BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 21 Mei 2020

HEERLIKE HEMELVAART!

- ‘n kort herinnering aan die praktiese nut en betekenis daarvan vir ons. 


Kom ons herinner mekaar ‘n bietjie aan die heerlike betekenis van die hemelvaart van ons Here Jesus! Hemelvaart word dikwels maar afgeskeep in ons denke en Christelike praktyk. Ons lê baie klem op Kersfees (die mens/vleeswording van Jesus), Paasfees (Jesus se kruis en opstanding ter wille van ons) en Pinksterfees (die uitstorting van die Heilige Gees), maar vergeet soms van die praktiese troos van hemelvaart. En dis juis ‘n besondere troos in hierdie tye. Maar ook elke dag in ons pad van geloof en stryd. Hoe lyk hierdie praktiese troos? 

Met die Heilige Skrif as bron en vertrekpunt het die Heidelbergse Kategismus dit vir ons in drie hoofpunte opgesom in vraag en antwoord 49. 

Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons? 

Antwoord: 

TEN EERSTE DAT HY IN DIE HEMEL ONS VOORSPRAAK BY DIE VADER IS. 

Ons lees dit onder andere in 1 Johannes 2:1. “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig- ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Dis so heerlik geliefde, juis as ek en jy as kinders van God, gesondig gestruikel, misluk het – het ons ‘n persoonlike verteenwoordiger en advokaat wat met liefde vir ons pleit en intree by die Hemelse Vader. Hy stel ons saak. En natuurlik pleit Hy vir ons op grond van sy verdienste en meriete wat Hy aan die kruis vir ons verwerf het. As jy aan Jesus behoort het jy die beste advokaat in die heelal! Dit gee ons telkens weer nuwe hoop! Dit bring ons weer en weer op ons knieë om ons Here Jesus te dank en opnuut ons lewens aan Hom toe te wy! Die waarheid van sy intersessie vir ons word bevestig in die volgende Skrifgedeeltes: 

“Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Romeine 8:34 

“Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” Hebreërs 7:25 

TEN TWEEDE DAT ONS ONS MENSLIKE NATUUR IN DIE HEMEL AS 'N BETROUBARE WAARBORG HET DAT HY, AS DIE HOOF; OOK ONS, SY LEDE, NA HOM TOE SAL NEEM. 

Ons lei iets hiervan af uit Johannes 14:2,3 waar Jesus self sê : “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Jesus het vir ons die pad na die hemel heerlikheid oopgemaak deur sy kruis en opstanding. Hy het liggaamlik opgestaan uit die dood. Daaroor is daar geen twyfel nie – Sy dissipels kon aan Hom vat en Hy het voor hulle oë brood en vis geëet sodat hulle duidelik kon besef hulle sien nie ‘n spook nie! En belangrik, Hy het ook liggaamlik opgevaar na die hemele. Hy is dus met sy verheerlikte liggaam in die teenwoordigheid van God! Hy beloof dat Hy weer gaan kom en ons ook gaan neem na daar waar Hy is – die implikasie is verbysterend heerlik – ons gaan ook met ons nuwe opstandingsliggame as volmaakte mense in die heerlikheid by God wees. Nuutgemaakte mense in ewige heerlikheid! Dit loop hand aan hand met die asemrowende feit van die nuwe hemel en nuwe aarde! Jesus se hemelvaart waarborg dit alles vir ons! Dis rede vir feestelike vreugde juis in ‘n tyd wanneer die wêreld vasgevang is in paniek, angs, onreg en ellende! Jesus se hemelvaart onderstreep en beklemtoon vir sy mense ewige sekuriteit! Dis nie ‘n mooi droom of wens nie, maar ‘n konkrete realistiese werklikheid! Halleluja! 

TEN DERDE DAT HY SY GEES AS WAARBORG NA ONS TOE STUUR DEUR WIE SE KRAG ONS SOEK NA WAT DAAR BO IS, WAAR CHRISTUS IS EN AAN DIE REGTERHAND VAN GOD SIT, EN NIE NA WAT OP DIE AARDE IS NIE. 

In Johannes 14:16 sê Jesus : “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,” Hy brei verder uit in Johannes 16:7. “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak (Trooster - OAV), die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." Parakletos die term wat hier gebruik word met ‘n baie ryk betekenis skakering – dis die persoon wat jou in ‘n hof bystaan, hetsy as advokaat, getuie of verteenwoordiger en kan nie net met een woord vertaal word nie – dit strek verder as net die wetlike aspek – dis meer as net ‘n formele koue tegniese advokaat – verskeie woorde word gebruik om die betekenis probeer weergee – trooster, raadgewer, helper... Elkeen lig net een aspek uit. Nietemin. Die Gees is die een wat BY ons is en ons BYSTAAN in ons diepste nood. 

Die koms van die Heilige Gees wat ook in die Skrif juis die Gees van Christus en die Gees van Jesus genoem word beteken dat Jesus eintlik self orals en tegelyk by al God se kinders NOU teenwoordig is! Hoor mooi kind van God – Jesus is nou BY jou, nog meer deur Sy Heilige Gees is Hy nou IN jou. Dis hoekom Jesus vir sy dissipels kon sê dat sy weggaan voordelig vir hulle (en ons) sou wees! Hy is die Gees van die waarheid. Hy leer ons als van Jesus! Hy maak die Woord se betekenis vir ons oop. Hy staan ons in ons gebede by met onuitspreeklike versugtinge. Hy lei ons in die pad van praktiese heiligmaking sodat ons gereed kan wees vir ons ewige erfenis. Die Gees werk in ons om dit wat nog verkeerd is in ons lewe af te lê en uit te roei en aan die ander kant dit wat goed en reg is by te voeg! Dinge wat pas by ons nuwe status as hemelse burgers! 

Broer en suster, word bietjie stil en dink aan die heerlike konsekwensies van Jesus se hemelvaart vir jou: 

1) Jesus tree op hierdie oomblik in vir jou en my by die Vader. 

2) Ons gaan liggaamlik soos Jesus vir ewig wees by God in heerlikheid. 

3) Die Heilige Gees is nou hier by ons om ons te troos, te leer en te lei! 

GLO JY HIERDIE HEERLIKE FEITE? 

Hierdie wonderlike waarhede moet vandag, in hierdie moeilike onsekere tye nou ‘n verskil maak! Gaan vir ‘n oomblik op jou knieë en dank Jesus dat Hy liggaamlik opgevaar het na die hemel. Wy jou lewe opnuut aan jou Heerlike Verlosser!

NS Om te luister, kliek op HEMELVAART!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.