BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 09 April 2021

Let go and let God?



Sal God my help? En hoe doen Hy dit?

Hoe help Hy my in tye van rampe, krisisse en kwellings? In tye van persoonlike swaarkry, finansiële moeilikheid, huwelik en gesinsprobleme? Wat is God se rol in my persoonlike stryd teen sonde, moedeloosheid en depressie? Dikwels hoor mens die eenvoudige eenlynige antwoord en eenstop oplossing: "Let go and let God! "Of mens kry die raad : “Gee dit net vir die Here!”

Die bedoeling is dan waarskynlik – vertrou net op die Here en als sal reg uitwerk! Dit klink so wonderlik. So kragtig. Eenvoudig en vroom. Maar is dit regtig die volle Bybelse antwoord? Is dit hoe mens byvoorbeeld ‘n wiskunde eksamen moet benader? Is dit die oplossing vir jou finansiële krisis? Is dit hoe mens jou huwelikskonflik moet aanpak? Is dit die oplossing vir ons (elke kind van God) stryd teen sonde? Of anders gesê is dit die sleutel vir sukses op die pad van heiligmaking? Daardie moeilike pad wat elke kind van God beleef om al hoe meer heilig te word en gelykvormig aan Jesus te word.


Kom ons toets die gedagte van Let go and let God aan ’n paar Skrifgedeeltes binne konteks.


SPREUKE 3:5-7

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is:”



“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; (OAV)



As mens so vinnig lees dan lyk dit of “Let go, let God” presies die raad van Spreuke is. Laat alles net aan die Here oor en als sal regkom. Maar dis nie heeltemal wat hier staan nie. Ja, daar moet vertroue op God wees, maar daar moet ook aksie van ons kant wees. Hier is ‘n opdrag -Tree op teen die verkeerde in jou lewe! “Wyk af van die kwaad, vermy wat sleg is.”

Dis vir die verstaan van hierdie teks ook belangrik om na die totale boodskap van Spreuke te kyk. Spreuke gaan oor wysheid. Vertroue op die Here beteken juis dat ek die wysheid wat van die Here kom prakties sal toepas in my lewe. Praktiese stappe neem. En hoe lyk hierdie wysheid? Dis alles behalwe ‘n passiewe “Let go and let God! “ Dis konkrete dade en keuses. Dink maar wat leer Spreuke ons : Ek moet kies om my kinders te tugtig, ek moet wegbly van verleidelike vroue, ek moet nie borg teken vir iemand anders nie ( bly weg van bedenklike finansiële praktyke), ek moet eerlike besigheid doen, ek sal omkopery vermy (17:23) ek moet hard werk, ek moet nie ‘n kermende kywende vrou wees nie – want dan gaan my man my los (Spreuke 21:9) ens. Gaan lees Spreuke en volg daardie raad in die praktyk– natuurlik is dit nie 'n towerstaffie vir gerief nie, maar jy sal die verskil in jou lewe begin agterkom! Kom ons wees prakties – Dit help nie net om te sê – Ek het my finansiële probleme vir die Here gegee nie, maar ek gaan aan om onnodige luukshede te koop, ek is te lui om kos te maak en leef van duur kitskos… Dit help nie ek vra : "Here maak my asseblief heilig", maar ek sit aand na aand voor die TV wat my gedagtes besoedel nie! Dit help nie, ek bid vir gesonder longe , maar ek weier om op te hou rook nie! Spreuke leer vir ons ‘n duidelike balans tussen vertroue op die Here en die praktiese toepassing van sy opdragte. Spreuke leer geen passiewe - “Let go and let God” nie!

ROMEINE 8:12,13.

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hier gaan dit seker oor die grootste stryd in elke kind van God se lewe – die worstelstryd teen sonde. Wat is Paulus se opdrag? Let go and let God? Nee, dis ons aktiewe plig as kind van God om sondige praktyke uit te roei. Hoe doen ons dit? Deur die Heilige Gees. Deur die krag van die Gees. Dit beteken nie dat ons passief is nie. 


Dink aan ‘n windpomp. Heeltemal afhanklik van die wind. Tog is die windpomp aktief betrokke. Die rem moet los wees. Die windpomp kreun so hard werk hy, al kom die energie van die wind. Die Gees gee ons krag, maar ons moet tot aksie oorgaan. Deur die krag van die Heilige Gees sal ek ‘n telefoon optel en ‘n einde maak aan ‘n sondige verhouding!


HEBREËRS 12:4,14

“Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Weereens geen passiwiteit nie. Die skrywer moedig ons aan. “Julle moet weet hierdie stryd teen sonde is ernstig, dit vat alles van julle – 'n stryd om lewe en dood.” Wat behels dit positief? Beywer julle… weereens volle aksie en betrokkenheid van ons kant af!

2 TIMOTEUS 2:22 

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.”

Hier vind ons praktiese raad vir heiligmaking. Dit vereis aksie, negatief en positief. Vlug weg van als wat verkeerd is. Gebruik jou voete indien nodig. Bly weg van daardie partytjie waar jy versoek gaan word! Positief - Oefen die regte dinge in saam met ander mense wat ook ernstig is oor God!

2 PETRUS 1:3-5

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,...”

