BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 14 Januarie 2016

OFFER JOUSELF!

NIE ‘N LYSIE NIE, MAAR ‘N LEWENSRIGTING! 



[Die raad wat jy nie by jou “lifecoach” gaan hoor nie...]

Gelukkig lees ons nêrens in die Bybel dat ons ‘n lysie van nuwejaarsvoornemens moet opstel nie. Ons kry wel in die Skrif ‘n baie duidelike , maar radikale koersaanduiding vir die kind van God. Nie net vir die nuwe jaar nie, maar vir ons hele lewe. Dit kom neer op : OFFER JOUSELF!

Ons vind hierdie dringende opdrag in ROMEINE 12:1,2

"En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."

Sjoe! Offer is nou nie juis ‘n term wat ons met ons lewensideale in verband bring nie.  "Offer jouself" is nie een van die temas van al hierdie motiveringsprekers en “lifecoaches” nie, maar dis die Bybelse ideaal en doelwit vir God se kinders. Om geoffer te word is nie juis ‘n lekker ding nie. Dink aan wat met ‘n offer dier gebeur – vasgebind op ’n altaar, keel afgesny en verbrand. Dis niks minder nie as ‘n volkome prysgawe van jouself...

VIR BEGENADIGDES

Radikaal, byna onwerklik. Amper absurd... Is dit regtig wat God van ons vra? Hoe moet ons dit verstaan? Vir die agtergrond van hierdie opdrag moet ons eers weer teruggaan na die eerste helfte van die Romeine brief wat eindig aan die einde van hoofstuk 11. Julle sal onthou hoe ons verlede keer besin het oor die doksologie in vers 33-36. (Kliek op DOKSOLOGIE) Paulus bars uit in verwondering en aanbidding voor God. Waarom? Hy word oorweldig deur die verbysterende, asemrowende, verstommende genade en wysheid van God wat hy beskryf het in die eerste deel van sy brief. Wat behels dit alles? God skenk vir ons in Jesus Christus volledige vryspraak uit genade, vrede met God, kindskap, ‘n ewige erfenis saam met Jesus. Hy gee verder die heerlike belofte van sy standhoudende liefde. (niks kan ons van hierdie liefde skei nie) Dis alles onverdiende guns en genade! Dis onbeskryflik en onbegryplik heerlik!

Die opdrag om jouself te offer maak net sin teen hierdie dramatiese agtergrondsfeit van die genade van God. Anders gesê, hierdie opdrag kom eksklusief net na mense wat God se genade reeds gesmaak het...en dus saam met Paulus wil uitjubel oor God se guns en goedheid! (Onthou hierdie dringende beroep geskied op grond van die groot ontferming van God.) In effek sê Paulus, omdat dit als waar is, is daar net een redelike reaksie, net een soort sinvolle godsdiens : GEE JOUSELF AS OFFER AAN GOD! Hier het ons die ideaal en ambisie van die begenadigdes!

HOE OFFER EK MYSELF?

Wat behels hierdie offer van jouself prakties? Dit gaan oor die beskikbaar stelling, eenkant sit en toewyding van jou hele menswees aan God. Letterlik staan die woord “liggaam” in die Griekse teks.* Toewyding is nie net ‘n geestelike saak nie, dit gaan oor konkreet prakties anders leef en anders doen. Paulus het eintlik reeds hierdie saak in Rom 6:13 aangeroer. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”

In vers 2 word dit nou vir ons prakties verder ingevul wat dit beteken om jouself volkome aan God te offer of dan nou toe te wy. Dit word eers negatief en dan positief gestel.

Negatief. “moenie aan hierdie sondige wêreld gelykvormig word nie” Wees anders en doen anders! Breek met die gedragspatrone, die gewoontes, die leefstyl van die sondige sosiale en kulturele sisteem waarin julle julleself bevind. Die wêreld rondom ons het ‘n siening oor geld, oor mag , oor populariteit (in wees), oor sukses, oor seksualiteit, oor sekuriteit, oor vergelding... wat teen God se Woord en opdragte indruis. Die wêreld se siening is (en dit word in elke fliek wat jy kyk en byna elke liedjie wat jy luister gepropageer...) kry soveel geld as moontlik, probeer by almal in en gewild wees, jaag na sukses soos die glanstydskrifte vir ons voorskryf en die glansganse dit projekteer, leef losbandig met selfsugtige seksuele genot as hoogste ideaal, bou jou eie sekuriteit met geld, mag en invloed, kry almal terug wat jou leed aandoen en trap hulle in die grond in...

Ons wat genade ontvang het moet teen hierdie sienings en leefstyl kies. Ons moet daarmee breek. Dis ‘n baie ernstige saak, as ons kyk wat die apostel Johannes hieroor gesê het. “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie Die wêreldse dinge -alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit - kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Johannes 2:15-17) Die wêreld se sienings maak elke dag ‘n appèl op ons, dit nooi ons en roep ons om deel te wees, maar dis waar die offer van jouself inkom, breek daarmee, kies daarteen, dink en doen anders...

DIE WIL VAN GOD IS DIE NORM EN NIE DIE MODES EN OPINIES VAN DIE SAMELEWING NIE!

Positief. “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” Hier sien ons pragtig wat praktiese heiligmaking in ‘n Christen se lewe behels. Dis ‘n voortdurende proses van denkverandering. Ons doen mos soos ons dink, elke daad het sy oorsprong in 'n gedagte. Om anders as die wêreld te doen, moet ons leer om anders te dink... Ons breine moet herbedraad ("ge-rewire") word! Die ou sondige patrone moet afgeleer word en die nuwe Bybelse patroon aangeleer word!

Hier word nie ‘n eenmalige “second blessing” ** of krisiservaring voorgeskryf nie, maar God se kinders word eerder opgeroep tot ’n proses van konstante denkvernuwing en transformasie. Hierdie transformasie word in 2 Kor. 3:18b so beskryf... “...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word." Dit gaan daaroor dat ons prakties in elke lewenssituasie en keuse ons sal onderwerp aan God se wil. Die wil van God en nie die modes of opinies van die wêreld nie, moet ons lewens reguleer. Die wil van God is nie ‘n geheim nie, ons hoef nie te wag vir ‘n stem of engel nie, dis wat God in sy Woord leer. Die kind van God onderwerp homself aan ‘n voortdurende leerproses om volmaak gehoorsaam te wees aan die Here. So ‘n kind van God het ‘n honger na die Woord, so ‘n kind van God het ‘n opregte begeerte om te verander en die Here te gehoorsaam, al kos dit wat... Ja, gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte kan selfs fisies ons lewe kos hier op aarde.

