BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 19 September 2020

VREEMDE TRANSAKSIE

 - die "gewone stukkie grond" met die buitengewone waarde

‘n Man betaal ‘n besondere hoë prys vir ‘n stukkie grond. Buitensporig hoog, ver bo markwaarde, soveel so dat hy al sy bates eers moes verkoop om die grond te kon betaal. Almal dink hy is mal en het ‘n reuse fout begaan.  Mense skinder en spot… Totdat hy met ‘n enorme skat te voorskyn kom; die Krugermiljoene was al die tyd op die stukkie grond begrawe en dis nou miljarde Rand werd! Hierdie man het geweet wat hy doen, hy het doelbewus, met ‘n plan als verkoop om uiteindelik ‘n onvergelykbare groot skat in die hande te kry… 


Dis hierdie storie wat Jesus vertel om ‘n baie belangrike waarheid oor die koninkryk van God oor te dra. Ons lees dit in Matteus 13 vers 44. 



"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land." (NAV)

"Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand." (OAV)

Jesus vergelyk die koninkryk van God met ‘n kosbare skat. Dis nie vreemd nie. In ‘n tyd waarin die groot meerderheid mense baie arm was en maar van die hand na die mond geleef het was ‘n skat iets besonders, ‘n baie kosbare meevallertjie wat vir jou ‘n nuwe toekoms geopen het. As die gelykenis bloot gesê het dat die koninkryk soos ‘n skat was sou dit dus nie juis iets besonders gesê het nie. 

Die besondere en opvallende element is dat die skat verborge  (weggesteek) was in ‘n saailand! 

Sommer ‘n gewone stukkie grond, niks besonders nie. Dis nie die skat wat gekoop word nie, maar die saailand. Hierdie gewone stukkie grond is toe al die tyd baie meer werd as wat enigeen sou kon besef!

Die koninkryk word met ‘n skat vergelyk. Maar wat sou die betekenis van die saailand wees? 

Die kosbare koninkryk van God is te vinde in die oënskynlik onbelangrike en vernederde Jesus! 

Hierdie gelykenis sinspeel op Jesus. Jesus lyk so onbelangrik. Hy is ‘n inwoner van Nasaret, een van die mins belangrike dorpies in die plattelandse streek van Galilea. In die Johannes evangelie lees ons hoe Natanael verbaas uitroep : “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” 

Merkwaardig! God laat sy koninkryk kom nie deur ‘n groot filosoof soos Plato nie, nie deur ‘n beroemde krygsman soos Alexander die Grote nie, nie deur ‘n magtige skynende engelwese nie, nie deur 'n invloedryke besigheidsman nie, maar deur ‘n timmerman van Nasaret. Hy skryf nie boeke nie, Hy maak nie ‘n leër bymekaar nie, Hy besit feitlik niks (hoor die vals profete van die CRC dit?). Nederig en onbelangrik leer Hy die kindertjies en arm mense op straat en dan sterf hy die skandedood van ‘n misdadiger! Hy lyk so waardeloos, alledaags en onbelangrik! MAAR in Hom en Hom alleen is die kosbare skat van die koninkryk te vind!

Dis eers as mens  ontdek het, in hierdie vernederde Jesus is die koninkryk te vind dat ek tot die oortuiging kom dat sy waarde alles oortref! Dan raak ek bereid en gewillig om alles prys te gee om Hom te ken en te volg! In hierdie “kaal stukkie akker” lê ons ewige toekoms. Dis net geloof bewerk deur die Heilige Gees wat dit kan raaksien.  Dis net geloof wat die allesoortreffende waarde van Jesus besef. 

Dis geloof wat mens laat uitroep soos Paulus in Filippense 3:8-11.  “Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood."

KOM ONS RAAK PRAKTIES

1. Die wêreld sien geen waarde in Jesus nie.  "Ag, wat Hy kan Hy vir my doen? Dis tog malligheid om ‘n gekruisigde Jood te aanbid!  'n Bloedoffer? Dit klink middeleeus..." Ook baie kerkmense sien geen besondere waarde in Jesus nie – "Ag, jy weet dis nou maar ons kultuur om die kerk in stand te hou, bietjie aandag aan godsdiens te gee en af en toe na ‘n mooi boodskap te luister, maar ek sien geen rede om opgewonde oor Jesus Christus te raak nie! Nog minder rede om myself aan Hom oor te gee en Hom in alles te gehoorsaam." Die  voorspoedteologie/prosperity gospel aanhangers (CRC, Joel Osteen, Joyce Meyer...) sien ook geen waarde in die vernederde gekruisigde Jesus nie en daarom het hulle in hulle gedagtes (en valse reklame) ‘n eie mensgemaakte Jesus geskep wat gedurig geld en gesondheid uitdeel soos wat die mens nodig het. Wat van jou? Het jy al die waarde van die gekruisigde Jesus persoonlik besef? Kan jy saam stem met Paulus as hy in Galasiërs 6:14 sê : “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” Die kruis van Jesus is vir my so waardevol, niks anders is, geen ander opinies maak meer regtig vir my saak nie!

2. Wie die waarde van Jesus besef is bereid tot groot opoffering. Hierdie man het alles verkoop wat hy het om daardie stukkie grond te kan besit. Vra jouself, begeer ek Jesus bo alles? Wat hinder my nog om Hom te dien en te volg? Dalk my rykdom, my onvergewensgesindheid, my jaag na plesier? Dalk ongelowige vriende of sondige vriendskappe? 'n Buite egtelike verhouding?