God skenk sy kinders als wat nodig is vir ‘n heilige lewe. Maar hoor dan mooi verder : “Werp alles in die stryd!” Aksie! Dade! Vgl. Filippense 2:12,13 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Ja, alle eer en dank aan God wat ons wil verander en vir ons bekwaamheid gee... Maar dit bring ons tot aksie. Ons moet gehoorsaam raak om te leef soos Hy wil hê!

Die eenvoudige raad "Let go and let God!" word goed bedoel. En as mense daarmee bedoel dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar absoluut in biddende afhanklikheid van God moet leef is dit ‘n groot waarheid. Dit kan egter maklik verkeerd verstaan word – as ‘n tipe passiewe toeskouer Christenskap. 'n Verskoning om nie verantwoordelikheid vir ons woorde en dade te vat nie. Dan is dit in stryd met wat die Woord ons leer. Die Bybelse boodskap is dat ons as kinders van God volkome moet vertrou op Jesus wat my skuld gedra het, dat ons volkome moet vertrou op die Heilige Gees wat in my woon. Maar hierdie vertroue moet oorgaan tot aksie en gehoorsaamheid. As ek mens iemand vertrou, gehoorsaam ek juis sy opdragte. As ek baie vertroue het in my huisdokter gaan ek juis doen wat hy my voorskryf... of dit nou oefening of pille of wat ook al is... Maak dus erns met al die opdragte in God se woord! Vra jouself, wat sê God se Woord oor alle sake in jou lewe. En gehoorsaam!

Vertroue op God beteken nie maar net om in enkele situasies of in tye van moeilikheid op God staat te maak nie. Nee, vertroue op God is 'n LEEFSTYL van dinge doen soos Hy dit in sy Woord beveel. Binne in so 'n verhouding bring Hy wonderlike uitkoms!

Saterdag 20 Maart 2021

MAAK SOOS JESUS!

[Die waarheid as fondasie van RADIKALE LIEFDE]




VANUIT DIE TRONK! 

Filippense is ‘n opwindende brief! Een rede – die “real life setting” is so eenvoudig en duidelik. Paulus is in die tronk en hy bemoedig ouens buite die tronk. Merkwaardig! Nog meer merkwaardig - die oorheersende tema is blydskap. Hierdie brief wys dat geloof werk, dis realisties uitleefbaar en haalbaar in die donkerste situasies. In 'n Romeinse gevangenis, maar ook in ons tye van Covid, korrupsie, onreg  en kerkverkrummeling…

Een van die redes vir die skryf van die brief was om die gemeente te bedank vir ‘n geskenk wat hy van hulle in die tronk ontvang het. Paulus gebruik sommer die geleentheid om sy weldoeners aan te moedig tot blydskap en vergenoegdheid. Tog spreek hy ook goggas aan soos ‘n gebrek aan eensgesindheid (4:2)* en natuurlik dwaalleer. (3:2)** (Hy verwys op ‘n baie kras manier na hierdie dwaalleraars!)

VERMANING

Paulus vind dit dus nodig om die gemeentelede van Filippi op etiese en leerstellige vlak te vermaan. Ons sien dat Paulus se grootste begeerte vir die Filippense was dat hulle ‘n evangeliese eenheid en liefde tot mekaar sal openbaar. Die sleutel vir ‘n eenheidsgesindheid is om te besef wat ons deur Jesus ontvang het (“as, aangesien” in vers 1)*** Hierdie besef moet ‘n dankbaarheid wek wat onselfsugtig is. (3,4)****

Lees gerus nou eers Filippense 2:5-11****

JESUS AS VOORBEELD

Nou fokus Paulus op die kragtigste voorbeeld van nederigheid, opoffering, die ander hoër ag as jouself... JESUS! “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:” (5) Die opdrag, die imperatief is – “Wees soos Jesus in julle verhouding met mekaar!”

UITGEBREIDE CHRISTOLOGIE

Ons vind hier iets baie opvallend. Die etiese opdrag is kort, maar die teologiese begronding hiervan is baie uitgebreid en ongelooflik diep en deeglik. (Dis waarskynlik ‘n vroeg Christelike lied wat Paulus hier aanhaal.) Hierdie is een van die groot belangrike Nuwe Testamentiese gedeeltes oor die persoon en werk van Christus. Dit beskryf beide wat ons noem : sy trappe van vernedering en sy trappe van verhoging. Onontbeerlike Christologie. Anders as wat baie predikers van vandag dink – was dit vir Paulus belangrik dat mense die regte teologiese kennis moes hê, want Paulus het besef dat dit wat jy regtig verstaan en glo, neerslag gaan vind in jou dade.

Hier is dus geen oppervlakkige “Hi ouens julle moet nice wees met mekaar, want julle is ‘n klomp great ouens bymekaar” nie! Verre daarvandaan! Nee, Paulus se benadering is eerder : “Broers en susters, kom ons probeer iets verstaan van die geweldige vernedering wat Jesus ter wille van ons deurgegaan het en kom ons probeer iets verstaan van sy ontsagwekkende mag en majesteit! En in die lig hiervan durf ons nie anders as om mekaar radikaal onselfsugtig lief te hê nie!

Kom ons gaan net so vinnig deur die Christologie wat Paulus hier opsom: Dit gaan eerstens daaroor dat Jesus bereid was om van die grootste hoogte neer te daal en neer te buig na die diepste vernedering, vrywillig! Vir my en jou!

