BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 23 Junie 2017

“Ons is die beste...”

- Ekskuus wat het van nederigheid geword?

Grootpraat, spog en “brag” het algemene praktyk geword. Dis ‘n sonde wat so stil-stil sosiaal aanvaarbaar geword het. Dis sommer deesdae ‘n inherente deel van die skolekultuur en die Facebook styl (hoe meer “likes” ek kan inoes hoe beter voel ek) en die selfbeeld era en die “celebrity” agenda. Dis in en cool om met jouself te spog en jouself te adverteer! Prestasies of geld. Spiere, gesig of lyf...

Wel God in sy Woord dink heel anders oor die saak. Spreuke 27:2 stel dit baie duidelik. “Laat dit aan ‘n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit ‘n ander se mond kom, nie uit joune nie.” 

Grootpraat is by alle mense onvanpas, maar veral vir ‘n kind van God. Hoekom?

Grootpraat loën die feit dat ons net ontvangers is. Ontvangers van genade, gawes en persente. Oor persente kan mens bly wees, maar nie grootpraat en “afshow” nie, want jy het dit nie verdien nie en nie daarvoor gewerk nie. Dink weer hieroor : “Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Korintiërs 4:7)

Grootpraat is ‘n simptoom van hoogmoed en dit maak dat God ons vyand is. “"God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade." (Jakobus 4:6)

Grootpraat misken ons afhanklikheid van God en is daarom sonde. Die grootprater insinueer dat hyself in beheer is en self sy talente en toekoms beheer. Dit word so treffend gestel in Jakobus 4:13-17. 

“Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak."
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen."
Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.”

GROOTPRAAT IS NIE ‘N DEUG NIE, MAAR ‘N SKANDE EN SONDE!

Grootpraat is teen die liefde. Dis niks anders as ‘n vorm van liefdeloosheid nie. 1 Kor. 13:4 “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.” Jy maak ander mense seer met grootpraat. Grootpraat is maar eintlik ‘n subtiele manier om op ander te trap, om jouself bietjie bokant ander te verhef, of om ‘n ander se swakhede en minderwaardigheid te onderstreep.

Grootpraat gaan teen die essensie van die evangelie in. Ons as God se kinders het juis niks om oor te roem nie, want ons is uit genade alleen gered. Jesus het ons redding aan die kruis verdien en verwerf. Ons pogings, prestasie, verdienste, agtergrond, voorkoms of afkoms speel geen rol nie. Daarom roem Paulus alleenlik op die kruis! “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Galasiërs 6:14) Kan jy jou indink dat daar in die hemel enige grootpratery in enige vorm sal wees? Nee. Dit pas daarom reeds op aarde nie by God se kinders nie. In die hemel sal daar net dankbaarheid wees vir die genade. Dankbaarheid vir vergifnis. Dankbaarheid vir die kruisdood. Alle lof en eer en roem sal aan die Lam gebring word wat ons met sy bloed gekoop het.

Is alle komplimente en pryse en erkenning dan verkeerd? Nee, ons teks is mos duidelik. (Spreuke 27:2) Nee, laat ander mense jou prys en nie jyself nie! As jy die beste is, is dit nie verkeerd nie, maar laat ander mense dit dan raaksien en sê, nie jyself nie! As ander jou prys of gelukwens is dit ook nie verkeerd om hulle daarvoor te bedank nie. Maar nog belangriker : Laat dit veral aan God oor om jou te beoordeel en te prys, want mense se komplimente is dikwels ook vals... “Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.” (1 Kor. 4:3-5) Pasop maar gerus ook vir vleiery. Vleiery, heuning om die mond smeer is ‘n boetie van grootpraat. Leef voor die aangesig van God. Laat God jou eer, laat God jou beloon en prys soos en wanneer Hy besluit. (2 Kor. 10:18.) “Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word.” Moenie komplimente najaag nie, moenie vir die skare speel nie. Laat ons leef voor die aangesig van God. Hy sal pryse en pluimpies uitdeel soos Hy wil.

Pasop vir subtiele grootpraat. Dis nou wanneer jy al jou hoedanighede en prestasies uitstal en ewe vroom byvoeg “Ag, ek wil net vir die Here dankie sê...!” Of mens hoor : "Jy weet, die Here seën my nou so, ek het onlangs my vyfde plaas gekoop...” Party mense se getuienisse van redding word op so ‘n manier aangebied dat dit eintlik neerkom op grootpraat eerder as ‘n getuienis tot God se eer! “Jong, ek het elke week ‘n ander meisie gehad, ek kon ‘n motor in 17 sekondes steel, ek was die man onder die manne... voordat die Here my siel gered het!” Op wie is die fokus nou eintlik?

Grootpraat skreeu teen genade. Grootpraat is ‘n miskenning van God. Grootpraat en selfverheffing roep die oordele van God op. Grootpraat weerspreek die lewe en boodskap van Jesus! Jesus het nooit gesê, “Salig is die wat spog!” nie, maar : “Salig is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”

NEDERIGE DANKBAARHEID PAS BY ELKE KIND VAN GOD!

Kan jy vandag eerlik sê: “Ek is ‘n sondaar, maar God was my deur Jesus genadig, uit genade het Hy my vergeef, uit genade het Hy my sy kind gemaak, uit genade sal ek volhard en die hemelse wenstreep behaal, maar ook uit genade skenk Hy my elke dag krag, gesondheid en voedsel soos Hy wil!"?
...Dan sal jy weet daar is geen plek vir grootpraat in jou lewe nie, maar net nederige dankbaarheid...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.