BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 13 April 2012

TWEE JAAR OP TSUMEB


- “ek is al U gunsbewyse nie werd nie!”

Hoe vinnig knibbel die tyd aan ’n kalender. Die kalender wat sê dat ons nou (April 2012) al twee jaar hier op Tsumeb is!  En vir my is dit boonop ook weer twee jaar van wonderlike terugwees in my besondere geboorteland.  Ek wil sommer net hier reg aan die begin vir al die Tsumebmense (en spesiaal almal in die gemeente) sê : Ons as gesin is almal baie gelukkig hier!  Vir die wat dalk wonder... Ek voel (en my vrou sekerlik nog meer so) ek het nou genoeg geswerf ... Pretoria... Rundu... Waterval-Boven... Vereeniging... Koppies...  Bray... Tsumeb!

Soos almal weet het ’n trekkery oor ’n landsgrens maar ’n kwota administratiewe en logistiese hobbels om oor te kom. Ons was geen uitsondering nie!  Dit was vorms, vertragings en veral frustrasies... Maar dit daar gelaat. Die seëninge oortref die ongerieflikhede by verre! 

Die saak van seëninge voer my gedagtes na die aartsvader Jakob se geskiedenis terug. Verskoon my die vergelyking. Maar ek dink tog dat ek aspekte van my omswerwings  gereflekteer sien in Jakob van die Bybel se veelbewoë wedervarings. Vergun my maar om ’n bietjie soos Jakob te voel met sy aankoms in  Kanaän. Julle weet mos dat Jakob vir Esau gevlug het en as enkeling daar by sy ma Rebekka se broer, Laban aangeland het. Heelwat jare later, met sy terugkeer na Kanaän bid Jakob tot die Here en sê onder andere :

 “Ek is al U gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.”  (Genesis 32:10)

Dit is inderdaad my belewenis! As eensame enkeling het ek  in 1998 oor die Oranjerivier verhuis en in 2010 kon ek as geseënde man van ’n wonderlike vrou en pa van twee pragtige meisiekinders terugkeer na Namibië. Maar toe kom daar sommer nog ’n bonus by : die geboorte van Natanie Vreugde in Januarie 2011! Soos dit heel dikwels met seën en verrassings die geval is, was dit ook nie sonder pyn nie, maar ons kan die Here waarlik dank vir hierdie gesonde dogtertjie wat tot ons gesin toegevoeg is.

Natuurlik, ons ware rykdom bestaan nie uit kinders nie (al is hulle baie kosbaarder as enige aardse besitting!) maar uit die oorvloedige rykdom van God se genade wat Hy oor ons uitstort deur Jesus Christus! (Efesiërs 1:7) Uit hierdie rykdom van genade ontvang ons volkome vergifnis en word ons herstel om gelykvormig aan Jesus te word. ‘n Deel van hierdie genade en barmhartigheid behels ook die voorreg om die Woord van God te kan bedien hier op Tsumeb. Mag die Here ons altyd hieraan herinner, want dit sal verhoed dat ons moed opgee. In 2 Korintiërs 4 (die hoofstuk waaruit ek my intreepreek in Tsumeb gelewer het) stel Paulus dit so treffend (vers 1) :

“God het Hom oor ons ontferm 
en hierdie bediening aan ons opgedra. 
Daarom word ons nie moedeloos nie.” 

Dis so nodig om hierdie waarheid gedurig  voor oë te hou, want die bediening van die Woord is nooit ‘n  gelykpad nie. Geleenthede en oop deure loop dikwels parallel met teenstand en stryd. Paulus sê  oor sy bediening in Efese : “hier staan ‘n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.” (1 Korintiërs 16:9) Met blydskap kan ek egter getuig dat die Woord harte aanraak. Daar is bemoedigende druppels van seën; mag die Here in sy genade vir ons nog die strome ook skenk!

Kort na ons aankoms hier op Tsumeb het ek papajapitte geplant. Een van die bome het besonder mooi gegroei en het op die oomblik ’n pragtige drag vrugte. Bid asseblief vir ons en die gemeente as geheel, dat God ons deur sy genade instaat sal stel om oorvloedige vrug tot sy eer te dra!





Aan al ons vriende uit ons Suid-Afrikaanse verlede : Julle is baie welkom om te kom kuier. Ons het so pas ’n lekker weersiens beleef toe Johan en Marie van Zyl van die Vrystaat (saam met Lettie en Christelle)  hier kom oë wys het. So kon ons weer op datum kom met Koppies se mense en dinge!

Lettie, Christelle, Marie en Johan van Zyl.



En aan almal wat ver van die Afrika son, waar ookal in die wêreld julle roeping uitleef : Dis so lekker om via die moderne tegnologie ook iets van die sonskyn van God se genade met julle te deel! En dis altyd aangenaam om van julle te hoor. Ons het bemoediging van julle kant af net so nodig!

SAAM OPPAD NA ONS HEERLIKE BESTEMMING!

Donderdag 05 April 2012

VEILIG IN DIE VUUR VAN AANVEGTINGE

Die kind van God beleef dikwels geestelike stryd en worstelinge. Martin Luther het die woord aanvegtinge (Anfechtungen) hiervoor gebruik. Dit kom na ons in die vorm van :

Vertwyfelinge : Het God my regtig lief? Hoekom kry ek dan so swaar, soveel hartseer, hoekom beleef ek soveel moeilikheid of vervolging? Vertwyfelinge oor my eie geloof en bekering : Is my geloof nie heeltemal te klein nie, was my bekering ooit eg?

