BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 04 Junie 2013

OP MAURITIUS?


- of waar blom die regte liefde?

So maklik en so dikwels verwyt ons God : “Waarom verander God nie my omstandighede nie? Ek bid nou al hoe lank oor my finansies, maar dit verbeter nie. Ons moeilike kind word net al moeiliker, my kwaai vrou word net al kwaaier, my foutvinderige skoonma net erger, my onbillike baas al hoe brutaler! Dis als net te moeilik vir my. Hierdie mense gaan nog my siel hel toe sleep, hulle maak dit onmoontlik vir my om ‘n Christen te wees!"

Kom ons stel dit as ’n feit - die omstandighede hier op aarde is nie maklik nie. Vir ingeval jy dalk vergeet het, die paradys op aarde is iets van die verlede en geen politieke party, protesoptog of probeerslag gaan dit kan terugbring nie. Mag ek jou net vriendelik herinner : Ons bly op ’n vervloekte aarde. God self het alles aan verganklikheid onderwerp! (Romeine 8:19,20) Die sonde het groot verwoesting aangerig. Almal en alles word daardeur geraak... Baie mense verkeer onder ’n valse indruk. Hulle dink as hulle hul lewens vir Jesus gee gaan alles sommer regkom: die gout gaan verdwyn en die bediende gaan nie meer die stofsuier breek nie... Weet u in die meeste gevalle werk dit nie so nie. Mense wat so maklik getuig - alles is reg vandat ek ‘n Christen geword het, lieg of is nog nie lank op die pad van die Here nie. Wees eerlik - God beloof nêrens dat ons hemel op aarde sal hê nie.

Nou wat verander dan as ek Christen word? Die Woord sê tog immers : alles word nuut. Weet u - die kind van God se reaksie op slegte en moeilike omstandighede verander. Jy beleef nog dieselfde probleme, maar jy reageer nou anders…

Hierdie beginsel kom baie duidelik na vore in die oorbekende 1 Korintiërs 13. Ons weet mos almal dit gaan oor die liefde. Nou sit ons met ‘n probleem : as daar van liefde gepraat word, dink meeste van ons aan ‘n romantiese gevoel, ’n tropiese eiland toneeltjie… Hier gaan dit egter nie oor liefde as ’n gevoelsbelewenis nie. In 1 Korintiërs 13 gaan dit oor liefde as ’n heilige selfbeheerste reaksie in negatiewe, slegte en moeilike omstandighede.

Kom ons bekyk hierdie liefde van naderby. As ons nou deur die verskillende fassette of aspekte van die liefde gaan sal u oplet dat almal ’n negatiewe situasie of omstandigheid veronderstel. Liefde behels dat ek nou anders moet reageer as wat ek normaalweg sou… ek moet anders optree as wat ‘n onbekeerde sou optree… 

Jy kan amper sê dat die liefde geaktiveer word deur slegte omstandighede! 

Die liefde vra amper, tree verkeerd op teenoor my dat ek kan wys wat beteken liefde! 

Kom ons bekyk die anatomie van Geesgewerkte liefde soos dit vir ons beskryf word van vers 4 tot 7.

DIE LIEFDE IS:

geduldig. Ek moet geduldig wees in omstandighede wat my normaalweg ongeduldig sou maak. As alles vinnig en volmaak gebeur soos ek dit bestel, is geduld mos in elk geval nie nodig nie. Dit gaan nie net daaroor om geduld te hê as ek byvoorbeeld in die motor moet sit en wag nie. Maar veral geduld met andere se foute, swakhede, gebrekkige verstaan, se gesukkel ook in hulle geestelike lewe. Liefde maak tyd vir die ander om by te kom, te leer, te verstaan. As dit vir jou moeilik is - dink bietjie na oor God se geduld met jou sedert en voor jy 'n Christen geword het... Hoe lank praat hy nou al met jou oor daai slegte gewoonte…?

vriendelik. Ek moet vriendelik wees, nie net in ’n lekker situasie waar mense met my vriendelik is nie (dis mos maklik), maar juis in omstandighede waar dit vir my moeilik is. Waar ek dalk sou wou kwaad of negatief sou geword het. Egte vriendelikheid, is juis vriendelikheid met diegene wat nie met my vriendelik is nie.

nie afgunstig nie. Dis die uitdaging van egte liefde, juis in omstandighede waar ek dalk minder kry as ander, slegter behandel word as ander, oor die hoof gesien word... Die liefde aanvaar daar is ander wat mooier, slimmer, sterker, beter is as ek. Vir sulke liefde is daar 'n diep vrede in my hart nodig oor wie en hoe God my gemaak het. Ek berus in Sy pad en doel vir my lewe.

nie grootpraterig nie, nie verwaand nie. Juis in slegte omstandighede waar ek myself graag op die voorgrond sou wou plaas. Die kind van God vol liefde probeer himself nie bewys nie, hoef homself nie te laat geld nie, of met angs sy kleim af te steek nie.

