BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 19 Januarie 2013

BOODSKAP VAN DIE BYL

- die vergete prediker se belangrike bediening.

Nie te lank gelede nie, het ons Kersfees gevier. Jesus se menswording. Tog verstaan min mense regtig  waarvoor Jesus gekom het.  U sien, ons  kan nie die betekenis van Jesus se koms eintlik reg verstaan sonder die agtergrond van Johannes die Doper se prediking nie. En tog word daar oor die algemeen min gepraat oor Johannes se boodskap.  Dis ‘n geval van ‘n vergete  prediker met ‘n ongemaklike boodskap, waarvan mense nie juis hou nie. Maar, ons kan nie Jesus losmaak van Johannes nie.  Jy kan nie sê : “Ek hou van die Baba in die krip , maar ek gril vir die profeet met die kameelhaarkleed.” nie.

Groot getalle mense het na Johannes by die Jordaan gestroom om gedoop te word.  (Lees hiervan in Lukas 3:1-20) Mens sou dink dat Johannes hulle almal met ope arms sou verwelkom het. (en sommer vir ‘n foto saam met die belangstellendes geposeer het!)  Johannes spreek hulle egter baie skerp aan : “Julle slange...” Dit lyk of sommige maar net so gou moontlik gedoop wou word, om God se oordele vry te spring.  ‘n Klomp kansvatters! Hulle het miskien  gedink dat redding in ‘n ritueel te vinde is. Nou sê, Johannes : “Nee, nee...” Die essensie van die saak is bekering, nie net doop nie. Wys dat julle bekering eg is!

Johannes se boodskap is ‘n boodskap van bekering. Dit was ‘n voorloper van Jesus se boodskap. En wat was Jesus se boodskap? “...Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:14,15)

Kom ons kyk na ‘n paar belangrike aspekte rondom die saak van bekering:
Wie het hierdie bekering nodig? (8)  Alle mense, juis ook verbondsmense.  Hierdie mense wat deur Johannes as addergeslag aangespreek is, het juis gedink dat hierdie bekeringstorie nou nie juis op hulle van toepassing is nie. “Ons is mos kinders van Abram, rasegte Israeliete...” Miskien het hulle gedink : “Bekering is seker net bedoel vir tollenaars en prostitute!”  Johannes se woorde impliseer duidelik : “Niemand is outomaties ‘n kind van God nie!” (al was jou oupa ‘n sendeling in Malawi of jou pa ‘n ouderling op Otjiwarongo)  Met die uitspraak oor die klippe word die waarheid van die wedergeboorte beklemtoon. God alleen is instaat om mense sy kinders te maak. (Johannes 1:12,13)  Nie afkoms nie, maar Goddelike ingrype is ‘n vereiste om gered te word! Die mens is in inderdaad soos ‘n klip, dit kos ‘n Goddelike wonderwerk om ons sy kinders te maak. (Die beeldspraak van klippe en kinders is moontlik ook gekies, omdat dit in Aramees ‘n woordspeling : abnayya-binayya vorm.)


Waarom is hierdie bekering nodig? (9) Daar is ‘n dringende gevaar! Juis vir julle wat dink dat julle van Abram afstam en daarom voel julle het nie bekering nodig nie. God se finale oordeel is voor die deur. Bome wat nie vrugte van bekering dra nie word uitgekap! Die boodskap van die byl! Hoe nodig is die boodskap van die byl! Die hedendaagse mens wil glad nie aan die oordeel herinner word nie. Minstens 3 keer verwys Johannes na God se oordeel in hierdie gedeelte. (7- toorn, 9 - vuur, 16,17 - vuur) Dit was ‘n belangrike onderdeel van Johannes se boodskap en ook Jesus s’n. Jesus het self het ‘n soortgelyke gelykenis van die boom in die wingerd vertel. “Gee die boom nog ‘n jaar kans om vrugte te dra, so nie, kap hom af.” (Lukas 13:8,9 ) Ja, dis ‘n genadeboodskap. Jesus is die Tuinier wat vir nog ‘n kans pleit – maar daar kom ’n afsnypunt!


Wat behels hierdie bekering?   Die woord vir bekering hier  is “metanoia”  d.w.s.  “change of mind”.  Verander jou sienings!  As ons kyk na 10-14, sien ons, bekering is nie vaag en teoreties nie. Dit sê nie : “Julle moet darem net julle bes probeer of bietjie beter oor julle self voel nie!”  Dis baie aktueel en konkreet in ons eie persoonlike situasie! Dit vereis ook duidelike aksie en optrede!

~ Verander jou siening oor jou sonde en kies daarteen. Dis nie net sommer so sondetjies in die algemeen nie. Nee, dis baie spesifiek  juis daardie konkrete basiese wortelsonde in jou omstandighede.  Daardie ding wat jou lewe beheer en besoedel.  Daardie groot ding wat jou weghou van God.  Let op,  elke groep kry ‘n afsonderlike gepaste antwoord vir hulle eie situasie. Vir ons elkeen kom die oproep tot bekering in konkrete gepaste vorm : “Breek met daardie onsedelike verhouding, los daardie oneerlike praktyk, vergewe daardie persoon wat jou so bitter maak...”

~ Verander jou siening oor Jesus Christus en onderwerp jou aan Hom. Johannes bepleit   nie bloot morele verandering  opsigself nie, maar verandering in gehoorsaamheid en onderwerping aan Jesus Christus. (15,16) Hy wys hulle op die twee aspekte van Jesus se werk. Jesus reinig en vernuwe ons deur sy Heilige Gees, maar hy doop ons ook met vuur. Vuur is simbolies van oordeel. Jesus bring skeiding! Die koring word bymekaargemaak,maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand!  (17) Bekering is bekering tot Jesus, dis onderwerping aan sy Koningskap. Dit beteken ek vertrou Hom vir vergifnis, maar ook dat ek begin maak soos Hy sê om te maak. So nie, wag daar oordeelsvuur!

Johannes se boodskap was ‘n ongemaklike boodskap!
Johannes was geen  mooipraatjiesprediker en  “people’s pleaser” nie. Hy het sy boodskap van bekering nie net daar ver en veilig  by  die Jordaan nie, maar ook aan koning Herodus self gebring  : “Jy mag nie jou broer se vrou vat nie”. Dit was  ‘n bietjie baie gewaag om ‘n koning direk oor sy sonde aan te spreek. Dit het Johannes in die tronk laat beland (20) en soos ons weet later sy kop op ‘n skottel! Die boodskap van bekering is nie gewild nie, maar dis deel van die goeie boodskap, die evangelie. In die  Grieks word die woord “ge-evangeliseer” gebruik. (18) Dis goeie nuus, dis genade, ons kry die kans om te bekeer en ons aan Jesus se heerskappy te onderwerp. Bekering (en ook daaglikse heiligmaking) is juis ‘n bewys dat ek die goeie nuus van die verlossing deur Jesus aanvaar het en my eie gemaak het.