Ons beleef soms die direkte aanklagte van Satan : Kyk wat het jy nou weer gedoen! Dink jy nou regtig dat jy 'n kind van God is en dat Hy jou in sy Koninkryk sal toelaat?

Ons loop deur onder die beskuldigings van ons eie gewete : Onthou jy nog daardie tyd en daardie sonde? Wat van daardie skade wat jy aangerig het, wat van al die mislukkings? Kan ek hoegenaamd ’n kind van God wees, as sulke sonde en sulke versoekings my nog teister?

Waarheen vlug ons in hierdie vuur van aanvegtinge? Waar vind ons veiligheid en vastigheid? Hoe word ons vreugde herstel? Dis belangrik om te weet dat ons nie vastigheid binne ons self moet soek nie! Vat dit vir 'n feit:

Ons kan nooit vaste vertroosting in ons eie gevoelens en prestasies vind nie!

Hoekom nie?

Ons gevoelens wissel en is onbetroubaar. Vandag voel ek geestelik fris, maar môre weer vrot! Vandag voel ek fiks, maar môre flou!

Nog minder kan ons vastigheid in ons geestelike prestasies vind. Ons ken mos ons mislukkings, foute en sonde! Ons is pynlik bewus van ons geestelike vlekke en vratte! Die Satan ken dit ook en is ’n meester om ons daaraan te herinner en dit uit te wys! Hy is mos die aanklaer van God se kinders!

Waarheen moet ons dan vlug vir troos! Die antwoord wat hierdie oorwinningslied in Romeine 8:31-39 gee is duidelik:

Ons vind troos in die vaste feite en die onweerlegbare waarheid van dit wat God gedoen het deur Jesus Christus!

Lees bietjie saam met my deur hierdie gedeelte. (maak asseblief eers nou jou Bybel oop)

Vers 31 en 32. Paulus beweeg hier op die vlak van logika. Hy wil hê ons moet saam met hom tot ’n nugtere logiese konklusie kom vanuit al die heerlike voorafgaande waarhede wat hy reeds bespreek het. Dit sluit o.a. in : die vryspraak uit geloof alleen, die oorwig van die heerlikheid wat wag na ons huidige lyding, die onstuitbaarheid van God se verlossingswerk wat begin by Goddelike verkiesing en onkeerbaar afstuur op ons verheerliking! (Sien Rom 8:28-30 en vorige gedeeltes)

God self is vir ons (aan ons kant), wel dan maak dit nie saak wie teen ons probeer wees nie! God is die almagtige God van die heelal, die Regter en Regeerder. Hy en sy opinie is al wat saakmaak.

Maar hoe kan ek weet dat Hy vir my is? Let mooi op. Ek kyk nie vir bewyse hieroor na myself nie, maar na die feit van God se liefde wat reeds bewys is deurdat Hy sy Seun vir ons oorgelewer het! Kan daar ’n groter en vaster bewys wees van sy goedgesindheid teenoor ons as dit? Hierdie feit vat ook alle vrees vir die toekoms weg. Paulus redeneer van die groot na die klein: As God sy Seun, sy Kosbaarste reeds gegee het, dan hoef ons mos nie te twyfel dat God enige iets anders wat ons regtig nodig het van ons weg sal hou nie! As God duidelik bewys het dat Hy aan jou kant is, wat meer kan jy wil hê?

Vers 33. God self, wat die enigste en finale Regter is, het ons vrygespreek, regverdig verklaar! (Rom 3:23,24) As die Regter my vrygespreek het wie kan nog iets teen my inbring? Let op - die kinders van God word hier doelbewus "uitverkorenes" genoem! Dit laat weereens die klem val nie op ons eie geloof, bekering of volharding nie, maar op God wat ons uit genade eerste gekies het! Hy het die inisiatief in ons verlossing geneem en sal dit ook voltooi. (Fil 1:6)

Vers 34. "Wie kan ons veroordeel?" Hierdie is soos die ander vrae, ’n retoriese vraag. Die antwoord word veronderstel : "Niemand nie"  Ja, niemand kan ons meer veroordeel nie! Hoekom nie? Drie grondige onwankelbare redes word gegee. En weereens hierdie redes het niks met enige hoedanigheid of prestasie van myself te doen nie. Dit het buite myself gebeur. Die drie vaste redes hoekom niemand my kan oordeel nie is : Jesus het gesterf - Hy het dus my oordeel en straf namens my gevat. Daar is niks meer om te straf nie. Daar is niks om te oordeel nie. Hy is uit die dood opgewek. God het daarmee bevestig dat Hy die boete aanvaar het. Dit was volledig en genoegsaam. Hy sit aan die regterhand en pleit vir ons. Jesus is ons advokaat en stel ons saak op grond van sy kruisdood. Wie hoef nog oordeel te vrees as Jesus self my saak bepleit?