Is jy ‘n begenadigde? Het jy besef dat jy ‘n rebel en verlore sondaar was, maar dat God jou heeltemal vergewe het en as sy kind aangeneem het? Dan is daar net een logiese reaksie van dankbaarheid... Juig oor die genade en gee jouself as ‘n lewende heilige offer aan God. Dis die verpligting waaronder ons as begenadigdes staan, maar dis veral ons vreugdevolle voorreg...***

Sterkte vir die offer in 2016!


*Moontlik beklemtoon hy dit omdat die Grieke die liggaam as minder belangrik beskou het en mense die gevolgtrekking gemaak het dat wat jy met jou liggaam doen, nie juis belangrik is nie. Die OAV lees as volg : ” Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.


** “It is not the beggarly notion of second blessing that the apostle propounds but that of constant renewal, of metamorphosis in the seat of consciousness.” John Murray se kommentaar op Romeine, p114

*** Dis ook die voorwaarde vir "sukses" in Koninkryksterme. Sien Johannes 12:24,25!



[Die graf van Martin Rautanen en drie van sy kinders. Hierdie Finse pioniersendeling in Owamboland het die konsep van "offer jouself"  verstaan en prakties uitgeleef! Hierdie radikale gehoorsaamheid het egter tot heerlike vrug en ewigheidsvreugde gelei...]

Woensdag 13 Januarie 2016

RAMP BY KEURBOOMSTRAND



Die Kersdiens sonder Jesus


Ons kamp by Keurboomstrand. Die omgewing is pragtig en die weer wonderlik. ‘n Mens voel sommer lus om die Here groot te maak. Met hierdie gemoedstoestand besluit ek en vroulief op Oukersaand dat ons die volgende oggend ons spannetjie gaan aanjaag na die “Boskerk” wat volgens ou kampers laer af in die kampterrein onder die bome gehou word. Blykbaar ‘n baie gewilde bymekaarkomplek. Ek is van vroeg al op en soos gewoonlik bekommerd dat ons weer laaste daar gaan opdaag en ons kan nie juis ongemerk insluip met ‘n ‘n 18 jarige, ‘n eenjarige en iets van alles tussenin nie.

Ek raak daarom toe ook besonder kriewelrig toe al meer en meer mense met stoele al van vroeg oggend by ons tent verbystroom onmiskenbaar op pad na die Boskerk met stoele in die hand, op die kop en selfs op bakkies gelaai. Die diens begin mos eers 10HOO? Om onnodige spanning te voorkom maak ek so 9H30 die voorstel dat ek maar solank sal gaan om plek te hou. Op pad soontoe is my stille gebed dat die preek tog my oudste sal aanraak wat maar swaar op my hart lê.

Ook maar goed ek het betyds gegaan. Die plek was stampvol. Maar nog net met stoele. Dit was blykbaar die gewoonte om eers jou stoel te gaan plaas en dan later, kort voor die diens jouself op die stoel te gaan plaas.

Nou ja, uiteindelik het my spannetjie darem opgedaag en het ons ons sit gekry. Die Boskerk was gepak. Baie bekende openbare figure het na ‘n stoel geskuif, van oud springbokke tot bekende predikante. Nadat ‘n paar bekende Kersliedere gesing is, party minder geslaagd as ander, is ons welkom geheet en die prediker voorgestel. Nogal van Pretoria en ‘n studenteleraar. Sekerlik die regte man vir die kinders....

Met verwagting het ek na Johannes 3 geblaai wat ons teksgedeelte sou wees. Ja, dit is nou ‘n goeie gedeelte vir die geleentheid het ek stilweg gedink – jy kan wedergeboorte en Jesus se koms wonderlik hier bymekaarbring.

Die preek begin goed. Enkele sinvolle inleidende opmerkings word gemaak oor die feit dat Jesus in Johannes evangelie dikwels iets leer deur misverstand. So byvoorbeeld dink die vrou by die put Jesus praat van gewone water terwyl Jesus van geestelike water praat. Hier in Johannes 3 praat Jesus oor geestelike geboorte, terwyl Nikodemus dag Jesus praat oor fisiese geboorte. Ek is heel opgewonde, vanoggend kan hier dalk iets gebeur...

Daar was nog een, volgens my, sinvolle aanhaling van iemand wat verwys na die feit dat ons dink ons is vry met al ons sosiale media, maar eintlik is ons meer vasgevang as ooit. Dit was dit. Hierna is my verwagtinge stadig maar seker tot poeier verpletter. Of daar ooit weer in die preek na Jesus verwys is kan ek nie heeltemal onthou nie, maar indien wel, net so terloops. Van Sy koms, onthou dit was Kersdag – niks. Toe ons almal nog dink dat hy gaan begin, toe eindig hy en maak verskoning teenoor die kinders dat die diens so lank was!

So wat het hy eintlik gesê? Hier is my beskeie poging om nadat ek alles gesif het, uit te kom by die kern van die preek. Johannes 3 gaan volgens die prediker oor vryheid. Nikodemus was nie vry nie, hy was deel van ‘n groep waar hy nie vry was nie. Daarom kom hy na Jesus. Hiermee kan ek nog saamgaan. Maar hoe word ek vry? Wat is wedergeboorte volgens die prediker? Wedergeboorte vind plaas wanneer jy deel word van ‘n groep/gemeente waar jy aanvaar word met al jou unieke andersheid. Dan is jy waarlik vry. 

As ek hom verkeerd verstaan het sou ek graag reggehelp wou word. Maar dit is maar wat my vrou ook gehoor het. My arme kinders het helaas niks gehoor nie!

Ek was, om dit lig te stel, ontstoke. Ek het gevoel ek is gekul, beroof. My hart was stukkend oor die honderde om my wat net mooi niks oor Jesus, Sy menswording en verlossing op hierdie heerlike dag gehoor het nie.

Nadat die prediker op ligter toon die kampgangers vermaan het om nie Bybelse vrae vir hom op die strand te vra nie aangesien hy wil ontspan, het ons almal soos skape ( wat geen groen gras gekry het nie) malende wegbeweeg na ons tente. Ek kan nie onthou dat ek iemand iets hoor sê het oor die feit dat daar geen Kersfees, geen Jesus, geen evangelie was nie. Ek het gewonder. Aanvaar almal dit maar? Sekerlik moet daar nog wees wat voel soos ek... 

