BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 01 Januarie 2020

VIR 2020 : Johannes 20

Jesus se nuwejaarsboodskap - ontvang onverdiend die gawe van vrede, maar ook die opdrag om die vrede uit te deel…



Dit gaan nie goed met Jesus se dissipels hier in Johannes 20:19-23 nie. (Dalk ook nie met jou hier aan die begin van die nuwe jaar nie?) Sedert Jesus se indringende gesprekke met hulle in die bokamer voor die kruisiging het baie dinge gebeur. Hulle moes sien hoe Jesus voor hulle oë verneder en bespot word en hoe Hy ‘n grusame marteldood aan die kruis sterwe. Erger nog, hulle het Hom in die steek gelaat en voel seker baie skuldig en vol selfverwyt. Hulle het misluk as volgelinge, misluk in geloof en vertroue. Hulle is onseker, bang, vol vrees... (daarom is hulle hier weggekruip agter geslote deure) Dit lyk asof hulle die troos en opdrag wat Hy hulle voor sy kruisiging in Johannes 14:1 heeltemal vergeet het. 



“VREDE VIR JULLE!”

Maar nou kom die opgestane Jesus weer op sy inisiatief na hierdie jammerlike mislukte groepie toe. En merkwaardig, Hy kom nie met verwyte en beskuldigings nie, Hy kom nie met harde woorde en strafaankondigings nie. Hy kom met ‘n positiewe helende boodskap. ‘n Boodskap wat hoop en herstel bring : “Vrede vir julle!” Dis meer as net ‘n gewone groet. Dit sien ons uit die feit dat dieselfde woorde in vers 21 herhaal word. Jesus vervul ook hier ‘n belofte wat Hy voor Sy kruisiging gemaak het. (14:27; 16:33)

Jesus kom gee ook opnuut sy vrede hier aan elkeen van ons wat ‘n dissipel is aan die begin van die jaar 2020. 

En dis so wonderlik, Jesus se vrede is nie ‘n beloning wat Hy gee vir supermense nie. Nee, Jesus deel vrede (vergifnis, vernuwing, 'n skoon gewete) uit aan juis skuldige, stukkende en sondige mense soos ons, want Hy het aan die kruis ons skuld, skande en sonde reeds uitgewis! 

Hy identifiseer Homself baie duidelik as die Gekruisigde! Hy het hulle sy deurboorde sy en hande pertinent gewys. (20) Ja, die Opgestane Here is Niemand anders as die Offerlam van God nie! Dis juis die einste weersinwekkende en afgryslike kruisgebeure wat die basis is van die vrede wat aan die dissipels hier toegesê word. Sy bloed was die prys waarmee ons vrede gekoop is!  Ons Koning en Heer het sy lewe vir ons as bevrydingsoffer gegee! Ons skuld voor God is finaal uitgewis aan die kruis! Daarom en net daarom is ons nie nou ontvangers van straf nie, maar van vrede!

“...SO STUUR EK JULLE”

Jesus gee aan elkeen wat Hom in die geloof aanvaar sy vrede. (Ja, al verdien ons dit hoegenaamd nie – nes hierdie dissipels) Maar dan gaan Hy verder. Hy gee die opdrag : “Soos die Vader My gestuur het stuur ek julle.” Is dit nou nie weereens verbasend nie? Die groepie wat misluk word weer uitgestuur! Ons sou dalk redeneer, "nee wat julle het julle kans gehad en dit verbrou." Jesus se vrede en vergifnis is so volledig, Hy skenk nie net vergifnis nie, maar vertrou hulle met 'n nuwe opdrag! En dis 'n geweldige opdrag in omvag en belangrikheid :  Ons moet Jesus se bediening van vrede en vergifnis verder neem. Jesus se taak gaan voort via sy dissipels. 

Ons gaan aan met Jesus se werk. 

Met sy missie! Dis nie ‘n nuwe vreemde gedagte nie. Jesus het reeds daarvan melding gemaak in sy hoëpriesterlike gebed nog voor die kruisiging. “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur;” (Joh 17:18) 

Hierdie gestuur wees het ingrypende implikasies vir my en jou. Om ‘n gestuurde te wees beteken om die opdragte en wense te gehoorsaam van die Een wat jou gestuur het. Jesus se opdragte moet van nou af eerste in ons lewens wees. (ek is nie meer my eie baas nie) As gestuurdes moet ons voorbereid wees op lyding en verwerping (selfs in ons eie families), net soos Jesus as Gestuurde van die Vader gely het en verwerp is. Maar as gestuurdes kan ons ook weet, wag daar ‘n heerlike beloning van die Vader, net soos Jesus beloon is.

Is jy ‘n onverdiende ontvanger van Jesus se vrede? Onthou dan hierdie jaar, jy is ‘n gestuurde. Sien jouself as ‘n gestuurde gemeentelid en nie net as ‘n ontvanger of passiewe toehoorder nie. En natuurlik die eerste groep mense waarheen ons gestuur word is ons eie huismense. Juis daar moet ons die boodskap van vergifnis en vrede uitleef en toepas. Maar ons word ook verder gestuur – werksmense, mense van ander kulture, binne ons landsgrense en ook buite ons landsgrense, soos die Here deure sal open. 

Ja, ons is stukkende gebroke mense – net soos die dissipels, maar dis juis na mense soos ons wat Jesus kom en ons bemoedig, troos, maar ook uitdaag met sy groet : “Vrede vir (jou) julle!” Dis mense soos ons wat ook uitgestuur word.

Jesus gee nie opdragte waarvoor Hy ons nie toerus nie. Johannes 20:22 is ‘n simboliese handeling van die bekragtiging van die Gees wat sou kom. “Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees!” En die Gees het tydens Pinkster gekom en is tot beskikking van elke kind van God. Die boodskap waarmee ons gestuur word is niks anders as die evangelieboodskap nie. Die kruisboodskap. Want daar het God self deur die offer van sy Seun vrede bewerkstellig. Oor hierdie boodskap mag en kan jy nie stilbly as jy self vrede ontvang het nie.


Ontvang die vrede wat Jesus ook hier in die begin van die jaar 2020 uitdeel, aan mense wat waarlik in Hom glo, maar juis ook aan mense vol mislukkings, foute, vrese... en gaan deel dit uit...

En is jy dalk glad nie 'n dissipel nie? Wel, Hy nooi jou, juis  deur die boodskap waarmee Hy hulle uitgestuur het.

By die Spitskoppe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.