BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 29 Junie 2014

VOORDELIG?

- Is dit voordelig om ‘n Christen te wees? Wat is die wins van Christenskap?


['n Groepie kinders het die voorreg gehad om die afgelope naweek op Oom Piet Basson se plaas in die Otavi bergland te gaan kamp en oor hierdie en ander belangrike sake te besin.]



Waaroor gaan Christenskap? Wat is die doel van ons verlossing? Anders gestel, wat is Jesus se doel waarvoor Hy so bitter gely en gesterf het? Is dit dalk om vir ons :


‘n Goeie selfbeeld te gee? – nee, baie mense het ‘n goeie selfbeeld, maar hulle ken God glad nie. (hulle probleem lê juis by hulle oordrewe selfbeeld wat tot selfaanbidding lei.)

Voorspoed te bring? – nee, baie goddelose mense beleef wonderlike voorspoed. (ek kan aan baie voorbeelde dink...)

Eindelose gesondheid te verseker? – nee, in elk geval gaan alle mense eendag dood.

Prestasies op skool en op die sportveld te waarborg? – nee, baie ongelowiges presteer pragtig! Dis beslis nie net Christene wat toppestreerders is en 'n plek in die Springbokspan kry nie...

1 Petrus 3:18* gee ‘n duidelike antwoord. “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.” 

Twee sake in die teks is belangrik vir die beantwoording van ons vraag oor die doel en wins van Christenskap : Jesus het ons na God gebring, Hy het dit gedoen deur lyding


1.Jesus het ons na God gebring. Dis die doel van sy reddingswerk aan die kruis – “om ons na God te bring” Waaroor gaan dit? Hoekom is dit nodig? Soos telkens begin die antwoord by Genesis. God het ons geskape om by Hom te wees. Om Hom te aanbid en die saamwees met Hom (sy teenwoordigheid) te geniet.  Ons is spesifiek ontwerp vir hierdie doel! dink aan 'n motorsleutel - dis spesifiek ontwerp om 'n bepaalde voertuig aan te skakel... ja, jy kan dit gebruik om in die grond te krap, selfs in jou neus te grawe, maar dan mis die sleutel sy doel. (as so 'n sleutel 'n bewussyn gehad het, sou dit nooit vervulling en ware vreugde kon ervaar nie..." Sonder gemeenskap met God kan die mens nie vervulling belleef nie en moet hy maar staatmaak op allerhande plaasvervangers... wat hom telkens teleurstel! (Kliek op PLAASVERVANGERS) God het bedoel dat die mens (alle mense) priesters sal wees wat Hom gedurig moet aanbid en eer! Ja, ons is ook bestem tot konings om namens God op die aarde te heers en profete om sy getuies te wees. Dit als is verwoes deur die sondeval. In plaas van God te aanbid, kruip die mens nou weg! In plaas van eer bring ons skande op sy Naam. Daar is nou skeiding in plaas van gemeenskap en bewondering! Die mens is nou weens sy sonde ver van God (Romeine 3:23) – Jesus se verlossingswerk gaan juis daaroor dat ons nou weer na God gebring word.

Ons kry belangrike agtergrondskennis hieroor in die Eksodus gebeure. Die groot verlossingsdaad van God in die Ou Testament is die bevryding uit Egipte. Nou is dit interessant, waarom het God dit gedoen? Was dit maar net om vir die Israeliete ‘n bietjie beter lewenskwaliteit te gee? Beter wooonplek en meer gerief? Dit gaan oor veel meer... Ons kry die uiters belangrike antwoord op hierdie vraag in Eksodus 19:4-6. Hier word die doel van God se reddingswerk baie duidelik uitgespel : “Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

As Petrus sy brief skryf is hy baie bewus van hierdie Eksodus agtergrond. Vergelyk 1 Petrus 2:9,10 wat lees : “Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.” met Eksodus 19:4-6. Hierdie Christene vir wie Petrus skryf was ook eens op ‘n tyd ver van God (“julle was vroeër geen volk nie”) maar is nou deur Jesus na God gebring om koninklike priesters te wees! Gehoorsame aanbidders en getuies van God in ‘n donker wêreld! Dis die sin en doel van Christenskap!


OM BY GOD TE WEES IS DIE SIN VAN ONS BESTAAN EN DIE DOEL VAN ONS VERLOSSING!


2.Hy het ons na God gebring deur sy lyding. 

Jesus bring mense na God, nie bloot deur sy voorbeeld, preke of wonderwerke nie, maar deur sy lyding. Hy het spesifiek vir ons sondes gely! Mense sê deesdae, “moenie worry oor sonde nie!”, maar dis juis ons sonde wat die probleem is. Dis wat die verwydering tussen God en Adam en Eva veroorsaak het. Ons sonde het ons vyande van God gemaak. Dis hoekom Adam-hulle weggekruip het. Dis nog steeds die skeidsmuur tussen ons en God. “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie.” (Jesaja 59:1,2 OAV) Dis hoekom ons bang is vir God, bang vir die dood, hoekom dit voel of jou gebede teen die dak vasslaan... Om ons na God te bring moes Jesus hierdie muur afbreek, moes daar iets met ons sonde gebeur. Dis wat Jesus gedoen het toe Hy as onskuldige, die straf van die skuldiges gevat het. Daar het ‘n groot omruiling plaasgevind. Hy vat ons sonde en straf op Hom en ons gaan vry. (Dink bietjie dis letterlik wat in die geval van die moordenaar Barabbas gebeur het. Die Onskuldige word met die dood gestraf en die skuldige word vrygelaat!) Die Onskuldige vat ons straf, daardie straf bring vir ons vrede, vrede met God! (Jesaja 53:5,6)

Hierdie vrede, om by God te wees, VERSOEN MET HOM! - is die doel, is die wins van Christenskap. Dis 'n ewige wins! Hiervoor sal ons so dankbaar wees dat ons bereid sal wees om vir Jesus te ly. “Ja, spot my maar, ek sal dit verduur, want Jesus het my deur sy lyding na God teruggebring, ek kan bekostig om ook vir Hom te ly!”

*As ons kyk na 1 Petrus 1:18 saam met die vorige vers 17 is Petrus se doel met hierdie teks baie duidelik : Dis om vir Christene wat swaargekry het en vervolg is daaraan te herinner dat ons bereid en gewillig moet wees om vir Christus te ly, want ons verlossing is alles aan sy gewilligheid om vir ons te ly te danke. Die identiteit van die “geeste in die gevangenis” is een van die berugte obskure gedeeltes in die Nuwe Testament waaroor baie debat al gevoer is, maar dit raak uiteindelik nie die kern van Petrus se boodskap hier nie.






[Oom Piet Basson deel met ons inligting vanuit sy merkwaardige miskruierversameling. Ons is baie dank verskuldig aan oom Piet en tannie Heidi, asook Eckhardt en Sigi Basson, Buys Steenkamp, Ingo Stark en Belinda Gerber. Baie dankie vir wat julle vir ons kinders doen! Dit word waardeer!]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.