BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 20 September 2017

BUITE BY JESUS

- Kies teen groepsdruk en vereenselwig jou met die veragte en verworpe Jesus! 


Jy is bang om alleen te staan, jy is bang om uit te voel, jy is bang om eenkant toe gestoot of geïgnoreer te word. Jy is bang om aan die kant van die minderheid te staan, jy is bang of skaam om openlik met die meerderheid te verskil, jy is bang mense dink jy is snaaks of “weird.” Jy is bang om uitgekryt te word as ’n sissie of ’n pretbederwer of outyds. Jy is bang hulle sê : ”Ag, toe nou mamma se seuntjie!” Jy is bang om jou oortuiging uit te spreek , want netnou lag hulle vir jou... Jy is bang ander word ryk, maar jy bly arm, jy is bang ander vorder op die korporatiewe leer maar jy bly agter as jy nie saam met die manne na daardie "stripshow" toe wil gaan nie... Jy wonder dikwels by jouself : “Sê nou maar ek mis iets lekker van die lewe wat ander het of doen?” Jy wil graag hê dat almal van jou moet hou, jy wil graag altyd deur jou maats aanvaar word, jy wil graag in wees, jy wil graag aantrek soos almal aantrek, jy wil kan saampraat... Jy begin redeneer : “As almal dit doen, moet dit seker reg wees!” As jy al enige van hierdie gedagtes of gevoelens ervaar het dan het jy al kennis gemaak met die verskynsel van groepsdruk. Dit gaan hier spesifiek oor hoe groepsdruk ons as Christene raak. Groepsdruk ’n baie alledaagse en ernstige werklikheid. Twee basiese feite is belangrik om te onthou:  

1) ‘n Volgeling van Jesus kry elke dag en orals met groepsdruk te doen. Dis baie logies dat dit so sal wees, want die pad van die Christen is die smal pad : “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min." (Matteus 7:13,14) Die meerderheid mense, waarskynlik ook van jou maats of vriende is nie op die smal pad nie! Dis die alledaagse werklikheid, die rou realiteit...en nie net vir jongmense nie! Natuurlik in byv. die geslote sisteem van ’n skoolopset kan dit buitengewoon baie erg wees, maar orals deur mens se hele lewe - van Kabouterland kleuterskool tot eendag waar jy jou laaste jare in Huis Herfsblare of Silwerjare gaan slyt sal jy as Christen te doene kry met groepsdruk. Alle kinders van God sal groepsdruk ervaar, trouens dis in ‘n sin ’n goeie teken as jy dit ervaar. ‘n Mens voel tog juis die stroom die sterkste as jy teen die stroom swem. Veral as jy alleen teen die waters moet inbeur...


Die groot kwessie is - hoe gaan jy die groepsdruk hanteer? Gaan jy die groep kies of gaan jy Jesus kies? Dit bring ons by die volgende punt. 

2)Vir ‘n volgeling van Jesus is groepsdruk ’n ernstige saak – ‘n saak van ewigheidsbelang. Hoe so? Deur te swig voor groepsdruk kan jy die ewige lewe misloop. Ja, Jesus waarsku duidelik hieroor. “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is." (Matteus 10:32,33.) Dis ’n skrikwekkende moontlikheid wat kan gebeur - in jou hart glo jy in Jesus, jy is oortuig dat Hy die Seun van God is, maar jou vrees vir mense, dit wil sê groepsdruk verhoed dat jy openlik aan sy kant gaan staan. Ons kry ’n treffende voorbeeld hiervan in Johannes 12:42,43 waar ons lees : “Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.” Hierdie mense het wel in Jesus geglo, maar verkies om stil te bly. Waarop kom dit neer? Vrees vir groepsdruk, vrees om nie deur maats en vriende uitgestoot te word nie. 

In Hebreërs 13:13,14 word ‘n drastiese uitspraak met betrekking tot groepsdruk gemaak! 

“Laat ons dan nou uitgaan na Hom (Jesus) toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” 

Die Christene aan wie die Hebreërbrief geskryf is, het ongetwyfeld baie ernstige groepsdruk ervaar. Die brief is waarskynlik gerig aan Joodse Christene. As Christene het hulle swaar gekry - hulle het smaad en verdrukking verduur. As gevolg van hulle Christenskap is hulle ook van hulle eiendom beroof. (10:32-34) Daar was groot druk om dus nie voluit Christene te wees en nie hulle laaste bande met die Joodse geloof te verbreek nie. Trouens die versoening was groot om eerder terug te keer na die Joodse geloof. Die Joodse geloof het voordele ingehou, dit het immers beskerming onder die Romeinse wet geniet.* Om jou openlik en voluit by die Christene te voeg, het beteken dat jy nie meer beskerm was nie. Dit was dus ’n groot risiko om teen die groep - dit wil sê die aanhangers van die Joodse geloof te kies en jou lot by die Christene in te werp! Daarom kry ons die sterk vermanings in die brief om nie die geloof te verloën nie, maar te volhard. 