(6) Jesus het nie selfsugtig krampagtig vasgeklou aan Sy Goddelike regte en status nie! (Wat is die implikasie ons? Wees onselfsugtig lief vir ander. Vergeet van : “Dis my reg om...” of “Ek is belangrik...”) Dink weer mooi. Jesus was gewillig om na die stukkende gevalle, sondige wêreld te kom, nie as superheld nie, maar as beperkte mens onderhewig aan die “ellende” van menswees. Hy het swak en ellendig geword om ons te help. Vrywillig!

(7) Hy het Homself leeggemaak. Hy het nie sy Godheid afgelê nie, maar Hy het wel die menslike natuur aangeneem. Hy word een van ons. Waarlik Immanuel, God met ons. Hy het vlees geword en in ons skoene kom staan. Nie ‘n veraf gerieflike Redder nie. Die Kersboodskap is alreeds ‘n boodskap van vernedering en lyding! . Jesus is nie soos ‘n ryk donateur op ‘n afstand nie! (Hulle stuur mos graag geld , maar wil nie hulle hande vuil maak nie.) Jesus is anders, Hy kom maak letterlik sy hande en voete vuil ter wille van ons. Hy kom ook nie as super mens, semi Goddelike heerser nie, maar as dienskneg. Hy demonstreer dit letterlik in Johannes 13:3-5 (voetwassing)

(8) As mens word Hy absoluut gehoorsaam aan die Vader, ‘n gehoorsaamheid wat lei tot die afgryslike skande en vernedering van die kruis. “...nogtans nie my wil nie...” Aan die vloekpaal word Hy ‘n vervloekte – Galasiërs 3:14!

WORTELS IN DIE OU TESTAMENT

Twee Ou Testamentiese temas speel hier ‘n rol:

Jesus is as’t ware “Adam in reverse.” Adam en Eva wou soos God wees –opgaan, gelyk wees aan God, Jesus kom vrywillig af, word gelyk aan mense. Adam en Eva was ongehoorsaam, Jesus was volledig gehoorsaam aan God – ja, tot aan die kruis!

Hier is ook ‘n ego van Jesaja 53:12 die Lydende Kneg. Ons is ook geroep tot ‘n lewe van selfopofferende liefde vir ander!

VERHOGING EN VERHEERLIKING

Paulus bly egter nie stilstaan by die vernedering nie, maar gaan aan met die ontsagwekkende heerlike verhoging van Jesus! Dit soos jy weet behels Sy opstanding, hemelvaart, sit aan die regterhand van God, die magsposisie van die heelal! Daar is ‘n direkte verband tussen sy vernedering en die verhoging –“ daarom.” Omdat Hy bereid was vir die vernedering word Hy verhoog. (Die lesers moes hierdie implikasie in hulle lewens ook begryp)  Vernedering lei tot beloning!

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, “ (9)

Die hoogste naam? Here, God, Verlosser! Goddelike Verlosser! Dis die implikasie vanuit die agtergrond in die profesie van Jesaja! Jesaja 45:15 – “U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder! Eers na sy lyding word sy ware identiteit bekend! Jesaja 45:23 – “Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, 'n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.”

Paulus wil sê : “Sien tog raak wie Jesus is! Sy vernedering, maar ook die heerlike gevolge van sy vernedering! En wys sy gesindheid en karakter ook in julle lewens! (Terloops – hierdie bonatuurlike Christologie is onaanvaarbaar vir die ongelowige mens... destyds... maar ook vandag... Die wedergeboorte is nodig om dit te glo, te begryp en te waardeer!)

VERKONDIG CHRISTUS!

Mens kry die indruk dat lidmate tot satwordens toe vermaan word tot betrokkenheid, opoffering, eenheid, liefde... met min resultate. Dalk moet ons weer besef dis allereers nodig om Christus Jesus te verkondig en Hom as Gekruisigde, maar ook as die Verhoogde Messias. Die basiese heilsfeite is primêr en onontbeerlik. Slegs diegene wat aangegryp word deur die opofferende menswording en selfvernedering van Jesus, sy plaasvervangende lyding en sterwe, gaan getransformeer word tot ‘n gesindheid van radikale eenheid, opoffering en liefde! Alleenlik hulle wat in verwondering en blydskap juig oor die historiese feit van sy liggaamlike opstanding en die werklikheid van sy almag en majesteit word gemotiveer tot ‘n lewe van liefdesdiens. ‘n Liefde en eenheid nie gebou op die tydsgees van verdraagsaamheid (toleransie) vir sonde nie, maar ‘n liefde vir die waarheid. Wat ‘n groot waarheid! Wat ‘n groot liefde!

Ortopraksie volg op ortodoksie.*****

Leer ken die ware Jesus en jy sal begin reg leef! Ek bedoel natuurlik nie dat als gaan reg wees as ek bloot die heilsfeite ken nie, dat my lewe gaan verander as ek my katkisasie toetse deurgekom het nie. Ek bedoel dat as ek waarlik die feite rondom Jesus glo en dit vir my ‘n werklikheid geword het, sal my lewe nooit weer dieselfde kan wees nie. Onmoontlik! As sy vernedering en sy verhoging my aan die hart gegryp het kan ek nie ongeërg voortgaan op die pad van sonde, die soeke van eie belang en onvergewensgesindheid nie! Wat glo ek en jy werklik oor Jesus?