3. Ons moenie die element van vreugde miskyk nie.  “en uit blydskap...” (OAV) Omdat hierdie man weet van die kosbare skat in die saailand is die aankoop van die land vir ‘n baie hoë prys, nie vir Hom ‘n saak van hartseer nie, maar vreugde. Jy is nie ‘n ongelukkige verloorder as jy besluit om Jesus te volg nie. Jy is ‘n ewige wenner, al beskou die mense rondom jou jou as ‘n dwaas!  Is jy bly oor Jesus? BLYDSKAP WYS DAT ONS REGTIG GLO!

Donderdag 03 September 2020

JOU GOD IS KONING!


- DIE GOEIE NUUS WAT VANDAG ‘N VERSKIL IN JOU LEWE KAN MAAK 


Dis ‘n depressiewe prentjie en jammerlike toestand. Dit gaan nie goed met God se stad Jerusalem, (ook genoem Sion) nie. Die eens pragtige stad en indrukwekkende tempel is verwoes. Puinhope, murasies, ruïnes en rommel is al wat jy sien. Dis ‘n neerslagtige toneel. (Dink aan Beiroet na die onlangse reuse ontploffing) Die inwoners is weggevoer in ballingskap na die verre Babel. Kan God weer als nuutmaak? Wil Hy dit weer nuutmaak of het hy sy volk vergeet? Dis waar die wonderlike profesieë van die profeet Jesaja inkom. 

Dit gaan oor God se heerlike beloftes. God gaan sy volk verlos en Jerusalem weer herstel. Ons het ‘n vorige keer gesien hoe Hy vir Kores die heidense koning gaan gebruik om dit te doen. Hier word die beloftes nou in ‘n vorm van ‘n loflied gegee. (Jesaja 52:7-9) Die kern kry ons in vers 7. “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God is Koning!" 

“Jou God is koning!” – dis ‘n kort stelling, maar met heerlike en verreikende implikasies. God het sy volk en stad nie vergeet nie! Hy bring uitkoms, verlossing en redding! Hy maak ‘n nuwe begin! Dis goeie nuus! Omdat Hy koning is, het Hy die mag en gesag om dit te doen. 

Jerusalem jy moet weet, “JOU God is koning!” Hy regeer, Hy is in beheer! Die geskiedenis bevestig, hierdie beloftes het waar geword. Die bannelinge het teruggekeer en Jerusalem sowel as die tempel is herbou!Hierdie boodskap gaan egter oor meer as net die einde van die ballingskap. Dit raak ons. In die Griekse vertaling (LXX) van hierdie gedeelte word ‘n vorm van die woord euangellion* gebruik en inderdaad koppel Paulus hierdie bring van die goeie nuus aan die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus. Die verlossingsboodskap. 

Luister na Romeine 10:14,15 “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring." 

Hierdie belofte en loflied in Jesaja het alles te doen met die evangelie van Jesus. 

Jesus se koms het eers regtig die einde van die ballingskap gebring. Omdat God die almagtige verlosser koning is wat getrou bly aan sy beloftes, het Hy Jesus gestuur, sy ware Kneg om te verlos en te herstel! Jesus bring ‘n einde aan die slawerny en verknegting van sonde. Hierdie versekering : “Jou God is koning!” is ‘n heerlike versekering aan elkeen van ons wat die evangelie van Jesus Christus waarlik glo. Dit het praktiese implikasies en heerlike konsekwensies as ek al die evangelie van Jesus geglo en aanvaar het. Kom ons kyk net na ‘n paar: 

  • Aanvaarding van die evangelie beteken ook dat ek God as Koning oor my lewe erken. Om Jesus te aanvaar as Verlosser beteken dus dat ek kies vir ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God en Sy Woord. Ek kan nie sê dat Jesus my Verlosser is en ek volhard onveranderd in my ou leefstyl nie. So dikwels hoor mens: “Ja, ek ken Jesus, maar ek en my meisie bly nog steeds ongetroud saam nie, Ja, ek ken Jesus , maar ek sal daardie ou wat my geld skuld nooit vergewe nie!” Jou God is koning – jy durf Hom nie ongehoorsaam wees nie! 

  • Aanvaarding van die evangelie sal my daartoe bring om raak te sien en te glo dat God koning is bo alle demone, magte en owerhede. Wat ‘n heerlike troos - dis nie bose magte, geheime organisasies of wêreldleiers wat in beheer van hierdie planeet is nie! Die whatsapp profete het dit verkeerd. Nee, JOU God is koning. Die lewende God, die Vader van ons Here Jesus! Dwarsdeur die Bybel is dit die duidelike boodskap. Nie die nasies en hulle konings nie, maar God is in beheer. Dink maar aan die wonderlike Psalm 2 waar vir ons vertel word hoe die Here lag vir die nasies en hulle leiers! God lag hulle uit!** Dink aan die boek Openbaring. Een van die hooftemas is dat God op die troon sit! (Byv. Openbaring hoofstuk 4) Met ander woorde, Hy is in volle beheer! Jou God is koning, jy durf nie meer in vrees en paniek lewe nie. Nee, wat by jou pas is dankbare geloofsvertroue! 

  • Aanvaarding van die evangelie moet my bring by lof en getuienis oor God se koningskap. Vra jouself : “Dra my voete ook hierdie heerlike boodskap, bring my lippe ook hierdie wonderlike getuienis?” Terloops, hierdie is ‘n baie belangrike saak. Paulus gebruik Jesaja 52:7 ook in Efesiërs 6:15 as deel van die wapenrusting van die geloof. “en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.” Om met oortuiging te staan vir die evangelie en dit te verkondig beskerm my teen die aanslae van die bose! 

