BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 24 Mei 2023

JESUS SELF BID VIR JOU! (1)

- Jesus bid VIR ons, die Heilige Gees werk IN ons! PINKSTER 2023

Ons kan so maklik moedeloos word in ons Christenskap – dis nou diegene wat hulle geloof ernstig opneem en waarlik 'n pad met Hom wil stap. Ek voel  dikwels– "ek kom nie by alles uit nie, ek kry dit nie reg om Jesus na te volg in die praktyk nie, ek val so maklik, ek bid nie genoeg nie...en 'n duisend ander tekortkominge!" Ek wil jou dus bemoedig met ons Pinksterreeks se tema: 

Christen skep moed, want Jesus bid VIR jou en die Heilige Gees werk IN jou!

Ja, ek het goeie nuus vir jou – Jesus bid vir jou!  Kom ons kyk na twee Skrifgedeeltes om dit net weer te onthou.


Dis so belangrik en heerlik – Jesus se verlossingswerk vir en namens ons het nie opgehou by die kruis en opstanding nie! Juis omdat Hy leef, gaan sy verlossingswerk voort! Nou terwyl jy hier lees...

Dit word so pragtig bevestig deur Hebreërs 7:25.


Kind van God jy voel dalk swak, jy het dalk die Here teleurgestel, jy is dalk alleen – weet net dit – Jesus bid vir jou, Jesus pleit vir jou by die Vader, Hy tree vir jou in!  Hy bid ook daardie tye vir jou wanneer jy nie na bid voel nie, nie krag het daarvoor nie...

Juis wanneer jy so swak, sondig of depressief voel!

Ons gaan bietjie na die heerlikheid van hierdie waarheid kyk vanuit Johannes 17 . Ons vind hier die sg. Hoëpriesterlike gebed van Jesus. Dis die passievolle gebed wat Jesus kort voor sy kruisiging vir sy dissipels gebid het. Maar baie belangrik – Jesus bid ook hierdie gebed vir ONS! Ons kan hiervan seker wees, want hoor wat bid Jesus (vers 20)



Gebed is ‘n kragtige saak. Ons weet dit beteken dat ons met die Almagtige God praat en dat Hy ons hoor. Maar, wees eerlik, gebed is ook iets moeiliks vir ons – ons weet nie waarvoor om te bid nie, nog erger ons gebede is so dikwels net ‘n refleksie van ons eie gierigheid of selfsug – "Here, gee asb dit, gee asseblief dat…" Hier in Johannes 17 het ons die voorbeeld van ‘n volmaakte gebed. Jesus is mos volmaak en sonder sonde. Sy gebede is 100% in lyn met die wil van die Vader!

Jesus se gebed  help ons om ook te verstaan wat ware gebed is, maar dit gaan oor soveel meer.  Hier hoor ons wat Jesus se wil en begeerte vir ons is. Hier hoor ons wat God se doelwitte (goals) vir sy kinders is.  Kortom – dit waarvoor Jesus hier bid vir ons – is die dinge wat regtig saakmaak en belangrik is vir elke kind van God! Anders gesê - uit hierdie gebed kan ons ook aflei waaroor realistiese Christenskap gaan en daarom die regte verwagtings daarooromtrent hê. Baie mense het verkeerde redes en verwagtings as hulle besluit om Jesus te aanvaar – hulle sou kon dink dit gaan meer geld, beter gesondheid en groter gewildheid beteken. Nee, ons gaan bietjie kyk na die dinge waarvoor Jesus bid en dan sal jy verstaan dat meer geld en beter gesondheid nie juis op Jesus se agenda vir ons is nie. 

Vir watter dinge bid Jesus? (net kortliks, ons gaan vorentoe na die detail kyk...) – vir bewaring van die Bose, vir heiligheid, vir eenheid tussen sy volgelinge, vir die belewenis van God se liefde en blydskap en vir ons ewige vreugde en vervulling wanneer ons Jesus in sy volle heerlikheid sal aanskou! (Dis natuurlik soos ons sal sien ineengeweef en verbind aan mekaar.)

Waarom bid Jesus vir sy dissipels (en dan nou ook vir ons)? Wat maak ons so spesiaal en besonders? Want onthou – Jesus self meld dit baie duidelik dat Hy hier net vir sy dissipels bid en nie vir die wêreld nie. (Vers 9)



Jesus noem self twee redes. Ons kan dit aflei uit vers 6. (ons het dit nou ook reeds in vers 9 gesien)


Die Vader het hierdie dissipels ( en ons ) aan Hom gegee. Dis een van die heerlike misteries wat dei Skrif leer en ook spesifiek in die Johannes evangelie beklemtoon word. Die Vader het ons aan Jesus gegee. Dit word bevestig in vers 2,9,11,24.  Ons kry hierdie waarheid ook reeds in die bekende 6:37.


 Ons is die spesiale voorwerpe van Jesus se liefde en voorbidding, nie omdat ons so goed is nie, maar omdat die Vader ons eerste aan Jesus geskenk het. Voor die grondlegging van die wêreld. God het ons uitgekies om aan sy Seun te gee sodat Hy ons kan verlos.


Inderdaad soos die bekende  Martyn Lloyd-Jones hieroor gesê het “Saved in eternity” Ons verlossing is nie ‘n mogge troffe onseker saak nie, dis verankerd in God se ewige besluit...!

Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak – luister weer na vers 6. Hierdie dissipels het ‘n keuse gemaak om die woord van die Vader te gehoorsaam. Dit gaan oor die aanvaarding van die evangelie van Jesus. Hulle het Jesus aanvaar en hulleself aan Hom onderwerp. Terwyl ander Jesus gespot en gehaat het, het hierdie dissipels aanvaar dat Jesus die Seun van God is en Hom begin volg (al het hulle op hierdie stadium natuurlik nog nie als omtrent Jesus verstaan nie)



Hierdie sien ons weer die klassieke balans in die Bybel – twee waarhede – Goddelike soewereine verkiesing en menslike verantwoordelikheid. Die Vader gee hulle aan Jesus, maar hulle aanvaar die woord in gehoorsaamheid. 


Hierdie twee waarhede is volkome nodig en volkome in balans soos die twee wiele van ‘n donkiekar. God se genade kom eerste, maar  dis ons plig en verantwoordelikheid om te antwoord en te gehoorsaam! Het jy al begin gehoorsaam?  Weet dan die Vader het jou aan Jesus gegee en Jesus is nou besig om vir jou te bid! Daarom kan jy jou kop op tel en moed skep!

Kyk en luister by JESUS BID VIR JOU!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.