BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 25 September 2015

IN GOD SE VELDSKOOL!

- geestelike groei en die verlies van ons gemaksones.



God stuur al sy kinders veldskool toe! Ja, regtig. ‘n Veldskool (deesdae ook bekend as ‘n leierskap kamp) is mos die plek waar hulle jou uit jou gemaksone vat, in die diep kant ingooi sodat jy deur harde ervaring sekere dinge kan leer. Jy leer vasbyt, gehoorsaamheid, saamwerk en sommer ‘n klomp dinge wat jy nie in ‘n klaskamer of uit ‘n boek kan leer nie. Dis presies wat God met sy kinders doen. Hy vat ons uit ons gerieflike gemaksones en stuur ons in ongerieflike en rowwe plekke in sodat ons geestelik kan groei en Hom waarlik kan leer ken. As Jesus regtig jou persoonlike Verlosser geword het, los God jou net rustig waar jy is nie, maar vat Hy jou deur ‘n harde veldskool om jou gereed te maak, om jou te heilig en te leer sodat Hy jou kan gebruik soos Hy wil... Dink maar aan die geskiedenis van ‘n Moses, Dawid, Petrus, Paulus... Dit het jare se vorming, skaaf en skuur voor God hulle vir hulle groot lewenstake kon gebruik.


In 1 Konings 17 lees ons hoe God ook vir Elia in ‘n besondere strawwe veldskool gevorm het met die oog op die groot taak wat vir hom gewag het...

Die verhaal van Elia is natuurlik in die eerste plek ‘n verhaal van God se ingrype ter wille van die eer van sy heilige Naam. God self het deur die woorde van sy profeet, deur die knellende droogte, deur die vuur op die berg Karmel aan sy volk en Agab bewys dat net Hy die almagtige God is. Maar dis ook ‘n verhaal van Elia se eie geestelike groei en ontwikkeling. Dis die verhaal van Elia in die veldskool...

EENKANT BY DIE SPRUIT

Na die eerste konfrontasie met die bose koning Agab, stuur God Elia na die spruit Krit. Elia gehoorsaam die Here (JHWH), want dit wat sy naam sê is in die praktyk van sy lewe waar. Elia beteken “My God is die Here”* Die praktiese betekenis hiervan word deur sy lewe gedemonstreer. Sy naam is eintlik die tema van sy lewe en lewenspreek. Om daar eenkant weg by Kritspruit te gaan skuil, was sekerlik nie maklik nie. Dit sou eensaamheid meebring en dit kom ook neer op vernedering. (Elia sou kon redeneer : “Ek is tog nie ‘n lafaard nie, hoekom moet ek wegkruip vir Agab, mense kan dalk dink ek is bang.”) Dis nie maklik nie, want dit sou kon klink na ‘n groot risiko – om van kraaie afhanklik te wees! Deur sy gehoorsaamheid wys Elia dat hy nie net ‘n verkondiger van God se wil (Woord) is nie maar ook ‘n dader daarvan. Hoe nodig is dit nie in ons dag! Daar’s so baie preke, seminare, kampe en teoretiese kennis van Woord. Tog sien ons min vrug. Hoekom? Mense is tevrede met teorie oor God, maar ons raak nie prakties met die Woord nie. Ons gehoorsaam nie, ons vertrou nie. Wat nodig is, om die opdragte van die Woord (al maak dit nie altyd vir my sin nie) ernstig op te vat en uit te voer. Eers dán groei ons, dan word ons sterk, dan leer ons en dan kan God ons gebruik!

WEER UIT DIE GEMAKSONE

Elia gehoorsaam en God is getrou. Als gaan nou goed. Elia eet brood en vleis en drink water uit die spruit. Te lekker en gerieflik! Die kraaie bedien hom getrou. Elia leer noudat God op bo-natuurlike manier vir hom kan sorg. Hy leer dat hy God maar gerus kan vertrou. God los egter nie vir Elia te lank in hierdie gemaksone nie. Dag vir dag word die spruitjie kleiner en loop hy swakker... En dan die groot skok - die spruit droog op! (Hier is amper ‘n stukkie wrange humor nê? Die direkte rede vir die opdroog van die spruit is mos eintlik Elia se gebed vir droogte wat nou verhoor word.** En hy ly self daaronder.) Onthou tog maar, gelowiges kry nie noodwendig spesiale behandeling nie.

