– die laaste sigaret.
[Ek
is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat
laasjaar oorlede is. Vir meer kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd uittreksels daaruit op
hierdie webjoernaal te plaas.]
Na matriek
het Johan de Koning by die
Tabakkoöperasie op Patensie in die Oos-Kaap gaan werk. Seker baie aangename
werksomstandighede vir ‘n groot roker soos hy!
Sy hoërskoolvriend, Eugene
Toerien het hom egter vertel van werksgeleentheid in die Aartappelraad en so
het hy in 1952 in Pretoria by dié te lande gekom. Spoedig sou dit baie duidelik
word dat God dit so beskik en ‘n
besondere afspraak daar met hom gehad het.
So ‘n ontmoeting was baie nodig voordat God Johan sou kon gebruik vir sy
lewenstaak as sendeling wat voorgelê het. Ja, hy het weliswaar ‘n goeie paadjie
in Pretoria probeer bewandel. Hy was aktief betrokke by kerklike dinge as
Sondagskoolonderwyser en diaken en was in Christelike kringe bekend as
Christen, maar diep in sy hart was daar onsekerheid. Kragteloosheid. Dan was hy
ook nog vasgevang in die rookgewoonte wat al op ‘n jong ouderdom begin en hom meer as eenkeer in die moeilikheid
laat beland het. Maar al die
moeilikheid, selfs ook nie ‘n pakslae met ‘n bandolier kon hom van die gewoonte
bevry nie. Johan het wel probeer om ‘n
stryd teen die verslawing te voer en kon soms tot 5 maande uithou, om dan maar net weer te begin en erger te
rook . Teen hierdie tyd het hy daagliks
‘n groot klomp Kommando sigarette en tussenin in nog pyp ook gerook.
Johan was
besig met sy finale jaar CIS (Chartered Institute of Secretaries) studies en die eksamen was voor die deur. Dit was ‘n Donderdagaand. Terwyl hy besig was
om sy werk deur te gaan, wat hy gemeen het dat hy goed ken, het iets vreemds
gebeur. Dit was asof elke deel wat hy deurgaan eerder uitgewis word uit sy
geheue. ‘n Bewustheid van sonde het oor hom gekom en hy het sy onreinheid besef.
In sy nood vat Johan die Bybel. Dit het
oopgegaan by Romeine 7. Hier lees hy
onder andere in vers 19 “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat
ek nie wil nie, doen ek” Hy het besef, hy het geen krag tot oorwinning oor die
sonde nie.
In hierdie
toestand van radeloosheid het Johan besluit om na die konferensie op
Kaalfontein, die plaas van oom Lardus
Erasmus te gaan. (Oom Hansie Kleynhans, ‘n vriend en ook by die Aartappelraad werksaam het hom
alreeds hierheen uitgenooi. Johan het
egter die studies as verskoning voorgehou.)
Vrydag oggend het hy op sy fiets geklim,
werk toe gery en vir oom Hansie gaan sê: “Oom Hansie, ek ry saam.” Daar in oom
Hansie se kantoor by die Aartappelraad
het hy nog ‘n laaste sigaret gerook, sonder om te besef dat dit die laaste
sigaret in sy lewe sou wees!
By die konferensie was daar pragtige Christen mense en leiers soos Prof. H.D.A. du Toit, Dr. O’Brien Geldenhuys,
Ds. Bennie Buys, Ds. Gerhard Cruywagen, Oom Dries Steyn en nog ander. Almal was vrolik en vriendelik. Niemand kon sy innerlike stryd sien nie. Met sy kennis van die jeug het Oom Dries
Steyn dalk iets vermoed. Op sy vraag:
“Johan de Koning, ken jy die Groot Koning?” het Johan wel positief geantwoord
en toe sê hy: “Ek sien jou April DV by
Winklespruit se CSV kamp.”
Duidelik praat die Here met Johan uit die preek van Dr. Geldenhuys oor die
oes wat groot is en die arbeiders wat
min is uit Matt 9:35-39, en sluit af
deur te sê: “Daar eenkant staan ‘n tent, as iemand voel die Here het met hom
gepraat, gaan daarheen en praat met die Here.”
Gou was hy in die tent, maar twee dames was voor hom daar. Hy wou
egter alleen wees met die Here. Hulle
drie het eers saam gebid en toe hulle uit is was sy gebed omtrent iets soos:
“Here, ek wil krag hê om u te dien.” Hy het ook sonde bely en gesê, hy sal
dinge gaan regmaak as hy by die huis kom.
Al het Johan nie presies geweet wat
hy vra nie, het die Here geweet wat Hy wou gee.
Daardie dag, 3 Oktober 1954 het
die Heilige Gees besit geneem van sy lewe en het 2 Korintiërs 5:17 vir hom waar
geword: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het
verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword.”
Johan het borrelende vreugde beleef.
Mense kon dit raak sien. Oom
Hansie wat eintlik vroeër wou ry, vra
toe of hy nie wil bly om ‘n
getuienis te gee nie. Van iets soos ‘n getuienis het Johan min geweet, behalwe
dat "sektes" getuig. “Die Here het my
geseën,” was min of meer wat hy gesê
het, tog het die mense op sy gesig gesien dit wat in woorde nie gesê is nie.
Dit was die eerste van baie getuienisse wat sou volg.
Die volgende oggend op pad terug in die motor na Pretoria terwyl hy diep
ingedagte al die gebeure weer sit en deurleef vra oom Hansie: “En toe, wanneer
koop jy vir ons weer sigarette?” Johan
antwoord verbaas: “Haai Oom, dit is nou drie dae wat ek nie meer gerook het
nie!” Nooit weer het hy gerook nie. Baie jare later sou hy nog steeds kon
getuig dat Johannes 8:36 die waarheid is:
Johannes
AntwoordVee uitHier was verlede naweek `n sendingkonferensie hier by ons en een van die sprekers was Patrick Johnson. Hy het in die vyftigs vanaf Engeland na SA gegaan en by Dorothea Sending gaan werk. Op aandrang van Hans van Staden het hy toe mos die Operation World begin waar hulle inligting saamgestel het sodat mense vir verskillende lande kon bid. Hy het dit nou oorgegee vir iemand anders.
Hy onthou jou pa goed en weet dat hy oorlede is. Hy praat nog Afrikaans. Het my gevra of ek nog Afrikaans praat. Later het hy ook in Zimbabwe gewerk (toe nog Rhodesie)Hy praat ook nog Shona wat ek ook as kind geleer het.
Groete (uit `n nat en koue Vancouver)
Dankie Pierre, dis nou kosbaar. Natuurlik onthou ek hom. Dis die geslag voor wie ek eintlik grootgeword het. As jy 'n e-pos adres van hom het, kan jy gerus dit vir my laat kry.
Vee uitNogmaals dankie en groete (uit 'n baie warm Tsumeb)
Johannes
Het ongelukkig nie `n persoonlike epos vir hom nie. Hy bly nou in Engeland en is betrokke by WEC International www.wecinternational.org. Jy sal deur hulle webwerf by hom kan uitkom.
Vee uitHier is `n verkorte weergawe van `n onderhoud wat `n tyd terug met hom gevoer is.
http://www.youtube.com/watch?feature=player_embedded&v=2r98qQrpGY8