Almal kan tog nie tevrede wees met ‘n Kersdiens sonder Jesus nie?

[Geskryf deur  dr. Jacobus de Koning van Pretoria]






Donderdag 07 Januarie 2016

‘N DOKSOLOGIE VIR DIE NUWE JAAR

- Sien God raak en begin Hom bewonder en prys!

Hoe moet ons ‘n nuwe jaar begin? Hoe moet ons na die toekoms kyk en waarop moet ons fokus?



Ons grootste probleem (nie net nou nie, maar oor die algemeen) is dat ons by onsself begin. Ons is so subjektief, so egosentries, so opgetrek met onsself. Selfs ook as ons hier in die kerk is, ja juis ook wanneer ons die Woord oopmaak of as ons bid is ons so dikwels gepreokkupeer met onsself. Hoe gaan my probleme opgelos word, hoe gaan my planne in werking gestel word, hoe gaan ek my hoogste ideale bereik? Hoe raak die droogte, Zuma en die swak Rand my sak? Weet jy, dis ‘n groot dwaasheid om op hierdie dinge te sit en broei! 

Hoe meer ek op my probleme fokus hoe groter word hulle. Jy sal weet, daar is probleme waarmee jy al jare worstel en jy kom niks verder nie. Jy bid miskien baie oor die probleme en dit help nie, al wat gebeur is jy herinner jouself net daaraan en dit maak jou dalk net meer depressief*. Of ons is geneig om altyd net planne te maak en uit te dink wat om onsself draai. Ook wat ons geestelike lewe betref, draai ons denke maar om onsself, my geloof, my getuienis, my rol in die kerk...Dit is natuurlik nie opsigself verkeerd nie, maar dis nie waar ons moet begin nie...

BEGIN BY GOD. WIE HY IS EN WAT HY DOEN!

Ons moet altyd by God begin. Dis waar die Bybel begin. "In die begin het God die hemel en aarde geskape." Dis waar Paulus ook sy brief aan die Romeine (en al sy ander briewe begin) By God... In sy aanhef tot die brief is hierdie klem al duidelik... “afgesonder vir die evangelie van God” (1:1) Moenie begin by jouself en jou behoeftes nie. Begin by God. Wie is Hy en wat het Hy gedoen en wat doen Hy nog steeds! Wees verwonderd oor God en jy sal uiteindelik ook verbaas wees oor die verskil wat Hy in jou lewe maak en hoe jou eie probleme al kleiner en minder belangrik raak!

HOE MEER EK GOD SE GROOTHEID EN GOEDHEID BESEF, HOE KLEINER KRIMP MY EIE PROBLEME!

Kom ons lees saam deur die Romeine brief en staan saam met Paulus verwonderd oor wat God doen... Sommer net so ‘n paar voorbeelde:

Dis God wat die evangelie geïnisieer en lankal deur die profete aangekondig het. “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig," (1:2)

God het julle lief en Hy skenk genade en vrede! “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1:7)

In 1:16,17 raak Paulus lieries oor die evangelie , want dis die KRAG VAN GOD... Daarna egin hy met sy uiteensetting van die evangelie boodskap...

God stort sy heilige toorn (wraak) en regverdige oordeel uit oor die goddelose mensdom. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (1:18)

Maar dis juis ook God wat ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (2:4)

En dan nadat Paulus die sondigheid van beide heiden en Jood onderstreep het, kom hy by die groot tema van die brief, God wat vryspraak gee deur die geloof in sy Seun. Vryspraak beteken dat God ons as skuldige sondaars onskuldig verklaar! “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (3:21,22) 

So bewerk God self vrede tussen ons en Hom. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (5:1)

SIEN JY, GOD SPEEL DIE HOOFROL? DIT GAAN OOR SY MAGTIGE DADE EN GROOT LIEFDE!

Ook as Paulus die probleem van ons swaarkry en verdrukking aanspreek dan fokus hy op God wat met alles ‘n doel en plan het. (vrygespreekte kinders van Good is immers soos ons al almal agtergekom het nie, gevrywaar van verdrukking en ellende nie) En dit bring ons by die verbysterende heerlike uitspraak van 8:28-30! “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Ons hele verlossing word van voor tot agter beplan en suksesvol voltooi deur God! En God gebruik alles, ja ook droogte, Zuma, siekte of ongelukke... om ons by sy heerlike doel met ons uit te bring!

Dan kan Paulus nie anders nie as om die heerlike gevolgtrekking in vers 8:31-39 te maak nie! (lees dit in jou eie Bybel weer ‘n slag aandagtig)

GEHEIMENIS

Maar Paulus is nog nie klaar gepraat oor God nie. Die volgende saak wat hy aanspreek is die hele kwessie van Israel. Mense sou kon wonder of God se plan met Israel misluk het, want hulle het Jesus dan verwerp. Paulus gebruik hierdie saak om die onbeskryflike wysheid van God en sy soewereiniteit en sy weergalose genade te onderstreep. God gee sy genade soewerein aan wie Hy wil! (9:15-16) Dan verduidelik Paulus dat alles deel van God se plan was. Deurdat Israel die evangelie verwerp het, het die heidennasies nou ook ‘n kans gekry om deel van God se volk te word. So sal al God se uitverkorenes uiteindelik gered word! Dis ‘n groot geheimenis! “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het;” (11:25) Terloops, God se werkinge is ‘n geheimenis, en as jy ooit voel om God se planne en werkinge met jou te kritiseer, sit liewer jou vinger voor jou mond soos Job en swyg. Want wie kan God verstaan?

DOKSOLOGIE

En as Paulus so oor die grote God gepraat het, oor sy liefde en sy genade, oor sy heiligheid en sy oordele, oor sy ewige uitverkiesing en soewereiniteit, dan kan hy nie anders as om uit te bars in ‘n lofprysing (doksologie) nie!

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (11:33-36)

Dit gaan oor een heerlike saak – GOD IS REGTIG GOD, ver verhewe bo ons begrip en verstand. Ons kan Hom nie analiseer,ontleed of "uit figure" nie! Ons kan Hom nie verstaan nie, maar kan maar net sy grootheid, wysheid, almag, genade... bewonder en Hom aanbid! Hy is God, Hy het ons nie nodig nie, ons het Hom nodig! Hy skuld ons niks nie, en tog is sy genade onbeskryflik groot!

