BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 21 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (14)

- die bruilofsmaal van die Lam.

Die Bybel maak dikwels gebruik van die huweliks en bruilofmetafoor om iets van die heerlikheid van die verhouding tussen God en sy verlosde mense te beskryf.
Die huwelik word alreeds in die Ou Testament  gebruik om die verbintenis tussen God en sy volk te beskryf. Kyk na Esegiël 16:8! (Aangrypend : ’n weggooikind word uiteindelik ’n koningin bruid!) Sien ook Hosea 2:18,19! In die Nuwe Testament  word dit nog duideliker gestel as Paulus die verhouding tussen man en vrou direk van toepassing maak op die verhouding tussen Jesus en sy kerk. (Ef 5:31,32)

Jesus self gebruik ook die feesmaal (al is dit nie eksplisiet ’n bruilofsmaal nie) as ’n tema om die feesviering in die Koninkryk aan te dui. (Matt 9:14, 15; 22:1-14, 25:1-13) Hier lê die klem op die gaste, wat uitgenooi en begenadig is om te mag deelneem.
Die beeld van die maaltyd en die huwelik word dus  gevarieerd in die Skrif gebruik en in elke situasie is daar ’n verskillende klem. Dis wel duidelik dat God se mense (die kerk van Jesus ) beide bruid en gaste aan die bruilofsmaal is!* Een beeld is nie genoeg en voldoende om die heerlikheid te beskryf waarin God se kinders gaan deel nie! Die bruid self is ook nie ’n enkelvoudige beeld nie! 

Hier in Openbaring  21:9,10 kry ons ‘n verrassing. Johannes hoor: “Ek wys jou die bruid...” en dan sien hy ’n stad!

Die nuwe Jerusalem is hier duidelik nie ’n letterlike stad nie, maar ’n personifikasie van die kerk, die bruid van Jesus, die Lam. (Hier sien ons vir die soveelste keer in Openbaring hoe Johannes drastiese gedagtespronge maak om ‘n boodskap deur simbole oor te dra. Hy verf as’t ware sulke lang hale met sy kwas om die heerlike boodskap met sy skildery uit te beeld. Hierdie boodskap wat so onbeskryflik groot en wonderbaarlik is dat gewone taal dit moeilik kan oordra.) 

Die nuwe Jerusalem, die ewige stad van God  is nie ’n stad van bakstene en geboue nie, maar wel begenadigde mense! 

God woon by sy mense! Vgl Openbaring 21:3.  Dis belangrik om raak te sien : Die bruid, Jerusalem is in skrille kontras met die prostituut, Babilon! Twee simboliese stede wat reëlreguit teenoor mekaar en vir radikaal opponerende waardes staan. Babilon versinnebeeld ‘n onrein HOER en Jerusalem ‘n heilige BRUID! Babilon is die simbool van verset en verleiding, Jerusalem, die verlosde vrou van die Lam!
Vergelyk die volgende gedeeltes in Openbaring met mekaar: 18:5 en 21:2 (sonde teenoor heiligheid); 17:1 en 21:9 (sedelose vrou teenoor bruid van die Lam);  17:4 en 21:27 (sedeloos teenoor niks onreins); 18:23 en  21:23,25 (geen lig teenoor God wat die Lig is in Jerusalem); 17:6 en 21:4 (Stad van die dood teenoor geen dood) ens.

Nogmaals 12

In die beskrywing van die stad kry ons telkens  weer die simboliese getal 12 (en veelvoude daarvan) wat ons reeds by die 144000 as simbolies die volle getal van die kerk teengekom het! Lees Openbaring 21:12-21 (12 poorte, 12 engele, 12 fondamente, 12 name, 12 000 km, 144m ens.)  Dit sê so duidelik : die bruid van die Lam is volledig, nie een uitverkorene sal kort nie! 

Kubus

Opvallend, die nuwe Jerusalem is ’n kubus! Vers 16!  (Weereens is hier nie sprake van letterlike afmetings van ’n letterlike stad nie! ‘n Stad met sulkie fisiese proporsies, sou maar ‘n ongemaklike plek gewees het) Waarom dan die kubusvorm?  Dit gaan oor die volmaakte teenwoordigheid van God soos in die kubusvormige binneste heiligdom - vgl. die heiligdom van Salomo se tempel in 1 Konings 6:20! Ook kubusvormig!**  God is volmaak alomteenwoordig by sy mense! Daar is niks meer wat skeiding en vrees kan veroorsaak nie. Deur Jesus se bloed (sy genoegsame offer) is ons nou in sy binneste heiligdom! Die finale heerlike gevolg van die voorhangsel wat geskeur het!

Edelstene en goud

Die edelstene se agtergrond kom  waarskynlik uit Eksodus se voorskrifte met betrekking tot die Hoëpriester se klere - (8) Edelstene was deel van die borssak van die priester, wat simbool was van die hele Israel wat deur die hoëpriester verteenwoordig is. (Moenie te detail vra vrae en in tegniese besonderhede vasval nie - sien die groot prentjie raak!)
Pêrels was in die antieke wêreld die kosbaarste juweel! God ag sy volk baie kosbaar! Die strate  van goud weerkaats God se heerlikheid! Ja, die heerlikheid van God sal sigbaar wees in Sy verlosdes! (Dis iets wat nou reeds merkbaar is in die heiliges op aarde ten spyte van soveel gebrokenheid!)

Maar geen tempel nie!

Verder vind ons hier ‘n heerlike lyn van Eden via die tempel tot by Jesus die ware tempel van God tot by die Voleinding!!  (Vers 22) Die tempel (eers die tabernakel) was altyd die fokusput van God se plek, waar Hy besonder teenwoordig is en waar sy heerlikheid beleef word. Die funksie van die aardse tempel in Palestina is vir altyd verby, want ons sien en beleef die heerlikheid van God nou in Jesus. (Johannes 1:14 - letterlik - Jesus het by ons "getabernakel, tent opgeslaan") Ons deel in Jesus en vorm so saam met Hom die ware tempel, die sentrum van die  stad die woonplek van God.  ‘n Fisieke tempel is nou nie meer nodig nie! Gereinig deur Jesus se offer gaan ons by God wees en sy volle heerlikheid vir ewig beleef! Voor die sondeval het Adam en Eva God se teenwoordigheid in Eden beleef, dis nou weer herstel, maar dis baie beter en blywend!

Openbaring gebruik komplekse beelde vanuit verskillende hoeke om vir ons die onbeskryflike heerlikhede (bo ons verstand en taalvermoë) wat wag vir God se kinders te beskryf. Die bruid as die nuwe Jerusalem beteken dat die volle getal van God se kinders ’n ewige volmaakte saamwees met God en die Lam sal beleef!

Kan daar iets heerliker wees om na uit te sien?


* Goldsworthy
** Du Rand

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.