Mag ons ons betyds bekeer en bewaar word van die byl en die vuur!

 1.Morris 

Vrydag 18 Januarie 2013

TOERTYD NA ISRAEL

hoe belangrik is ‘n besoek aan Jerusalem?

Ek luister nou die dag in die motor oppad terug van Windhoek na ‘n Kanaal 7 onderhoud met die sanger Hessel van der Walt waarin ‘n komende toer na Israel gepromoveer word. Om na enige land, ook na Israel te toer is sekerlik ‘n groot voorreg, waaruit ‘n mens baie kan leer en verryk kan word.  So as jy in Israel gaan toer, geniet dit! Maar die onderhoud het my tog gehinder.  Die spreker beweer : “Soos elke Moslem een reis na Mekka in sy leeftyd moet onderneem behoort elke Christen ook Jerusalem/Israel te besoek.”* Verder word ‘n toer na Israel ook gekoppel aan die Ou Testamentiese beloftes wat voorspel dat die nasies na Jerusalem sal toestroom.

Kom ons kyk bietjie na ‘n Bybelse perspektief op hierdie twee sake wat aangeroer is:

1.Hoe belangrik is dit vir ‘n Christen om die land Israel te besoek? Dis natuurlik beslis nie verkeerd nie. Die agtergrondskennis wat tydens so besoek opgedoen word, sal waarskynlik help om gedeeltes van die Bybel vir mens op te helder en in perspektief te plaas. ‘n Toer saam met medegelowiges na die land waar Jesus geleef het, sou beslis geestelik verdiepend kon wees. En tog moet ons waak teen die oorbeklemtoning van die rol wat ‘n bepaalde plek, stad of land in ons geloof kan speel. Daar is ‘n goeie rede waarom die Nuwe Testament nêrens Christene oproep om ‘n besoek aan Jerusalem te bring nie.

 In die bedeling van die Nuwe Verbond is die vereiste vir ware aanbidding nie meer ‘n plek  nie, maar ‘n PERSOON, Jesus Christus. 

Hieroor is Johannes 4:23 waar Jesus in gesprek met die Samaritaanse vrou is, baie duidelik. Jesus verklaar plegtig : “Maar daar kom ‘n tyd en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.” Jesus gee hierdie kommentaar na aanleiding van ‘n diskussie of aanbidding in Jerusalem of by die berg Geresim van die Samaritane moet geskied.

2. Is dit nodig vir die vervulling van profesie dat mense van alle nasies ‘n vliegtuig moet vat na Israel en in Jerusalem gaan aanbid? Dis so belangrik om die Ou Testamentiese profesieë se vervulling in Christus reg te verstaan. Die patrone in Israel se geskiedenis word op ‘n dieper manier herhaal.  Die profete voorspel ‘n nuwe eksodus, maar die verlossing is nou nie meer uit ‘n letterlike Egipte of Babel nie, maar dis nou die verlossing uit die slawerny van sonde. (Jeremia 16:15,16, Jesaja 40:3-4; 41:17-20; 43:1-2 ens.) Die ou Sinaï Verbond maak plek vir ‘n Nuwe Verbond, waar die klem nie val op uiterlike handelinge nie, maar op God wat sy wette in ons harte skrywe. (Jeremia 31:31-34) Daar gaan ‘n nuwe “Dawid” wees wat oor die geredde oorblyfsel van God se volk as Herder-Koning sal regeer. (Jesaja 11:1; Esegiël 34:11-13, 23-25) Dis tog Jesus, wat oor ons regeer deur sy Woord en sy Gees!  Nou wat beteken dit dan as ons lees Sion gaan herstel word en baie volke sal na Jerusalem kom om die wil van God te ken? (Sagaria 8:20-23) Hier is die gebeure aan die begin van Handelinge ontsettend belangrik en insiggewend. Jesus se eie disippels het na sy opstanding ook so ‘n letterlike herstel van ‘n aardse Koninkryk verwag. Hulle vra daarom vir Hom : “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord is uiters veelseggend : “Dis nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:6-8) Kyk wat gebeur hier. Die Ou Testamentiese beloftes van die nasies wat geseën word en na Jerusalem sal stroom, word juis vervul as Jesus se dissipels die hele wêreld deurgaan (weg van Jerusalem af!) en die evangelie verkondig! Hoe so? Deur die evangelieverkondiging kry gelowiges uit alle nasies deel aan die verlossing en word so deel van God se volk! “Aanbidding in Jerusalem” is nie ‘n erediens of lofprysingsgeleentheid by een of ander toeriste aantreklikheid nie, ware aanbidding vind plaas in Jesus Christus, die ware Tempel van God, in wie die heerlikheid van God woon! (Johannes 1:14) Jesus is gelukkig orals te vinde vir die wat Hom waarlik soek, ook hier in ons eie Namibië en daar waar jy jou nou op hierdie oomblik bevind! Wanneer mense uit alle nasies Jesus as Verlosser aanvaar word die wonderlike profesieë in Sagaria en baie ander Ou Testamentiese gedeeltes vervul – trouens dit gebeur oral oor die wêreld heen, daagliks, ook tussen ons!

Gelukkig hoef ons nie duur vliegtuigkaartjies na Jerusalem te koop om die volle seën te ontvang wat die profete van ouds beloof het nie! (Buitendien dan sou net ryk Westerse Christene in hierdie seën kon deel) Die volle seën van God is te vinde in Jesus Christus en word deur die kragtige vernuwende en oortuigende werk van die Heilige Gees aan ons bevestig en openbaar!

Jesus vereis nie van ons om na Jerusalem te toer nie, Hy roep ons wel om die wêreld te deurkruis met sy evangelie – begin hierdie evangelie sommer vandag nog te verkondig en te leef, daar waar jy is...en waar Hy jou ookal lei!

*Dalk nie presies verbatim nie, maar tog die strekking.

Maandag 14 Januarie 2013

KUMBH MELAH

- badfees in die vuil rivierwater.

