BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 02 Januarie 2020

NOOIT LAAT NIE!


JA, JESUS IS NOOIT LAAT NIE – GLO EN HOU OP VREES! 



TYD


Tyd speel ‘n deurslaggewende rol in ons lewens. Ons kan nooit wegkom van tyd nie. Ons aardse lewens is onlosmaaklik verbonde aan tyd. Ons hele lewe word ingedeel deur tyd en geregeer deur tyd. Die sekondewyser staan nooit stil nie. Elke uur en elke dag kry ons net een keer. Verlede jaar 2019 is onherroeplik verby! En die onbekende 2020 hardloop reeds met ‘n spoed! Ons word beperk deur tyd en tydsindelings- deur vervaldatums, afsnydatums, sluitingsdatums en uiteindelik ’n sterfdatum! 

Hoe het Jesus met tyd gemaak? Jesus is waarlik mens. Hy is gebore as mens. Ook die beperkings van menswees is deel van Hom – Hy word honger, moeg, Hy kon net op een plek wees… As mens was Hy ook in ‘n sin beperk deur tyd en ook Hy het ’n sterfdatum gehad. En tog, was Hy nooit laat nie! * Hy het die beperkings van tyd oorkom. Hy sal ook nooit te laat by jou kom nie! Hierdie tweedelige ineengevlegte genesingsberig in Lukas 8 demonstreer dit so duidelik. 

Jesus is altyd betyds en op die regte tyd op die regte plek – al dink mense nie so nie. Al voel ons beslis nie altyd so nie.

Ons sien dit so duidelik in Lukas se beskrywing van hierdie twee wonders in Lukas 8:40-56die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die opwekking van Jaïrus se dogtertjie uit die dood. Onthou net – Jesus se wonders was bedoel om te demonstreer dat Hy mag het, Goddelike mag om die vloek en onreinheid van die sondeval om te keer. 

Beide die vrou en die dogtertjie het gely onder die gevolge van die sondeval en die gevolglike vloek wat die wet meebring. Volgens die Mosaïese wette was hierdie vrou permanent in ’n toestand van onreinheid. (vgl. Levitikus 15:19-28) Dit verklaar haar skaamte. Ook die dogtertjie was in ’n sin onrein, sy was ’n lyk en volgens die wet van Moses mag ’n priester byvoorbeeld nie aan ’n lyk geraak het nie. Dit sou hom onrein maak. (Levitikus 21:1) 

TWAALF JAAR

Dis opvallend dat in beide die vrou en die dogter se geval die getal van twaalf jaar ’n rol speel. Sien vers 42 en 43. Mens kry die indruk dat Lukas dit doelbewus wil uitlig. Dit sê iets van die erns en hartseer van beide die vrou en dogtertjie se situasies. ‘n Paradoks. Vir die dogtertjie was 12 jaar te kort – sy het nog nie genoeg tyd gehad om groot te word en te lewe nie – 12 jaar se tyd was te min. Vir die vrou was 12 jaar te lank. Die siekte het ’n te groot tyd van haar lewe gesteel. Van die dogtertjie sou mens kon sê : “Hoekom so kort! Waar was die Here?” Van die vrou : “Hoekom so lank? Waar was die Here?” 

ONGEDULDIG, MOEDELOOS, BANG...?

Jy worstel dalk ook met dinge in jou lewe waarvan jy wil sê: “Here hoekom so kort? Waar is U? Here, hoekom so lank, waar is U?” Die troos is dat Jesus altyd daar is vir jou op die regte tyd en op die regte plek. Ja, ons verstaan nie sy tyd nie, ons verstaan nie sy plan met ons nie. Dikwels sou ons dinge anders of vinniger wou gehad het. Maar Hy is nooit laat nie. Hy weet wat Hy doen. Ons raak ongeduldig, moedeloos, beangs, paniekerig... Dink hoe moedeloos moes hierdie vrou wees na 12 jaar... Dink hoe beangs en benoud moes Jaïrus wees oor die vertraging... Dit lyk of Jesus te laat by sy kind gaan opdaag! Terloops, dit lyk asof Jesus doelbewus toegelaat het dat sy gaan na Jaïrus se kind vertraag was. In die geval van Lasarus se dood was dit nog duideliker... Hy het Hom glad nie gehaas na Lasarus nie en vier dae “laat” gekom! (Lasarus was toe al in sy graf) Volgens menslike beskouing het die vertraging in tyd wat deur die vrou se genesing veroorsaak is, gemaak dat Jesus te laat by Jaïrus se dogtertjie gekom het. En tog was Jesus presies betyds, betyds om God op 'n baie groter manier te verheerlik as wat die geval sou wees as Hy vroeër daar was en genees het. Nou toon Jesus dat Hy mag het, selfs oor die dood! 

Jesus was elke keer presies betyds om redding te bring en op so ’n manier dat God geëer is! 

Kom ons weet hier aan die begin van 2020: 

Jesus bring hoop vir sondaars in nood. Ons grootste nood is die sonde en natuurlik die gevolge van sonde. Jesus kom verlos ons van beide. Hy vergewe, reinig en verlos nou reeds. Eendag by die wederkoms sal alle gevolge en letsels van die sonde uitgewis word. 

Jesus in sy reddingswerk is nooit beperk nie. Hy is nooit laat nie! Jesus se genade en krag om sondaars aan te raak kan nie deur tyd en omstandighede ingeperk word nie. Jesus is die Here. Die Here ook oor tyd, oor moeilike omstandighede, Hy triomfeer oor ons beperkings en gebreke, ja oor al die ellendes van 'n stukkende wêreld. Hy stel diegene wat na Hom soek en na Hom roep (soos die vrou en  Jaïrus) nooit teleur nie!

Omdat Jesus se almag groter is as die beperkings van tyd, groter is as die mag van sonde en dood hoef ons nie moedeloos, bang en paniekerig te wees nie. Jesus se almag en juis sy liefdevolle almag roep ons op tot geloof. Mag sy gerusstellende woorde aan die bekommerde en angstige Jaïrus ook rus en vrede in jou en my harte bring... vers 50! “Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.” ** Met hierdie woorde sê Jesus : “Vertrou my , want ek is in beheer, ek is nooit laat nie, my mag is onbeperk...”

Laat jou geloof tot aksie oorgaan – Kom na Hom met jou diepste nood en vertrou Hom! Vertrou Hom al pas Hy nie by jou tydskema in nie. Vertrou Hom, HY IS NOOIT LAAT NIE!





*Erkenning aan Paul Every. Oordenking op YouTube by MMM297
** “gered word” -  swqhsetai in Grieks



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.