BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 12 November 2015

‘N BAIE “LEKKER” TEKS

- maak beslis erns hiermee, dis baie belangriker as wat jy dalk besef...


Ons lees in 1 Tessalonisense 5:21 - “Beproef alle dinge...” (OAV) “toets dit alles...” (NAV)

Toets alle dinge! A!, hier is nou ‘n lekker teks vir ‘n sondaar! Hier is nou ‘n Bybelvers wat my pas en vir my vryheid gee om te doen net wat ek wil. Nou mag ek alles toets : ek kan nou alle vorme van losbandigheid uittoets, ek kan maar ongetroud saambly – ek is mos net besig om te toets of dit werk, ek kan maar alles uitprobeer van dagga tot dobbel! Als van leuens tot loterykaartjies! Hier gee die Bybel my mos die reg om dit te doen... Blykbaar is daar baie ouens wat in ons tyd so redeneer... en tog is hulle TRAGIES VERKEERD!

Hierdie teks (of dan nou net ‘n gedeelte van ‘n teks) “toets alle dinge” (OAV – “beproef alle dinge”) is baie bekend en baie gewild. Dis egter ‘n tipiese voorbeeld van hoe die duiwel die Bybel misbruik. Dis natuurlik nie ‘n nuwe taktiek van Satan nie. Hy het dit al met Jesus self gedoen. In Matteus 4 lees ons hoe Satan, Jesus in die woestyn versoek het en Bybeltekste uit konteks aanhaal om Hom te probeer mislei... Ja, die Bybel kan ‘n baie gevaarlike boek wees in die verkeerde hande, of as ons dit lees met ‘n verkeerde of moedswillige gesindheid!

Kom ons kyk na hierdie teksgedeelte self. Wat beteken dit nie en wat beteken dit wel? Kom ons lees dit binne konteks:

“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.
Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.” (1Tessalonsense 5:19-22)

Dit beteken duidelik nie dat ek maar allerhande sondes kan uitprobeer nie. As mens na die wyer konteks van hierdie brief kyk is dit onmoontlik dat Paulus hoegenaamd so iets hier kan bedoel. Juis in hierdie brief waarsku hy baie ernstig teen sonde en veral seksuele sonde. (1 Tess 4 :1-8)* Die onmiddellike konteks maak dit eweneens duidelik dat hier geen wilde vrypas te vinde is om alles wat voorkom uit te toets nie. In dieselfde asem word ons duidelik gewaarsku – “bly weg van alles wat sleg is.”(22) Nêrens in die Bybel word ons ooit aangemoedig om met sonde te eksperimenteer nie! Inteendeel! Ons moenie eers praat oor die bose dinge wat mense in die donker doen nie...(vgl. Ef 5:10-12)

Maar kom ons vra positief wat beteken hierdie gedeelte wel? Die antwoord is nie so moeilik nie. Kyk net na die KONTEKS. (terloops dis ‘n goue reël vir die verstaan van die Bybel – kyk na die onmiddellike konteks en ook na die groter geheel van die betrokke brief of geskrif en ook na hoe dit in die geheelboodskap van die Bybel inpas)

PROFESIE

Die konteks is dat ons moet pasop om nie die werking van die Heilige Gees teen te staan of te verwerp nie. Ons moet nie die gawes wat van die Gees afkom verwerp of geringskat nie. Die een gawe wat Paulus hier uitsonder is die gawe van profesie. Nou oor profesie is daar baie verskillende sienings. Die belangrikste is net om raak te sien dat die doel van profesie is om mense geestelik op te bou, te bemoedig, te waarsku en te vertroos. Profesie het in hoofsaak nie gegaan oor die toekoms nie, maar om ander gelowiges te versorg deur die toepassing van die Woord. Iemand met ‘n profetiese gawe breek vir jou die Woord oop in jou situasie. (Handelinge 15:32; 1 Korintiërs 14:3) Dit sluit egter nie uit dat daar soms ‘n toekoms element in mag wees nie. Belangrik net - die hele klem in die NT is nie op persoonlike voorspellings nie, maar oor hoe ons as Christene hier en nou moet heilig leef tot God se eer! Profesie gaan dus oor die toepassing van die Bybel se boodskap in ons lewens.

Paulus sê dus : Maak erns met God se Woord in jou lewe! Luister na die prediking. Luister na mense wat jou bemoedig en vermaan uit die Woord. Moet dit nie verag of geringskat nie!** 

TOETS DIT AAN DIE WOORD VAN GOD – ONS ENIGSTE VASTE NORM!

Maar baie belangrik : Toets dit alles! Dit wat jy hoor, moet jy toets. Jy moet dit toets aan God se Woord. Toets dit ook saam met medegelowiges wie se lewens wys dat hulle getrou en volhardend tot eer van God leef. As die preek of vermaning wat jy gehoor het, in lyn met die Bybel is, is dit jou verantwoordelikheid om erns daarmee te maak. As die preek wat jy hoor teen die Bybelse boodskap in geheel indruis, dan moet jy dit verwerp. (Sien LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

In ons dag is hierdie oproep so aktueel en uiters belangrik. Ons word toegegooi met opinies, preke en geskrifte, valse teologie (Sinodebesluite?) en wolhaarstories, veral op die TV en Internet. Allerhande wilde boodskappe en bewerings word per e-pos rondgeslinger. Geestelike onderskeidingsvermoë is uiters noodsaaklik. Moenie net enige ou glo wat ‘n goeie spreker is en ‘n klomp Bybeltekste inryg en aanhaal nie. (Losstaande Bybeltekste kan baie gevaarlik en misleidend wees– ons het dit mos so pas gesien!) 

Toets eers wat jy hoor en lees. Moenie weghardloop met elke nuwe idee en lering nie. 

Toets dit deur erns te maak met die geheelkonteks van die Bybelse boodskap. Meer as ooit is dit nodig om te besef dat die Woord van God die enigste vaste waarheid en norm is!

Toets dit saam met standvastige medegelowiges! 

Toets dit aan die boodskap en belydenis van die kerk van alle eeue! As iemand met 'n heel nuwe leerstelling of verstaan van die Bybel na vore kom, hoe oortuigend ook al kan jy maar weet daar is iewers 'n slang in die gras....

Dit alles onderstreep net die feit hoe belangrik dit is om saam as gemeente die Here te dien en nie elkeen op ons eie rond te ploeter nie!

Mag God aan ons insig en vastigheid gee in hierdie verwarrende tye! Hy sal dit doen - deur sy WOORD en die werk van die GEES!

*1 Tessalonisense 4:1-8

En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe.

Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het.

Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.

Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;

julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.

Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.

God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.

Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

**Moontlik het sommige mense in die gemeente die Woorduitleg begin verag, omdat daar ‘n ongebalanseerde en oorentoesiastiese siening oor die wederkoms in hierdie gemeente was.

                                     ???????????????



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.