BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.