BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 19 Januarie 2013

BOODSKAP VAN DIE BYL

- die vergete prediker se belangrike bediening.

Nie te lank gelede nie, het ons Kersfees gevier. Jesus se menswording. Tog verstaan min mense regtig  waarvoor Jesus gekom het.  U sien, ons  kan nie die betekenis van Jesus se koms eintlik reg verstaan sonder die agtergrond van Johannes die Doper se prediking nie. En tog word daar oor die algemeen min gepraat oor Johannes se boodskap.  Dis ‘n geval van ‘n vergete  prediker met ‘n ongemaklike boodskap, waarvan mense nie juis hou nie. Maar, ons kan nie Jesus losmaak van Johannes nie.  Jy kan nie sê : “Ek hou van die Baba in die krip , maar ek gril vir die profeet met die kameelhaarkleed.” nie.

Groot getalle mense het na Johannes by die Jordaan gestroom om gedoop te word.  (Lees hiervan in Lukas 3:1-20) Mens sou dink dat Johannes hulle almal met ope arms sou verwelkom het. (en sommer vir ‘n foto saam met die belangstellendes geposeer het!)  Johannes spreek hulle egter baie skerp aan : “Julle slange...” Dit lyk of sommige maar net so gou moontlik gedoop wou word, om God se oordele vry te spring.  ‘n Klomp kansvatters! Hulle het miskien  gedink dat redding in ‘n ritueel te vinde is. Nou sê, Johannes : “Nee, nee...” Die essensie van die saak is bekering, nie net doop nie. Wys dat julle bekering eg is!

Johannes se boodskap is ‘n boodskap van bekering. Dit was ‘n voorloper van Jesus se boodskap. En wat was Jesus se boodskap? “...Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:14,15)

Kom ons kyk na ‘n paar belangrike aspekte rondom die saak van bekering:
Wie het hierdie bekering nodig? (8)  Alle mense, juis ook verbondsmense.  Hierdie mense wat deur Johannes as addergeslag aangespreek is, het juis gedink dat hierdie bekeringstorie nou nie juis op hulle van toepassing is nie. “Ons is mos kinders van Abram, rasegte Israeliete...” Miskien het hulle gedink : “Bekering is seker net bedoel vir tollenaars en prostitute!”  Johannes se woorde impliseer duidelik : “Niemand is outomaties ‘n kind van God nie!” (al was jou oupa ‘n sendeling in Malawi of jou pa ‘n ouderling op Otjiwarongo)  Met die uitspraak oor die klippe word die waarheid van die wedergeboorte beklemtoon. God alleen is instaat om mense sy kinders te maak. (Johannes 1:12,13)  Nie afkoms nie, maar Goddelike ingrype is ‘n vereiste om gered te word! Die mens is in inderdaad soos ‘n klip, dit kos ‘n Goddelike wonderwerk om ons sy kinders te maak. (Die beeldspraak van klippe en kinders is moontlik ook gekies, omdat dit in Aramees ‘n woordspeling : abnayya-binayya vorm.)


Waarom is hierdie bekering nodig? (9) Daar is ‘n dringende gevaar! Juis vir julle wat dink dat julle van Abram afstam en daarom voel julle het nie bekering nodig nie. God se finale oordeel is voor die deur. Bome wat nie vrugte van bekering dra nie word uitgekap! Die boodskap van die byl! Hoe nodig is die boodskap van die byl! Die hedendaagse mens wil glad nie aan die oordeel herinner word nie. Minstens 3 keer verwys Johannes na God se oordeel in hierdie gedeelte. (7- toorn, 9 - vuur, 16,17 - vuur) Dit was ‘n belangrike onderdeel van Johannes se boodskap en ook Jesus s’n. Jesus het self het ‘n soortgelyke gelykenis van die boom in die wingerd vertel. “Gee die boom nog ‘n jaar kans om vrugte te dra, so nie, kap hom af.” (Lukas 13:8,9 ) Ja, dis ‘n genadeboodskap. Jesus is die Tuinier wat vir nog ‘n kans pleit – maar daar kom ’n afsnypunt!


Wat behels hierdie bekering?   Die woord vir bekering hier  is “metanoia”  d.w.s.  “change of mind”.  Verander jou sienings!  As ons kyk na 10-14, sien ons, bekering is nie vaag en teoreties nie. Dit sê nie : “Julle moet darem net julle bes probeer of bietjie beter oor julle self voel nie!”  Dis baie aktueel en konkreet in ons eie persoonlike situasie! Dit vereis ook duidelike aksie en optrede!

~ Verander jou siening oor jou sonde en kies daarteen. Dis nie net sommer so sondetjies in die algemeen nie. Nee, dis baie spesifiek  juis daardie konkrete basiese wortelsonde in jou omstandighede.  Daardie ding wat jou lewe beheer en besoedel.  Daardie groot ding wat jou weghou van God.  Let op,  elke groep kry ‘n afsonderlike gepaste antwoord vir hulle eie situasie. Vir ons elkeen kom die oproep tot bekering in konkrete gepaste vorm : “Breek met daardie onsedelike verhouding, los daardie oneerlike praktyk, vergewe daardie persoon wat jou so bitter maak...”

~ Verander jou siening oor Jesus Christus en onderwerp jou aan Hom. Johannes bepleit   nie bloot morele verandering  opsigself nie, maar verandering in gehoorsaamheid en onderwerping aan Jesus Christus. (15,16) Hy wys hulle op die twee aspekte van Jesus se werk. Jesus reinig en vernuwe ons deur sy Heilige Gees, maar hy doop ons ook met vuur. Vuur is simbolies van oordeel. Jesus bring skeiding! Die koring word bymekaargemaak,maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand!  (17) Bekering is bekering tot Jesus, dis onderwerping aan sy Koningskap. Dit beteken ek vertrou Hom vir vergifnis, maar ook dat ek begin maak soos Hy sê om te maak. So nie, wag daar oordeelsvuur!

Johannes se boodskap was ‘n ongemaklike boodskap!
Johannes was geen  mooipraatjiesprediker en  “people’s pleaser” nie. Hy het sy boodskap van bekering nie net daar ver en veilig  by  die Jordaan nie, maar ook aan koning Herodus self gebring  : “Jy mag nie jou broer se vrou vat nie”. Dit was  ‘n bietjie baie gewaag om ‘n koning direk oor sy sonde aan te spreek. Dit het Johannes in die tronk laat beland (20) en soos ons weet later sy kop op ‘n skottel! Die boodskap van bekering is nie gewild nie, maar dis deel van die goeie boodskap, die evangelie. In die  Grieks word die woord “ge-evangeliseer” gebruik. (18) Dis goeie nuus, dis genade, ons kry die kans om te bekeer en ons aan Jesus se heerskappy te onderwerp. Bekering (en ook daaglikse heiligmaking) is juis ‘n bewys dat ek die goeie nuus van die verlossing deur Jesus aanvaar het en my eie gemaak het.

Mag ons ons betyds bekeer en bewaar word van die byl en die vuur!

 1.Morris 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.