BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 08 Februarie 2018

SAUL SE SPIEËL

- disseksie van ‘n sluwe sondaarshart! 



Het jy al ‘n nuwe hart gekry? ‘n Rein hart? Dis allesoortreffend belangrik. Hoekom? Daar is ‘n kragtige belofte in Matteus 5:8! “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” ‘n Christen is iemand wat ‘n nuwe/rein hart gekry het! En net so iemand sal God beleef, nou en eendag. 



In Dawid se passievolle gebed van berou na sy groot sonde, pleit hy : “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.” (Psalm 51:12) Ons probleem lê nie by ons ouers, onderwysers, regering... nie, maar in ons onrein, bose harte! 



Dis ‘n groter saak as wat ons dink. Die probleem is meer akuut as wat ons sou wou erken. Ons harte is baie meer verdorwe en boos as wat enigeen van ons dalk besef. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9) Ons erken baie ligtelik, “ag, ons is maar almal sondaars.” Ons besef egter nie die omvang en die grusame aakligheid van die probleem nie, 



Vir vergifnis, genesing, verlossing, bevryding is belangrik dat mens jou eie hart ontdek. Dis onontbeerlik belangrik. Die Heidelbergse Kategismus leer op die voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge noodsaaklik is as ons salig wil lewe en sterwe : Ons moet besef hoe groot ons sonde is, ons moet weet hoe om daarvan verlos te word, ons moet dankbaar wees vir die verlossing! Sonde, Verlossing, Dankbaarheid. Hoe ontdek ons die omvang en die erns van ons sonde? Die Gees wys jouself vir jou en Hy gebruik die Woord. 

Hierdie ontbloting van mens se eie hart is gewoonlik ‘n voor bekeringswerk van die Heilige Gees voordat mens na Jesus kom. Dis juis die besef van die boosheid, en die gevaar van die boosheid van jou eie hart wat jou na Jesus toe dryf. Maar ook mense wat reeds God se kinders is ervaar dat die Here opnuut en voortdurend die boosheid van jou hart aan jou openbaar, met die oog op groter afhanklikheid van Jesus en ‘n dieper werk van heiligmaking. Baie keer besef mens eers die diepte van sonde na jou aanvanklike bekering! Dis juis ook vir die kind van God nodig om selfondersoek te doen, sodat ek stywer kan vashou aan die genade van Jesus. Dus aktueel vir almal. 

Die tragiese geskiedenis van Saul is ‘n treffende voorbeeld van die sluwe subtiele boosheid van die menslike hart. 'n Handboekvoorbeeld van totale verdorwenheid! Wees gewaarsku jy gaan jouself hierin sien! En dis nie ‘n mooi prentjie nie... Kom ons blaai saam deur 1 Samuel 15:1-35. 

1 Sam 15:1-3 “Samuel het vir Saul gesê: "Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. 
So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. 
Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie." Hier vind ons die agtergrond van die skokkende gebeure hierna : Saul kry die opdrag van God om die Amelekiete totaal uit te wis.  (En terloops, ons moet nou nie hierdie opdrag van God meet aan ons humanistiese postmoderne waardesisteme van vandag nie. Amalek was God se vyand, wat God se bedoelings probeer darsboom het en daarom was hulle 'n voorwerp van God se toorn en waraak...)

Wat doen Saul toe? 

“Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar ‘n mens kom by Sur teenoor Egipte. 
Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 
Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.” (7-9) Hy is ONGEHOORSAAM! Die kern van alles sonde. Wat gebeur nou verder? 

God word toe baie bedroef oor hierdie ongehoorsaamheid. Ook Samuel wat Saul tot koning gesalf het, was uiters ontsteld. “Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: "Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie. Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.” (10-11) 

DISSEKSIE

Ons kry nou verdere insae in verskeie aspekte van Saul se sluwe sondaarshart: 

HOOGMOED in plaas van berou. “Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: "Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ‘n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe." (12) Kan jy nou meer, die ongehoorsame Saul bou 'n monument vir homself! Die arrogansie van die gevalle mens darem! Die sondaarhart is totaal ongevoelig en verblind deur ‘n grootheidswaan en eie gevoel van belangrikheid. Geestelik heeltemal blind en afgestomp. 

SAUL HET GEEN LIEFDE EN RESPEK VIR GOD NIE, GEEN LIEFDE VIR SY MEDEMENS NIE, ALLES DRAAI RONDOM HOMSELF!

Saul is LEUENAGTIG EN VALS en MISBRUIK die Here se naam. “Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: "Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer." (13) Onbekeerdes gebruik die mooiste Christelike frases! Die Here is so goed vir my, die Here het my geseën, die Here het vir ons wonderlike reën gegee! 