Gesien teen die agtergrond van God se soewereine Raadsplanne en Voorsienigheid weet ons dat niks toevallig en buite God se beheer gebeur nie - ook nie die opdroog van die spruit nie. Ons moet pasop so maklik maak ons verkeerde gevolgtrekkings uit ‘n situasie. Soos : God is onmagtig, Hy kon net tot op ‘n punt sorg, God gee nie om vir my nie... Dis net die begin van ‘n volgende fase in God se veldskool. Ook hierdie terugslag het ‘n plek in God se bestuur van sake. Die opdroog van die spruit was nie sonder doel in Elia se lewe en in God se plan nie. God wou waarskynlik nog ‘n paar dinge vir sy profeet leer :

~ Dit moes seker dien as nog ‘n geloofstoets. Stel jou self in Elia se plek- elke dag word die stroompie swakker en dunner. Gaan dit heeltemal opdroog, wat dan, wat volgende? God gee nie onmiddellik antwoorde op ons vrae nie. Hy vertel ons nie vooruit hoe als gaan uitwerk nie. Ons moet net glo Hy sal ons nie in die steek laat nie. (Hebr. 13:5,6)

~ Alles op hierdie wêreld is van verbygaande aard. Alles is tydelik, niks is permanent nie. Ons moet aan niks vasgroei nie, selfs ook aan nie die gawes wat ons van God ontvang nie. Alles wat ons as pelgrims hier te beurt val moet ons nog steeds sien teen die agtergrond van hier het ons “geen blywende stad nie” (Hebr 13:14)

~ Juis omdat alles so tydelik is moet ons nie op die gawes vertrou en daarin ons blydskap*** vind nie, maar op die Gewer. Elia moes leer om nie op die spruit te vertrou nie maar op die lewende God. Waarop is jy blydskap en geloof tans gebou? Dien jy God omdat jy gesond, gelukkig is en genoeg geld het? Wat gaan gebeur as Hy môre als van jou wegvat?

OEFENING IN GEHOORSAAMHEID EN VERTROUE

God stuur sy kinders veldskool toe. Waaroor gaan dit eintlik? Die basiese beginsel in God se veldskool is : Gehoorsaam die Woord van die Here in alle praktiese moeilike situasies. Let op :

“Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê:
"Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan.” (1 Kon 17:2,3)

“Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê:
"Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg." (1 Kon 17:8,9) 

God werk met ons maar net soos in ‘n ander veldskool/leierskamp. Net sodra jy dink, als is OK dan word jy weer opnuut in ‘n moeilike situasie geplaas, uit jou gemaksone gehaal en dan moet jy sekere opdragte stiptelik uitvoer. As jy dit klaar gedoen het, dan wag jy vir die volgende opdrag. En die volgende situasie is nog ‘n bietjie moeiliker. (Dit sou Elia deeglik agterkom by Sarfat) As jy God se kind is, gaan Hy jou nie miskién veldskool toe stuur nie, jy is nou reeds beslis daar. Gehoorsaam God se Woord nou in jou huidige moeilike omstandighede en so sal Hy jou stap vir stap verder vat en leer in hierdie groot avontuur. Dink mooi, watter stuk gehoorsaamheid verwag die Here nou van jou? Vergifnis aan ander, vertroue dat Hy sal sorg, om te breek met iets wat verkeerd is in jou lewe, die opdrag tot blydskap in alle omstandighede... Jy sal wel weet...

Dis merkwaardig hoe God elke keer vir Elia uit sy gemaksone tot binne in ‘n krisis gelei het sodat Elia kon leer dat God werklik die almagtige God is. Dit alles was natuurlik ‘n voorbereiding vir daardie krisis dag toe Elia ten aanskoue van duisende Baäl ondersteuners moes bid dat God vuur uit die hemel sou stuur. Van Krit tot by Karmel sou nog 'n lang pad wees... Hierdie God is ook met jou sy kind tans besig...

*Eli = my God, Jah – afkorting JHWH (HERE)

** Vgl. Jakobus 5:17 "Elia was ‘n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie."

***Wat sal van jou huidige blydskap word as God van die kosbaarste gawes wat Hy vir jou gegee het wegvat? Wat moet ons houding teenoor aardse seëninge en genietinge wees? Daar is twee uiterstes : 

askese - ons moet ons weerhou van alles waarsonder ons kan klaarkom en so hard en armoedig moontlik probeer lewe. Hieroor sê Calvyn : “Volgens hulle sou mens beswaarlik iets by jou brood en water kan voeg.”

uitspattigheid (vandag is uitspattigheid/hedonisme eerder die groot gevaar)- ek probeer die maksimum plesier put uit hierdie lewe, asof dit al is wat saakmaak en ek altyd hier gaan wees.

Beide moet afgewys word. Calvyn : Ons moet die manier om alles met ‘n rein gewete te gebruik, ken - of dit uit noodsaaklikheid is of vir genot is. Die Here skryf hierdie manier in Sy Woord aan ons voor wanneer Hy leer dat die teenswoordige lewe vir die wat aan Hom behoort, soos ‘n pelgrimstog is waarmee die gelowiges na die hemelse koninkryk voortsnel. As ons slegs deur die aarde moet gaan, moet ons aardse goed ongetwyfeld so gebruik dat hulle ons in ons vaart help eerder as vertraag. Vgl 1 Kor 7:31ev.



[Aus en omgewing, bekend vir sy veldskool en die wildeperde van die Namib]




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.