BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 04 Mei 2012

"U"-DRAAI IN DIE BINNEKAMER

- rewolusie teen die “Eie Ek”

Die Onse Vader is oorbekend, maar ek wil jou uitdaag om weer ‘n slag eerlik hierna te kyk...en meer nog, dit opreg te bid voor die aangesig van God! Dis ‘n stuk Goddelike dinamiet wat alle mensgerigte godsdiens en selfsug aan flarde skiet! Wie dit opreg bid beleef ‘n rewolusie in sy hart, want dit onttroon die “Eie Ek” So maak ek  ‘n opregte oorgawe aan God my Verlosser. Hierdie is nie maar ‘n mooi rympie wat ons denkloos kan voortbabbel nie, dis ‘n lewensveranderde gebed. Dit trek ‘n duidelike streep tussen selfgerigte menslike godsdiens en ware Godgesentreerde aanbidding! Wie dus die Onse Vader opreg kan bid is besig met ware aanbidding. Wie wegskram van die Onse Vader se implikasies beweeg in die rigting van vals aanbidding. Ons gaan nou net stilstaan by die eerste drie bedes (Matteus 6:9,10) en spesifiek by die betekenis en die implikasies van die kort voornaamwoord “U”. 

Dis die fokus: Nie ek nie, maar U! 

Nie my Naam nie, maar U Naam! Nie my koninkryk nie, maar U koninkryk!  Nie meer my wil nie, maar U wil!  Dit kom neer op ‘n “U draai” - weg van mensgesentreerdheid na Godgesentreerdheid! Kom ons kyk na ‘n paar praktiese implikasies:

Die erkenning van die voorrang van Sy Naam, Sy koninkryk, Sy wil. God se Naam, koninkryk en wil kom eerste. Dis die belangrikste! Sien ons die prioritet van God se Naam, m.a.w. sy reputasie  en eer raak? Esegiël 36:20-23 wys hoe belangrik dit vir God is. (lees) Besef ons dat die koms van God se koninkryk belangriker is as enige ander saak, ambisie of projek? God se koninkryk is die wenperd!   Wie sy hoop op iets anders stel gaan verloor. Net God se koninkryk het werklike waarde, alle menslike aspirasies en prestasies gaan verkrummel. (Dink maar aan die beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het) Tel God se koninkryk vir jou meer as jou sportprestasies, rykdom en persoonlike belange? Glo ons dat God se wil die hoogste en volmaakste uitdrukking is van wat goed is?  Net God se wil is perfek. God se wil  en geen mens se opinie nie, ook nie die meerderheid se opinie nie, is die enigste norm in die heelal. Wat die res van die mensdom en sy modes sê dra geen gewig nie! Ware heiligheid word gemeet aan onderwerping aan God se wil. Hiervan is Jesus se gebed in Getsemane die uiterste voorbeeld : “...nogtans nie my wil nie, maar U wil.”

Die prysgawe en afstand doen van my naam, my koninkrykie en my sondige wil. Dit gaan in die Onse Vader oor ‘n  keuse teen myself, en vir God. Vir God se eer, vir God se koninkryk, vir God se wil. Dit sal elke ander  keuse beïnvloed wat ek maak. “Hoe raak dit hierdie ding wat ek wil doen, hierdie vriendskap, hierdie planne... ?” Wie eerlik die Onse Vader bid, ondergaan dus ‘n pynlike bekering, ‘n doodmaak van die self, maar ek beleef juis ook ‘n wonderlike bevryding - ek hoef nie meer angstig te wees oor my naam en reputasie en my eer nie, ek hoef nie meer met hand en tand te veg vir my ou klein koninkrykie (dit kan my gemeente, my plaas, my besigheid, my ego...wees) en sy belange nie, my wil hoef nie te gebeur nie, want God se wil is beter... ja, beter ook vir my, want Hy is ‘n liefdevolle Vader! ‘n Heerlike stuk gemoedsrus, ‘n vind van vrede in die volmaaktheid van God!