“Ek het my sondes afgewas”, het Mandita Panna, ‘n Nepalees en een van die vroeë baaiers by die Kumbh Melah van 2013 verklaar volgens die BBC. Die Kumbh Melah fees is na bewering die wêreld se grootste byeenkoms van mense en het so pas in Indië begin. Die mensemassas wat by hierdie Hindoe ritueel betrokke raak, is inderdaad duiseligwekkend. By 2001 se Kumb Melah was daar blykbaar 40 miljoen mense, maar hierdie jaar word 80-100 miljoen pelgrims verwag. (o, ja en sowat ‘n miljoen toeriste ook nog!) Vanjaar is dit ‘n besondere geleentheid, want dit is ‘n Maha (groot) Kumb Melah wat net elke 12 jaar gevier word in vergelyking met die Ardh (halwe) Kumb Melah van 2007 wat elke 6 jaar gehou word.

Die Kumbh Melah behels ‘n 55 dae lange fees waartydens pelgrims by Allahabad by die samevloei van die Ganges en Yamuna riviere hulle in die vuil rivierwater begeef. Hierdie mense is so deur die Satan verblind, dat hulle glo dat hulle deur die water van hulle sondes gereinig sal word en so verlossing kan vind. Dis soos ons weet ‘n bose leuen; al wat met jou in hierdie erg besoedelde “badwater” kan gebeur is om een of ander siekte op te tel. Erger, jy word nog net meer deur die magte van die duisternis gebind en verblind! Voorwaar is die duiwel ‘n mensemoordenaar soos Jesus dit self sê in Johannes 8:44. Mens kry amper die indruk dat Satan direk agter ‘n fees soos hierdie sit om mense weg te hou van die enigste ware reinigingsmiddel, die kosbare bloed van Jesus Christus. Die bloed van Jesus, God se Seun reinig ons van alle sonde soos ons in 1 Johannes 1:7 lees. Vertroue op Jesus se plaasvervangende offerdood aan die kruis is die enigste manier hoe ons rein voor God kan staan met ‘n skoon gewete.

Mag elkeen van ons wat Jesus aanvaar het, dankbaar wees oor sy genoegsame kruisdood en ons daarin verheug! Mag ons hierdie boodskap helder oordra aan ‘n wêreld in duisternis, want nie net die Hindoes in Indië nie, maar ook baie mense tussen ons, ja selfs kerkmense glo dat sonde weggeneem kan word deur menslike rituele,  morele verbeterings of godsdienstige prestasies.

Die Kumbh Melah is beslis nie 'n toeriste aantreklikheid soos deur sommige bemark nie, maar eerder 'n demonstrasie van demoniese duisternis... Mag dit elke Christen aanspoor om te bid vir die uitbreiding van God se Koninkryk op aarde!


Volgens skatting het sowat 8 miljoen baaiers op die eerste dag deelgeneem. (foto BBC)

Vrydag 11 Januarie 2013

JESUS BIED STEEDS HOOP


 – al misluk alles en almal.

(Lees eers die aangrypende gebeure in MARKUS 9:14-29) 

Gewoonlik praat mense aan die begin van die jaar oor nuwejaarsvoornemens, ek dink ons moet liewers eers kyk na ‘n paar nuwerjaarsfeite! (miskien sal dit dan wel daartoe lei dat ons voor die aangesig van God wel sekere besluite neem oor ons lewens) Dis feite wat na vore kom uit hierdie gebeure van 2000 jaar gelede, maar dis presies net so geldig vandag nog. In hierdie gedeelte word ons gekonfronteer met skokkende feite, maar ook inspirerende feite. Feite wat ons hartseer maak, maar ook feite wat ons opnuut bemoedig en hoop gee! Ons kan die feite groepeer rondom die drie hoofrolspelers in hierdie gebeure : die kragtelose dissipels, die gelowige pa en die Almagtige Jesus! 

1. Die kragtelose dissipels : dis die groot skok en teleurstelling hier. Jesus keer terug van die berg van Verheerliking waar sy majesteit en Goddelike opdrag deur die stem uit die hemel bevestig is. Wat Hy nou by sy terugkeer aantref is ‘n groot skande... en antiklimaks. Hy kom af op ‘n Stryery! Die oorsaak was die dissipels se magteloosheid om ‘n bose gees uit ’n kind uit te dryf. Jesus hoor toe by die pa wat aangaan en reageer baie skerp teenoor sy dissipels : “Ongelowige geslag..." (19) Dis die tragiese stand van sake - die dissipels wat volgelinge van Jesus is, is maar net so ongelowig soos al die skeptiese mense rondom hulle. Hulle is niks anders as die res van die volk nie. Hulle wat hoop moes bring is tot niks instaat nie. 

Dis ‘n ramp wanneer mense wat veronderstel is om in die krag van Jesus te leef, kragteloos is. 

Die kragteloosheid van Jesus se volgelinge, die hulpeloosheid van die kerk (juis ook in ons dag) is ‘n verontrustende en tragiese feit. Het die kerk (ek en jy is mos die kerk) ‘n kragtige getuienis en effek op die mense rondom ons? Het ons getuienis die afgelope jaar tot ander mense se bekering gelei, kon ons ander mense uit die Woord help sodat huwelike en gesinne herstel kon word? Het ons die Woordkennis en geloof om mense in geestelike nood te help? Kon ons troos en rigting gee? Was ons ‘n voorbeeld vir die mense rondom ons? Was ons vir die wêreld ‘n navolgingswaardige model van huwelikstrou of was ons maar net so ontrou? Is ons vreugdevolle positiewe mense of is ons net so vol klagtes en ondankbaarheid soos almal rondom ons? Lei ons ons kinders op ‘n pad van goeie waardes en goeie maniere of lyk hulle maar net soos al die ander? Is ons werklik sout en lig? Maak ons ‘n verskil?... 

Wat was die redes vir die dissipels se kragteloosheid? Jesus beskuldig hulle van ongeloof! Dis ‘n vreeslike beskuldiging! Het hulle dan nie geglo nie, hulle was dan openlike volgelinge van Jesus? In die nabetragtingsgedeelte kry ons die antwoord. (vers 28,29) Hulle geloof het nie oorgegaan in gebed nie! Biddeloosheid is ‘n kenmerk van ‘n onegte geloof, ‘n speel-speel geloof! Die kragtelose Christenskap van die dissipels het ook op ander maniere na vore gekom (behalwe in hulle onvermoë om die kind te help) Hulle was nog in onkunde oor Jesus se ware doel, en het het nog bloot ‘n gebrekkige aardse begrip gehad van wie Jesus is en wat Hy kom doen het. Geen begrip vir die “kruis” nie. (30-32) Hulle was vasgevang in hoogmoed en jaloesie. Hulle stry oor wie die belangrikste is. (33,34) ‘n Mens sou verwag dat hulle darem bietjie meer beskeie sou wees na hulle afgelope mislukking, maar nee, hulle sondige gesindheid was nog net so sterk! Hulle het ook ‘n kleinlike selfgesentreerdheid geopenbaar! As iemand nie saam met ons groepie is nie, is hy uit! (38) Klink bekend nê? 