Die Skotse Godsman, Robert Murray M’Cheyne het gesê: "I ought to study Christ as an Intercessor. He prayed most for Peter who was to be most tempted. I am on his breastplate. If I could hear Christ praying for me in the next room, I would not fear a million of enemies. Yet the distance makes no difference; He is praying for me." Mag ek en jy ook volkome troos in hierdie feit vind!

Vers 35-39. Kyk na die lang lys van ellendes en moontlike vyande! Paulus wil ons laat verstaan : Daar is geen denkbare bedreiging wat die liefde van God wat Hy reeds in Jesus aan ons bewys het, ongedaan kan maak nie. God se liefde staan vas, al gebeur die ergste van ergste dinge met my. Ons gaan nie hierdie bedreiginge en teenstand vryspring nie, maar ons "hiperoorwin"* want die liefde van God staan onwankelbaar vas! Niks en niemand kan God se finale bedoeling met my dwarsboom nie!

Die kruis, opstanding en voortgaande pleitwerk van Jesus is voldoende waarborg vir my ewige veiligheid!

Dit wat Gód deur Jesus reeds gedoen het is die vaste bodem waarop ek staan in die grootste storm. Dit wat God gedoen het, nie wat ek doen en voel nie, is my veilige vesting teen die Satan se aanvegtinge.

Hierdie vastigheid vier ons met vreugde in die Nagmaal!

* Die Griekse woord vir oorwin is nikaoo. Hier egter word die woord hupernikaoo gebruik. Ons "hiperoorwin", ons is "meer as oorwinnaars!" Dis 'n triomfantelike waarheid!


Woensdag 04 April 2012

SING SAAM OOR DIE OPSTANDING

- Ja, alle eer aan ons Opgestane Heer!


Kinders van God uit alle nasies, stamme, volke en tale sal eendag die lof besing van die Lam wat vir ons geslag en weer opgewek is. Maar reeds nou (ook in hierdie dae) word die lof en heerlikheid van die opgestane Jesus wêreldwyd toegejuig in ’n ryke verskeidenheid van tale.

Waarlik, ons kan ons verbly in die onwankelbare feit van die histories liggaamlike opstanding van ons Verlosser en Here, Jesus Christus! (Sien ook op hierdie Blog : SPOKE EET NIE VIS NIE!) Terwyl valse profete die waarheid in die grond wil trap, sing ons met oortuiging van die blye boodskap oor die leë graf. Die vaste feit van die opstanding is die basis van ons ontvangs van die wedergeboorte volgens 1 Petrus 1:3. Jesus se opwekking uit die dood was immers God se bevestiging dat die volle straf oor ons sonde voltrek is, die boete volledig betaal is! Wie nou op Jesus alleen vertrou vind dus onverhinderde aanvaarding by God!

Seker, een van die mooiste liedere oor die opstanding van Jesus is die Franse lied, “A ta la gloire..” Dis geskryf deur die Switser, Edmond Louis Budry (1854-1932) op die wysie van Judas Maccabaeus van George Frederic Handel. Dis in Engels bekend in die vertaling van Richard Hoyle, “Thine be the glory”

Ek gee hier die Franse woorde van die lied, saam met ’n letterlike vertaling en ten slotte die pragverwerking daarvan in Afrikaans deur Nico van der Walt. (Voorheen van Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente in Pretoria) Hierdie besondere weergawe in Afrikaans is inhoudelik ryk en teologies suiwer. Dis voorwaar ’n lied wat verdien om in alle Afrikaanssprekende gemeentes gesing te word!

(Doen jouself ook gerus ’n Paasfeesguns en gaan luister na die Franse lied op YouTube.

Soek dit by “ A toi la Gloire - Youtube” www.youtube.com/watch?v=LS6yZgsPlZ8 )



A Toi la gloire. O Ressuscité

Aan U die heerlikheid. O Opgestane (Here)

A Toi la victoire pour l’éternité!

Aan U die oorwinning vir (tot in) ewigheid

Brillant de lumiere, l’ange est descendu,

Helder skynend (glinsterende lig), het die engel neergedaal

Il roule la pierre du tombeau vaincu. *

Hy rol die klip (weg) van die oorwonne graf.



A Toi la gloire. O Ressuscité

Aan U die heerlikheid.. O Opgestane (Here)

A Toi la victoire pour l’éternité!

Aan U die oorwinning vir (tot in) ewigheid



Vois - le paraitre : C’est lui, c’est Jesus,

Sien Hom verskyn : Dis Hy, dis Jesus,

ton Sauveur, ton Maître! Oh! ne doute plus!

Jou Verlosser, jou Meester! O! moenie meer twyfel nie!

Sois dans l’allegresse, peuple du Seigneur,

Wees bly, volk van die Here!

et redis sans cesse que Christ est vainqueur!

en sê weer sonder ophou dat Christus oorwinnaar is!



A Toi la gloire. O Ressuscité

Aan U die heerlikheid.. O Opgestane (Here)

A Toi la victoire pour l’éternité!

Aan U die oorwinning vir (tot in) ewigheid



Craindrais - je encore? Il vit à jamais,

Sou ek nog vrees? Hy leef vir altyd,

celui que j’adore, le Prince de paix.

Hy vir wie ek bewonder/aanbid, die Prins van vrede.