O, vriende, so dikwels verval ons in die vermetele dwaasheid om vir God te wil reghelp en raadgee... is dit nie totaal simpel nie? Ons nietige mense wil vir die Skepper van die oneindige heelal, vertel wat Hy moet doen... Ons sondige wesens wil kritiek lewer op die regverdigheid van die liefdevolle God wat sy Seun vir ons geoffer het...

God is die bron van alles, alles begin by Hom! God is die bewerker van alles, Hy voer sy planne uit en daarom sal niks en niemand Hom stuit nie! God self, sy eie heerlikheid is die doel van alles. Dis so duidelik ook van toepassing op ons verlossing : God het ons eerste uitgekies en ons verlossing beplan en sy Seun gestuur as soenoffer, Hy maak deur die Heilige Gees die verlossing 'n werklikheid in ons lewe deurdat Hy vir ons geloof en bekering skenk. Hierdie verlossing dien alles tot die eer en verheerliking van sy Heilige Naam, ja alles tot Hom!

Mag ons as mense ons nederige plek ken. Mag ons bevry word van die verknegting aan onsself! Die heelal draai nie om my nie, maar om God. En tog hierdie grote God is my genadig deur Jesus! Hy spreek skuldige nietige mense vry en maak hulle sy eie kinders en erfgename sodat ons Hom, Abba, Vader mag noem!

Wat is dus die beste manier om 2016 mee te begin? Fokus op God en loof Hom. Begin met ‘n doksologie. Begin sommer elke dag van jou lewe so! AMEN!

*Natuurlik mag ons ons probleme voor die Here in gebed bring. (Vgl. Filippense 4:6), maar gebede wat altyd net in die eerste plek oor myself en my behoeftes gaan, is nie in lyn met God se wil nie. Soos ons in die ONSE VADER geleer word moet gebed in die eerste plek op God se eer en koninkryk fokus. Selfsugtige gebede sonder dank aan God wat net altyd op my probleme en behoeftes fokus gaan my inderdaad depressief maak.


Saterdag 02 Januarie 2016

KOERSVAS IN DIE NUWE JAAR

- nie los voornemens nie, maar ‘n duidelike roeping en rigting!



Die Bybel praat nêrens van nuwejaarsvoornemens nie (gelukkig nie), so jy hoef nie so sleg te voel as jy nie so iets het nie of hulle binne die eerste week al vergeet het nie.


Die Woord gee egter ‘n duidelike roeping en rigting waarvolgens die kind van God sy hele lewe en dus ook die jaar 2016 behoort in te rig. Die apostel Paulus is ‘n handboekvoorbeeld van iemand wat hierdie roeping en rigting ernstig opgeneem en konkreet uitgeleef het.

Twee voorbeelde uit sy lewe kom by mens op. Dit sal jou as kind van God dalk baie goed doen om dit so ‘n bietjie te herkou voordat die nuwe jaar op dreef kom en ons die gevaar loop om maar net weer deur die maalkolk van verpligtinge en gebeure meegesleur te word.

Die een voorbeeld kom uit Paulus se brief aan die Filippense. Dis brief wat hy uit die tronk skryf. Wat dit so merkwaardig maak is dat jy tevergeefs na pessimisme en selfbejammering in hierdie brief soek. Inteendeel, gaan lees bietjie die kort briefie en kyk hoeveel keer kom die woord blydskap daarin voor... Hoe kry Paulus dit reg? Hy het geleef volgens ‘n duidelik doelwit en roeping sedert sy ontmoeting met Jesus op pad na Damaskus. Al sy vorige bates het vir hom onbelangrik en niksseggend geword en nou het hy een fokuspunt en ideaal : JESUS CHRISTUS!

Kyk hoe treffend stel hy dit: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Filippense 3:10,11 NAB) 

Sy lewe draai om Christus (dit sê hy reeds in hoofstuk 1) tot so ‘n mate dat hy homself ten volle met Christus vereenselwig tot op die punt om ook in Jesus se lyding te deel. “Kom wat wil, ek wil net Jesus en sy krag beter leer ken en ondervind!”

Hierdie roeping van Paulus en die lewensrigting waarvoor hy gekies het, was nie maar net ‘n stuk filosofie op papier nie, maar was bepalend vir sy praktiese besluite en keuses. 

Ons kry ‘n pragtige voorbeeld hiervan in Handelinge 20. Paulus is besig met sy terugreis na Jerusalem na die voltooiing van sy derde sendingreis. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese in ‘n aangrypende rede. Op hierdie stadium was dit duidelik dat groot moeilikheid en vervolging op Paulus in Jerusalem sou wag, soos dit inderdaad ook gebeur het. Paulus sê onder andere:

“En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 
Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap* my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (Handelinge 20:22-24 OAV)

Een ding tel vir Paulus en dis om sy bediening wat hy van Jesus ontvang het te volvoer. In die lig van dreigende gevaar gaan sit hy nie op ‘n hopie en kou angsbevange sy naels nie... Nee, een visie oorheers sy hele lewe, die opdrag wat Jesus hom gegee het, om te getuig vir die evangelie van God se genade. Hierdie roeping vervul hy met BLYDSKAP! Wat verder met hom gebeur is ‘n bysaak... Dit wou hy voluit doen sonder vrees. Hoekom moes hy vrees? As hy lewe beteken dit vrugbare arbeid en as hy dan wel moet sterwe, dan is dit net wins, want dan is hy waar hy volkome gelukkig kan wees, vir altyd by Jesus!

Elkeen wat genade ontvang het, is geroep om 'n getuie te wees van hierdie genade, maak nie saak op watse manier nie!

Uit al twee voorbeelde is dit duidelik dat 'n koersvaste roepingsbewustheid, gepaard gaan met vreugde en blydskap, ongeag die omstandighede!

KOERSVAS MET VREUGDE!

Ek dink dis geweldige bevrydend om hierdie lewensbeskouing te hê en opnuut ons aan die begin van hierdie jaar daartoe te verbind en onsself gedurig weer hiertoe op te skerp...

Mag ek jou ‘n koersvaste 2016 toewens, gekenmerk deur ‘n duidelik roeping en rigting... wat ook al met ons verder sou gebeur, sal ons Here ons voor krag gee...