Jy sien dalk vandag ook net rommel, wrakke en murasies rondom jou! ‘n Stukkende lewe vol chaos. ‘n Warboel van ellende! Jou huwelik en huisgesin lê dalk in stukke! Bekommernisse oor finansies, gesondheid en jou kinders se toekoms wil jou oorweldig. Die ergste – jou eie hart is vol sonde en boosheid. 

Hoor hierdie boodskap – Jou God is Koning! Jou omstandighede en sonde het nie die laaste sê nie! In sy almag en liefde het Hy vir jou uitkoms gebring deur Jesus Christus. Hy het ‘n nuwe begin kom maak. Hy het aan die kruis sonde, Satan, dood en hel oorwin! Kom buig voor Jesus en aanvaar die verlossing wat Hy bewerk het. Vertrou Hom alleen. Begin Hom loof vir sy wonderlike bevryding!



*εὐαγγελιζομένου 
**Psalm 2:4


Dinsdag 25 Augustus 2020

“Ek verstaan nie, Here!”


     God werk op misterieuse wyse.

Hoe moet ek dit verstaan? Daardie werksaanbod wat my so opgewonde gemaak het en toe deur die mat geval het? Daardie sieke vir wie ons so ernstig gebid het, wat toe skielik beter geword het maar net so onverwags toe oorlede is? Daardie eksamen waarvoor ek so hard geleer het, en toe doen ek baie swak, al het ek die Here mooi gevra om my te help? En hoekom kan goddelose regeerders maak soos hulle wil, ons land plunder en ons mense verarm, maar God keer hulle nie? So lyk dit altans... Baie onbeantwoorde vrae…

GOD WERK OP MISTERIEUSE WYSE! God werk op geheimsinnige en onverklaarbare maniere. Dis wat Jesaja 45:15 wil sê. U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder!”

Waaroor gaan dit hier? Israel was in ballingskap en God het toe besluit om ‘n heidense koning Kores te gebruik om sy volk te verlos en weer te laat terugkeer na hulle land. Hoor mooi! Ja, God maak van ‘n vreemde heidense koning wat Hom glad nie ken nie, sy eie kneg om sy planne te volvoer! Hoekom en hoe kan God so iets regkry? Wel, Hy is alleen waarlik God. Hy kan als doen wat Hy wil! Luister wat sê Hy vir die heidense koning Kores – Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. (Jesaja 45:5) 

God lei die geskiedenis van mense, families en nasies op sy geheime onverstaanbare wyse sodat sy wil volbring en sy Naam geëer word!  

God se mense sal uiteindelik gered word en nooit teleurgestel word nie. Maar nou is God se werkswyse vir ons  onverstaanbaar, verborge, ondeurgrondelik, onpeilbaar!

Dit bring ons by Paulus se lofprysing in Romeine 11:33-36.  Dit eggo dieselfde waarheid as Jesaja.



"O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen."

 

Die konteks is baie belangrik. Dit gaan in Romeine 9-11 oor die hartseer feit dat die volk Israel vir Jesus, die beloofde Messias verwerp het en dat dit gelyk het of God hulle daarom vergeet en verstoot het. Dit lyk asof God se beloftes, juis ook die beloftes wat in Jesaja gemaak is, op niks uitgeloop het nie. Paulus is natuurlik baie hartseer dat die meerderheid van sy eie volk Jesus verwerp het, maar hy kyk dieper na die saak. Deur dat Israel die evangelie verwerp het, het die heidense nasies juis die kans gekry om dit te hoor en te aanvaar! Agter die oënskynlike mislukking het God ‘n heerlike genade doel gehad. Paulus weet dat God Hom weer oor Israel sal ontferm en ook die uitverkorenes in die etniese Israel sal red.

 Hy gebruik die beeld van die olyfboom. God het die mak olyfboom , Israel afgekap en die lote van die wilde olyfboom (bekeerlinge uit die heiden nasies) ingeënt. Maar onthou sê Paulus : As God dit kon doen kan Hy weer die mak olyf se takke terug inent! God sal sy uiteindelike doel bereik en vir Hom ‘n volk versamel uit beide die heidene en die etniese Israel. As Paulus hieroor nadink, dan bars hy as’t ware uit in spontane lofprysing en aanbidding. Hy loof God wat totaal soewerein en in beheer is! (Soewerein beteken – God doen wát Hy wil, wánneer Hy wil, sóós Hy wil. God is van niemand afhanklik nie – en hoef dus vir niemand raad te vra nie – en Hy is aan niemand verantwoordbaar nie.) God sal sy wil volbring, maar vir ons as mense is dit ondeurgrondelik, onnaspeurlik. Dit gaan bo ons begrip en verstand! 

Ons dien ‘n soewereine, almagtige en misterieuse God!

 God werk dikwels op die heel teenoorgestelde manier as wat mense sou verwag.

Nêrens is dit duideliker as in die lewe en sterwe van Jesus self nie. God stuur sy Seun na hierdie aarde, nie as ‘n super engel,  dapper krygsman, magtige staatsman of slim filosoof wat baie boeke skryf nie. Nee, God se Seun word in ‘n stal gebore. Gewone babatjie wat skree. Hy loop en leer in die stofstrate van die onbelangrike Palestina en Hy sterf die skandedood van ‘n uitgeworpe misdadiger! God se plan, wysheid  en werkswyse verskil enorm baie van ons idees en planne. God bewys sy krag juis deur in Jesus swak te word, gekruisig te word deur sy eie skepsels wat Hy gemaak het. Vir die wêreld is die kruis dwaasheid en onsin, maar vir ons wat gered word is dit die krag van God. (1 Korintiërs 1:18)

 God werk vandag nog op verborge misterieuse wyse.