Il est ma victoire, mon puissant soutien,

Hy is my oorwinning, my magtige onderhouer (ondersteuning)

ma vie et ma gloire : Non, je ne crains rien.

my lewe en my heerlikheid : Nee, ek vrees nie.



A Toi la gloire. O Ressuscité

Aan U die heerlikheid. O Opgestane (Here)

A Toi la victoire pour l’éternité!

Aan U die oorwinning vir (tot in) ewigheid



* Terloops, die engel het natuurlik nie die klip weggerol sodat Jesus kon uitkom nie, maar sodat die vroue en dissipels self kon sien dat die graf leeg was. (Matteus 28:2)



HY HET GEKOM VANUIT DIE HOË HEMELE

OM DIE WIL VAN HOM, SY VADER

ONDER ONS TE DOEN

HY HET OPGESTAAN VERHEERLIK

SÓ DIE DOOD OORWIN

EERSGEBORENE VAN ALMAL

WAT AAN HOM BEHOORT



Refrein : U SAL ONS OPWEK -

WONDERLIKE LAASTE DAG

ONVERGANKLIK EN VERHEERLIK

DEUR U SKEPPINGSKRAG



EENS HET DIE VADER

AAN DIE SEUN 'N BRUID GEGEE

UIT DIE WÊRELDWYE MENSHEID

DEUR DIE EEUE HEEN

GAWES VAN ONS HEMELVADER

AAN SY LIEFDESEUN

HET ONS IN SY GROOT GENADE

NA HOM TOE GEKOM



Refrein : U SAL ONS OPWEK -

WONDERLIKE LAASTE DAG

ONVERGANKLIK EN VERHEERLIK

DEUR U SKEPPINGSKRAG

(Nico van der Walt)





Die Here het waarlik opgestaan! Vreugdevolle Paasfees!



Le Seigneur est vraiment ressuscité! Joyeuses Pâques!



Der Herr ist wahrhaftig auferstanden! Fröhliche Ostern!



The Lord has risen indeed! Happy Easter!


Maandag 02 April 2012

DIE ENGELE STAAN OP HULLE TONE

- wat maak hulle so opgewonde?

Engele! ’n Fassinerende onderwerp vir baie mense. Daar word boeke oor hulle geskryf! Hoe lyk hulle, wat doen hulle, wat is vir hulle belangrik? In 1 Petrus 1:10-12 (lees asseblief) word op ‘n terloopse wyse tog ’n baie insiggewende opmerking oor die engele gemaak. (Natuurlik vind ons nie hier ’n volledige inligtingsbrosjure oor engele nie) Wat wel duidelik is : Die engele het ’n besondere belangstelling! Daar is ’n saak wat hulle geweldig interesseer. Soveel so dat hulle as’t ware vooroorbuig* uit die hemel om dit beter te kan sien. Die engele kyk eintlik so oor die skouers van die gelowiges om te sien wat in die gemeente gebeur.**

Wat is dit wat hulle belangstelling gaande maak? Wel, dit moet iets buitengewoon heerlik wees. Ons moet tog besef, die engele woon in die hemel, in volmaakte toestande. Hulle aanskou die heerlikheid van God. Wat op hierdie aarde kan dan nou so heerlik en fassinerend wees dat hulle as’t ware op hulle tone staan en hulleself inspan om dit te sien? Ons kry die antwoord hier in 1 Petrus.

Kom ons probeer net die strekking van die argument hier in 1 Petrus verstaan. Petrus wil Christene wat baie swaarkry bemoedig in hulle geloof. Hy vertel hulle eintlik : “Julle het rede om bly te wees ten spyte van die ergste verdrukking, want onthou hierdie verdrukking suiwer julle geloof. En deur sulke gesuiwerde kosbare geloof kry julle deel aan die saligheid. Dis mos die einddoel van julle geloof.” (vers 9)

Dit gaan hier oor ’n basiese volgorde : lyding nou; heerlikheid eendag! Die heerlikheid van eendag vul ons egter nou reeds met blydskap omdat dit ’n werklikheid is.


Oor hierdie saligheid, (verlossingsplan) het die profete (van die Ou Testament) al ondersoek gedoen en nagevors. Wat het hulle bevind?

Lyding speel ‘n sentrale rol! ( vers 11 - “die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna” - OAV) Hoe raak dit ons? Die patroon en volgorde van ons lewens as Jesus se volgelinge volg die patroon van sy lewe! Ons moet ook maar bereid wees om die paadjie te loop wat Hy geloop het!

Jesus moés eers deur lyding gaan.

Daar was vir Jesus geen keuse nie. Hy moes sy werk deur middel van lyding voltooi. Natuurlik was dit nie die maklikste pad nie. Trouens, dit het angs by Hom gewek. Dink aan sy ernstige gebed : “laat hierdie beker by my verbygaan!” Ook vir Jesus se eie dissipels was hierdie pad van lyding wat Hy moes loop onaanvaarbaar. Dink maar net aan Petrus se protes nadat Jesus sy naderende lyding aangekondig het . “Mag God dit verhoed!” En hoe Jesus hom moes bestraf : “Gaan weg agter my Satan!” (Matt 16:22,23).

