BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 April 2012

SPEEL VIR DIE SKARE?


- Leef jy voor die mense of leef jy voor die aangesig van God? 

So maklik kan ons ‘n tipe godsdiens bedryf wat gefokus is op mense. Soos sommige rugbyspelers, wat net speel waar die skare dit kan sien en hulle erkenning kan kry, maar daar onder in die losgemaal waar niemand kan sien nie, beteken hulle niks.

In Matteus 6:5,6 praat Jesus oor die belangrikheid van binnekamergebed. Dis 'n uiting van ‘n intieme lewe voor die aangesig van God :

“Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot joun Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (6)

Die onmiddellike konteks van vers 5,6 is  die waarskuwing teen ‘n vertoonkas godsdiens. Dis vrugteloos en lei tot geen Goddelike beloning nie. (6:1) Dis ‘n godsdiens wat gedurig vra : Wat sal die mense sê of dink? Terloops, ek kan myself toets of ek hieraan skuldig is. Sal ek anders optree en leef as ek sê nou maar alleen in Parys, Frankryk gaan vakansie hou, as wat ek hier in my tuisdorp sal optree waar almal my sien en beooordeel? Iemand wat bewustelik voor die aangesig van God leef, sal orals dieselfde wees en konsekwent heilig leef.

Ware Christenskap, egte geloofsvertroue bring my in kontak met die Hemelse Vader en laat my rekening hou met Hom! Dit vind prakties neerslag in ‘n egte persoonlike gebedsverhouding.

(Natuurlik is daar mense wat hierdie teks graag misbruik as ‘n verskoning om nie bidure by te woon nie. “Ons wil nie skynheiliges wees nie” sê hulle. Jesus verbied nie bidure saam met gelowiges nie. Jesus verbied ‘n skyngodsdiens., ‘n godsdiens wat net op menslike applous ingestel is.)

Twee belangrike opmerkings rondom binnekamergebed:

BINNEKAMERGEBED IS ‘N BAROMETER VIR ONS WERKLIKE VERHOUDING MET GOD

Wat bedoel Jesus as Hy van gebed in die binnekamer praat? Bedoel Hy ons mag net in ons kamers bid en net as die deur gesluit is? Nee natuurlik nie! ‘n Binnekamer kan ‘n verskeidenheid van plekke wees. Jesus se binnekamer was dikwels bo op ‘n berg. In Handelinge 10 lees ons hoe Petrus op die dak gebid het. Binnekamergebed, is daar waar ek alleen en (veral) opreg met God besig is. Dis waar ek met my Hemelse Vader in kontak kom en Hom van harte aanbid en my nood eerlik voor Hom uitstort. Dit gaan nie oor ‘n ritueel of oor ‘n rympie nie, maar oor ‘n egte ontmoeting  met die Lewende God. Die doel van ware godsdiens, die doel van ons redding is om God te ken! Onthou die doel van ons verlossing is nie maar net om te keer dat ons hel toe gaan nie. Nee, dit gaan oor baie meer! God red ons om ons na Homself te bring. Hy wil in ons midde woon. Hy wil werklik ons God en Vader wees! (Vergelyk Eksodus 19:4-6 waar God die doel uitspel waarom Hy Israel uit Egipte verlos het.) Gebed tot God is die vernaamste deel van ons dankbaarheid as verlostes volgens die Heidelbergse Kategismus.*  Dis die belangrikste manier hoe ons God dank vir die verlossing wat ons ontvang het en daarom ook ‘n daadwerklike  bewys dat ons waarlik ontvangers van sy genade is. (Dis ook die weg waarlangs Hy ons gedurig met sy genade voed en die volheid van sy Heilige Gees aan ons skenk.)