* volgens Bisantynse teks

Woensdag 02 Desember 2015

GOD IS GOED!

- Regtig? Wat van...?


GOD IS GOED, altyd goed, net goed, absoluut goed! Kan jy dit met oortuiging sê, so aan die einde van ‘n jaar? Dit was mos ‘n moeilike jaar... tragiese sterftes, huweliks en gesinsverbrokkeling, droogte... en op internasionale vlak, dink aan Parys, Sirië, Nigerië, Mali om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Geweld, bloed, pyn, verlies...

Is dit eerlik en waar om te juig : GOD IS GOED! Weet jy, dis so belangrik om hiervan oortuig te wees. As ek skepties oor God se goedheid is, as ek twyfel oor God se goedheid en liefde, hoe gaan ek Hom vertrou en hoe gaan ek Hom dien en liefhê? (en liefde tot God is mos die belangrikste gebod van almal) 

GOD IS GOED - dis ’n wesenswaarheid. As ons nie glo in die goedheid van God nie, dan glo ons nie in die ware God nie, want die ware lewende God is goed en Hy is altyd goed en kan niks anders as goed wees nie!

PSALM 118

Psalm 118 kan ons weer help om God se goedheid te verstaan en daaroor opgewonde te raak. Hierdie psalm is ’n lofpsalm. Ons sou ook kon sê dis ‘n geloofsbelydenis oor die goedheid van God. (Heel moontlik was dit deel van ‘n sogenaamde poort of toegangsliturgie wat deur die pelgrims gesing is om toegang tot die tempel te verkry vgl. 118:19 “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.”) Die tema van hierdie psalm baie duidelik : God is goed en aan sy verbondstrou/liefdestrou is daar geen einde nie. Die psalm begin en eindig met hierdie stelling.

Vers 1 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Vers 29 “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Uit hierdie psalm wil ek twee sake onder jou aandag bring wat die goedheid van God bo alle twyfel bevestig.

A. GOD IS ‘N REDDENDE EN HELPENDE GOD. 

Dis die getuienis van alle kinders van God deur alle eeue. God se goedheid kom na vore deurdat Hy sy kinders in liefde help en red. God se kinders kan getuig van gebedsverhoring, versorging, vertroosting, uitredding...en oorwinnende vreugde binne die slegste omstandighede. Drie dinge kom veral na vore uit die mond van die gelowige bidder :

1. Die Here is aan my kant. “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ‘n mens aan my doen?” (5,6) Vergelyk dit met Romeine 8:31,32. “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” en Hebreërs 13:5-6* God is vir en by sy kinders, dis ‘n vaste feit waarvan elke kind van God seker kan wees in alle omstandighede!

2. God se kinders is veilig! (17) “Ek sal nie sterwe nie, maar lewe om die verlossingsdade van die Here te verkondig.” Van uit die Nuwe Testameentiese perspektief gesien is die implikasie, God se kinders sal nooit verlore gaan nie. Fisies sal ons sterwe, maar ons gaan die ewige dood vryspring! Ja, selfs op die brandstapels deur die eeue was God se kindrs hiervan oortuig en die vlamme kon hierdie hoop nie verteer nie!

3. Tug en opvoeding is deel van die goedheid! Jy vra miskien: “Maar wat dan van die swaar tye, bittere beproewinge en hartseer wat dikwels op die pad van God se kinders kom?” Die Here kasty sy kinders. “Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.” (18!) Dis steeds deel van sy goedheid! Hoe onverstaanbaar ook al! (Vgl. Romeine 8:28!) Die Here tugtig diegene wat Hy liefhet. (Lees ook Hebreërs 12 :5,6,10)

Belangrike nota : Daar is 'n dieptedimensie aan hierdie psalm wat ons nie mag miskyk nie, en dit is dat die ervaring van God se goedheid by uitnemendheid in die lewe van Jesus as mens op aarde 'n werklikheid geword. Dit bring mens dan by die volgende punt... 

B. GOD SE GOEDHEID WORD OORTUIGEND SIGBAAR IN JESUS

As ons uit ‘n Nuwe Testamentiese perspektief na hierdie psalm kyk merk ons nog ‘n meer dramatiese bewys van God se goedheid op! “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” Vers 22! Verskeie Nuwe Testamentiese skrywers haal hierdie gedeelte aan om die lewe en werk van Jesus te beskryf. (Byv. Handelinge 4:10-11).** Die absolute bewys van God se goedheid en getroue verbondsliefde word sigbaar in Jesus! Jesus self is die hoogtepunt van God se goedheid. 

God is goed, want kyk - Jesus het Homself verneder en ‘n mens geword in die stal van Betlehem. 

God is goed, want kyk - hoe het Jesus geleef hier op aarde. Hy het tyd, liefde en genade gegee vir uitgeworpenes, kindertjies, siekes, sondaars. 

God is goed, want kyk – daar was ‘n kruis! 

As u twyfel oor die goedheid van God kyk veral na Jesus stukkend gebreek aan ‘n kruishout! Hy is deur almal verwerp, sy eie familie, sy eie volk, en selfs sy eie dissipels ....maar God het Hom uitgekies as die hoeksteen, die belangrikste klip, die enigste Middelaar (!) tussen God en mens. 

Die goedheid en die liefde van God is vir eens en altyd bewys aan die kruis...Kyk na Hom daar waar Hy hang ter wille van my en jou! 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Hy besmeer met ons sondes aan kruis in pyn na sy asem hyg! 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Jesus die straf in my plek kry. 

Waar sien ons God se goedheid? - daar waar Jesus uitroep : Dis volbring!

Waar sien ons God se goedheid? - by die leë graf waar Psalm 118:18 letterlik waar geword het en Jesus triomfeer oor die dood!

Geliefde, ’n mens smaak en besef die goedheid van God eers werklik as mens die betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding begin verstaan en dit persoonlik vir jouself toe eien.

SAAK VAN GELOOF!

Natuurlik, na dit alles twyfel ons nog soms oor God se goedheid. Worstel jy nog oor die feit van God se goedheid, wonder jy of God altyd regverdig is? Dis menslik, ons sien nog nie die volle prentjie nie, ons verstaan nie al God se besluite en werke nie, maar ek kan u verseker ......al God se kinders wat reeds in die hemel is, is volkome oortuig dat God net God is en altyd goed is. As ons daar kom sal ons beslis saamstem! Nou terwyl ons nie volmaak is nie, lyk God se optrede partykeer nie vir ons goed nie; daarom is die belydenis van God se goedheid nou ’n geloofsaak. 