Die profete van die Ou Testament het reeds lank tevore hierdie pad van lyding vir die Messias voorspel. Op verskeie plekke. So vind ons dit in die Psalms. (Ps 69:9; 22:1-21.) Jesus se bekende woorde aan die kruis : “My God, My God waarom het U my verlaat?”, kom uit Psalm 22:2. Ook in die geskiedkundige dele van die Ou Testament vind ons alreeds die onderliggende tema van lyding van die Messias... Dawid se lyding onder Saul is ’n voorafskaduwing van die onskuldige gesalfde van God se lyding onder die goddelose. Die profete se eie lewens was ook ’n toonbeeld van hierdie lyding. Hulle moes ly as gevolg van hulle getroue verkondiging van God se Woord. Dink aan Jeremia wat in die put gegooi is. Die hele Ou Testamentiese offersisteem het heengewys na die Lam van God wat geslag sou word vir die sondes van die wêreld. Jesus se plaasvervangende lyding word seker op die mees direkste wyse vir ons in die Knegliedere van Jesaja uitgespel! (Kyk weer na Jesaja 53)

Die hele Ou Testament verwag egter ook heerlikheid. Die ontplooiing van die die verlossingsgeskiedenis is daarop gerig en stuur daarop af. Dink maar net aan die beloftes van die herstelde tempel, al die nasies wat toestroom na die Here, die nuwe hemel en nuwe aarde. Dit kom daarop neer dat Eden herstel sal word. Die finale heerlikheid is God wat regeer, op sy plek oor sy mense in volmaakte harmonie! ***

Al hierdie heerlike waarhede is vooraf deur die profete aangekondig. Hoe het hulle dit alles geweet?

Die Gees van Christus, dit wil sê die Heilige Gees was reeds werksaam in die Ou Testamentiese profete!

Dis ’n uiters belangrike stelling! (vgl. 2 Petrus 1:21) Christus was van altyd af daar! Hy was ook teenwoordig in die tyd van die Ou Testament - nie net as aangekondigde Messias nie, maar ook deur sy Gees! Jesus is nie net die Een van wie die Ou Testamentiese profete gepraat het nie, Hy is ook die Een wat deur sy Gees, reeds deur die Ou Testamentiese profete praat!

Die profete het van hierdie geheimenisse gepraat sonder dat hulleself of hulle hoorders die volle omvang en heerlikheid daarvan besef en beleef het. Die volle heerlikheid was verborge vir hulle oë. Die groot saak wat Petrus sy lesers wil laat verstaan is dat sy lesers - die Christene, (ons!) die groot erfgename van die profete se boodskap is. (Vers 12 OAV -“vir ons die dinge bedien”) Ons aan wie die evangelie verkondig is pluk die volle vrugte van die genade waaroor hulle geprofeteer het. Die apostels wat aan ons die evangelie gebring het, het dit gebring deur die Heilige Gees. (12) Dis eintlik die Heilige Gees wat die evangelie aan ons verkondig al gebruik Hy mense as instrumente. Die Gees van Christus (Heilige Gees) doen dus ’n wonderlike werk. Hy verseker eintlik die kontinuïteit tussen die Ou en Nuwe bedeling. Dieselfde Heilige Gees wat die profete van ouds geïnspireer het, bekragtig ook die verkondigers van die evangelie. Hy werk nou in ons!!!

Eers met die koms van Christus na die wêreld het al hierdie dinge wat geprofeteer is, ’n heerlike werklikheid geword. Dit kom daarop neer : Die geringste volgeling van Jesus is dus in ’n gunstiger posisie as selfs die grootste profeet in die Ou Testament! Ons is, nou na die koms van Christus, en sy kruis en opstanding in ’n baie beter situasie om die Ou Testamentiese openbaring te verstaan as die grootste Ou Testamentiese profeet! Maar dis nog nie al nie sê Petrus in effek : “Julle wat ly en swaarkry is, is selfs ook meer bevoorreg as die engele!" Hierdie ontplooiing van God se ontsagwekkende verlossingsplan is so heerlik dat selfs die engele in die hemel hulle inspan om te sien hoe word dit hier op aarde voltrek!

Die engele se begeerte gaan nie oor blote nuuskierigheid nie, maar hulle word gedryf deur ’n verlange om die vervulling van God se heerlike verlossingsplan te aanskou.

Om terug te kom na die engele. Hierdie gedeelte soos reeds gesê wil nie ons kennis oor engele aanvul nie. Die reaksie van die engele word genoem sodat ons beter kan begryp hoe groot en heerlik God se verlossingsplan is. Ons moet besef hoe bevoorreg ons is wat in die genade van hierdie verlossingsplan kan deel. Dit maak ons kortstondige lyding nie net draaglik nie, maar selfs ’n saak van blydskap!

Maar kan ons nog iets oor die engele sê? Seker, heelwat, maar ek wil net een kwessie uitlig.


Pasop vir ‘n misplaaste belangstelling in engele.