Die beskikbaarstelling van myself. My gebede is nie eerlik as ek dit nie self my vir die vervulling daarvan bewyer  nie. Ek moet myself beskikbaar stel vir die heiliging van God se Naam. Hoe? Deur so te leef dat almal sal sien dat God die belangrikste persoon is in my lewe. Deur so op te tree dat mense sal dink en sê : “Wat ‘n wonderlike God dien hy.” My keuses - selfs in klein sake soos kleredrag en ontspanning - moet wys dat God se waardes swaarder vir my weeg as menslike standaarde en opinies. Ek moet myself beskikbaar stel vir die koms van sy koninkryk. Ek onderwerp myself aan sy koningskap, maar moet ook prakties daarvoor werk. Deur getuienis met woorde en dade. Ek moet myself beskikbaar stel vir die bevordering van sy wil. Ek moet vra dat Hy my so deur sy Heilige Gees sal regeer dat ek dit wat God wil hê sal doen en sal liefhê. Dit beteken praktiese gehoorsaamheid aan sy Woord, al bots dit met my wil en gevoelens. “Here, ek voel nie meer lief vir hierdie vrou van my nie, maar ek sal haar liefhê, want dis U opdrag en wil! Here, ek voel nie lus om daardie ou wat my so sleg behandel het te vergewe nie, maar ek sal dit doen, want dit is wat U wil van my vra...”

Dis seker al teen hierdie tyd vir elkeen van ons duidelik. Die sondige mens kan en wil nie uit sy eie uit die Onse Vader bid nie. Ons harte is van nature net ingestel op ons eie belang, eie eer, eie gerief en op ‘n mensgemaakte plesiergerigte godsdiens. (Soos wat Israel rondom die Goue Kalf beoefen het) Hierdie gebed wys ons dus op die noodsaak van die wedergeboorte! Net as ek ‘n nuwe hart met ‘n nuwe visie ontvang het, kan ek my vereenselwig met die Onse Vader en dit opreg bid.

Hierdie eerste drie bedes het ten slotte nog die volgende praktiese nut :

‘n Toets vir die toestand van ons harte. Dis ‘n skeidsregter wat oordeel oor my diepste motiewe terwyl ek met God se dinge besig is. Dit wys uit of ek my al werklik  bekeer het van die afgode (veral die selfgod) tot die lewende God! Dit ontbloot die gruwelikste selfsug wat insluip in ons vroomste woorde en dade!

‘n Teenmiddel teen sondige hoogmoed wat hardnekkig en voortdurend in ons harte wortel skiet.. Elke keer as ek hierdie gebed opreg bid, is dit as’t ware ‘n nuwe bekering, om my opnuut in nederigheid  te onderwerp aan God en word hierdie onkruid uitgetrek.

‘n Troos dat God die dinge waarvoor Hy wil hê dat ons bid definitief sal laatgebeur op die bestemde tyd. God sal hierdie gebed nie onbeantwoord laat nie. Al lyk die wêreld nou hoe goddeloos en chaoties, ons kan rustig weet : God se Naam sal geheilig word. Ja, elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is! God se Koningsheerskappy sal finaal heerlik sigbaar word en elke vyand sal die onderspit delf  en in die poel van vuur gewerp word. God se wil sal geskied. Elkeen van God se raadsplanne sal tot in die fynste besonderhede tot op die letter toe uitgevoer word en niemand sal dit kan dwarsboom nie.

Calvyn sluit sy bespreking van die eerste drie bedes van die Onse Vader af met ‘n klomp goue waarhede, wat mens tot diep nadenke stem:

"Wanneer ons dit bid, moet ons God se heerlikheid alleen voor oë hou, onsself nie in aanmerking neem of enige voordeel vir onsself in gedagte hê nie. Hoewel daaruit groot voordeel na ons toe kom, moet ons dit nogtans nie hier vra nie. Hoewel al hierdie dinge egter nietemin op die bestemde tyd moet gebeur, ten spyte van ons gedagtes, ons wense en ons gebede, moet ons nogtans daarvoor bid en vra. En dit is vir ons ook van groot belang om so te getuig en te bely dat ons diensknegte en kinders van God is en ons sover dit in ons vermoë is, vir hierdie eer te beywer wat ons aan Hom as ons Here en Vader verskuldig is, en ons waarlik ten volle daaraan oor te gee. Mense wat derhalwe nie met so ‘n gesindheid en met so ‘n ywer ter bevordering van God se heerlikheid bid dat God se Naam geheilig mag word, dat sy koninkryk mag kom en dat sy wil mag geskied nie, moet nie as sy kinders en diensknegte beskou word nie." (Inst.3.20.43)

Kom ons bid die Onse Vader in nederige onderwerping, maar ook met ‘n helder sekerheid en blydskap!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.