Hierdie is alles vandag nog kenmerke van ‘n sukkelende kerk : min gebed, min ware kennis oor Jesus, maar baie stryery, jaloesie, kleinlike kompetisie... 


2. Die gelowige pa : ‘n aangrypende en bemoedigende voorbeeld van iemand in nood, maar met ‘n eenvoudige en opregte geloof. Die pa se eenvoudige geloof word deur Jesus beloon. Sy geloofsvertroue is ‘n helder lig teen die donker agtergrond van die dissipels se onbekwaamheid en ongeloof. Hierdie is vir my persoonlik ‘n baie bemoedigende gedeelte. Kom ek verduidelik : Die hartseer pa, kom met sy krisis na Jesus toe. Dit was ‘n jarelange hardnekkige probleem. (21-22) Mens kan jou indink dat hy al baie kere hulp gesoek het en elke keer maar weer teleurgesteld was – soos nou deur die dissipels, maar nou kom hy na Jesus self. Hierdie pa glo, maar hy is nie een of ander geloofsreus nie. Hy is baie bewus van die swakheid van sy geloof en baie eerlik daaroor. Vers 24 : “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof!” Dit voel nie eens vir homself of hy glo nie, en tog glo hy eg! Daar is net ‘n sprankie geloof, maar Jesus is gretig om daarop te reageer en genees die seun. Hier sien ons iets van die essensie van ware geloof : dis om eerlik met my probleem na Jesus te kom in die vertroue dat God deur sy Seun Jesus die mens in nood kan aanraak!* Geloof is nie ‘n selfvoldane gevoel dat my geestelike spiere sterk is nie. 

Geloof self is maar swak, maar wat tel is nie die krag van my geloof nie, maar die krag van die Een in wie ek my vertroue stel! 

Geliefde, baie Christene en baie kerke het jou dalk al teleurgestel – maar het jy al eerlik na Jesus gekom met jou sondeskuld en smart? Wie in Hom glo word nie teleurgestel nie! (Romeine 10:11) En dit bring ons by die laaste Rolspeler... 

3. Die Almagtige Jesus : Daar bestaan nie iets soos ‘n hopelose geval by Jesus nie! Die bevryding van hierdie seun en baie ander is die duidelike bewys! Ja, die duiwel maak jou wys...jou sonde is te groot, jou probleme is te veel, jy het al te veel kere probeer en misluk...Jesus kan tog nie ‘n verskil maak nie! Dis die grootste leuen op aarde! Jesus is nie net die Verlosser nie, Hy is die Almagtige Verlosser. (Johannes 17:3) Kom na Hom! Nog iets...Nie net die almag van Jesus nie, maar ook sy bo-menslike geduld met sy dissipels word sigbaar. Hy het hulle wel berispe, maar hoegenaamd nie afgeskryf nie, maar voortgegaan om hulle te leer. (al was daar nog baie mislukkings en misverstande op die pad vorentoe) Na Pinkster het hierdie einste dissipels, wel mense van vas en gebed geword en met krag die evangelie verkondig! Toe kon hulle mense in nood van hulp wees, soos die boek Handelinge so mooi beskryf! 

Wat doen ons met hierdie feite? 

Ons word aangespoor tot selfondersoek – is ek nie dalk maar ‘n kragtelose Christen met meer lawaai as binnegoed nie? 
Ons word opgeroep tot gebed as ‘n oplossing vir ons kragteloosheid. 
Maar bo-alles word ons elkeen opnuut weer uitgedaag en uitgenooi om kinderlik ons diepste nood na die Lewende Jesus te neem! 

Jesus bied ‘n oplossing waar alle ander mense en pogings misluk het. Amen

*Kommentaar van Ralph P. Martin oor Markus, "WHERE THE ACTION IS" Ook gebruik gemaak van THE GOSPEL OF MARK van William L. Lane

Saterdag 05 Januarie 2013

PLAASARBEIDER MET 'N PASSIE

- Praying Johny 


Die Quarterly Meeting van die Primitive Methodist Connexion, gehou in Bridlington, 1823 moes ‘n belangrike besluit neem. Die evangelisasiewerk in die dorpie Filey, in die noorde van Engeland was in die weegskaal. Alle pogings om in hierdie goddelose dorpie ‘n impak met die evangelie te maak het misluk. Die inwoners het verhard en onverskillig gebly. Miskien het die tyd gekom om waardevolle werkers na ander gebiede wat meer ontvanklik was te verskuif.   

Praying Johny, oftewel John Oxtoby het na die argumente geluister. Sy hart vol medelye is diep geraak deur die moontlikheid dat hierdie dorp so aan ongeloof oorgelaat moes word. Toe sy opinie gevra is, het hy passievol gereageer : “What do I think? I think the Lord has a great work tot do at Filey, and if you will send me I will go and live upon potatoes and salt, and lie on a board if necesarry before it shall be given up.”

Oxtoby se aanbod is aanvaar, en hy het met sy karige besittinkies in ‘n sak die pad gevat na Filey toe. Toe een van sy vriende hom vra waarheen hy gaan het hy geantwoord : “To Filey, where the Lord is gannin to revive his work.” 

Toe Johny die dorpie in sig kry, het hy op sy knieë agter ‘n heining neergeval en by God begin pleit vir die plek. ‘n Paar uur later het ‘n meulenaar toevallig daar verby gegaan en vreemde geluide gehoor agter die heining. Dit het vir hom geklink soos twee persone wat  in ‘n argument betrokke was. Johny het soos Jakob van ouds met God geworstel totdat hy seker was dat God hom verhoor het. Terwyl hy van sy knieë opstaan het hy uitgeroep : “It is done Lord, it is done! Filey is taken! Filey is taken!” Dit was inderdaad die geval.  ‘n Herlewing het in Filey uitgebreek.

Wie was hierdie merkwaardige gebedstryder, John Oxtoby? Geen geleerde nie, maar ‘n eenvoudige plaasarbeider. Hy is gebore in 1767 op ‘n plaas by Little Givendale naby York. As ‘n kind van plaaswerkers het hy slegs basiese skoolopleiding ontvang. Vir baie jare het  Oxtoby ‘n lewe sonder kennis van God geleef, maar in 1804 het sy koers drasties verander. Deur die woorde van ‘n rondreisende Metodiste prediker is sy gewete aangespreek. So ontsteld was hy dat hy nie kon slaap of eet nie. Hy het tot God geroep vir genade. Hy het nie onmiddellik ‘n antwoord ontvang nie. Eers na ‘n langdurige stryd van etlike maande het hy die versekering van God se vergifnis deur Jesus Christus gekry. Nou  het sy begeerte om hierdie vreugde met familie en vriende te deel, geen perke geken nie. Sy pogings is met vyandskap en onverskilligheid begroet, maar het tog later begin vrugte afwerp weens sy volharding.