Hoekom sê ek dit? Net kortliks: Paulus waarsku dat ons nie mislei moet word deur mense wat hulle met engele en visioene bemoei nie. (Kolossense 2:18) Ons moet vashou aan die Hoof, naamlik Christus. Ja, daar is engele, maar hulle is nie ons middelaars of verlossers nie. Jesus alleen is ons Verlosser-Middelaar. Ook as die Hebreërskrywer van engele praat en hulle “geeste in diens van God” noem, is sy punt juis om ons te laat verstaan dat Jesus baie heerliker is as die engele! Geen engel sit aan die regterhand van God nie, net Jesus!(Hebreërs 2:13,14) Inderdaad sou engele vandag nog aan mense kon verskyn, maar ons moet baie versigtig wees. Engele mag nooit ons bron van lering of dogma word nie! Paulus is hieroor baie uitgesproke in Galasiërs 1:8 “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” Die evangelie van Jesus is vir eens en altyd opgeteken in God se onfeilbare Woord! As enige hedendaagse predikant, priester, profeet of engel ’n boodskap bring wat van die Bybelse waarhede verskil moet ons dit as valse lering afkomstig van Satan verwerp! En inderdaad, vermom Satan homself as ’n engel van die lig om mense te mislei. (2 Korintiërs 11:14) Mense dink dan dis ’n engel wat met hulle praat, maar dis al die tyd ’n demoon! ’n Klassieke voorbeeld van sulke vernietigende misleiding, is die Mormone se aanspraak dat ’n engel, genaamd Moroni met Joseph Smith gepraat het en aan hom die basis van hulle geloof oorgedra het. Dis ’n valse leer, want die Mormoonse geloof bots duidelik met God se Woord!

God stuur en gebruik sy engele soos Hy wil. Nêrens word ons egter aangemoedig om kontak met engele te soek of hulle op enige manier te leer ken of te vereer nie. Nee, ons fokus moet op ons heerlike verlossing en spesifiek op ons aanbiddingswaardige Verlosser, Jesus Christus wees! God se wens vir ons in hierdie verband, word so mooi verwoord in 2 Petrus 3:18 as hy waarsku dat ons nie moet toelaat dat ons van ons standvastigheid beroof word nie : “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem (groei) in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

Mag dit waar word van my en jou!

* Die letterlike betekenis van die Griekse woord, parakuptoo is “vooroorbuig” (om beter te kan sien)

** PHR van Houwelingen : 1 Petrus - Rondzendbrief uit Babylon. Daar is ook gebruik gemaak van Edmund P. Clowny : The Message of 1 Peter

*** Sien ook op hierdie Blog, LUGFOTO VAN DIE BYBEL (3 dele)


Vrydag 30 Maart 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (8)

- skrikbeelde van diere, koppe, horings...

(Om hierdie studie te benut moet jy 'n oop Bybel voor jou hê)

Waar kom die snaakse beelde van diere, koppe, horings ens. in Openbaring vandaan? Wat wil dit vir ons sê? (As ons weet wat die oorsprong en die oorspronklike kotenks daarvan is, gaan ons dit makliker verstaan)

Kom ontdek self. Lees eers Openbaring 13:1-3,8 en dan ’n stukkie uit die openingsvisioen (Openbaring 1:7,13) en vergelyk dit dan met Daniël 7:1-14 (In Daniël 7:13 staan daar letterlik “Die Seun van ’n mens” Sien OAV)*

Opvallende ooreenkomste nê? (Diere, wolke, Seun van ’n mens)

Die oorsigtelike betekenis van die diere in Daniël (en Openbaring) is duidelik : Dit simboliseer goddelose nasies en hulle magstrukture.

’n Menslike figuur kom dan met die wolke van die hemel (7:13) en die mag van die diere word weggeneem en aan Hom oorhandig. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy. (7:14)

Die sentrale boodskap is helder verstaanbaar : God gaan die goddelose magstrukture van hierdie bose wêreld vernietig! Of dit nou wrede leiers, bose regerings of geheime geldmagorganisasies is... God gaan hulle uitwis deur ’n menslike figuur!

Jesus die Seun van die mens is die OORWINNAAR!

Ons hoop is op Hom!

Openbaring wil presies dieselfde sê as Daniël met die gebruik van hierdie beelde. Jesus vernietig alle teenstand teen God se Koninkryk. Om verder in detail te bespiegel of hierdie dier(e) na Amerika of Rusland, Obama of Putin (ja, hy is blykbaar een van die dae weer aan bewind) verwys, is sinneloos en dit lei net tot subjektiewe wensdenkery! (En eindelose stryery) Elkeen kleur dit in soos wat dit hom pas! Die probleem om spesifieke name van mense of lande aan bepaalde beelde te koppel, is baie duidelik : Elke paar jaar, moet jy erken (as jy eerlik en mans genoeg is) dat jou vorige interpretasie verkeerd was!

Het hierdie beelde dan iets konkreets vir ons vandag te sê? Natuurlik! Dis wel aktueel, maar vir alle Christene van alle tye ... vir Christene in die tyd van Hitler wat swaargekry het onder hom sou dit reg wees om hieruit vertroosting te put, maar net so vir Christene wat vandag verdruk word in Noord Korea of verhonger in Zimbabwe of vervolg word in Iran!

Ja, hierdie goddelose strukture en figure het groot mag en groot invloed. Selfs die mag om wondere te doen en baie mense te mislei.... mens dink sommer aan Hitler se blykbaar bonatuurlike vermoëns om die massas te manipuleer! (13:13,14) Dit was so, is so en sal nog in groter mate in die toekoms gebeur! In die finale Antichris sal dit ‘n topput bereik. Wees gereed!