Slotopmerking – Die geskiedenis bewys dat daar waar Jesus as Verlosser vir mense persoonlik ‘n werklikheid word, hulle gedrag sal verander. In die 18de eeu was Engeland moreel op ‘n laagtepunt en op die rantjie van ‘n rewolusie soortgelyk aan Frankryk. Die haglike toestand van hierdie nasie was nêrens duideliker sigbaar as in die sogenaamde Gin Craze nie. Daar word bereken dat een uit elke sesde huis in London ‘n Gin shop was. (Sien Arnold Dallimore se George Whitefield, Vol I p25) Dit was die kragtige Christosentriese herlewingsprediking van George Whitefield en John Wesley wat die nasie geskud het en tot morele en maatskaplike hervorming gelei het!

Mag ons almal weer geskud word deur die evangelie van Jesus en so kom tot ‘n nuwe gesindheid in ons harte – die gesindheid van Jesus, wat ons anders sal laat optree!

NOTAS

· *Filippense 4:2 “Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here.”

· ** Hy spreek die dwaalleraars aan wat die besnydenis vir gelowige verpligting wou maak en noem hulle “hond” 3:2 - Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. (OAV)

· *** “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing...”

**** 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

2:8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,

sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. (Filippense 2:5-11)


***** ‘n regte lewenswyse volg op ‘n regte teologie!

Vrydag 05 Maart 2021

BEGIN BY DIE BEGIN

- DIE BASIESE VERTREKPUNT VAN ALLE WAARHEID!

Waar kry ek ‘n antwoord vir al my baie vrae? Waar kry ek bevryding van al my vrese? Waar kry ek weer hoop in ‘n chaotiese, bose, korrupte en hartseer wêreld?  Begin by die begin! Ons weet daar is groot verwarring in ons tyd. Daar is ‘n ontelbare duisternis van opinies, talryke teorieë, soveel  slimmighede...Jy weet nie aldag wie om te glo en na wie om te luister nie... Waar gaan ek vastigheid kry?  Wat is die eerste heel basiese waarheid? Die fondament waarop alle antwoorde berus? Die basiese vertrekpunt? Begin by die begin!

Ons kry dit in Genesis 1:1!


Hieruit volg ‘n paar basiese vertrekpunte en vaste hoekpenne:


God alleen is die ewige oneindige Skepper.

Alle ander persone of dinge is skepsels of geskape dinge. Daar is ‘n basiese fundamentele onderskeid tussen God en sy skepping. God alleen is van ewigheid tot ewigheid. Sonder enige begin en einde. God alleen kan skep. Iets uit niks. Deur sy Woord. Hierdie unieke andersheid van God word vandag betwyfel deur iemand soos Benny Hinn wat leer dat die mens ‘n klein godjie is*, deur die panteïsme wat leer dat alles en almal goddelik is, ja ook deur die “spreek lewe” beweging wat leer dat die mens se woorde skeppingskrag het! Die basiese oersonde is om God nie as God te dank en te eer nie Om die skepsele te eer in plaas van die Skepper. Paulus skryf hieroor : “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister... Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.” (Romeine 1:20.21, 25)

God bepaal die sin van als want Hy het als met ‘n doel gemaak. 

Jy en ek het ‘n doel. Daar is ‘n rede vir ons bestaan. En die rede kom verder in die skeppingsverhaal duidelik na vore. Om God te eer en namens Hom oor sy skepping te heers! Ons as mense is geskape na sy beeld. Dit plaas ons in ‘n ander kategorie as byvoorbeeld diere en plante. Ons het ‘n verstand om God te kan ken, ‘n wil om Hom te kies en ‘n emosie om Hom lief te hê. God self is die doel en die vreugde van my bestaan. Dit word so mooi gestel deur die Westminster Shorter Catechism wat vra : “What is the chief end of man?” (die mens se hoofdoel?) En dan die antwoord : “Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever.” Dis waaroor alles gaan – om God te eer en te GENIET! 

Geen mens kan ware vervulling beleef sonder die aanbidding van God nie, want dis waarvoor ons ontwerp is!

God alleen is in beheer van sy skepping. 

Die ganse heelal. God bestuur die heelal. Alles gebeur volgens God se raadsplanne. “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit." (Efesiërs 1:11) Daar is geen mag groter as God nie. En ja, die duiwel is voorwaar soos ‘n brullende leeu, maar hy is ook net ‘n geskape wese. God het ook mag oor die duiwel en daar is nie ‘n kwessie van wie sal wen nie. Die uitkoms van die geskiedenis is nie in die weegskaal nie! Dit bring ontsaglike troos om te weet dat die Almagtige God volkome in beheer is van sy skepping – al lyk dit nie so nie. Dit het nie so gelyk tydens die kruisiging nie – dit het gelyk asof die Satan en bose mense die oorhand het, maar eintlik was hulle besig om God se triomfantlike plan uit te voer. Petrus praat op Pinksterdag met die Jode oor die kruisiging en dan sê hy : “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” (Handelinge 2:23) Ja, die Jode en heidene het verkeerd opgetree, hulle staan skuldig, maar ten diepste het hulle God se raadsplan uitgevoer!

