BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 19 Januarie 2017

UITVERKORE EN AANGERAAK

- deur die Drie-enige God!


[ ‘n Bybelstudie reeks oor die 1 Petrusbrief]

Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.

Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (1 Petrus 1:1-2)

No2 Uitverkore en gereinig deur die Drie-enige God

Ons het gesien hoe Petrus in sy aanhef God se volk tipeer met terme soos verstrooiing en vreemdelinge. (Kliek op PELGRIMSVOLK) God het ’n volk, met ander woorde daar is mense wat Sy eie is. Ons as Christene is oor die wêreld heen versprei, maar is nie regtig permanente inwoners van hierdie wêreld nie. Ons is reisigers met ’n vreemde paspoort. God se volk op pad na hulle werklike Vaderland. 

Maar wie presies is hulle en waarvandaan kom hulle? Ons bekyk weer 1 Petrus 1:1-2. As ons mooi kyk wat hier staan en die konteks begryp, word hier eintlik dramatiese dinge oor God se volk gesê. Dramaties heerlik en buitengewoon wonderbaarlik! Onthou ons het reeds gesê Petrus skryf vir Christene wat hoofsaaklik uit ‘n heidense agtergrond kom. Hierdie heidene het geen deel gehad aan God se volk nie, totaal goddeloos en onkundig. Hulle het voorheen ‘n sinnelose lewenswandel gehandhaaf. Petrus verwys daarna in 1:18. “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie.” Hulle was ten volle deel van heidense goddeloosheid en verdorwenheid soos ons kan aflei uit 4:3. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery.” Hierdie lesers was dus volbloed heidene, en nou word na hulle as God se pelgrimsvolk verwys. Luister wat sê Petrus van hierdie voormalige heidene met hulle verdorwe lewens. Hierdie mense is uitverkorenes van God die Vader, geheilig deur die Heilige Gees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus. Drie verbasingwekkende uitsprake as ons in aanmerking neem dat dit van heidene gesê word. Kom ons kyk verder na hierdie drie sake wat genoem word:

1.Uitverkorenes van die Vader! Dis ‘n vreemde verrrassende ding om van heidene te sê. Almal het mos geweet dat die volk Israel God se uitverkore volk is. Hoe kan dit nou van heidene gesê word, dat hulle uitverkorenes is? Ja, mens sou dalk nog kon sê dat God in genade as nagedagte maar ‘n paar heidene bygevoeg het tot sy volk - mense soos die Etiopiër op die wa, Kornelius en sy familie ens. Dis egter nie die verduideliking wat Petrus hier gee nie. Luister weer : “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader” Wat hy sê is dat die heidene God se volk is omdat hy hulle van ewigheid af geken het. 

Waaroor presies gaan hierdie “voorkennis”? Baie belangrik - die begrip “voorkennis” word spesifiek ook van Christus gebruik. (1:20) Christus is vooraf deur die Vader geken nog voor die skepping van die wêreld. Die begrip voorkennis beteken nie bloot dat God sekere inligting oor Christus of die uitverkorenes gehad het nie. dit beteken eerder dat beide Christus en sy mense die objek van God se liefde was van ewigheid af! Ook Paulus gebruik hierdie begrip voorkennis in die sin van liefde, van die teenoorgestelde as verwerping. (Vergelyk Romeine 11:1,2) Jesus se koms en die redding van heidene en hulle deel word van God se volk was nie maar net ‘n nagedagte of noodplan nie, maar van ewigheid af deel van God se plan en bedoeling! Petrus self gebruik hierdie woord “voorkennis” in sy toespraak in Handelinge 2:23. “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;” (OAV) Christus is uitgelewer, maar dit was alles deel van God se ewige plan! ’n Vooropgesette plan! Watter heerlike vertroostende gedagte gee Petrus sommer reg aan die begin hier aan die heiden Christene deur wat so baie vervolging moes verduur. Hy wil hulle laat verstaan, julle is werklik deel van God se volk! Van ewigheid af was dit so bedoel. Hulle is wel nie fisiese afstammelinge van Abram nie, maar deur God gekies in Christus om sy volk te wees.