Maar .....Hierdie goddelose strukture gaan nie vir altyd bly voortbestaan nie, maar vernietig word deur die Seun van die mens wat sal kom met groot krag en heerlikheid. (Markus 13:26) Weereens die klem op Jesus en die evangelie gebeure! Alle mag behoort aan Jesus! (Matteus 28:18!)

Johannes gebruik dus Ou Testamentiese taal en beelde om die voleinding van die geskiedenis te beskryf.

Vir nog voorbeelde van Johannes se gebruik van apokaliptiese beelde, lees en vergelyk : Esegiël 1 en Openbaring 4:6-8 (die lewende wesens wat die almagsheerlikheid van God uitbeeld); Sagaria 1:7-17 en die vier perde in Openb 6:1-8 (simboliseer menslike ontaarding en selfvernietiging)**

Wat is die oorkoepelende funksie van hierdie apokaliptiese beelde? Vanuit verskeie hoeke gebruik Johannes hierdie bekende beelde om woordprentjies te teken van die Dag van die Here! Dis die tyd van konflik, maar ook van Goddelike oorwinning en wraak! Dit gaan oor ’n beligting vanuit verskillende hoeke en het niks met kronologiese volgorde te maak nie. Hierdie oorweldigende beelde laat ons verstaan dat geen enkele beskrywing reg kan laat geskied aan die geweldige omvattende aksie van God as Hy die kosmiese rebellie onderdruk, sy vyande uitwis en sy verlostes red nie! Dis net te groot vir woorde en beskrywing! Ontsagwekkend en verbysterend in die uiterste sin!

Die goeie nuus vir die verdrukte gelowiges in hierdie oorgangstyd is dat die wraak van God geen bedreiging inhou vir die verlostes nie! Hoekom nie? Die wraak van God het reeds neergekom op die LAM wat geslag is in ons plek! Wie aan Jesus behoort gaan dus God se wraak vryspring!

Sien die scenario in die geheel : ruiters, trompette, ongehoorde vernietiging, bakke van wraak wat uitgegooi word, wrede diere en valse profete wat oorwin word... alles is deel van die Dag van die Here! Te midde van dit alles is die gelowiges verseël (7:3,4).... absoluut veilig teen God se wraak! As ons vasval in tydroosters of in detail tegniese ontleding van huidige geskiedenis gebeure mis ons die doel.

’n Laaste vraag : Wanneer gebeur hierdie dinge, hierdie stryd en hierdie oorwinning? Die antwoord is : op die Dag van die Here! Dit gebeur nou reeds voor ons oë en sal ’n klimaks bereik met die wederkoms van Jesus.

Loof God vir sy ewige Koninkryk waarvan elke kind van God reeds deel kan wees! God se Koninkryk is ewig. Alle ander “konings” en hulle ryke....Napoleon, Hitler, Stalin, Saddam... Mussolini, Mugabe en.... ja, Malema is net tydelik en kortstondig!

* OAV = Ou Afrikaanse Vertaling 1933/53

** Du Rand p270 Volgens hom verwys die vier perde na vals propaganda, oorloë, hongersnood en dood

Vir die studie in geheel word hoofsaaklik gesteun op Graeme Goldswothy se "Gospel in Revelation"



Donderdag 29 Maart 2012

SMS : "EK IS SWANGER"

- sonde, skande en skade, maar uiteindelik (en pynlik) triomfeer die GENADE!

“Ag, nee wat sonde is darem nie so erg nie. Om ‘n ou skelmpie te hê is ook nie die einde van die wêreld nie! Kyk nou maar vir ou Dawid. Hy was dan nou kwansuis hierdie wonderlike man van God en kyk wat het hy gedoen en die Here het hom mos darem weer vergewe...!” So ‘n ligtelike houding oor sonde openbaar ‘n groot onkunde! Kom ons kyk bietjie dieper na die saak van sonde en vergifnis vanuit die hartseer geskiedenis van Dawid. (oorsaak, gevolg en vergifnis)

Oorsaak: Dawid was ‘n kind van God. ‘n Man na God se hart. God self het hom geroep daar agter die skape uit en hom geseën in sy koningskap. Hy het ‘n pad saam met God gestap en ondervind hoe die Here hom gehelp het. Hy het geweet wat dit is om op God te vertrou.... (stryd met Goliat). En toe eendag gebeur hierdie vreeslike ding. Dawid op die dak...sien die mooi vrou bad... en die res is geskiedenis! (Ons lees dit in 2 Samuel 11) Hy vlug nie dadelik vir die versoeking nie en hy val!  Moenie vergeet nie, kind van God, ons eie hart soek net ‘n geskikte geleentheid vir sonde. Ons harte is soos petrol en versoekings is soos vuur!
Waarskuwing :

Ek en jy is teen geen sonde immuun nie!

Wees bedag op die  boosheid van jou eie hart! Vlug, m.a.w. gebruik jou voete. (2 Tim 2:22) Moet nooit mak raak vir sonde nie... Juis op die punte waar ons dink ons staan sterk, kan ons dalk die maklikste val...