‘n Totale gebrek aan opregte BEROU. “"Hulle het dit van die Amalekiete af gebring," antwoord Saul. "Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak." (14,15) Saul wil nie sy skuld erken nie, maar BLAMEER ander. Let op - “hulle”, “deur die manskappe” gespaar om te offer. So tipies...Adam! Kyk die valse vroomheid.  Dis mos vir ‘n GOEIE DOEL! – “offer” (ou verskoning!) 

TOTALE ONTKENNING en HARDKOPPIGHEID. “Saul antwoord toe vir Samuel: "Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. 
Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer." (20-21) Hy sien nog steeds nie sy eie skuld raak nie! (hier is die groot verskil met Dawid toe Natan met hom gepraat het – Kliek op SMS SWANGER) Saul is vol VROOMKLINKENDE VERSKONINGS. (“aan die Here te offer”) 

Let op – dis weer die “manskappe” se skuld. Hy WEIER OM VERANTWOORDELIKHEID vir sy eie dade te vat. Dis die verharde sondaar se houding - my dronkenskap, my egskeiding, my kwaaivriendskappe, my swak kerkbywoning... dis altyd ander mense se skuld!

Saul was so slu, glibberig en glad met die bek soos Zuma homselwers, maar hy het nie rekening gehou met 'n ware man van God nie...

SAMUEL TRAP SAUL SE TJANK AF!

Samuel is ‘n man van God en Saul se sluwe vroom praatjies beïndruk hom glad nie! 

 “Maar Samuel antwoord: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp." (22-23) Skrikwekkende woorde! Wat maak ek en jy met God se Woord? 

In Saul se reaksie op Samuel se woorde vind ons nog ‘n kenmerk van die sondaarhart : MENSEVREES! “Saul sê toe vir Samuel: "Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het."Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid." (24,25) Dis die sondaar se houding : Ek is meer gesteld op wat mense dink as wat ek respek het vir God se wense, ek is banger vir mense se opinie as vir God se Woord en opdragte! Gee meer om vir wat mense dink as vir God se bevele. 

Nou klink dit wel of Saul berou het, maar dis VALSE BEROU! “Ek het gesondig," sê Saul toe. "Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid." (30) Hoekom is sy berou oneg? As jy bietjie dieper kyk sien jy dit gaan vir hom meer oor sy "image" voor die manskappe as oor ware berou voor God. 

Ek en jy?

Wie eerlik in die spieël van Saul kyk na jou eie hart kry slegte nuus, maar as jy nie daar stop nie en ook na Golgota kyk is daar beslis baie goeie nuus! 

Die slegte nuus is : Die boosheid en sluheid van ons harte is baie groter en meer subtiel as wat ons besef. 

Die goeie nuus is : Jesus se offer van Homself aan die kruis weeg swaarder as die ergste sonde. Jesus se sterwe was genoegsame betaling vir AL ons sonde. Die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde, maar dan moet ons eerlik wees oor die toestand van ons harte! 

Naskrif : Saul het nooit eerlik die boosheid van sy eie hart besef nie, en uiteindelik as ‘n Godverlatene gesterf op Gilboa. Vir my en jou is daar nog kans en hoop- Kliek op Gilboa en Golgota.

4 opmerkings:

  1. Baie dankie vir hierdie kosbare oordenking. Ek wil egter oor een punt met jou verskil.

    Die mens besef sonder uitsondering eers die diepte van sy sonde na sy bekering!

    Die Heilige Gees maak jou vooraf bewus van sondebesef en jou verlorenheid sonder Jesus. Hy het jou mos "geprogrammeer" om Hom te soek! (Hand 17:27) Dan, dadelik na bekering, besef jy eers hoe verskriklik die sondelas was wat jy gedra het!

    AntwoordVee uit
  2. Mense wat beweer hulle kommunikeer met, of hulle is bewus van die werkings van geeste (heilige, bose, voorvader of watter ookal), kan oor enige ander aspek ook lieg. “Die Heilige Gees maak jou vooraf bewus van sondebesef en jou verlorenheid sonder Jesus. Hy het jou mos "geprogrammeer" om Hom te soek!” Moslems? Hindus? Ateïste? ens.?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Daar is 'n reuse verskil tussen "valse geeste" en die Heiige Gees van God wat met die Woord as instrument in ons werke n met ons praat en inderdaad oortuig van sonde en veral ook oortuig van die heerlikheid en genoegsaamheid van Jesus as Redder!

      Vee uit
  3. Baie dankie, leersaam en goed geskryf.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.