God gebruik ‘n rebelse kind, ‘n ontroue huweliksmaat, ‘n pynlike siekte, en selfs ‘n wêreldwye virus en korrupte regerings om sy volmaakte doelwitte te bereik!  Ek en jy gaan dit nie verstaan nie.

Ons moet egter in vertroue voor Hom buig. Hy weet wat Hy doen. In plaas van opstand, moet ons nederig in aanbidding voor Hom kniel! In plaas van rebelse vrae moet ons sy lof en heerlikheid besing! In plaas van verwyte moet ons Hom dank, ook in die donkerste ure! Kom skep moed kinders van God, want die mees dreigende onweerswolke van slegte omstandighede is vol van God se genadereën wat ons siele sal versadig! 


Kom ons word stil voor God se almag en ondeurgrondelike wysheid en sing saam met William Cowper (1731-1800) sy beroemde lied- God moves in a mysterious way




God moves in a mysterious way
His wonders to perform;
He plants His footsteps in the sea
And rides upon the storm.

Deep in unfathomable mines
Of never failing skill
He treasures up His bright designs
And works His sov’reign will.

Ye fearful saints, fresh courage take;
The clouds ye so much dread
Are big with mercy and shall break
In blessings on your head.

Judge not the Lord by feeble sense,
But trust Him for His grace;
Behind a frowning providence
He hides a smiling face.

His purposes will ripen fast,
Unfolding every hour;
The bud may have a bitter taste,
But sweet will be the flow’r.

Blind unbelief is sure to err
And scan His work in vain;
God is His own interpreter,
And He will make it plain.

Lees gerus die aangrypende biografiese skets oor (kliek)  William Cowper deur John Piper.

 

Saterdag 01 Augustus 2020

JI PACKER


EN DIE AANNEMING TOT KINDERS

[JI Packer (1926-2020) is verlede maand oorlede. Hy was ‘n behoudende Anglikaanse teoloog en kampvegter vir die waarheid*. Sy bekendste werk is seker sy blitsverkoper, Knowing God. Ek deel hieronder enkele gedagtes uit die boek oor die heerlike onderwerp van aanneming tot kinders.]

Het jy besef? God neem verloste sondaars aan as sy eie kinders!

 

 “Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"  (Romeine 8:15,16)

Die vraag “Wat is ‘n Christen?” kan op baie maniere beantwoord word. Die rykste antwoord is : ‘n Christen is iemand wat God as sy eie Vader het.  

Net terloops, nie alle mense is kinders van God in hierdie sin nie. Inteendeel Paulus stel dit duidelik dat ons almal, voor ons redding deur Jesus, kinders van die toorn was. Met ander woorde ons het onder God se oordeel en raak gestaan.  “…en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:3) 

Die aanneming tot kinders is ‘n uitsonderlike stuk genade en  die grootste voorreg wat die evangelie ons bring. 

Ja, daar is ook ander voorregte. Soos vryspraak. Ons ken die betekenis….Regverdiging, vryspraak (justification) is ‘n forensiese saak.  Dit gaan oor die wet en oor God as regter. In die vryspraak spreek God ons vry van al ons skuld via ons geloof in Jesus op grond van sy volmaakte skuldoffer en boetedoening aan die kruis. Dit beteken , ek wat glo staan onskuldig, strafloos voor God omdat Jesus my straf gedra het. Dis heerlik.  Genadig! 

Aanneming tot kinders gaan egter nog verder. Dis ‘n familiesaak. Hier gaan dit nie oor die wet nie, maar oor liefde, nie oor God as Regter nie, maar oor God as Vader. Die aanneming tot kinders behels dat God ons in sy eie huisgesin opneem, ons word aangeneem as sy kinders en hanteer as sy erfgename! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.” (Galasiërs 4:7) 


Ons hele praktiese Christelike lewe word beheer deur hierdie wonderlike waarheidsfeit. Ek is ‘n kind van God. Ons gaan spesifiek kyk hoe dit in die bergrede uitgespel word in praktiese terme. God se familiekode.

 Kom ons kyk na drie praktiese terreine in ons lewens waar die besef dat God ons Vader is ‘n reuse verskil sal maak:

1. Hierdie feit van kindskap bepaal my gedrag en lewenswandel.

 

Op 3 maniere beïnvloed ons kindskap van die Vader ons gedrag:

 

As kinders is ons nabootsers van die Vader. Jesus leer -"Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerddoen.” (Matt 5:44,45) As kinders moet ons die karaktereienskappe van die Vader vertoon . Terloops, as ons vol van vrees is, as ons dronk word, as ons te lui is om op ‘n Sondag na die Vader se woorde te kom luister... wat vertel dit vir die wêreld van ons Vader? Gaan iemand God eer omdat jy dronk word?

As kinders moet ons die Vader se naam eer aan doen. Anders gestel ons moet Hom verheerlik. As mense na ons gedrag kyk, moet hulle sê : “Kyk watse goeie Pa het hy!”  Hoor Jesus se woorde -  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik." (Matt 5:16)  Word ander mense na God toe getrek deur jou voorbeeld en gedrag. Of stoot jy hulle weg van God en die evangelie? 

As kinders moet dit ons begeerte wees om ons Vader gelukkig te maak. Dink bietjie mooi – Is jou Hemelse Vader gelukkig ... met jou gedagtes, met jou grappe langs die braaivleisvuur, hoe jy jou geld of tyd bestee? As ons goeie dinge doen moet ons nie na mense se goedkeuring soek nie, maar die Vader se goedkeuring in gedagte hou. Sy beloning is wat tel! "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” 6:1 Die implikasie is dat wat God van ons dade dink, dis wat saakmaak! 

