[ ‘n Bybelstudie reeks oor die 1 Petrusbrief]
No1 Seënwense vir God se ware volk op hulle pelgrimstog
Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (1 Petrus 1:1-2)
Ons leef in ‘n wêreld waar toerisme al ‘n al hoe groter bedryf word. Mense hou van toer en rondreis. Om ‘n vreemde land te besoek en by al die regte bestemmings aan te kom het mens inligting nodig. Hierdie inligting kry mens o.a. in reisgidse. Reisgidse oor allerhande eksotiese lande is baie volop. 1 Petrus kan beskryf word as ‘n reisgids vir God se pelgrimsvolk. Dis dus nodeloos om te sê dat al God se kinders hierdie brief se boodskap as ‘n saak van heerlike, maar ook dringende belangrikheid behoort te bestudeer.
Ja, God het ‘n volk in hierdie wêreld. Dis mense wat God se mense is. Wat ‘n heerlike gedagte - daar is mense wat God se eie mense is. Tussen die gewemel en gewoel op ’n besige straat in ‘n metropool...op ’n groot passasiersboot, in ’n oerwouddorpie...Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Wat word van hulle verwag en waarheen is hulle op pad? En wat van nou? - kyk wat se onaangename dinge gebeur met hulle - hoe moet hulle dit verstaan en hanteer? Wat is belangrik om in ag te neem as ons veilig by ons heerlike bestemming wil aankom, hoe moet ons optree in en teenoor ‘n vyandige wêreld ?
Reeds hier in die aanhef en groete van Petrus se brief kry ons al basiese antwoorde op hierdie vrae. In res van die brief word dit natuurlik al duideliker uitgespel. Die manier waarop Petrus sy geadresseerdes aanspreek en die dinge wat hy van hulle sê gee vir ons alreeds ‘n baie goeie aanduiding wie en wat God se volk is.
Petrus skryf vir die uitverkorenes, dit wil sê die kerk van Jesus in die genoemde gebiede. Dis duidelik nie net Joodse Christene nie, maar die kerk bestaande uit alle groepe, spesifiek ook heidene - mense wat voorheen geen volk was nie, maar nou die volk van God is. (vgl. 2:10) “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.”
Hier reg aan die begin gebruik Petrus twee insiggewende terme in verband met die uitverkorenes nl. vreemdelinge en verstrooiing.
Die woord vir verstrooiing is diaspora. Hierdie term is gebruik vir die Jode wat oor die wêreld nadat hulle in 587vC in Ballingskap weggevoer is. Ook het baie vrywillig geëmigreer oor hele wêreld. (orals het mens Jode gekry –dis eintlik vandag nog so.) Werklik ‘n verstrooide volk. Omdat Petrus hier met die kerk as geheel praat sluit hy egter sy heidenlesers in by hierdie term. Alle Christene is as God se volk in die diaspora - verstrooi oor die wêreld heen. Ja, iewers in elke land op aarde is daar van God se kinders te vinde! Al is hierdie mense oor die wêreld heen versprei is hulle deel van God se kudde. Ons as Christene is nie versamel in een land of stad nie, ons is versprei, rondgestrooi oor die lengte en breedte van die ganse aardbol. Natuurlik seker met ’n doel...
Hierdie gedagte sluit baie nou aan by die ander term wat Petrus gebruik. Hy noem die Christene - vreemdelinge. Dit lyk op oog af teenstrydig met die term uitverkore – uitverkore het die konnotasie van spesiaal begunstigde, maar ’n vreemdeling daarteenoor het die konnotasie van asielsoeker, ‘n tydelike gas in ’n vreemde land. (Dink maar aan die Siriese vlugtelinge in Europa) Vreemdelingskap is ‘n deurlopende tema in die brief. (vgl. 2:11) “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe.” Die gedagte hier is van ‘n vreemdeling wat net tydelik op ‘n plek bly, hy is op pad iewers heen, ‘n persoon in transito. Reisigers. Christene is op pad na hulle nuwe vaderland. Hierdie twee woorde in vers 1 is dus ‘n uiters raak en veelseggende beskrywing van ons as Christene se plek in die wêreld en verhouding tot die wêreld. Ten opsigte van hulle ware tuiste bevind Christene hulle in ‘n diaspora, ten opsigte van ons huidige tydelike woonplek is ons vreemdelinge. Maar ten opsigte van ons verhouding met God - uitverkorenes!
Ons as God se kinders is (tydelike) inwoners van hierdie wêreld maar ons is draers van ‘n vreemde paspoort - die van ons ewige Vaderland.
