BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 03 Maart 2014

KULTUS VAN DIE LEKKENDE WATERTENKS

- gevang en verneuk deur nuttelose plaasvervangers!

Israel het ‘n besondere geskiedenis gehad. Hulle het prakties beleef dat God ‘n getroue Verbondsgod is wat sy beloftes hou. Hy praat nie net nie, Hy doen! Hy het met ‘n kragtige hand hulle uit Egipte verlos. Met hulle eie oë het hulle gesien dat God ’n lewende God is..... hulle het self droogvoets deur die Rooisee getrek, water uit die rots gedrink, die manna en die kwartels geëet, elke dag beleef hoe hulle gelei word deur die wolk en vuurkolom.... Hulle het die liefde, die genade, die verlossingskrag en almag van die ware God konkreet leer ken. 

Maar toe gebeur die onbegryplike...
Hulle het die ware God verruil vir nuttelose afgode. Dis verbysterend onverstaanbaar, maar dis wat gebeur het! Ons lees daarvan in Jeremia hoofstuk 2. “Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ‘n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na: Het daar al ooit so iets gebeur,dat ‘n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie.” (10,11)

TWEELINGSONDES

Wat was hulle fout? “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.” (13) Twee sondes. Dit gaan altyd saam. Hulle verlaat God die fontein. Hulle kap vir hulleself waterbakke wat gebars is. ’n Fontein is ‘n standhoudende bron van water en lewe. Dit verskaf voortdurend vars water. ’n Klipbak kan maar net water hou. Dis soos ‘n tenk, dit raak weer leeg. As die klipbak nog boonop gebars is, is dit maar ’n slegte ruil. Israel verlaat God wat die fontein is, en skep vir hulleself waterbakke. Wat 'n swak ruil! Met ander woorde - hulle skaf plaasvervangers aan wat misluk en teleurstel.

Dis ’n groot saak om raak te sien. Dis so waar. As mense God verlaat moet hulle plaasvervangers kry. Enige mens wat van God afdwaal, kry iets of iemand in die plek van God. As jou verhouding met God nie is wat dit moet wees nie, dan kry jy een of ander plaasvervanger. Toets maar. Mense wat van God afgedwaal het wend hulle tot :

~ Geld. Geld en goed gee vir hulle ’n doel om voor te leef. Nie meer die Skepper nie, maar sy skepsels en skeppings word nou absoluut. Hierdie dinge verskaf nou passie en dryfkrag.

~ Mense. Ander mense word verafgod. Heldeverering van sport en vermaaklikheidsterre (met voete van klei) het die galery van geloofshelde vervang. Hulle word so maklik ons verdorwe rolmodelle van moraliteit. Die HUISGENOOT het die Bybel vervang as morele kompas. Party mense maak afgode van hulle kinders. Hulle lewenssin is net in hulle kinders of hulle maak kompromie met sonde, sodat hulle nie in onguns by die kinders hoef te raak nie.

~ Ongeoorloofde seksuele verbintenisse. Seksuele losbandigheid is ’n simptoom van iemand wie se hart leeg is, wat ’n lewende verhouding met God mis. Hulle probeer so vergoed vir die vakuum in hulle binneste.

~ Stimulante. Die wat weggedwaal het van God as Lewensbron soek dikwels ontvlugting en vertroosting in alkohol, nikotien en ander tydelike opkikkers.

~ Okkulte. Baie probeer kontak maak met die geesteswêreld, probeer dit wat verborge is te ken of in die toekoms te sien. As God nie meer met jou is nie, soek jy sekuriteit by ander bedenklike bronne... (Soos Saul wat tevergeefs gaan raad vra het by die spiritiste medium van Endor, want God wou nie meer met hom praat nie.)

Die groot punt wat hier na vore kom is : Hierdie plaasvervangers is nutteloos en gaan julle teleurstel. Gebarste bakke, stukkende plaasdamme of watertenks wat lek!

Die volk het God verlaat, nou is hulle in die moeilikheid en soek hulp by Egipte en Assirië. “Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan en water uit die Eufraat te gaan drink?” (18) Die profeet se boodskap is duidelik : Dit gaan niks help nie. Die plaasvervangers gaan julle teleurstel . Hulle gaan julle in die steek laat. (36,37) Die afgode gaan julle in die diepste ellende dompel en niemand gaan julle kan help nie.