God alleen (as Skepper en Eienaar) maak die reëls en Hy alleen het die reg om sy skepsele tot verantwoording te roep.

Daar SAL dus ‘n oordeel wees en daar is ‘n hel ongeag wat verdorwe mense ons vertel. Paulus praat hiervan in sy toespraak in Athene : “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Handelinge 17:30,31) 

Dit beteken ons moet so lewe dat ons Hom behaag. Leef - Coram Deo Voor die aangesig van God! God se opinie is al wat tel! En moenie dat dwase mense vir God wil vertel dat sy oordele onregverdig is nie! Hoe kan mense wat absoluut onregverdig is vir die heilige God probeer beskuldig van onregverdigheid? Al God se besluite en oordele is goed, regverdig en volmaak!

God laat vaar nie die werke van sy hande nie. 

Hy gooi nie sy skepping weg nie. Hy onttrek Homself nie aan sy skepping nie. Dit gee vir ons hoop. Ons weet weens die sondeval is hierdie skepping verganklik en uiteindelik gedoem tot vuur! Maar dit gaan nie die einde wees nie. Daar kom ‘n nuwe hemel en nuwe aarde. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” ( 2 Petrus 3:13)

ALLES DRAAI OM JESUS!

Die Bybel se boodskap oor God stop natuurlik nie hier by Genesis 1 nie. Dis maar die begin van ‘n asemrowende en aangrypende verhaal wat uitloop op die hoogtepunt van Jesus Christus se koms en werk. Die Nuwe Testament onthul vir ons die verrassende heerlikheid – die hele skepping draai eintlik rondom Jesus! Dis die heerlike waarheid van die Christelike lied in Kolossense 1:15-20.

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, gesagvoerders of magte. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”

‘n Meer verhewe beskrywing van Jesus se persoon en werk kan mens kwalik iewers anders vind! God het deur Hom als geskep, maar alles is ook vir Hom geskep. Alles bestaan dus ter wille van Jesus. En Hy self hou alles in stand! En hier kom die heerlikste - deur Jesus word ons met God ons Skepper versoen. 

Deur Jesus kan ek dus die almagtige Skeppergod my VADER noem.

Deur die vrug van Jesus se volmaakte soenoffer word die beeld van God wat deur die sondeval geskend is weer in my nuut gemaak en herstel. Hoe? Die Heilige Gees kom woon in my en heilig en verhelder my verstand om God te ken, Hy verander my wil sodat ek kan kies om God te eer en te gehoorsaam, Hy gee my ‘n nuwe hart, ‘n nuwe emosie om God waarlik lief te hê!

Kom ons bely met nuwe vreugde en sekerheid en vertroue- die waarheid van Genesis 1:1 : 


Wanneer ons hierdie belydenis regtig glo kwyn ons vrese algaande en groei ons lofprysing tot ‘n heerlike klimaks van aanbidding en bewondering vir ons Almagtige God! AMEN!

*Benny Hin : “May I say it like this? You are a little god on earth running around" (Praise-a-Thon, TBN, 6th November'90)

Sondag 10 Januarie 2021

TRUMP IS 'N RAMP!

Laat ek dit duidelik stel al loop ek die gevaar om misverstaan te word en selfs van my beste vriende te antagoniseer. Hierdie man het ‘n groot gemors veroorsaak. Die mees blywende skade is dit wat sy gedrag aan die beeld van die evangeliese Christendom aangedoen het, weens Christene se openlike en kritieklose aanhang van ‘n goddelose narsis.

Is TRUMP ons Simson?


Donald Trump is binnekort nie meer president van die VSA nie.  Dis ’n feit...  Vir baie aanhangers is dit ’n  ontstellende gedagte en bitter pil om te sluk.

                                ’n Mens kan dit verstaan. Vir baie was hy die kampioen van ‘n “Christen Amerika”, vir sommige het hy semi-messiaanse status verwerf. Baie wonder nou : Gaan die son nou sak oor “Christen Amerika”?

Die geweldige ontsteltenis van Trump se evangeliese aanhangers kan mens ook begryp binne die konteks van die kulturele oorlog in die Amerikaanse samelewing. Trump se positiewe invloed in byvoorbeeld die aanstelling van bekwame konserwatiewe regters in die  Amerikaanse “Supreme Court” kan deur niemand ontken word nie!

Kommerwekkend vir my is, wel die bykans fanatiese aanhang van Trump deur belydende Christene.  Nog meer ontstellend is die rasionaal waarmee sommige hulle lojaliteit en lofprysinge aan Trump wat ’n goddelose lewe lei, regverdig. “Trump is ons Simson,” beweer so baie. Die argument klink so oortuigend: God gebruik so 'n  twyfelagtige karakter om sy volk  vir 20 jaar te lei en teen die vyand te beskerm, so Hy kan dit weer doen. Op die oog af is dit ’n  heel gepaste vergelyking. En die bos hare is nie die enigste punt van ooreenkoms nie... Simson was glad nie ‘n engel nie. Hy was waarskynlik ’n goeie kliënt van ’n hele paar prostitute en dit nogal heidense Filistynse vroue van die nag. Ons ken mos almal vir Delila en sy was sekerlik nie die enigste een nie!  “Trump het ook sy swaktes met vroue en geld en ’n oordrewe ego, maar God gebruik hom om goeie dinge vir die koninkryk te doen. Daarom moet ons hom steun.” So kon die argument gevoer word...