2. Hierdie feit van kindskap is die basis van my gebedslewe. 


Ons vrymoedige gebedslewe berus op die voorreg dat ons God ons Vader kan noem. Dis die spesiale voorreg van God se kinders in die Nuwe Verbond om God as Vader aan te spreek as ons bid. Dink maar aan die “Onse Vader” gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. (Dit was nie so in die Ou Verbond nie!) Die Vader is altyd toeganklik vir sy kinders. Hy weet wat ons nodig het en wil die beste vir ons gee. Dit impliseer natuurlik nie dat ons altyd kry wat ons wil hê nie, want ons vra dinge wat nie altyd die beste is nie. (Weens onkunde, selfsug, sondige begeertes ens.) En tog, kind van God kan jy seker weet dat die Vader net jou beste belange op die hart dra! Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11) 

3. Hierdie feit van kindskap bepaal my geloofsvertroue op God om in al my behoeftes te voorsien.


Ons hemelse Vader is ‘n omvattende versorger soos enige goeie Pa, net baie meer. Jesus verseker ons -"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:31-33) 


Miskien moet elkeen van ons weer opnuut gaan dink : Is ek ‘n kind van God deur my vertroue op Jesus en sy offer? As ek daarvan seker is wat is die heerlike implikasies dat ek die Almagtige en liefdevolle God, my eie Vader kan noem? 





*In 2002 toe die sinode van die Anglikaanse diosees van New Westminster in Vancouver goedgekeur het dat sy biskop selfdegeslagverbintenisse mag seën, was Packer een van die sinodegangers wat in protes uitgestap het. Sy rede vir hierdie drastiese optrede was soos volg : 

“Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.”



 


Woensdag 08 Julie 2020

Avontuurlike kerkwees in Namibië

 – my beskeie bydrae tot ‘n aktuele gesprek. 


Wat ‘n heerlike voorreg om deel te wees van die kerk van Jesus Christus in Namibië. Deel van die heilige algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges! Ons het so ‘n pragtige land – van suid na noord, van oos na wes. ‘n Ryk natuurskoonheid en ‘n ryke kultuurverskeidenheid. 

‘n Ryk heroïese kerkgeskiedenis – dink aan die baanbreker van die NGKN, eerwaarde Leonard, maar ook soveel ander soos pioniers van ons eie kerk. Natuurlik ook baanbrekers van ander kerke en sendinggenootskappe : Schmelen, Hahn, Rautanen en vele ander wat hulle lewens opgeoffer het vir Jesus en sy kerk! ’n Land vol heerlike geleenthede vir die evangelie! En groot uitdagings! 

BEDREIGINGS

Die NGKN as deel van die uitdrukking van die liggaam van Christus besin tans weer oor ‘n roepingsgedrewe volhoubare kerkwees. So ‘n gesprek en kritiese selfondersoek is beslis nodig, want ons kan die bedreigings en uitdagings wat die kerk in die gesig staar nie ignoreer of wegwens nie: Toenemende sekularisasie van ons lidmate en gevolglike dalende lidmaatgetalle, totale gebrek aan kerklike dissipline (lidmate en ampsdraers leef in openbare sonde en geen haan kraai daaroor nie), teologiese liberalisme en etiese relativisme (elkeen glo soos hy wil en maak soos hy wil), finansiële verknorsing van baie gemeentes wat nou deur die korrupsie in ons land en die Covid-19 situasie vererger word. 

Die grootste bedreiging, die skrikwekkende GEVAAR is natuurlik as ons God se vyand word weens ons kompromie met sonde. 

“Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” (Jakobus 4:4) 

LUISTER NA DIE WOORD!

Wat staan ons te doen? Ek dink ons almal stem saam dat ons weer ernstig na God moet luister deur die Woord van God ter harte te neem. In die lig van die Woord sal ons ons dan voor God moet verootmoedig. Net Hy kan ons weer optel en op koers plaas! Weereens het Jakobus vir ons raad: 

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 
Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 
Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jakobus 4:8-10) 

In die konteks van Jakobus en die res van die Nuwe Testament is dit duidelik dat ons as kerk ons veral sal moet bekeer van sondes wat in ons geledere nes geskop het soos hoogmoed, materialisme, losbandigheid en wêreldgelykvormigheid. 

In plaas van kompromie met die sondige tydsgees moet ons weer sout en lig wees! 


TWEE OLIFANTE

As ons erns wil maak met God se opdrag tot bekering en vordering wil maak in ons gesprek en praktyk is daar in ons NGKN konteks tans twee OLIFANTE in die vertrek wat ons nie mag ignoreer nie. 

  • Die besluit van die AS2019 om selfdegeslagverbintenisse goed te keur en kerklik te seën! Ons mag nie iets seën wat God ‘n gruwel noem nie. Punt! 

  • Die liberale teologie van die teologiese fakulteite.(Pretoria, Stellenbosch en Bloemfontein) Ons moet eerlik wees met ons lidmate dat daar dosente is wat ons predikante oplei wat nie glo dat Jesus histories liggaamlik opgestaan het nie! 


Die rysmiere van kompromie met sonde het ons ondergrawe en belemmer ons voortgang en getuienis! 

VOORSTELLE

Ten slotte net ‘n paar praktiese voorstelle: 

1. Die NGKN moet breek met die AS totdat daar bekering en ‘n terugkeer na die Woord is. (Weereens baie dankie aan die 38 bedienaars van die Woord in Namibië wat hulle in die openbaar uitgespreek het teen die AS2019 selfdegeslag besluite!) Kliek - VERKLARING

2. Die NGKN moet haarself distansieer van alle liberale teologiese instellings en die opleidingsgeleenthede wat ons reeds in Namibië het verder uitbou en ondersteun. 