Ons glo in sy goedheid, want die feit van die kruis bevestig dit. 

Ons glo in sy goedheid, want die Woord sê so. Eendag sal ons God se goedheid volledig sien en besef. 

Die waarheid van God se goedheid sal die toets van die ewigheid deurstaan - dan sal ons volmaak geheiligde hart en verstand saamstem en ons stemme uitjubel: God is goed! God is volmaak goed! God is net goed! God was en is altyd goed! 

ONS REAKSIE?

Ons het nou gehoor : God is goed! Maar wat daarvan? Wat moet ons reaksie wees?

Ons moet God loof en prys! “Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.” (27,28) In alle omstandighede moet Hy geprys word! Malligheid? Nee, dis nugterheid. U sien Christene is realistiese mense - ons kyk na die ware feite. Ons prys nie ons hartseer omstandighede opsigself nie, nee ons huil daaroor (ween saam met die wat ween) Maar daar is ook op hierdie oomblik ’n ander feit wat ’n groter feit is as ons hartseer en teleurstellings : God is goed! Dis die rede vir ons lof! (Dink aan Paulus en Silas in die tronk!) 

Hoe snaaks dit ook al mag klink - ’n tyd van droefheid is juis ’n tyd om gelowig te bely en te juig : God is goed! 

Bekering. Daar is nog ‘n belangrike perspektief op God se goedheid. Romeine 2:4 meld ook ’n ander reaksie wat God se goedheid by ons moet oproep. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” God se goedheid roep ons tot bekering. Geliefde, God was en is goed vir jou. Sy goedheid skyn oor jou, miskien al vir 60,70, meer as 80 jaar! Wat het jy daarmee gemaak? Het dit jou al tot bekering gelei? Met ander woorde, het God se goedheid jou daartoe gebring om Jesus persoonlik te omhels?

Die goedheid van God is ’n vaste heerlike realiteit, nou op hierdie oomblik. 

Geliefdes, ons moenie die goedheid van God ligtelik opvat nie! Dit plaas ’n verantwoordelikheid op ons elkeen. Ons moet God loof. Ons moet ons bekeer tot Jesus as enigste Here en Verlosser. 

NASKRIF : Wat van God se wraak en oordele? Is Hy nog steeds goed as Hy die aarde met rampe en ellende tref? Want inderdaad giet God nou reeds oordele uit oor hierdie wêreld as voorskou van sy finale oordeel. Lees gerus Openbaring 16.

Let op die uitsprake van die engel : “Toe het ek die engel wat oor die water toesig hou, hoor sê: "U is regverdig, U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel voltrek het; want hulle het die bloed van die gelowiges en van die profete vergiet, en U het hulle self bloed laat drink. Dit het hulle verdien."
Toe het ek die engel wat oor die altaar toesig hou, hoor sê: "Ja, Here God, Almagtige, betroubaar en reg is u oordele."

GOD IS ALTYD GOED, OOK AS HY OORDEEL EN WRAAK UITOEFEN!

*Hebreërs 13:5-6 “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."
Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?"

** Handelinge 4:10-11 “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.
Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

[Hiermee groet ek eers DV vir 2015. Vreugdevolle feestyd vir jou waartydens jy opnuut bewus mag word van God se goedheid in Jesus!]

Dinsdag 01 Desember 2015

BLYDSKAP OOR MY NAAM IN DIE BOEK...

-die grootste vreugdesfeit wat die vyand nie kan roof nie en selfs die westewind* nie kan wegwaai nie! 

Daar is baie dinge wat ons bly maak – goeie eksamenuitslae, finansiële voorspoed, gesondheid, reën (ja, veral reën as jy in Namibië woon), allerhande suksesse... Dis nie verkeerd nie, dis normaal om bly te wees oor hierdie dinge...Die probleem met hierdie blydskap is dat dit net so maklik as wat dit kom ook kan verdwyn... dit gaan nie altyd goed met die eksamenuitslae nie, daar is baie dinge wat finansiële voorspoed kan opvreet, gesondheid is iets wat oornag kan verdwyn, reën weet ons baie goed kom nie altyd wanneer ons dit wil hê nie, ons is nie altyd suksesvol nie... wat word dan van ons blydskap?

GOEIE TYDING VAN GROOT BLYDSKAP

En ons sou ook kon vra, wat het geword van die belofte wat saamgegaan het met Jesus se geboorte? Die belofte van blydskap wat die herders van Betlehem op daardie besondere nag gehoor het? “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2:10)

Groot blydskap! Is dit hoegenaamd waar? Hoe is dit waar en vir wie is dit waar? Wat dan van al die slegte dinge wat gebeur?

WEES REALISTIES EN KYK NA BLYDSKAP UIT 'N EWIGHEIDSOOGPUNT!

In Lukas 10:17-20 gee Jesus vir ons ‘n kosbare en belangrike perspektief op blydskap.

Die agtergrond is die uitsending van die sewentig dissipels. Hulle is op ‘n uitreiking gestuur met die opdrag om vir siekes te bid en die boodskap van die koninkryk te verkondig. (9) Dit was nie ‘n maklike opdrag nie. Jesus het vir hulle gesê, Hy stuur hulle soos skape onder wolwe. Hulle moes teenkanting en moeilikheid te wagte wees!

Dit blyk egter dat dit baie goed gegaan het met hierdie sendinguitreik. Die dissipels was vol blydskap met hulle terugkoms. “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: "Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam." (17) Jesus beaam en erken hulle “sukses”. “Ja, dis goed so, julle is bevoorreg...”

Maar dan gee Hy ‘n belangrike perspektief, dis eintlik of Hy ‘n korreksie wil aanbring op hulle blydskap. “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is." (20) “En tog...” Dis asof Hy sê: “Ja, dis goed om bly te wees oor julle sukses en gesag, maar blydskap gaan oor iets baie belangriker. Wees veral bly dat julle name in die hemel opgeskrywe is...”

BOEK VAN DIE LEWE

Uit die res van die Skrif weet ons dat daar ‘n boek van die Lewe is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie begrip.