Vertrekpunte :

Voordat ek my probleem met sommige Christene se bewondering en soms selfs kritieklose openbare ondersteuning aan Trump probeer verduidelik, laat ek net ’n paar vertrekpunte duidelik stel:

Ek verskil met niemand dat Trump soms goeie dinge gedoen het nie. Selfs baie slegte ouens soos Hitler het ook soms goeie dinge gedoen. Hitler was sterk gekant teen kommunisme, soos ek glo ons almal is. En ek dink ons almal was bly toe Trump vir Sjina vasgevat het. Hoe suksesvol dit was, sal die toekoms moet leer...


God kan inderdaad goddelose en bose mense gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Die Ou Testament is vol voorbeelde. God kan ook ’n donkie as prediker inspan, maar dit beteken nie ons moet ons beywer vir die legitimasie van donkies op die kansel nie!

Vir die rekord (as party dalk mag wonder). Ek is en was nog nooit ’n  ondersteuner van die Demokrate in Amerika nie. Nog nooit was ek ook ’n liberalis, sosialis, anargis of kommunis nie!

Nou wat is dan my probleem met die 

“evangelicals” se ophemeling van Trump? 


Eerstens. Ek betreur die feit dat Christene ongekwalifiseerd en luidkeels vir Trump prys en ondersteun. En wel op so ’n  manier dat dit die evangeliese Christendom se beeld kontamineer en kompromitteer.  

Die wêreld daarbuite verstaan nie allerhande fyn nuanses nie. Trump word deur baie evangeliese leiers en hulle volgelinge as ’n  Christen held voorgehou wat Amerika en die wêreld van allerhande bose skemas soos globalisering en sosialisme moet bevry.  Dit skep ’n  bepaalde (valse) beeld van Christenwees in die oë van die wêreld.  Dit lei tot ‘n skeeftrekking en verwringing van wat Christenskap behels.  Of ten minste ’n ernstige verskraling.  Wat bedoel ek? Ongelowiges wat die debat in Amerika volg kan die indruk kry dat aborsie en sosialisme doodsondes is, maar dat Christene hulle oë toeknyp vir die onheile van huweliksontrou, geldgierigheid, leuens en hoogmoedige selfverheerliking.  En verskoon my, maar wêreldlinge kan dalk ook die indruk kry dat Christene onnosele “conspiracy” entoesiaste is wat hulle deur enige glansgans swendelaar om die bos laat lei! Dis presies wat Trump is. ’n  Swendelaar. Voormalige Republikeinse presidentskandidaat kandidaat Marco Rubio het self op ‘n keer vir Trump ‘n “con artist” genoem! Baie gerespekteerde Amerikaanse Republikeine wou juis daarom niks met hom te doen hê nie. Dink John Mcain en Mitt Romney. En selfs sy eie handuitgesoekte handlangers moes uiteindelik deur die rookskerm sien...Tillerson, Mattis, Bolton, Barr... Waarom sê Ben Sasse, Republikeinse konserwatiewe senator van Nebraska, dat Trump  flirted with white supremacists”, hanteer die presidentskap soos ‘n “business opportunity”, en “kisses dictators’ butts”? Die voormalige Republikeinse goewerneur van Kalifornië het Trump as die "worst president ever"  uitgekryt. So kan mens aangaan... Wat sien hierdie mense wat die onkundige evangeliese skape nie kan raaksien nie? Terloops, praat van onkunde, ek kry die indruk dat die gemiddelde Christen deesdae meer op hoogte is van die jongste “conspiracy” teorie as met die evangeliefeite self! Daar is groter vrees vir ‘n inentings as vir sonde!

Die kernvraag wat jy jouself moet vra : Is Trump se beeld,  leefstyl en waardes bevorderlik vir die evangelie in die wêreld?

Tweedens. Ek het ’n probleem met die tipe hermeneutiek en koninkryksperspektief wat van Trump ’n soort Simson kampioen van die hedendaagse Christendom en veral die Amerikaanse variasie daarvan wil  maak. 

Die Simson argument (waarna ek reeds kortliks verwys het) loop soos volg : Ja, ons weet dat Trump se sedelike morele lewe nie heeltemal op standaard is nie. Maar ons hoef nie te veel daaroor bekommerd te wees nie, want God het destyds vir Simson met al sy swakhede (soos vir vrouens) ook gebruik om sy volk te verlos. EINA!

Kom ek verduidelik hoekom ek hierdie tipe verskoning en verklaring hermeneuties onaanvaarbaar vind.

Dis berus op ’n subjektiewe eksemplariese verstaan van die Ou Testament wat erg problematies is. Met hierdie tipe van uitleg sou mens ’n menigte soort onheile soos veelwywery, etniese suiwering en  godsdienstige geweld uit die Skrif kon regverdig. Noag was dronk, so geestelike leiers met alkoholprobleme is aanvaarbaar?  Nee, ons lees die Ou Testament tog heilshistories. Die rigters, konings, profete en priesters van die Ou Testament was almal onvolmaak en juis daarom het Jesus ons volmaakte Middelaar en vervulling van al die ampte gekom en is ons hoop op Hom en nie op Amerikaanse ‘casinobaas’ Simsons nie! 