Die dramatiese verandering in Oxtoby kon ook nie misgekyk word deur die mense van die dorpie, Warter nie. Johny het elke huisie en gehuggie besoek. Aanvanklik is die deure dikwels in sy gesig toegeklap, maar gaandeweg het daar verandering gekom. Johny het opregte belangstelling in die huismense se nood en probleme getoon en altyd saam met hulle gebid. So het hy die bynaam, “Praying Johny” gekry. Die mense van Warter het spoedig ook verlang om hulle eie kerkgeboutjie te hê, en dit was Johny self wat ‘n geskikte stuk grond geskenk het sowel as ‘n bydra vir die oprigting van ‘n gebou. Vir die volgende 15 jaar het Praying Johny persoonlik evangelisasiewerk gedoen in die dorpies van Oos Yorkshire. Hy het in assosiasie gewerk met die Weslyaanse Metodiste, maar het steeds sy beroep as plaaswerker beoefen.

Op 52 jarige leeeftyd het Johny by die Primitive Methodists aangesluit. Dit was ‘n groep wat ontstaan het vanuit die werk van Hugh Bourne, William Clowes en Daniel Shubotham. Dit was  manne met ‘n passievolle geestelike energie. Op hierdie tydstip het die oorsponklike Metodiste baie van hulle eertydse vuur verloor en Bourne en sy vriende is uitgeskop uit die plaaslike Methodist Society weens hulle aandrang op evangelisasie metodes wat nie vir die Society aanvaarbaar was nie. In 1812 het hierdie manne en talle van die gelowiges wat die resultaat van hulle prediking was ‘n nuwe assosiasie gevorm. Hulle het die naam, Primitive Methodists gekies as ‘n uitdrukking van hulle begeerte om iets te herwin van die evangeliese ywer wat voorheen by die Wesley broers, George Whitefield en ander vroeëre Metodiste aanwesig was.

Benewens die gawe van gebed, het Praying Johny ook die verwante gawe van geloof gehad en baie verhale het die rondte gedoen van merkwaardige antwoorde wat hy op sy gebede ontvang het. Een so ‘n verhaal gaan oor ‘n meneer Stephenson van Hull wat in groot angs verkeer het oor ‘n  skip van hom wat nie op die verwagte tyd teruggekeer het nie. Verlies van die skip sou groot skade meebring, maar om als te vererger was sy eie seun ook aanboord van die skip. Hy het sy probleem met Johny gedeel, wat homself gewend het tot vas en gebed oor die saak. Na ‘n tyd het God aan Johny die innerlike sekerheid gegee dat als goed sou afloop en dat die vaartuig en almal aan boord veilig sou wees.  Johny het met die oog van geloof, die skip “gesien”. So seker was hy van sy saak dat hy vir Stephenson verseker het dat hy die skip sou herken as hy terugkeer sonder dat hy dit self ooit met sy fisiese oë gesien het. Weke het verbygegaan sonder enige nuus. Einde ten laaste het die skip teruggekeer. Stephenson het Johny laat haal en hom gevra of hy die skip sou kon uitwys tussen die honderde ander in die hawe. Johny het hulle deurgekyk en skielik uitgeroep : “That’s the ship which God had showed me while at prayer! I knew she would come home safely and that I would see her.”  Hy was reg!

John Oxtoby was ‘n gedetermineerde sielewenner. Sy joernaal gee duidelike bewyse van die genade en krag van God wat gepaard gegaan het met sy prediking en ‘n ryke oes van bekeerlinge tot eer van God opgelewer het.

Soos Johny geleef het, het hy ook gesterf. Hy wat naby Jesus geleef het, het  ook sy  Verlosser se teenwoordigheid in sy sterwe ervaar. Aan ‘n vriend het hy gesê Christus was “present and precious – wonderfully precious to my soul.” Vir ‘n ander vriend : “Tell them, all the former manifestations I have had are nothing compared with those I now feel.”  Tydens sy lewe het hy ‘n las vir siele gehad wat hom aangevuur het om in gebed in te tree.  Met sy laaste kragte het hy nog fluisterend gebid : “Lord, save souls : do not let them perish” Sy finale woorde was : “Glory, glory, glory.”  Op 19 Januarie 1830 het Praying Johny in die heerlikheid van sy Heer ingegaan! Hy is in Warter begrawe.

Sal hierdie nederige kneg van God se lewe ons nie tog ook aanspoor om hierdie jaar volhardend in gebed voor ons Verlosser te leef nie?

Verwerk uit “SINGING IN THE FIRE” van Faith Cook. Die boek bevat ook wonderlike verhale van minder bekende geloofshelde soos Edward Payson, Wang Ming-Dao, Thomas Hogg, William Bramwell, Allen Gardiner, die Saphir familie en andere.


Dinsdag 01 Januarie 2013

VIR 'N VRUGBARE EN VREUGDEVOLLE 2013


- skud af die greep van die gisters.

Ek het gister weer ‘n bietjie geloer in die welbekende en beminde dagboek, “MY ALLERBESTE VIR SY ALLERHOOGSTE” van Oswald Chambers. Dis so waar wat hy sê in sy stukkie by 31 Desember: “Ons huidige genot van God se genade voel asof dit getemper word deur ons herinnering aan gister se sondes en flaters.”  

So waar! Dis mos so dat die klank van  gisteraand 12 uur  se klokslag  nie die sondes van die verlede kan uitdoof nie.  Die grootste dosis desibels van nuwejaarsjolyt kan ook nie die sagte stem van die gewete tot swye bring nie. Daardie stem wat ons skuldig en  nutteloos laat voel. Die gewete wat maak dat die gisters (van 2012 en nog verder terug) wreed vir ons grynslag en gedurig herinner : “Onthou jy nog? Onthou jy wat jy daardie dag gesê en gedoen het? Onthou jy die hartseer wat jy veroorsaak het? Die kanse wat verspeel is? Die sondes wat onherroeplike skade, skande en leed veroorsaak het?”  As al ons gruwelike gisters ‘n greep op ons gemoed kry, gaan ons die nuwe jaar in met ‘n stuk sielsverlamming. Vol onvrede en vrees!