Nou kan ons verstaan hoekom opregte persoonlike gebed die barometer van die werklike stand van ons verhouding is met God. As daar iets skort met ons verhouding met die Here wys dit heel eerste in ons persoonlike gebedslewe. As ons wegdwaal van ons Vader word ons gebedslewe eerste aangetas : Dit word ‘n dor ritueel of ‘n vervelige plig. Dit word afgeskeep en  vinnig afgerammel om my gewete te sus. Gaandeweg verdwyn dit heeltemal uit ons lewens.

Afgedwaaldes met koue harte kan vir lank nog die skyn van godsdiens instand hou. Ons kan nog kerk toe kom, Sondagskool gee, besig wees met baie aksies, maar ons kan nie meer kontak maak met die Vader in ons binnekamers nie.

Hoe lyk my gebedslewe op hierdie oomblik?

Wat keer mense om in ‘n binnekamerverhouding met God te staan? Die mees algemene rede : Hulle het nog nooit Jesus ontmoet en as Verlosser aanvaar nie! Ons kan nie werklik kontak maak met God as ons nie Jesus as Middelaar persoonlik ken nie. Ons eie verdienste en prestasies kan nie vir ons onheilige sondaars die pad na die heilige God oopmaak nie. Jesus se kruisdood het die pad oopgemaak (die voorhangsel is geskeur). Ek kan net op grond van Sy verdienste, sy genoegsame offer met God praat en Hom, “Vader” noem. 

Maar ook kinders van God wat Jesus ken se binnekamerlewe kan begin kwyn. Redes : Ons raak te besig, ons raak koud en koel teenoor die Here, ons verwyt God vir iets sleg wat met ons gebeur het, daar is ander dinge wat geleidelik die Here se plek in ons lewens inneem, ons begin een of ander sonde vertroetel... Of ons is vasgevang in kwaaivriendskap en onvergewensgesindheid en dan begin ons teen “die dak vasbid”. As ons in sulke sonde volhard, bedroef ons die Heilige Gees. (Efesiërs 4:30) en ons is juis mos afhanklik van die hulp van die Heilige Gees  as ons bid. (Romeine 8:26,27) Dis 'n hartseer toestand, maar God wil graag hierdie kontakverhouding herstel. Hy wag ons in soos die Vader vir die Verlore Seun uitgekyk het!

BINNEKAMERGEBED BRING ‘N VADERBELONING

Jesus koppel ‘n heerlike belofte aan binnekamergebed. “Jou Vader sal jou beloon.” (6) Wat behels hierdie beloning? Wat wil God vir ons gee? Die beloning word nie hier presies omskryf nie. Ons kan dit dus ook nie beperk nie. Wat wel duidelik is, dit is ‘n Vaderbeloning! God word spesifiek “Vader” genoem in hierdie konteks. Dit het heerlike implikasies. Die term Vader beklemtoon God se  liefde en sorg vir ons. (Psalm 103:13) ‘n Vader weet wat sy kinders nodig het en wil net die beste vir hulle. (Matteus 6:8,31,32) Ons kan dus gerus wees, want ons Vader weet nie net wat ons nodig het nie, maar ook wanneer. Dit raak al ons geestelike en tydelike behoeftes. Die Onse Vader gebed wat Jesus net hierna leer vir sy dissipels wys dat ons mag bid vir als wat ons nodig het terwyl ons oppad is na die Koninkryk en ons beywer vir die Koninkryk : daaglikse versorging, vergifnis en beskerming teen die bose. Ons raak so dikwels onnodig paniekerig, ons skarrel rond om allerhande planne te maak, ons hardloop eerste na mense, ons wend ons tot krag en geweld om dinge te probeer verander...alles omdat ons hierdie heerlike belofte vergeet! 

Hou vas aan hierdie belofte van Jesus en bid gelowig met ‘n verwagting tot jou Vader! (Hebreërs 11:6) 

Kom ons leef biddend voor ons Vader se aangesig. Hy wil ons graag beloon!

* Heidelbergse Kategismus Sondag 45 116
Vraag : Waarom is gebed vir Christene nodig?
Antwoord : Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.