Ons kampioen is Jesus. Die arm, nederige 

en lydende Jesus. Nie die ryk, 

grootpraterige, gemaksugtige Trump nie! 

Die kontras kan nie groter wees nie!

(Natuurlik, Ou Testamentiese helde kan wel as voorbeelde voorgehou word, maar dan geïnterpreteer via die finaliteit van die openbaring in Jesus Christus. Soos Jakobus vir Elia as voorbeeld van ’n voorbidder gebruik.)

Die VSA is ook nie gelyk te stel aan Israel  van destyds nie. God se volk is nie meer een etniese of nasionale groepering nie, maar Sy kerk gekoop uit alle volkere wat verspreid as vreemdelinge en bywoners op die aarde woon. Baie Amerikaanse Christene maak hulle self skuldig aan ’n tipe sakralistiese denke dat God by voorkeur die God van Amerika is en dat sy koninkryk deur wetgewing bevorder moet word. Ek weet dis ’n oorvereenvoudiging en alle Amerikaanse Christene dink nie so nie. En tog...  Amerika het  allermis nie iemand soos Trump nodig nie, Amerika het verkondigers van die ware evangelie nodig!  Die liberalisme, valse teologie,  “Prosperity Gospel” en die pro LGBTQ kultuur van Amerika gaan nie deur wetgewing en bebaarde pro-Trump militialede (wat die Capitol bestorm) verander word nie, maar slegs deur ‘n ware egte werking van God se Gees. “Make America great again” is geensins ’n Christelike slagspreuk nie, want Amerika is nie gelykstaande aan die koninkryk van God nie.

Wat is die kern van die saak? Onthou maar wat Jesus vir Pilatus gesê het. 

"My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie"  (Johannes 18:36).  

Jesus het geen ideaal vir ‘n aardse utopie binne hierdie bedeling nie en daarom gebruik HY nie die middele van mag en geweld om dit te bereik nie. Nee, Hy stap die pad van die kruis!

Waar Christene hierdie boodskap van Jesus vergeet het, was daar ‘n bitter nasmaak met ernstige gevolge! Orals waar daar ‘n “huwelik” tussen kerk en staat, evangelie en nasionale belang was het dit ellendige nagevolge vir die geloofwaardigheid van die evangelie gehad. Die voorbeelde is te veel op te noem en wyd uiteenlopend. Dink maar aan die gevolge van die kruistogte in die Midde Ooste, die Münster tragedie en die erfenis van Oliver Cromwell se brutaliteit in Ierland. Nader aan ons lyf, die ongesonde vennootskap tussen kolonialisasie en sendingwerk, nasionalistiese politieke leiers soos Hendrik Witbooi wat moorde op onskuldige blankes vanuit die Bybel geregverdig het en laat ons nie vergeet van die destydse onheilige alliansie tussen die Nasionale party, die Broederbond en die NG Kerk nie! Jesus se volgelinge is nie veronderstel om jihadi’s te wees wat die koninkryk van God met die swaard, staatsmag en drukgroepe moet bevorder nie!

Ek weet sommige gaan my beskuldig van ‘n apatiese wêreldvreemde houding. Dis allermins wat ek wil bevorder. Elke Christen moet sy Christenskap op die markplein uitleef (van onderwysers, boere tot politici) en so sal ‘n hele kultuur positief beïnvloed word.  Dis egter iets heel anders as om fanaties opgewonde te raak oor ‘n aardse prins ! Ek dink Timothy Keller bekende leraar van New York het die regte balans: Oor Donald Trump sê Keller dat anders as ‘n geslag gelede, “many evangelicals are not looking to put Christians into power in order to turn the culture back to God; now they are looking for a protector, a champion.

“Both those evangelical strategies are wrong,” volgens Keller “Both of them are about power and saying, How are we going to use power to live life the way we want?  They’re not enough about service; they’re not enough about serving the common good.

“The proper cultural strategy is faithful presence within, not pulling away from the culture, and not trying to take it over. ‘Faithful presence within’ means being faithful; it means we’re not going to assimilate, [but] we’re going to be distinctively Christian. It’s about an attitude of service, uncompromising in our beliefs, but not withdrawing and not trying to dominate.

It takes real (and rare) wisdom to navigate between the Scylla and Charybdis of dominance and withdrawal, between control of the culture through political power, which is hardly a biblical archetype, and complete cultural separatism.”  Ja, 'n baie fyn balans en versigtigheid is nodig waar Christene hul op die politieke terrein begeef!

Jy mag maar van my verskil, maar Trump is nie my Simson nie. Hy is ‘n leuenaar en kansvatter.  Na sy aanhitsing van geweld wat uitgeloop het op die Capitol tragedie (waarin mense hulle lewens verloor het), dink ek hy hoort in die tronk. Punt.  