(Ons is in die bevoorregte posisie dat ons reeds die vrug kan sien van bedienaars van die Woord wat plaaslik opgelei is!) 

3. Die belangrikste - Die NGKN sal biddend haar sonde moet bely en God se aangesig moet soek. Kom ons wees almal eerlik – wat het nog van bidure oorgebly in die NGKN? Is gebed en smeking deel van ons kerklike leefwyse? (Of bid ons net so af en toe as daar weer ‘n droogte knel?) 

FINANSIES

En wat van die finansiële probleme? God beloof en die geskiedenis bewys dat God sy kerk in stand sal hou ook wat finansies betref as ons maar net in gehoorsaamheid God se werk op God se manier sal doen. Dit sal wel heel moontlik beteken dat ons nuut moet dink oor bedieningspatrone en minder materialisties moet leef, maar ons Vader sal in al sy kinders se daaglikse behoeftes voorsien! 

TRIOMF

Kom ons gaan voort met gehoorsaamheid aan vertroue op die lewende God! Glo in die triomf en die veilige bewaring van God se uitverkorenes!

"Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen." (Judas vers 24,25) 



Broer en suster, om God te gehoorsaam is nie altyd maklik nie maar dis inderdaad ‘n heerlike avontuur! Verfrissend soos ‘n stroom water in die Namib!

Saterdag 04 Julie 2020

Die Boerevolk en Siener van Rensburg

- wie is ons ware profeet? 

Ek is ‘n trotse lid van die Boerevolk wat in God se voorsienigheid hier aan die suidpunt van Afrika ontwikkel het. Ek het geen probleem met my identiteit nie. Ek leef nie in ontkenning oor ons geskiedenis nie. Soos in alle volke se verlede was daar hoogtepunte en laagtepunte. Ek idealiseer nie my volk en dink dat ons as etniese groep die ware Israel is nie, maar ek sien wel God se genadehand op die pad waarlangs Hy ons hier in Afrika gelei het met 'n besondere doel en taak. Ek praat en skryf met trots in Afrikaans. 


Die Voortrekkermonument, die Vrouemonument, die Taalmonument… noem maar op is vir my kosbare bakens en ek vat graag my kinders soontoe waar moontlik. 
Die Gelofte, Bloedrivier, die Vierkleur, Amajuba, Magersfontein, die uitwissing en lyding in die konsentrasiekampe, die wrede behandeling van die Kaapse rebelle... al hierdie dinge roer my hartsnare. 


(Terloops een van die mees aangrypendste boeke wat ek ooit gelees het is : “So het hulle gesterf” wat handel oor die onmenslike lukrake teregstelling van Kaapse rebelle , waarvan sommige nog blote seuns was. Maar wat wonderlik is, in hierdie boek word ook vertel hoe baie van hierdie veroordeeldes waarlik Jesus as hulle Verlosser gevind het in die dodeselle terwyl hulle op hul einde gewag het.) 



So, ek is lief vir my volk, maar juis daarom is dit ook vir my ontstellend dat soveel lede van die Boerevolk vir God vergeet en hulle rug op die evangelie gedraai het . Soortgelyk aan ou Israel se dwaling. “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” (Jeremia 2:13) Ons volk het die Bron van lewende water verlaat en groot getalle drink nou by vreemde bronne wat nie kan versadig nie. Gebarste waterbakke. Stukkende emmers. 

Wat is hierdie onbetroubare lekkende bronne in ons konteks? Dis alles wat teen die evangelie van Jesus is. Die skreiende materialisme en gejaag na plesier en die rugby afgod wat maak dat die evangelie vergeet word. Die liberale teologie van sommige teologiese fakulteite wat die evangelie uitwis omdat dit die liggaamlike opstanding van Jesus ontken. Die Prosperity Gospel wat die evangelie vermink en mismaak tot ‘n mensgesentreerde selfverrykingsprojek. Die Israelvisie wat die evangelie wat bedoel is vir alle nasies verskraal en verdraai tot ‘n eiesinnige volksafgodery. Dis so hartseer. 

DIE WARE PROFEET 

Daar is Afrikaners wat blykbaar nou hulle hoop op Siener van Rensburg as die groot Boereprofeet plaas. (Terloops, ek vermoed oom Siener sal self verbaas en verstom wees oor die bog wat deesdae aan hom toegedig word!) Watter geweldige mistasting! WIE IS ONS GROOT PROFEET, PRIESTER EN KONING? Die Here het reeds met Moses hieroor in die Ou Testament gepraat. “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.” (Deut 18:18,19) In Handelinge 3:22, 23* verwys Petrus terug hierna en toon aan dat hierdie profesie in Jesus vervul is. Jesus Christus het die finale sê en alleenlik in Sy Naam is daar verlossing te vind!** Jesus self is die finale openbaring van God aan die mens. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun...” (Hebreërs 1:1,2) 

Jesus Christus is die enigste ware profeet, priester en koning! 

My volk, weet dit! Jesus is die Lam van God wat vir ons geslag is en mense losgekoop het uit alle etniese agtergronde! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) Kan dit duideliker gestel word? God maak deur Sy Seun Jesus vir Homself mense bymekaar vanuit elke denkbare groepering. Daarom is die groot opdrag wat ons van Jesus ontvang het om dissipels te maak van al die nasies! Sommige van die huidige selfaangestelde Boereleiers ken nie hulle eie geskiedenis nie. Hulle vergeet dat van ons grootste Boereleiers soos President Paul Kruger en Generaal CF Beyers uitgesproke sendingentoesiaste was, wat aktief sendingwerk onder swartmense bevorder het! Gaan kyk maar na die feite en bewys my verkeerd! 