Vir die kind van God is daar egter ‘n blye oplossing, want daar was ‘n kruis! O, my vriend, moenie vergeet nie, daar was ‘n kruis, ‘n vloekpaal! Jesus het daar gehang, die vlekkelose Lam van God, ja, maar Hy was op daardie oomblik, bedek...besmeer met al die gruwelike sondes van ons gisters. God het Hom toe daar as sondaar “behandel” (2 Korintiërs 5:21) Dit het behels dat God se toorn op Jesus neergekom het, dat ons sonde volledig gestraf is, dat Goddelike geregtigheid geskied het, volgens die eise van die wet. 

Elkeen wat sy hoop op Jesus stel, kan dus weet : “My gisters is uitgewis! In God se boeke bestaan dit nie meer nie!”  Die feit van die kruis bring dus ‘n antwoord aan my  beskuldigende gewete.  Aardse offers deur aardse priesters (van die Ou Verbond) kon nie hierdie volle vrede bring nie, maar Jesus se volmaakte offer (van die Nuwe Verbond) wel, soos Hebreërs 9:13,14 dit stel:

“Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!”

Hierdie bevryding van die gisters vind plaas as ons die waarheidsbelofte van die Nuwe Verbond glo : “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Hebreërs 8:12)

Ons begeer almal ‘n vrugbare vreugdevolle diens aan God en in sy teenwoordigheid  in 2013. Die geheim is om vas te hou aan die volkome genoegsame versoeningswerk van Jesus aan die kruis! Om kinderlik te glo, dat sy offer ook vir my, vir my die ellendigste van alle sondaars genoeg was. So word daar afgereken met ons gruwelike gisters en so vind ons die vryheid om die toekoms tegemoet te gaan!

Ja, ons kan leer uit die foute en sondes van die gisters, maar hulle kan ons, wat ons vertroue op Jesus stel, nie meer vashou en verhinder om God nou met ‘n rein gewete te dien nie.

Chambers sluit af : “Ons gisters hou vir ons gebroke onomkeerbare dinge in. Dit is waar dat ons geleenthede verspeel het, wat nooit weer sal terugkeer nie, maar God kan hierdie destruktiewe angstigheid verander in konstruktiewe bedagsaamheid vir die toekoms. Laat die verlede met rus, maar laat dit rus in die soet omarming van Christus. Laat die gebroke, onomkeerbare verlede in sy hande en betree die onoorwinlike toekoms met Hom.”

Mag 2013 ‘n groter besef van die genoegsame genade in Jesus by ons werk en ons so aanspoor tot groter  gehoorsaamheid en vreugdevolle diens aan God ons Verlosser! Mooi jaar vir jou!


Robbe by Kaapkruis. Of hulle vreugdevol is sal ek nie weet nie, maar vrugbaar is hulle wel!

Vrydag 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”

Maandag 10 Desember 2012

KNOPE IN DIE KERSKOUS

- nugter nagedink oor 25 Desember.

Ek het groot waardering en respek vir God se kinders wat radikaal heilig wil lewe en in alle dinge die wil van God eerste probeer stel.  Dis immers in ooreenstemming met  die duidelike opdrag in 1 Petrus 1:16 “Wees heilig, want Ek is heilig!”  Aan die anderkant is daar wel ook Christene wat ‘n behae daarin skep om hare te kloof en andere skuldig te laat voel oor nietige randsake. (moontlik as gevolg van onkunde) 

Een so ‘n saak is die vraag :



“Mag ‘n Christen Kersfees vier?”



VASTE FEITE

Kom ons begin met die nugtere stel van ‘n paar feite wat vas staan en waaroor almal behoort saam te stem :  

Feit nommer een is : Jesus is nie op 25 Desember gebore nie. Verder:
Die groot meerderheid van mense op aarde vier Kersfees op ‘n goddelose en Godonterende manier (met vreet op aarde in plaas van vrede op aarde)* 
Daar is geen Bybelse bevel om Kersfees as ‘n feesdag te vier nie. 
Daar is wel duidelike Skrifgedeeltes wat die geboorte/menswording van Jesus beskryf. 
Daar is wel toegewyde gelowiges wat Kersfees vier op ‘n Godverheerlikende wyse. 
Daar is ook opregte Christene wat niks met Kersfees te doen wil hê nie en dit as deur en deur heidens beskou.

Uit bogenoemde is dit klaar duidelik dat Christene verdeeld is oor hierdie saak. Selfs onder Christene met sterk Calvinistiese oortuigings is daar nie eenstemmigheid nie. Uitgesproke Calvinste soos die bekende CH Spurgeon en AW Pink was teen Kersfees gekant. Calvyn self se siening kan dalk vir baie ‘n verrassing wees. Calvyn het nie die viering van Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees, Hemelvaart en Pinkster verbied nie. Farel sy voorganger in Geneve het dit verban. Calvyn het hulle egter oortuig om dit weer in te stel. Later toe die Geneefse owerheid wel besluit het om die feeste af te skaf is Calvyn egter daarvoor die skuld gegee. In ‘n brief aan sy vriend Haller in Bern het hy dit baie duidelik gestel dat hy nie die afskaffing van Kersfees ondersteun het nie. Iemand het Calvyn se posisie so opgesom : kerke het die vryheid om hierdie feeste met matigheid te vier solank dit tot die opbou van gelowiges dien.

Waarom voel sommige so sterk teen Kersfees?

BESWARE TEEN KERSFEES

1. Kersfees is ‘n oorgawe aan naakte materialisme en hedonisme. Dis moeilik om hierteen te stry. Min dinge is seker so irriterend vir ‘n Christen se ore as “Jingle Bells” wat in ‘n groot afdelings winkel blêr terwyl als rondom jou skreeu teen die boodskap van Jesus en sy nederige menswording en almal daarop uit is om met een of ander reklamefoefie die laaste sente uit jou sak te roof. Met so ‘n geld en plesiergedrewe Kerfsees kan geen kind van God vrede hê nie. Die misbruik van ‘n saak hef egter nie noodwendig die regte gebruik op nie. ‘n Kersfees waar ‘n gesin saam rondom die Woord weer nadink oor die wonder van Jesus se menswording en in vrede en blydskap saam ‘n maaltyd nuttig is seker ‘n heel ander saak.

