwyt en beskuldigende kyke wat hy moes deurgaan. “Ja, jou grootbek, kyk wat het gebeur…” 

Genadeverhaal

Op hierdie stadium het Petrus waarskynlik reeds persoonlik vergifnis ontvang, want hy het bitterlik gehuil na die haan se derde kraai... Maar iets het nog ontbreek. Nou hier na ete, kom Jesus met hierdie vraag in die openbaar na Petrus: “Het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? “meer as hulle” - verwys na die ander dissipels wat teenwoordig was. Hoekom so voor almal? Dit maak baie sin, want juis Petrus was ten opsigte van die ander die een wat die sterkste homself uitgespreek het. Terwyl die ander stil was het hy gespog : “ek sal my lewe aflê!” (Johannes 13:37,38) Petrus was die voorbarige, die sterke, dis juis hy wat tot aksie oorgegaan het en Malchus se oor afgekap het. Maar daarna het dinge tragies skeefgeloop. Petrus se selfvertroue en sy vleeslike dapperheid het hom in daardie krisisnag in die steek gelaat. Menslik gesproke het hy sy potensiaal as toekomstige leier onder die apostels onherroeplike skade aangedoen. Wie sou ooit weer na hom as leier kon opsien of hom vertrou? Daar was net een hoop vir hom – volledige openbare vergifnis uit Jesus se mond. Mooi verduidelikings en verskonings sou niks vir hierdie gevalle dissipel kon doen nie. Gesien die omstandighede dat Petrus as leierfiguur sy aansien onder die ander dissipels verloor het weens sy lafhartigheid, was iets meer as net private vergifnis nodig. Jesus moes hom in die openbaar herstel. 

Hier voor almal vra Jesus ‘n diepte ondersoekende vraag, wat Petrus waarskynlik tot in die diepte van sy siel sou geruk het. Probeer jou indink - hier voor almal word hy by die naam uitgesonder, en dit terwyl almal van sy pynlike mislukking bewus was. “Jy, Simon, seun van Jona, het jy my lief, meer....” Petrus se antwoord is veelseggend. Vroeër was hy nie skaam om homself ‘n trappie hoër as sy mede dissipels te stel nie. Maar nou is dit opvallend - hy probeer glad nie eers die vraag antwoord deur ‘n vergelyking met die ander te maak nie. Hy werp hom maar net op Jesus se kennis van sy hart. Sy gebroke, berouvolle hart. Petrus sê in effek : “Here ten spyte van my bittere mislukking, weet U dat ek U liefhet.” Jesus aanvaar sy antwoord. Die bewys daarvan kry ons in die opdrag “ laat my lammers wei.” Petrus se liefde vir die Here en die bewys dat hy herstel en vergifnis gevind het word duidelik uit sy versorging van die Here se mense. Dit eindig egter nie hier nie - Jesus herhaal die selfde vraag drie keer. Drie keer moes Petrus ten aanhore van almal hierdie pynigende vraag hoor. “Het my lief?” Die derde keer lees ons (17) het Petrus bedroef geword. Miskien het hy openlik gehuil, ons weet nie. Sy hart was gebreek. Net soos hy Jesus drie keer verloën het, verlang Jesus nou drie keer hierdie opregte belydenis van hom. Die derde keer antwoord die bedroefde Petrus : “U weet alles....” Ek kan dit so voor my oë sien hoe ‘n betraande Petrus dit uitroep : “ Here U weet alles, U weet dat ek U liefhet” Gebroke, geen spoor van selfgeregtigheid nie! Petrus het niks meer oor om mee te spog nie. Ook herhaal Jesus sy opdrag : “laat my skape wei.” Petrus se bediening word herstel. Let op die bediening word nie in ‘n titel gegee nie maar in praktiese opdragte : “laat wei, pas op.” 

Inderdaad het hy hierdie bediening getrou uitgevoer soos mens kan aflei uit sy opdragte aan ander herders. ( 1 Petrus 5:1-4) Net terloops - die skape wat Petrus moes oppas was nie sy skape nie, maar Jesus s’n “....my skape...” Die kerk is nie een van ons s’n nie, maar Jesus se eiendom wat Hy met sy bloed gekoop het! Onthou dit maar as ons van mekaar sleg praat of so maklik oor die “kerk” kla… 

PRAKTIES 

1.Hierdie gedeelte bring hoop vir gevalle kinders van God wat berou het. Hier is hoop vir daardie dissipels wat deur sonde in die bittere skande voor God en mense gebring is. Wat is die hoop? Die volledig herstellende genade en vergifnis van Jesus Christus. Totale kwytskelding! Juis vir sy kinders wat Hom in die steek gelaat het. Die ontroue Petrus kry sy “job” terug! Petrus se skandelike sonde is radikaal deur Jesus self vergewe en die bewys daarvan vind ons in sy vrugbare arbeid en sy getrouheid tot die dood. ‘n Ontroue dissipel word vergewe en bly uiteindelik getrou. Watter ongelooflike troos! Wie van ons kan nie met Petrus identifiseer nie? Wie van ons is nie diep bewus van die talle kere wat ons ons Here in die steek gelaat het nie? Watter heerlike verligting dat God nie net deur die 100 per senters werk nie. Watter troos om te weet dat ware dissipelskap nie altyd ‘n super suksesverhaal is nie. Dis ‘n genadeverhaal! 

Geliefde, jy wat vergifnis ontvang het, mag jouself nie as ‘n tweedeklas dissipel beskou en langer wegkruip nie! God het vir jou ‘n taak! 

2.“Het jy my lief?” Hierdie vraag bly steeds die primêre vraag wat Jesus aan sy volgelinge stel. Hy vra dit nou vir jou! Vir jou wat dalk nog net begin wankel het, vir jou wat geval het, vir jou wat begin moedeloos raak het…, maar ook vir jou wat dalk baie selfversekerd voel omdat jy al die regte dinge glo en nie gestruikel het soos iemand anders nie… Getrouheid en lojaliteit aan Jesus word nie in die eerste plek gemeet aan ‘n intellektuele onderskrywing van ‘n stel geloofsartikels nie. Petrus het deurgaans die regte feite oor Jesus geglo, maar wat Jesus wou dat hy in die openbaar moes bely is sy liefde. Sy persoonlike toewyding. Die inhoud sowel as die motivering van ware toewyding is liefde vir Jesus self. (Juis omdat Hy ons vergifnis bewerk het) Waar dit ontbreek is daar geen ware verhouding met die Verlosser nie, slegs miskien uiterlike godsdiens. 

Kom ons hoor elkeen hierdie vraag - “Het jy my lief?” uit Jesus se mond en ons antwoord met ons lewens daarop. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.