Die afgode is magteloos en bring net ellende. Toets dit maar:

~ Geld. Hoeveel onberekenbare hartseer het die liefde vir geld al veroorsaak! Dit laat jou onvervuld, dis ‘n onveilige onbetroubare afgod. Jy verloor dit baie vinniger as wat jy dit gemaak het. Die Woord waarsku duidelik teen die onsekerheid van die rykdom. “Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.” (1 Tim 6:10,17)

~ Mense. As jy vervulling en sekuriteit in mense soek, is jy gedoem tot ernstige teleurstellings. “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” (Psalm 146:3)

~ Ongeoorloofde seksuele verbindings bring uiteindelik nog net meer hartseer en eensaamheid as wat daar reeds was. Dit veroorsaak nog groter gesinsellendes. Die Samaritaanse vrou met haar vyf mans kon geen versadiging vind nie, slegs Jesus kon haar dors les!

~ Stimulante bring tydelike verligting, maar vang mense in die vernietigende net van verslawing!

~ Okkulte. Betrokkenheid by hierdie duistere dinge verskaf soms oënskynlike antwoorde maar lei tot ‘n geweldige klomp ander probleme - van nagmerries tot gesondheidsprobleme, verhoudingsprobleme, slawerny van vrees....

Die gevolge van die Here verlaat en plaasvervangers aanhang is rampspoedig! “Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word; omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige.” (19)

[Is die aanhoudende stroom van berigte oor Geslagsgebaseerde Geweld in ons land die afgelope tyd nie ook 'n duidelike bewys dat die afgode mense in die steek laat nie...?]

Net terloops. Waarom het die volk die afgode aangehang? Hoe kon ‘n volk wat soveel van God se getrouheid beleef het, dan so maklik afvallig geword het? Afgode het sinlike genot verskaf en voorspoed beloof. Die heidense vrugbaarheidsgodsdienste het beweer om oeste te verseker en het gepaard gegaan met seksuele uitspattigheid soos tempelprostitusie. “Jy het my gesag lankal verwerp, jou van My losgemaak, geweier om My te dien; jy het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem en so die afgode gedien." (20) Beslis is dit so, afgodery in welke vorm, verskaf genotvolle ervarings, beloof baie voordele, maar die einde is bitter!

VOORSPOED EN GENOT IS DIE BELOFTES VAN ALLE AFGODE EN VALSE GODSDIENS

Wat van jou? Waar bevind jy jouself nou op hierdie oomblik? By die Bron, by God self? Is Hy jou Bron van vreugde, jou sin in die lewe? Verlustig jy jouself in die Here jou God? Of maak jy staat op plaasvervangers, gebarste reënbakke? Dis amper pateties om te sien hoe mense God se norme en voorskrifte verwerp ten opsigte van huwelik, gesin en besigheid en op hulle eie planne van verwronge moraliteit staatmaak om maar net dieper in die ellende te sink. Voorwaar gekraakte stukkende watertenks! Jy dra miskien die teken van God se genade (die doop), maar jy drink nie meer by die lewende Fontein nie, maar by die gebarste bakke van die afgode!

KOM TERUG NA DIE BRON!

Wat is die oplossing as jy van die Bron afgedwaal het? Ons kry die antwoord ook in Jeremia. “Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil ‘n einde maak aan julle afdwaling.” (3:22) Jesus se lewe en sterwe wys vir ons hoe ernstig God is met hierdie uitnodiging! Die God wat ons roep is die God wat sy eie Seun se bloed laat loop het. Die afgode stel teleur, maar wie in Jesus glo sal nooit teleurgestel word nie! (Rom 10:11,13) Glo God se beloftes, glo die boodskap van die sigbare tekens wat Hy ons gegee het (doop en nagmaal)! Vertrou Jesus nou om ook jou afgodery te vergewe! Amen.

Belangrik : As jy na hierdie preek in klank wil luister, kliek op
LEKKENDE TENKS

1 opmerking:

  1. BAIE dankie dominee vir 'n waarlik inspirerende boodskap. Nou vir die "put off / put on" van Ef 4 vanaf vers 17. Deur eie pogings gaan ons nie ons lewens in orde kry nie, net op ons knieë deur belydenis ( put off ) en deur die krag van die Heilige Gees 'n lewe van oorwinning te lewe ( put on ). Geseënde week vir u en die gesin.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.