Dis belangrik dat ons sal sien dat Petrus nie hier iets nuuts sê as hy na God se volk as vreemdelinge, verstrooides en by implikasie pelgrims verwys nie. Die hele Ou Testamentiese heilsgeskiedenis onderstreep al hierdie feit.
God het Abram geroep tot ‘n pelgrimslewe van vreemdelingskap. As vreemdeling het hy in Kanaän rondgetrek. (Hy moes om sy vrou te begrawe, maar ‘n stukkie grond koop!)
Eweneens in Egipte was die volk Israel onaanvaarbare vreemdelinge, wat uitgebuit en verdruk is. Persona non grata. Vreemdelinge in ‘n vreemde land!
Nadat God hulle verlos het uit Egipte - word Israel geroep om as ‘n pelgrimsvolk deur die wildernis te trek. Hulle woestyn ervaring dien as model vir ons om ons pelgrimslewe as verlostes te verstaan. God het sy volk in die woestyn versorg, getoets en beproef totdat hulle hulle bestemming sou bereik.
Ons pad na die volmaakte bedeling is ‘n pelgrimspad, ‘n wildernispad van teenstand en beproewing, maar ook ‘n pad waartydens ons die Here se genadige bewaring en versorging ondervind.
Ook in die verdere Ou Testamentiese geskiedenis kom hierdie beginsel ter sprake. Nadat Israel se sonde weer God se oordeel oor hulle gebring het, het die profete in hulle boodskap van destyds weer by die Eksodus en vreemdelingskap temas aangesluit. Israel was nou weer vreemdelinge in ‘n vreemde land (in ballingskap in Babilonië), maar die profete het aangekondig dat God hulle weer sou verlos soos Hy hulle destyds uit Egipte verlos het. (vgl. Jeremia 23:7,8) God sou weer sy kinders uit ballingskap lei na hulle beloofde land. Hierdie tema kom weer baie duidelik na vore in die aankondiging van Johannes die Doper se bediening in Jesaja 40:3-5. Die belofte van God wat Sy volk na vryheid en ‘n nuwe land lei vind vervulling in Jesus. Hyself is die pad van verlossing. Hy bring ons na ons ewige bestemming. Daarom is dit uiters veelseggend as Jesus juis in die konteks van ons ‘n verwysing na ons ewige tuiste vir Sy dissipels sê : “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” (Johannes 14:1-6) Christene is dus mense wat Jesus in hierdie vyandige wêreld volg na die ewige tuiste wat Hy vir ons deur sy dood aan die kruis berei het. Ons volg Jesus as pelgrims op pad na ewige Vaderland. Ons volg Hom omdat ons deur God in Hom uitgekies is.
Reeds in die aanhef van die brief word die voorreg sowel as die problematiek van die Christene vir wie Petrus skryf aangedui. Hierdie voorreg is die voorreg van elke Christen, maar hierdie probleem is ook die probleem van elke Christen. Dis 'n ongelooflike voorreg om uitverkorene te wees oppad na ’n hemelse erfenis, maar ons beleef ook swaarkry, krisisse, stryd en verguising as vreemdelinge in hierdie bose wêreld waarin ons nie pas nie.
Bevoorregtes wat nou verontregting beleef!
Permanente burgers van die Koninkryk wat nou as pelgrims ‘n tydelike vreemdelingbestaan voer!
Wanneer die Bybel oor God se volk praat - kom die term uitverkore altyd onvermydelik ter sprake. Die wat God se volk is, is God se volk primêr vanweë God se genadige verkiesing. (byv. Abram) Uitverkiesing is nie ’n spekulasiewoord nie, maar genadewoord; dit dui op onverdiende guns. Dis ’n Woord wat eer bring aan God!
Christene is vreemdelinge, tydelike reisigers in hierdie wêreld. Dis nie maar toevallig so nie, en dis ook nie maar net waar van sommige Christene in sommige gevalle nie. God se mense kan nie anders as om vreemdelinge te wees in ‘n wêreld wat in rebellie teen God is nie! Hoekom God se kinders is ’n nuwe skepping Dis noodwendig en onvermydelik dat elke kind van God ‘n vreemdeling sal wees, ‘n reisiger wat nie pas en tuis is in hierdie wêreld nie. As jy altyd welkom is in die wêreld, altyd deel voel en hulle ambisies en sentimente deel, kom dit daarop neer dat jyself heel waarskynlik maar nog ‘n rebel teen God is ten spyte van jou sogenaamde Christenskap...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.