Moses verwys daarna as hy by God pleit vir die volk na die petalje van die goue kalf toe God die volk wou vernietig. “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Eks 32:32) Ons kry ook ‘n verwysing daarna in Daniël 12 :1 “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.”

Om opgeskrywe te wees in God se boek is dus ‘n aanduiding van God se guns, van redding, van ewige sekuriteit. In Openbaring kry ons die duidelikste verwysing na hierdie boek. (lees Openbaring 20:11-15) Wat ‘n geweldige, verbysterende toneel! Menigtes en menigtes van mense so ver soos die oog kan sien... Almal verskyn voor die groot wit troon! Dan word God se boeke oopgemaak en elkeen se lot finaal en ewige beslis. Ewige lewe of ewige dood. Ewige blydskap of ewige smart!

As jy weet dat jy opgeskryf is vir die ewige lewe, begin jou blydskap nou al. En dis die grootste blydskap van almal. Dis die punt wat Jesus wil maak.

Daar is net een blydskap wat blywend is en alles oortref. Dis die blydskap oor ons verlossing. Die westewind kan dit nie eers wegwaai nie... Op die ou end is ons ewige verlossing, ons name in die boek van die lewe, al wat saakmaak. Dis iets waarvoor die mens vandag blind is. Om jou naam geskryf te hê in die hemelse burgerskaplys oortref alle ander suksesse en genadegawes! Om te weet die verlossing van sonde is ook my deel is die grootste rede tot vreugde. Ons kan dit toets aan die engelboodskap by die geboorte van Jesus. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (2:11) 

Die blydskap gaan oor die Verlosser en die verlossing wat Hy bring! Die verlossing van sonde, satan, dood en hel!

Hoe kan ek seker wees van my naam in die boek van die lewe? Hoe kan ek seker wees dat ek in hierdie vaste verlossing deel? Deur my volle vertroue op Jesus, die Saligmaker te stel! Deur weg te kyk van myself en op HOM en SY WERK te fokus! (Vir meer hieroor kliek op SEKERHEID)

GROOT VERRASSING

Kom na Hom toe in berou en geloof! En weet jy wat dan wag daar ‘n verrassing. Dan leer jy dat jou naam al van voor die ontstaan van die aarde al in sy boek geskryf is. Want God se genade is al van ewigheid vir sy kinders bedoel en staan onwankelbaar vas in God se onveranderlike raadsbesluite! (Sien Openbaring 13:8, 17:8 en vgl. met Efesiërs 1:4**)

Dis nie verkeerd om oor alledaagse seëninge, voorregte en suksesse bly te wees nie! Maar as jy nie deel aan blydskap oor jou ewige verlossing nie, het jy eintlik geen rede om bly te wees nie! Anders gestel : “Waar gaan jy die ewigheid deurbring?” ‘n Positiewe antwoord hierop is die essensie van ons blydskap, in die Kerstyd, maar ook enige ander tyd. AMEN

*Die westewind spel vir ons hier in Namibië net een ding : droogte!

** Efesiërs 1:4 (OAV) “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (lees eintlik die hele gedeelte van vers 3 tot 14)




Vrydag 20 November 2015

DAAR'S HOOP

- maar die afgrond blyk onoorkombaar te wees!


Die stormagtige debat wat ontketen is deur die NGK se Algemene Sinode se toelating van praktiserende homoseksuele predikante is meer as net ‘n hewige gesprek tussen medegelowiges wie se opinies van mekaar verskil. Dit het ‘n onoorbrugbare kloof blootgelê wat lankal binne in die NGK bestaan. 

TWEE KANTE VAN DIE KLOOF

Aan die eenkant kry ons die evangeliegesindes binne die NG Kerk wat die Bybel as onfeilbare Woord van God aanvaar en op grond daarvan alle mense en soorte sondaars oproep tot geloof, bekering en ‘n heilige wandel meet God. Hierdie groep (waarby ek myself insluit) word dikwels as fundamentaliste en verkramptes uitgekryt. En die groot verwyt na ons kant is dat ons liefdeloos is!

Aan die anderkant is daar ‘n groter wordende groep van vrysinnige liberales wat diep gedrink het uit die troebel waters van die sogenaamde Progressive Christianity. Hulle verkoop hulleself as liefdevol en inklusief. Hulle evangelie is : "Moenie stress nie als gaan OK wees!" Die feit is egter dat hierdie groep nie meer erns met die Woord en die evangelie maak nie. (begrippe soos vryspraak, kruisoffer, hemel en hel is vir baie van hulle totaal vreemd)  In hierdie kringe word die Bybel dikwels teenoor Jesus gestel. Die Woord word soms beskryf as ‘n “papierpous” wat die liefde van Jesus versmoor.

Die afstand tussen hierdie twee groepe is eenvoudig net te groot. Dit gaan nie hier oor middelmatige sake waarin ons maar van mekaar kan verskil terwyl ons mekaar verdra nie. Die evangelie self is op die spel. Dis ‘n geveg om die siel van die NG Kerk. Die uitslag gaan tot vir die verre nageslag gevolge hê. Ewigheidsgevolge! Geen kompromie of draadsittery is dus moontlik nie!

Daarom is die omvangryke weerstand van binne die NG Kerk baie bemoedigend. Benewens talle gemeentes (byvoorbeeld Moreleta Park) wat die AS besluite verwerp het, het die moderamen van Namibië se sinode en die Sinode van Wes Transvaal hulle nou reeds teen die AS besluit uitgespreek. As gevolg van appèlle is die moderamen van die Algemene Sinode reeds gedwing om die inwerkingstelling van die AS besluite hangende die appèlle vir minstens twee jaar uit te stel. Dit als gee mens hoop.

En tog...

Hierdie saak sal nie sommer net verbygaan nie. Die groot probleem lê by ons teologiese fakulteite en wat daar geleer word. Nie een dosent van enige van ons fakulteite het sover ek weet hom teen hierdie besluit uitgespreek nie. En dis hierdie manne wat die nuwe geslag predikante vorm! As daar nie ‘n nuwe alternatief vir die huidige stelsel van teologiese opleiding gevind word nie, sal dinge al donkerder word. Hier in Namibië het ons vir NETS wat goeie Skrifgefundeerde opleiding aanbied, dis beslis ‘n moontlikheid wat ondersoek moet word. Gooi die juk van die teologiese fakulteite af, sodat ons weer die Here kan dien in die lig van sy Woord!