 

Gevolge: Na sy geheime owerspel kry Dawid ‘n saaklike boodskap : “Ek is swanger” ‘n Kort boodskappie (in vandag se tyd sou sy seker ‘n SMS gestuur het) met baie lang gevolge! (2 Samuel 11:5) Toe weet Dawid, hier is moeilikheid! Uitgevang! Maar tipies van die sondaar mens, begin hy planne maak om sy sonde weg te steek...Hy laat roep haar man Uria vanaf die gevegsfront, met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en so die bewyse uitwis... maar dit misluk... en toe laat Dawid vir Uria vermoor op ‘n slinkse manier. Kyk wat gebeur : Dawid probeer sy owerspel verdoesel en dit lei tot moord. Sonde lei tot ander sonde. Byvoorbeeld, buite egtelike verhoudings lei dikwels tot dinge soos aborsie, leuens, ongelukkige huwelike of egskeidings wat weer kinders se lewens verwoes... hulle val weer in dieselfde sondes volgens die voorbeeld van hulle ouers. Sonde het skrikwekkende gevolge. God is baie duidelik hieroor by monde van sy kneg, Natan. (Lees 2 Samuel 12:1-10) Natan kondig ‘n vreeslike straf aan. “So sê die Here : ‘Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring.’” (Sien vers 12:10-12) Dawid se verdere familiegeskiedenis wys hoe tragies waar hierdie woorde van die profeet geword het. Allerhande ellende het gevolg : bloedskande, broedermoord, sy eie seun Absalom wat in opstand kom teen Dawid en in die openbaar met Dawid se vroue gemeenskap het... Lees dit in 2 Samuel 16:21,22.

Wat sê dit vir ons?

Moenie speel met sonde nie!

Moenie na Satan se slimpraatjies luister nie! Hoe klink dit? “Jy gaan nie regtig gelukkig wees, as jy nie eers aan hierdie of daardie sonde geproe het nie!” Dis ‘n leuen! Niemand is spyt oor ‘n sonde wat hulle nie gedoen het nie! Maar baie mense, ook kinders van God is bitter spyt oor sondes wat hulle wel gedoen het. Die letsels van hierdie dinge gaan nooit weg nie...

Sonde kan nie weggesteek word nie! Toe Uria dood is, toe dink Dawid sy geheim is veilig. Hy sal met Batseba trou en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Maar God het al dit tyd geweet...

Sonde is erg omdat dit primêr sonde teen God is! Ons dink gewoonlik aan die menslike skade wat sonde veroorsaak, die ergste is egter die feit dat dit neerkom op 'n minagting van God! (Sien vers 9,10) Dis 'n verwerping van God se Woord en 'n vertrapping van sy eer! Dit moet ons laat sidder!


Vergifnis : Dawid erken sy sonde en toon ware berou. Psalm 51 gee vir ons verdere inligting oor Dawid se diepe berou en gebrokenheid oor sy sonde. God vergewe Dawid volkome. Maar moenie dink vergifnis is ‘n ligtelike goedkoop saak nie. Dawid en Batseba se seuntjie moes sterf, want die eer van die Here is deur Dawid se sonde geskend! (2 Samuel 12:13) Hierdie kind het toe wel gesterf, ten spyte daarvan dat Dawid baie ernstig gebid en gevas het. (16)

Die tragiese gebeure rondom Dawid en Batseba demonstreer die verwoestende uitwerking van sonde, maar dit het ‘n finale heerlike einde.

Die genade triomfeer!

Dawid word vergewe. Maar dis nie al nie. Na die dood van hierdie kind, het Batseba weer ‘n baba seuntjie gehad. En raai wat was sy naam? Salomo! Dawid se troonopvolger en die man wat deur God gekies is om die tempel te bou! Vers 24,25 is aangrypend heerlik : “... sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan, Jedidja laat noem, wat beteken : ‘die Here het hom lief.’” Maar dis nie steeds nie die volle hoogtepunt van God se heerlike genade nie. Uit Salomo se nageslag word die Verlosser Jesus gebore. In Matteus se geslagsregister word daar spesifiek van Batseba (genoem die vrou van Uria) melding gemaak! (Matteus 1:6) Dit dra ‘n heerlike boodskap : Jesus vereenselwig Hom met sondaars! Hy bring hoop vir werklike sondaars!

Twee sake staan uit in hierdie stuk geskiedenis:

Die verwoestende aakligheid van sonde : Sonde bring smarte, skande en skade. Sonde is nie speletjies nie. Dis ‘n slang met dodelike gif en skrikwekkende nagevolge. Vlug weg van alle versoekings en sonde. Veg daarteen al kos dit jou bloed!

Die heerlikheid van genade : Gelukkig is daar iets soos vergifnis. (Psalm 130 is die klassieke antwoord as jy hiermee worstel) Volledige vergifnis omdat Jesus ons sondestraf volledig gedra het. Maar laat ons nooit ligtelik dink oor hierdie vergifnis nie!

Vergifnis het God se Seun groot pyn gekos!

Die pyn van Godverlatenheid aan die kruis om vir ons hierdie versoening te bewerk. Kom, aanvaar hierdie genadige versoening. Wees eerlik voor die Here soos Dawid en ontvang sy vergifnis. By Hom is daar ‘n nuwe begin! Wys dan jou danbaarheid deur ‘n lewe van radikale liefde en gehoorsaamheid!