2. Kersfees se oorsprong is duidelik heidens en het niks met Jesus Christus te doen nie. Daar is ‘n sterk anti Kersfees gevoel by ‘n groep Christene wat baie uitgesproke is oor  hierdie saak. So hoor mens sterk bewoorde uitsprake soos die volgende :

“What many in Christendom have been celebrating--Christmas--is a thoroughly pagan holiday--in its origin, in its trappings, and in all its traditions . . . . The modern conservative cry to put Christ back into Christmas is absurd. Jesus Christ was never in Christmas.”  Vir sulke mense is Kersfees inherent boos en goddeloos en maak dit geen sin om dit eers te probeer reg vier nie.

Die besware rondom die heidense karakter van Kersfees gaan oor die beweerde worteloorsprong vanuit die heidendom, die datum van 25 Desember en heidense gebruike wat daarmee gepaard gaan.

Die meeste van hierdie argumente gaan terug op die tesis van die Skotse Pesbiteriaan Alexander Hislop in sy bekende  werk : “The Two Babylons”  Hiervolgens is die Roomse kerk ‘n direkte uitvloeisel van die heidendom van antieke Babilon wat deur Nimrod en sy vrou Semiramis  begin is. Hierdie tesis van Hislop het wyd bekend geraak, maar daar bestaan ernstige kritiek teen sy veronderstellings. (Sien voetnoot **)
DATUM

Kom ons kyk bietjie na die kwessie van die datum. Waarom het die kerk, wat tog moes geweet het dat Christus nie op 25 Desember gebore is nie, op hierdie datum besluit?
Sedert die tyd van die Romeinse keiser  Elagabulus (218-222), is die afgod Sol Invictus (die onoorwinbare songod) as een van die vernaamste Romeinse gode vereer.  Toe keiser Aurelius (270-275) aan bewind gekom het, het hy gepoog om die aanbidding van die son as hoofgod te herstel.  Sol het saam met die god Jupiter op muntstukke verskyn. 25 Desember is herdenk as die geboortedag van die songod. (natalis solis invicti). Die songod is ook geïdentifiseer met Mithra ‘n Persiese god en heidense feeste is wyd oor die ryk heen gevier op 25 Desember.  Een teorie is dat die kerk in Rome doelbewus hierdie datum gekies het as ‘n teenvoeter vir die fees van die heidense songod en mense se aandag eerder te vestig op die “Son van geregtigheid” (Maleagi 4:2)  In die loflied van Sagaria lees ons immers ook van God se genade in Jesus die volgende “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal.” (Lukas 1:78) Daar is nie direkte bewys vir hierdie teorie nie, maar daar is preke van die Kerkvaders (byv. Augustinus) wat hierdie gedagte opper.
SKULDIG DEUR ASSOSIASIE?

Presies waarom die geboorte van Christus op 25 Desember gevier word is nie seker nie, maar die vraag is : Maak dit saak?  Gaan dit nie eerder oor die inhoud van wat ons herdenk nie? ‘n Mens moet pasop vir ‘n skuldig deur assosiasie redenasie. Ons gedenk die opstanding van Jesus op ‘n Sondag, wat in die Romeinse tye ‘n dag was wat vernoem is ter ere van (weereens) die songod! Mag ons dan daarom nie op die Sondag Jesus se opstanding vier nie? “Dis wat ons nog altyd vir julle gesê het”, sal die Sewendedaagse Adventiste nou weer uitroep. Maar om volgens hierdie redenasie ons erediens na die Saterdag te skuif laat ons weereens met ‘n soortgelyke probleem. Saterdag is deur die Romeine vernoem na die god Saturnus! Waar laat dit ons? Waarskynlik het al ons weeksdae se name ‘n heidense konnotasie.
Dit gaan tog nie oor die dag se naam of vroeëre konnotasies nie. Dit gaan oor wat ons nou op daardie dag doen en glo!
Die heidene het nie alleenreg op sekere dae of simbole nie!
 ‘n Ander beswaar wat dikwels  teen Kersfees ingebring word is die sterk ooreenstemming wat gebruike soos die Kersboom toon  met heidense feesgebruike. Die gebruik van geskenke gee kom blykbaar van die Romeinse Saturnaliafees wat van 17-24 Desember plaasgevind het. Wat moet ons met al hierdie dinge maak? Ooreenkomste dui nie noodwendig op dieselfde afkoms en nog minder op dieselfde betekenis! (As ‘n bygelowige mens ‘n uil hoor skree, ruik hy ‘n voorbode, maar ek hoor maar net nog ‘n voël.) Juis hierom moet ons mekaar die vryheid gun oor hoe  elkeen die menswording van Jesus wil gedenk (Ek persoonlik vind Vader Kersfees maar ‘n grillerige figuur en maak nie my kinders saam met hom groot nie, maar aan die anderkant voel ek nie dis verkeerd om vir my kinders geskenkies te koop nie.) Ons is mos vry om nie in uitspattigheid te verval soos die goddelose wêreld rondom ons nie. Ons is ook vry om gebruike wat ons ongemaklik te maak weg te laat.  As die heidene iets gebruik beteken dit tog nie noodwendig dat ons dit met dieselfde motiewe of betekenis te gebruik nie.  Heidense mense braai ook vleis, beteken dit dat ek nie meer mag vleisbraai nie?
Ooreenstemmende kulturele gebruike het vir verskillende kulture en gelowe verskillende betekenisse.  Heidennasies het ook die besnydenis beoefen (en doen dit nog steeds) maar dit maak nie die besnydenis wat Abram en sy nageslag in opdrag van God moes beoefen tog heidens nie? Net so maak die feit dat die Roomse kerk Kersfees vier dit nie noodwendig verkeerd nie. Ons deel baie waarhede met die Roomse kerk soos byvoorbeeld die leerstuk oor die Drie-eenheid. 
Watter heidense wortels daar ook in Kersfees mag wees, dit lê so ver terug dat dit vir die meeste van ons totaal die oorspronklike heidense betekenis verloor het. Wat my betref is die moderne heidense gebruike van uitspattigheid en materialisme ‘n baie groter gevaar as ‘n versierde kersboompie. (Sien voetnoot ***)
3. Die viering van Kersfees is ‘n oortreding van die sogenaamde “regulative principle”  Dis ‘n beginsel wat funksioneer in die gereformeerde denke wat behels dat ons God net mag aanbid volgens dit wat Hy duidelik in sy Woord beveel. Omdat daar nêrens in die Bybel ‘n opdrag gegee word om Kersfees te vier nie, sou ons dit nie mag doen nie en kom dit volgens sommige neer op valse “goue kalf aanbidding”. Ek is van mening dat die “regulative principle” te ver gevoer kan word. Dis ‘n kosbare beginsel, maar ons moet ook nou nie weghardloop daarmee nie. Die oprigting van kerkgeboue, die aanbied van Sondagskool en ‘n menigte ander normale kerklike gebruike is nie direkte opdragte van die Skrif nie – is al hierdie dinge dan verkeerd? Die feit is dat die geboorteverhale en ander gedeeltes wat handel oor die menswording van Christus deel is van die Skrif en as sodanig dus tog bedoel is om voorgelees te word as deel van ons aanbidding. Is dit verkeerd om op daardie gedeeltes te konsentreer op ‘n sekere tyd van die jaar? Die kerk beweer nie Kersfees is  ‘n spesiale heilige dag met enige magiese betekenis of krag nie, maar bloot ‘n tyd van die jaar wat ons benut om een van die groot heilsfeite, die menswording van God se Seun te herdenk en te verkondig tot opbou van Christus se gemeente. Sover ek weet dwing geen kerk sy lidmate om Kersfees te vier nie, en dis ook reg so.