Mag ons volk en ook al die volke rondom ons terugkeer na ons enigste hoop Jesus ons gekruisigde en opgestane Here! So word ons deel van die Israel van God! Sy volk tot in alle ewigheid. 

*Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. 

En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 

Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 

Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ‘n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê.” (Handelinge 3:18-22) 

**En stop tog met al julle kamstige Hebreeus/Aramese variasies asof dit die sleutel tot die saligheid is! (Jeshua, Jahushua ens.) Die Naam van ons Verlosser word in die Nuwe Testament wat in Grieks geskryf is vir ons aangedui as IhsouV.

 (Die naam begin met ‘n i want Grieks het nie ‘n j letter nie) en of jy dit nou op die Engelse, Duitse, Franse of Afrikaanse manier uitspreek wat maak dit saak? En in Damara/Nama sal dit as Jesub uitgespreek word , want ‘n manlike naam eindig altyd op ‘n b terwyl vrouename op ‘n s eindig!)

Naskrif : Hierdie is 'n Afrikanermonument waarvan min mense weet. Dis op die plaas Waterbury naby Tosca in Noordwes, waar Genl. C R de Wet gevange geneem is tydens die 1914 Rebellie. Sy kommando moes oorgee na 'n baie uitputtende tog deur die Kalahari.



Woensdag 24 Junie 2020

JHWH

- OF WATTER NAAM? 





Baie opregte Christene voel deesdae sterk oor die Hebreeuse naam JHWH. Daar is natuurlik ook kultusse vir wie dit ‘n kernsaak van die geloof is. Kom ons kyk bietjie rustig na hierdie tema vanuit God se Woord. Die God van Abram, Isak en Jakob, die Vader van ons Here Jesus Christus het sy Naam aan Moses bekend gemaak toe Hy hom geroep het om die volk uit Egipte te lei. Ons lees dit in Eksodus 3:13-15. 



Daarna sê Moses vir God: "Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?" 



Toe sê God vir Moses: "Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur." 

Verder sê God vir Moses: "Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag. 

EK IS WAT EK IS

Moses het ‘n probleem gehad. God het hom daar by die brandende doringbos geroep en hom na die slawevolk van Israel in Egipte gestuur en hy moes darem vir hulle kon sê WIE hom gestuur het. God antwoord toe : “EK IS WAT EK IS.” Hoe dit presies vertaal moet word is nie heeltemal duidelik nie, maar die betekenis is tog nie so moeilik nie en waarskynlik baie ryk – Die lewende God se bestaan is van niemand, geen mens afhanklik nie. Hy was en is en sal wees! Hy is nie ‘n menslike maaksel of uitdinksel soos die derduisende afgode nie! Hy is net. Die suggestie van B. S. Childs is dat JHWH hierdeur wou sê dat sy karakter bekend sou word uit sy toekomstige handelinge, vernaam die bevryding van die volk uit Egipte. Dit sou moeilik wees om net te sê “Ek is” het my gestuur en daarom lees ons in die volgende vers die naam JHWH. (vertaal met Here) Dis duidelik dat die naam ‘n verwantskap het met die woorde “Ek is”, maar die presiese betekenis is ook nie duidelik nie. 

HOEKOM VERTAAL ONS DIE NAAM JHWH IN AFRIKAANS MET HERE? 

En miskien wonder jy sommer ook waar kom die naam Jehova vandaan? Kom ons gaan bietjie terug in die geskiedenis. Uit respek vir God en uit vrees om die naam van die Here ydellik te gebruik het die Hebreërs nie die Godsnaam JHWH uitgespreek nie. In die plek van waar JHWH gestaan het, het hulle Adonai gebruik. (Adonai of Adon wat ons ook met Here vertaal het ‘n wyer betekenis gehad en kon na God of na ‘n mens verwys). Of Elohim (ook ‘n generiese Godsnaam). Om mense te herinner dat hulle nie die heilige naam JHWH naam moet uitspreek nie en eerder Adonai moet lees het hulle die vokale van die woord Adonai gevat en onder die konsonante van die woord JHWH geskryf. (Onthou net, oorspronklik is Bybelse Hebreeus net met konsonante geskryf, die vokale is later deur ‘n groep bekend as die Masorete ingevoeg.) Dit was net ‘n herinneringstegniek en hierdie woord met die vokale van Adonai was nooit bedoel om uitgespreek te word nie. As mens dit wel sou uitspreek sou dit getranskribeer kon word as Jehova. Dis waar die woord Jehova vandaan kom ,maar dis duidelik dat dit nooit die oorspronklike Godsnaam se uitspraak was nie. (Die Jehova getuies baklei dus vir iets wat nie regtig bestaan nie.) 

Dit blyk dat die ander titels in plek van die JHWH (ook genoem die tetragrammaton omdat dit uit vier letters bestaan) baie algemeen geword het na die verwoesting van die tempel en die Babiloniese ballingskap. Teen die tyd van Jesus is die naam JHWH nooit deur die gemiddelde Joodse persoon gebruik nie. 

VOORBEELD - Psalm 97:5




In die meeste Bybels word die Godsnaam JHWH dus nie as Jahweh of Jehova vertaal nie, maar as Here/LORD. In Afrikaans word die naam JHWH sowel as die naam Adonai/Adon met Here vertaal. Kom ons kyk bietjie na PSALM 97:5 as voorbeeld waar beide die naam JHWH en Adonai voorkom: 

ASV - The mountains melted like wax at the presence of Jehovah (JHWH), At the presence of the Lord (Adon) of the whole earth. 