handel nie onwelvoeglik nie. Die liefde behandel mense op die regte manier, juis wanneer ander my nie reg behandel nie. Wat behels dit? Volgens die voorskrifte en beginsels van die Skrif byv. : “Doen aan andere wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.” Die liefde tree reg op, juis wanneer ander verkeerd en lelik met my maak!

soek nie eie belang nie. Hierdie fasset van die liefde kom juis veral na vore in omstandighede waar ek moet veg vir oorlewing. Die liefde druk nie voor in die ry in as die kos te min is of die tyd opraak nie... Die liefde kies teen selfgesentreerdheid en vra eerder : Hoe gaan dit hom of haar raak? Wat sal vir hom die beste wees? Dit kyk nie in die eerste plek waar kan ek wen of 'n slag slaan ten koste van my naaste nie. Die liefde weerhou homself van subtiele maniere van selfsug soos lyf wegsteek as ander al die werk moet doen.

is nie liggeraak nie. Juis in omstandighede waar ek seergemaak word of in ’n situasie is waar ek verloor of fouteer. Liefde kan verloor. Kan kritiek verwerk. Dis 'n teken van liefdeloosheid om altyd bedreig te voel en reg te staan om my self te verdedig. Net so is selfbejammering ook dikwels 'n teken van liefdeloosheid : “Kyk wat het hulle nou weer aan my gedoen.” Die liefde sê : “God sal reg laat geskied!” Liefde bevorder ‘n ontspanne houding en sien nie altyd in ander se woorde 'n bedekte aanval op my nie, en al is dit so reageer ek glad nie daarop nie.

hou nie boek van die kwaad nie. Ook hier word duidelik negatiewe omstandighede veronderstel, want as almal mooi met my is, is daar mos niks om van boek te hou nie! Liefde skenk volledige vergiffenis aan almal wat verkeerd teen my optree. (Terloops dit sal altyd so wees - ook in enige gemeente) Die Christen se enigste hoop is dat God my sondes my nie sal toereken nie. Hoe kan ek enige iets teen iemand anders hou? Ware liefde neem nie wraak nie. Ja, natuurlik sal niemand van ons iemand gaan skiet of sy huis afbrand nie, maar wat van al die subtiele vorme van wraak soos stilstuipe of om die ander een net te ignoreer? 

verbly hom nie in onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Die liefde is juis in slegte situasies nie neutraal en staan maar net eenkant nie, nee dit kies kant vir dit wat reg is en teen dit wat verkeerd is. Die liefde is dus nie net 'n soetsappige gevoel nie, maar beywer hom vir die norme wat die Skrif stel in ’n bose en slegte omgewing. Liefde sal dus soms veroorsaak dat ek my teen die opinie van die meerderheid moet uitspreek, as dit nie strook met die Skrif nie...

bedek alles. Juis in slegte situasies waar ander fouteer sê die liefde : “Ek gaan jou behandel asof jou foute nie bestaan nie.” Ek gaan steeds kies om vir jou lief te wees, al weet ek van die vuil sokkies onder die bed... Ek gaan kies om nie te skinder en jou foute aan ander oor te vertel nie.

glo alles, hoop alles. Die liefde streef om die bona fides van andere te aanvaar. Die liefde is nie altyd agterdogtig nie, dit vertrou dat ander Christene ook deur die Gees gelei word. Dit gee aan ander die voordeel van die twyfel. Die liefde berus in die feit : oordeel is in elk geval God se saak. 

verdra alles. As dit goed gaan is daar niks om te verdra nie, dis juis in slegte omstandighede waar liefdevolle verdraagsaamheid moet blom! Ja, verdraagsaam ook as manlief vergeet het om die kragrekening te betaal en hulle sny dit af, as vroutjie vir die soveelste keer die kar gestamp het, as die buurman se hond weer my tuin omgeploeg of die vuilgoedsakke stukkend geskeur het....Die groot toets vir die liefde is of dit onreg kan verdra, of dit nog steeds liefhet al word ek te nagekom of benadeel in die proses. Dis ook die groot verskil tussen gewone menslike gevoel en die liefde van Christus! 

WARE LIEFDE BLOM IN DIE KONTEKS VAN ONREG EN MOEILIKE OMSTANDIGHEDE!

1 Korintiërs 13 bevestig dat ’n Christen nog steeds met slegte omstandighede te kampe het, anders sou dit nie nodig gewees het om hierdie hoofstuk te skryf nie. ’n Christen se omstandighede word nie verander nie, wat verander is jou reaksie binne in daardie omstandighede. Anders gesê - Die Heilige Gees wat in die kind van God kom woon verander nie noodwendig jou omstandighede en die mense rondom jou nie, maar stel jou instaat om anders te reageer as voorheen in daardie selfde omstandighede. Hierdie reaksie is radikale liefde. Dis ’n liefde ten spyte van negatiewe omstandighede, moeilike mense en onseker toestande! Hierdie liefde is net moontlik as jy wedergebore is, want dis ‘n vrug van die Heilige Gees!

Naskrif : As mens eerlik na die norme van ware liefde kyk, dan besef jy weer : Ek is ‘n sondaar met ‘n bose hart wat werklik behoefte het aan ‘n Verlosser!



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.