RUSTIGE RIGLYNE


  • Christene is vry om Kersfees te vier of dit nie te vier nie. Die beginsels van Romeine 14 kan gerus in gedagte gehou word. Vers 5 : “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe veel belangrik.” Laat ons elkeen handel volgens die lig wat ons het en die innerlike oortuiging wat die Heilige Gees ons gee vanuit ons besigwees met die Skrif. 

  • Christene wat Kersfees vier behoort dit so in te rig dat dit sal pas by die saak waaroor dit gaan, naamlik Jesus se menswording en selfvernedering met die oog op ons verlossing. Dis ‘n saak van blydskap (soos die engelekoor dit verstaan het) en kan met vrolikheid gevier word sonder om toe te gee aan die materialisme, vraatsug en dronkenskap wat die wêreldlinge se jolyt kenmerk. 

  • Christene wat nie gewetensvryheid het om Kersfees te vier nie, is vry om dit nie te doen nie. (Diegene wat wel Kersfees vier moet hulle nie as belaglik of snaaks uitkryt nie.) Hulle moet hulle ook egter weerhou van verdagmakery en wilde emosionele beskuldigings teenoor Christene wat wel Kersfees vier. Om God se kinders wat Kersfees vier van sonaanbidding of Roomse dwalings te beskuldig is regtig onbillik en liefdeloos, meer nog dis blatant oneerlik.

Geseënde Christusfees!

[Persoonlik het ek geen beswaar om Kersfees te vier nie. Dis 'n geleentheid om die menswording van Jesus te vier en die evangelie van Immanuel te verkondig. Wat ek wel verafsku is "kersvaders" (ek het nooit my kinders daaraan blootgtel nie), maar oor geen van hierdie sake soos kersbome en versierings sal ek hare kloof nie. Ek dink die gemiddelde fliek waarna mense deesdae op TV kyk met al die wellus en geweld is meer afbrekend as enige kersvader en sy slee... Dis dalk oor ons TV's wat ons bekommerd moet wees"]


VOETNOTE

*Raakgelees in ‘n Nederlandse gedig

**Dr. Richard P. Bucher gee die volgende kommentaar op Alexander Hislop se tesis in “The Two Babylons”
It was Hislop's thesis that the Roman Catholic Church was a direct descendent of the paganism of Nimrod and ancient Babylon. One of his arguments was that some of the chief holy days of the Roman Catholic Church, such as Christmas, prove this to be so. The stamp of Hislop's thesis is found all over most of the anti-Christmas literature that I've seen. But is his argument sound?
Hardly. I have no doubt that Hislop consulted a vast amount of sources in writing his book. This is obvious in reading it. But some of its key arguments are flawed. He makes many philological leaps of faith to prove his points. For example, his entire argument rests on making the Babylonian "Ninus" the same person as the Biblical "Nimrod." (Nimrod is mentioned in only three places in the Scriptures, Gen. 10:8-12, 1 Chr. 1:10, and Micah 5:6). Only then can he claim that the wife of Nimrod was Semiramis, and that both were worshiped as divine mother and son, etc. Hislop himself recognizes how important this is, in this very interesting sentence:
Now, assuming that Ninus is Nimrod, the way in which that assumption explains what is otherwise inexplicable in the statements of ancient history greatly confirms the truth of the assumption itself (The Two Babylons, 25).
Got that? The point is that this turns out to be a big assumption. In other ancient literature, the father of Ninus was Bel, and it is said that he built the city of Nineveh. The Bible on the other hand says that Nimrod built Nineveh, and that Cush was his father. The way in which Hislop attempts to reconcile this contradiction is a truly remarkable example of literary gymnastics that is hardly convincing. He argues that Bel is the same as Hermes/Mercury, and the same as Janus/Chaos, which is the same as Cush. Right. (See for yourself by reading the "The Two Babylons," 25-29).
It is possible that Nimrod, the grandson of Cush, led people into pagan worship. But the argument that all paganism, and especially that all pagan festivals at the time of the winter solstice, can be traced back to Nimrod, just doesn't hold. To say it is a scholarly stretch is an understatement. Yet most of the "Christmas is pagan" literature bases its arguments on Hislop's thesis.
Hislop se boek is baie gewild by sekere groepe wat die kerk verdag wil maak en word gereeld aangehaal. Daar is egter ernstige bedenkinge oor die boek. Sien verder “The Babylon Connection?” deur Ralph Woodrow
*** I sympathize with those who want to be rigorously and distinctly Christian, who want to be disentangled from the world and any pagan roots that might lie beneath our celebration of Christmas, but I don't go that route on this matter because I think there comes a point where the roots are so far gone that the present meaning doesn't carry the pagan connotation anymore. I'm more concerned about a new paganism that gets layered on top of Christian holidays. (John Piper)

NASKRIF

Hierdie nederige Blog is nou net bietjie meer as 'n jaar aan die gang. Die  eerste  twee "posts" het op 8 Desember 2011 verskyn, naamlik WAS DIT REGTIG GOD SE WIL? en SPOKE EET NIE VIS NIE. 

Ek geniet dit baie om hierdie stukkies te skryf en te sien hoedat daar besoekers van dwarsoor die wêreld kom inloer. Die meeste gaste is natuurlik van Namibia en Suid-Afrika, maar daar is ook gereeld besoeke uit New Zealand, Rusland, Duitsland, die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australie en Rusland. Ook  was daar al besoeke uit Nederland en Frankryk en selfs uit Israel, Madagaskar, Swaziland, Qatar, Sjina, Suid-Korea, Argentinie, Swede, Ukraine, Malawi, Oostenryk, Sierra-Leone... Dankie vir julle ondersteuning. Ek sal graag van julle wil hoor...



Op Bray het ons 'n Kameeldoring, kersboom gehad!