DERDE GROEP

Ek het aan die begin gesê dat daar twee groepe onderskeibaar in die huidige debat is. Dis bietjie van ‘n oorvereenvoudiging. Daar is myns insiens ook ‘n derde groep. Dis predikante (en lidmate) wat waarlik die Here liefhet en Hom wil dien, maar weens ‘n verskeidenheid van redes nie hulle stem tans laat hoor nie. Hulle is dikwels ook nie voldoende ingelig nie en val maklik die propaganda van “julle is liefdeloos teenoor gays” ten prooi. Hulle is ook teologies onseker, want hulle word nou al jare lank beïnvloed deur die teologie van twyfel wat aan ons almal opgedis word op universiteit. (Baie van hierdie broers is tydens hulle opleiding nooit aan goeie Gereformeerde teologie blootgestel nie. Ek het simpatie met hulle, want ek moes ook TUKKIES se opleiding verduur!) Teenoor hierdie groep het Bybelbehoudendes ‘n groot plig. Ons sal hulle met groot geduld en dade van barmhartigheid van ons Christusliefde vir alle sondaars moet oortuig. Ons sal daarom met deernis en begrip na hulle standpunte moet luister en op so ‘n manier daarop antwoord dat hulle sal kan sien dat dit vir ons waarlik oor die heil van die sondaar, gehoorsaamheid aan die Woord en die eer van God gaan.

KEUSE

Uiteindelik sal die NG Kerk tot ‘n keuse gedwing word. Lig en duisternis kan op die ou end nie saam bestaan nie. Mag die lig wen en die duisternis padgee! Die Bybel en ons kerk se belydenisskrifte is immers aan die lig se kant. Die wat na alles nie die pad van die lig wil loop nie, moet liefs dan maar gaan...

Donderdag 19 November 2015

NIE ‘N “CELEBRITY” NIE

- Jesus het nie ‘n filmster voorkoms of glansgans persoonlikheid gehad nie, maar net Hy kan jou voorberei vir daardie groot afspraak!


Voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Wees voorbereid vir jou eksamen, lisensie uitpasering, om jou rekenings te betaal, vir daardie belangrike werksonderhoud...

Saterdag 14 November 2015

Liberté, égalité, fraternité...

- word uitmekaargeruk deur ontploffings en geweerskote toe SATAN GESOEN WORD.



Weereens is Frankryk (en die wêreld) in ‘n toestand van skok en verdwasing! Die wonde van die Charlie Hebo aanvalle vroeër vanjaar het nog skaars genees toe word die hart van Frankryk oopgeruk deur ‘n skaal van geweld wat ongekend in die land is sedert die Tweede Wêreldoorlog.



‘n Paar gedagtes kom sommer vinnig by my op:

Wanneer gaan die wêreld leer dat die utopie waarna almal smag en verwoord word in die strydkreet van die Franse rewolusie naamlik, liberté, égalité, fraternité… ‘n altyd ontwykende ideaal sal bly vir hierdie sondige bestel? Ware vryheid is slegs te vind in Jesus, gelykwaardigheid (daar bestaan nie iets soos gelykheid nie) is slegs te vind in die nuwe gemeenskap van gelowiges wat Jesus skep en egte broederskap kan nooit bestaan sonder ons ouer broer Jesus nie. Die volheid van hierdie nuwe lewe is iets waarna ons smag en streef, maar sal eers volkome word met die finale verlossing by die wederkoms.

Daar is ook ‘n stuk wrange ironie wat mens kwalik kan miskyk. ("afgryslik" is dalk 'n meer gepaste woord) Die groot slagting het plaasgevind tydens ‘n optrede van die alternatiewe Amerikaanse groep, "Eagles of Death Metal”. Volgens die pers* het die skietery begin kort nadat die groep begin het met een van hulle gewilde nommertjies, "Kiss the Devil." Het ons hier te maak met ‘n misvoltreffer in die geestelike realm? Kry die mens wat hy regtig soek?

Europa het ‘n (partykeer letterlik) sterwende kontinent sonder ware leierskap en norme geword. Dis duidelik dat vryheid en dit ‘n vryheid sonder die norme en grense van die Woord, te ver gevoer is. Europa het nie meer die ruggraat om op te staan vir Christelike waardes nie. Hierdie lam in die knieë kultuur het geen teenvoeter of boodskap van hoop vir die groeiende Moslem bevolking in sy midde en die honderde duisende wat daarheen op pad is nie. Dis ‘n kontinent waarin die evangelie bykans uitgesterf het. Wat is die statistiese kans dat ‘n Moslem immigrant met ‘n wedergeborene se getuienis te doen gaan kry en so hoop en bevryding in Jesus kan vind?

Die veragtelike daad van Islamitiese terroriste moet in die sterkste moontlike taal veroordeel word en met die sterkste moontlike optrede beveg word. En tog mag dit ons nie daarvan weerhou om God se hand agter alles raak te sien nie! God het immers nie geskroom om sy volk Israel deur die geweld van heidennasies te straf nie, daar is ook niks wat Hom keer om sy oordele oor 'n goddelose humanistiese Frankryk (en westerse beskawing) uit giet en Moslem radikale as instrumente te gebruik nie.

Die armoede van president Francois Hollande se boodskap kort na die krisis bevestig maar net weer die leegheid van sekulêre humanisme. Die land van ons Hugenote voorouers se jare lange geestelike bankrotskap het ‘n vreeslike tol geëis, wat baie meer en skrikwekkender is as die hartseer verlies van menselewens waarmee ons nou gekonfronteer word. Die hutsmerk #PrayForParis wat nou so gewild op Twitter is, laat mens wonder waarvoor nou juis gebid moet word? Miskien moet ons bid dat God in sy genade die oë sal open van ‘n volk wat lankal nie meer bid nie, omdat hulle die Middelaar deur wie ons moet bid glad nie ken en eer nie!

Ja, en tog ons kan bid en almal wat daar die evangelie verkondig ondersteun. Niks is immers vir God onmoontlik nie! Ook nie om Franse en Moslems te red nie! (Kliek FRANSE HERLEWING)

[Kort hierna het baie gesterf... terwyl hulle die satan eer... die duiwel is 'n mensemoordenaar volgens Jesus]

*Onder andere die Franse koerant, Le Figaro : "Au Bataclan, la fusillade éclate au son de Kiss the Devil"