NIV – The mountains melt like wax before the LORD, before the Lord of all the earth. 

OAV Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde. 

NAV - Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde. 

Nuwe Direkte Vertaling - Berge smelt soos was voor die HERE, voor die Heer van die hele wêreld. (Die nuwe Direkte Vertaling is dus die duidelikste in die sin dat die onderskeid tussen JHWH en Adon waarneembaar is vir die leser)

Om op te som - Daar is dus niks snaaks en verkeerd met die naam JHWH nie. In ‘n akademiese konteks kan dit selfs noodsaaklik wees om onderskeid te maak tussen verskillende name. Dis immers die verbondsnaam van God wat meer as 6000 keer in die OT voorkom. 

WAAROM NIE?

Die logiese vraag is dan nou seker - Waarom gebruik ons (en die Christelike kerk deur die eeue) oor die algemeen nie die naam JHWH in ons normale aanbidding nie? *

1.Niemand weet in elk geval presies hoe om dit reg uit te spreek nie. Ek het reeds verduidelik dat die presiese uitspraak verlore gegaan het. Dis belangrik om te onthou dat die huidige uitspraak “Jahweh” ‘n akademiese rekonstruksie is van die vermoedelik oorspronklike uitspraak, wat eerste voorgestel is deur Wilhelm Gesenius (1786–1842). Baie huidige geleerdes is oortuig dat dit nie die regte uitspraak is nie. Daar is dus verskil van mening. Dit opsigself is seker nie heeltemal ‘n voldoende rede om die gebruik van die naam JHWH veral in Bybelvertalings te ontmoedig nie. (Daar is wel ander redes) 

2. Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die LXX (Septuaginta) het die Hebreeuse JHWH vertaal met die Griekse woord kurios wat Here beteken. Dit geld veral vir die bekendste LXX manuskripte. Ter wille van volledigheid - daar was wel manuskripte waarin ‘n transliterasie van die naam JHWH ook voorgekom het. Die punt is net die Griekse vertaling van die Ou Testament is wyd gebruik in die vroeë kerk en dit is dus logies dat Christene God as Here sou aanspreek en nie JHWH nie. Insiggewend is dat die titel, kurios wat in die plek van JHWH gebruik is, ook vir Jesus in die Nuwe Testament gebruik word. Dis ‘n kragtige bewys van die Godheid van Jesus! 

3.Die Nuwe Testamentiese skrywers soos Paulus, die evangeliste en ander apostels het nêrens in hulle geskrifte soos ons dit in die Nuwe Testament aantref, die naam JHWH gebruik nie, maar eerder generiese terme soos God (QeoV), Vader en Here. Ook waar hulle die Ou Testament aanhaal het hulle nooit JHWH gebruik nie. 

4.Daar is geen bewys Jesus ooit die naam JHWH gebruik het nie. Jesus was ‘n vroom Israeliet en sou definitief volgens die siening van sy tyd nooit die naam JHWH in die openbaar gebruik het nie. Vanuit die Nuwe Testament weet ons dat Hy die generiese terme Vader (In Aramees, sy huistaal, Abba) gebruik het. Ons weet ook almal dat Jesus in sy modelgebed vir ons geleer het om God as Vader aan te spreek. Die enigste ander aanspreekvorm wat ons van weet dat Jesus dit gebruik het was “Eloi,” (my God) aan die kruis- as ‘n generiese term en nie as ‘n eienaam nie. 

Wat vir Jesus goed was is seker vir ons ook goed! 

Waarskuwing: Daar is niks fout met die naam JHWH as sodanig nie, maar die skielike gebruik van en die beheptheid met die naam JHWH is dikwels ‘n aanduiding dat mense in die kloue van die Israelvisie of Hebrew Roots Movement beland het. Dis ‘n gevaarlike glybaan weg terug na die Ou Verbond toe en uiteindelik heeltemal weg van die evangelie. 

POSITIEF!

Kom ons bekyk als positief! Op watter naam val die fokus in die Nuwe Testament? ( En ek dink hier kom ons by die hart van die saak) Die Nuwe Testament lê wel klem op ‘n NAAM! Kom ons kyk na Handelinge 4:10-12. (OAV) Dis besonder belangrik – (in die konteks is dit duidelik die Naam, Jesus) “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” 

Die Nuwe Testament is ook baie duidelik oor watter naam bo elke naam is! Lees maar in Filippense 2 waar Paulus so treffend eers Jesus se vernedering en dan sy verhoging beskryf. Dan maak hy hierdie wonderlike stelling in Filippense 2:9-11. 

“Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 
en elke tong sou erken: "Jesus Christus is Here!" tot eer van God die Vader.” 

Die naam wat ek en jy moet ken om gered te word is die Naam Jesus, die Seun van die Lewende God. 

Hieroor is Paulus baie duidelik in Romeine 9:9,13. 

9. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 
13. want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 

Het jy al die regte Naam om gered te word aangeroep? Dis die naam van Jesus. Hy is die Middelaar en Hoëpriester tussen ons en die Vader. Daar is geen ander pad van verlossing nie, want Jesus is die weg, die waarheid en die lewe!

*Streng gesproke maak die Christelike kerk tog wel algemeen gebruik van die naam JHWH in die term "halleluja"  wat beteken : Prys Jah (Jah is 'n afkorting van die naam JHWH) Ons vind dit natuurlik algemeen in die Psalms in 'n konteks van lof en ook in Openbaring byv. 19:1 "En ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!"


Kyk ook op YouTube - kliek op NAAM?