God het dus heidene gekies om sy volk te wees. Dit bring mens onmiddellik by ’n groot krisis - God is absoluut heilig, die heidene is absoluut verdorwe, vasgevang in okkultiese duisternis van afgodery en in ’n moeras van onsedelikheid en wetteloosheid. Nou moet hulle God se volk gemaak word, want hulle is daartoe gekies. Nodeloos om te sê, hierdie keuse sou ook beteken dat God prakties sou moes optree om dit ‘n werklikheid te maak. Om volk van God te word is ‘n groot saak. Dit vereis drastiese ingrype, niks minder as ’n wonderwerk nie! Dit sou moes beteken dat hulle van sondes verlos en gereinig moes word. God is heilig en sy volk moet dus noodwendig ook heilig wees. (Vgl. 1:16) Petrus gaan nou voort om prakties te beskryf hoe God van verdorwe heidene sy uitverkore volk gemaak het. In hierdie verband verwys hy na die Gees en na Jesus Christus. Dis baie duidelik dat ons verlossing deur die Drie-enige God bewerk word.

2.Die heiligmaking van die Gees verwys hier waarskynlik na die aanvanklike reinigende werk van die Heilige Gees in ons. (Natuurlik is daar ook ‘n voortgaande werk van die Heilige Gees, maar die verwysing in vers 3 na die nuwe posisie van hoop wat die heidene het as gevolg van die wedergeboorte maak dit meer waarskynlik dat hy hier na die aanvanklike werk verwys.) Net so verwys die term gehoorsaamheid nie na die voortdurende gehoorsaamheid van God se kinders nie, maar na ons aanvanklike oorgawe en onderwerping aan Jesus. Gehoorsaamheid aan die waarheid van die evangelie. (Vgl. 1:22) Paulus noem dit ook in Romeine 1:5. Dis die stap tot geloofsoorgawe aan Jesus, waartoe die Heilige Gees mens bring, en alleen die Heilige Gees kan dit doen. 

3.Die reiniging van God se volk behels ook besprenkeling met die bloed van Jesus. Wat beteken dit? Dis nie een of ander mistieke gebeurtenis nie. Ons moet dit verstaan uit die Ou Testamentiese agtergrond wat Petrus in gedagte sou gehad het. Een moontlike agtergrond is wat ons kry in Eksodus 24. “Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: "Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het." (Eksodus 24:8) By Sinaï het Israel God se volk geword deur aan Hom verbind te word in die verbond. Nou praat Petrus van heidene wat God se volk geword het deur Christus se bloed. Ons as voormalige heidene staan nou ook in ‘n verbondsverhouding, maar nou natuurlik die Nuwe Verbond. Ons word besprinkel nie deur die bloed van vee nie, maar deur die bloed van Christus. Die bloed van Christus verwys na Jesus se kruisdood. Jesus se dood het God se geregtigheid tevrede gestel, dit was genoegsame betaling vir ons sondes en daarom kan ons as versoendes deel wees van God se volk. Gereinig deur die bloed van Christus beteken dus dat God ons ten volle aanvaar op grond van Christus se dood. Hy kan ons aanvaar ten spyte van ons gebrokenheid want geregtigheid het geskied, die volle straf vir ons sondes is klaar betaal. Anders gesê God het ook nou deur Jesus se bloed ‘n aanspraak op ons, ons behoort aan Hom (2:18-19)

Moontlik is hier dalk ’n ander stuk Ou Testamentiese agtergrond ter sprake - die besprinkeling van die priesters met bloed om hulle met die oog op die priesterskap te wy. (Eks 29:19-21; Lev 8:30) Die implikasie is dan ook baie gepas in die konteks - deur Jesus se bloed wat versoening vir hulle bewerk het, is hierdie voormalige heidene aan God gewy as priesters, spesiaal uitverkore in God se diens! Later sê Petrus dit mos eksplisiet dat hulle ’n koninklike priesterdom is. (2:9)

OPSOMMEND

Heidene soos ons kan deel wees van God se volk. Menslik gesproke is dit onlogies en onmoontlik. Dis wel heerlik moontlik deur die werk, die ingrype van die Drie-enige God. Wat ’n verbysterend heerlike waarheid - die almagtige God self gryp in om vir Homself ’n heilige volk uit ’n verdorwe heidendom saam te stel. Hierdie wete moet ons vol hoop en in blydskap laat volhard!


Hei//om meisies wat deel is van Wildevy gemeente se jeugkoor op Tsintsabis.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.