BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 07 Oktober 2015

RUT EN DIE ALGEMENE SINODE

- dit sal inderdaad wonderlik wees as ons kerk erns met hierdie boek maak!

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het gekies om die dagwydings tydens die sitting aan die hand van hierdie boek te doen. Dis ‘n goeie keuse.


Die boek Rut is beslis ‘n klein juweel, literêr, teologies en op ‘n praktiese geloofsvlak. Ja, dit dra onteenseglik ‘n boodskap van hoop aan uitgeworpenes en “outsiders”. Die opwinding van 'n nuwe begin uit genade! Rut, die Moabitiese meisie wat nie alleenlik ingetrek word by die volk Israel nie, maar deel word van die Dawidslyn waaruit ons Verlosser Jesus Christus gebore sou word. (sien die geslagsregister in Matteus 1)

Hierdie Jesus is inderdaad ‘n Verlosser van alle soorte sondaars - heidene, afgodsdienaars, seksuele oortreders, gays, belastingontduikers, plaasmoordenaars, pedofiele, maar ook Fariseërs, godsdienstiges, kerklikes, en selfs sinodegangers... noem maar op!

Rut vertel ons dus van die ruimte wat God deur sy liefde maak vir buitestanders, maar dis nie ‘n eensydige verhaal van blote inklusiwiteit en outomatiese goedkeuring van als nie. Dis ook ‘n verhaal van ‘n duidelike geloofskeuse.

Die jong Moabitiese weduwee Rut het ‘n ingrypende bekering ondergaan en doelbewus gekies om haar aan die lewende God te onderwerp en te vereenselwig met sy mense. 

Terwyl Orpa terugkeer na haar Moabitiese wortels kom Rut tot ‘n kragtige belydenis en oorgawe : “...want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God;” (Rut 1:16) As Rut nie bereid was tot hierdie keuse nie, wat sou sy nie alles gemis het nie?

God se groot liefde vir mense en die eis van bekering en berou mag nooit van mekaar losgemaak word nie! Bekering was die boodskap van Johannes die Doper, Jesus en sy dissipels. Dis langs die weg van bekering en geloof dat die koninkryk van God se insluitende liefde ‘n werklikheid word. Mag die Algemene Sinode hierdie boodskap wat ons ook in die boek Rut kry ernstig opneem! Ook as hulle oor selfdegeslagverhoudings dink en besluit...

[gedenksteen op Mariental met die NGK se eeufees in ons land Namibië]

1 opmerking:

  1. Het onlangs 'n boek aangekoop: 'n Tweede Kans deur Tessa Afshar. 'n Pragtige Bybelverhaal oor die lewe van Rut. Werklik geïnspireerd en sterk geestelik. Die kragtige getuienis van Rut wat die God van Israel haar God gemaak het (na hart en siel) met Boas, die sterk geestelike Israeliet en hulle diepe liefde en verhouding wat voortvloei uit hulle verhouding met die Here. Ek sal regtig die boek by mense aanbeveel. Groete.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.