KIES OPENLIK KANT VIR JESUS!

Teen hierdie agtergrond rig die skrywer ’n ingrypende en gewigtige uitdaging aan hierdie Christen lesers van die Hebreërs brief : “Laat ons dan uitgaan....” (13) Jesus is buite die stad Jerusalem gekruisig. Dit was ’n teken van sy verwerping deur Jerusalem en alles waarvoor Jerusalem gestaan het. Immers, deur sy hele lewe het Jesus verwerping ervaar. Verwerping deur die groep - verwerp deur die godsdienstige leiers, verwerp deur sy eie familie, selfs verwerp en verlaat deur sy eie dissipels in Getsemane toe Hy gevang is. Hoekom is Jesus verwerp? Bloot omdat Hy die waarheid vertel het deur te sê dat Hy die Messias die Seun van God is. Die waarheid was immers nog nooit gewild en vir die meerderheid aanvaarbaar nie. Jesus is gespot en beledig. Hy is gesmaad, daar het ’n stigma aan Hom gekleef. Die gemeenskap, die leiers, die hele establishment het Jesus verwerp en gesmaad. Hy is uitgedryf buite die gemeenskap, buite die volkshuis. Sy kruisiging was die uiteinde en uiterste simbool en gevolg van daardie verwerping. 

Jerusalem en die Joodse volk se verwerping van Jesus het neergekom op ’n verwerping van God. God se teenwoordigheid moet nou buite daar waar Jesus is gesoek word.** Tot hierdie Christene word nou ’n uitdaging gerig – “gaan buite die laer!” (d.w.s. buite die gemeenskap en gebruike van die Judaïsme) Kies teen julle eie mense, teen julle eie groep en vereenselwig julle met die bespotte en eensame Jesus. Wees bereid om die stigma en smaad te dra wat Jesus gedra het. Kies openlik vir Jesus. Verlossing is alleen by Hom te vind, nie meer in die ou Joodse sisteem waar julle tuis was nie. Dit gaan ‘n moeilike keuse wees. Maar onthou deur die groep te verlaat, deur julle rug te draai op die ou sisteem gaan julle uiteindelik wenners wees. (Sien vers 14!)Die stad/sekuriteite van hierdie wêreld gaan verby, gaan tot niet (juis die sekuriteite wat vriende of die groep ons bied) Hierteenoor - ons wat aan Jesus behoort is op pad na iets beters - die toekomstige stad. Die stad met vaste fondamente waarvan God self die bouer is.*** 

GAAN JY HIERDIE UITDAGING AANVAAR?

Dink mooi oor twee sake:

Bedink die ewige verlies wat jy gaan ly as jy toegee aan groepsdruk en so Jesus verloën. Spurgeon het die implikasies van toegee aan mensedruk so treffend verwoord : "O, do not for a man’s frown or a woman’s smile forego eternal life.” Moenie mense vrees nie - vrees God. Die heel ergste wat mense kan doen is om jou liggaam dood te maak, God egter het die mag om liggaam en siel vir ewig in die hel te werp. “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” (Matteus 10:28) Die konteks gaan juis daaroor dat ons sonder vrees vir mense die evangelie moet verkondig, sonder vrees aan die kant van Jesus en die waarheid gaan staan.

Bedink die ewige wins wat jy gaan verkry as jy getrou bly aan Jesus en teen die groep standpunt inneem. Dink aan daardie dag as Jesus voor sy Vader gaan erken : “Vader, Ek ken hom/haar, hy/sy behoort aan My. Hy/sy was nie skaam vir my nie...”

KIES OPENLIK KANT VIR JESUS! KIES LIEWER OM SAAM MET HOM GESPOT TE WORD. DIS NOU SWAAR, MAAR DIT HOU EWIGE VOORDEEL IN! EN ONTHOU HY WAS NIE SKAAM OM VIR JOU TE LY NIE!



*FF Bruce, The Epistle to the Hebrews, p xxx

** Moontlik dink die skrywer hier aan Eksodus 33:7 waar ons lees dat Moses die tent van samekoms buitekant die laer opgeslaan het. dit het gebeur na die insident van die goue kalf wat daarop neergekom het dat die volk God verwerp het. Die laer het God dus verwerp en God se teenwoordigheid moes buite die kamp gesoek word. FF Bruce, The Epistle to the Hebrews, p403

*** Vergelyk Hebreërs 11:10


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.