Trump laat ‘n spoor van leuens agter! Waar is die belastingopgawes wat hy sou vrystel? Hoeveel het Meksiko toe vir die muur betaal soos wat hy beloof het? Hy is lief vir ongesubstansieerde samesweringsteorieë soos byvoorbeeld dat Obama nie in die VSA gebore is nie. (birther conspiracy). Hy het geen morele kompas nie. Hy val Iran aan, maar is baie toegeeflik teenoor Saoedi Arabië (Kashoggi sage) en Turkye. Hy het die Koerde wat saam met hom teen Isis geveg het in die rug gesteek. Hy beledig Denemarke omdat hulle nie Groenland aan Amerika wou verkoop nie... Bedorwe klein seuntjie mentaliteit! Hy beledig mense links en regs met allerhande skeldname.* Probeer ander verkleineer.  Soos vir Mcain omdat hy ‘n krygsgevangene was, terwyl Trump self nooit eens diensplig gedoen het nie! En NEE, jy hoef nie CNN of ander vyandige linkse media te raadpleeg nie, lees maar net sy eie tweets! Trump se eie woorde veroordeel hom! En beslis gaan sy bombastiese “tantrums” geen vriende vir die evangelie wen nie, maar eerder ‘n struikelblok in die pad van die evangelie oprig!  

Billy Graham se kleindogter vat die gevolge van die evangelicals se geheul met Trump goed raak : “The entire world has watched the term ‘evangelical’ become synonymous with hypocrisy and disingenuousness,”  

‘n Ander evangeliese kommentator, Ed Stetzer terwyl hy positief is oor sekere van Trump se prestasies stel dit so : “He’s burned down the Republican party, emboldened white supremacists, mainstreamed conspiracy theorists, and more.Yet of greater concern for me is the trail of destruction he has left within the evangelical movement. Tempted by power and trapped within a culture war theology, too many evangelicals tied their fate to a man who embodied neither their faith nor their vision of political character."

Die bekende John Piper se kritiek op Trump is welbekend. Gaan lees dit maar self. 'n Mens is dankbaar vir elke evangeliese leier wat opgestaan het vir die waarheid! 

Daniël

 Ek vra met trane in my oë, kon Amerikaanse Christene nie vir hulle ‘n beter held vind nie? Ek kan verstaan dat die “Prosperity Gospel” ouens** so mal is oor die materialistiese Trump, maar verwag darem meer insig van Gereformeerde broers en susters. As ons dan ‘n hedendaagse held soek na analoog van ‘n Ou Testamentiese figuur, moet ons dalk maar vir Simson los en eerder ‘n Daniël soek teen wie se karakter geen beskuldigings ingebring kon word nie. Die vyande kon net sy getrouheid aan God kritiseer!  “Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie. Hulle sê toe vir mekaar: "Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens." (Daniël 6:5,6)

Vir ons getuienistaak in die wêreld het ons  Daniëls nodig en nie Simsons nie!

Die kerk van Jesus wat glo in die swaard van die Gees maak nie staat op wette en op (korrupte) prinse om die evangelie te bevorder nie.

Die triomf van die waarheid en die kerk kom deur suiwer prediking, die regte beoefening van die sakramente en ‘n Bybelse toepassing van  dissipline (kerklike tug), nie deur gedwonge uiterlike vertoning van openbare vroomheid nie. Mag ons weer terugkeer na hierdie beginsels met die krag wat God ons gee!

NOTAS

* Die jongste belediging is teen sy eie lojale vise president Mike Pence gerig. Trump se Facebook inskrywing. En onthou geen federale regter (waaronder Trump se eie aanstellings kon beduidende bewyse van bedrog wat die verkiesingsuitslag sou verander vind nie) :

Donald J. Trump

January 6 at 11:28 AM · Mike Pence didn’t have the courage to do what should have been done to protect our Country and our Constitution, giving States a chance to certify a corrected set of facts, not the fraudulent or inaccurate ones which they were asked to previously certify. USA demands the truth!

** Vergelyk die Suid-Afrikaans gebore vals profeet Kim Clement se profesieë oor Trump.


*

Vrydag 01 Januarie 2021

OORWINNING IN 2021


 Dis geen nuus nie. Die jaar 2020 het meer as die gewone kwota hartseer, probleme en onreg opgelewer. Wie of wat het die grootste skade en moeilikheid veroorsaak? Die Wuhan virus, Ramaphosa, Trump, Biden of was die ergste dalk dat die strande moes sluit? Die antwoord mag jou dalk verbaas! Maar dis die sleutel tot oorwinning....



Deel in hierdie gebed...








Vrydag 04 Desember 2020

DIE GELOFTE

- net weer 'n herinnering

Wat was die inhoud van die Gelofte wat die Voortrekkers  in 'n tyd van diepe angs en nood plegtig aan God gemaak het?

Die Gelofte is vandag grootliks vergete, maar vir Sarel Celliers en die manne saam met hom was dit 'n saak van absolute erns. Dis nie ligtelik gedoen nie en mens kan aflei dat hy gehuiwer het om tot so 'n ernstige stap oor te gaan, juis omdat hy geweet het hoe gou die mens vergeet. 'n Latere mededeling van Celliers klink soos volg : "en ik vond mij er over diep bezwaard, en zij tot hem (Pretorius) : mijn heer, ik bevind mij er onder bezwaard dat wij die dag zal vergeten, en ook zal verwaarloozen, en dat de toorn des Heeren dan tegen ons zal ontbranden."*  Dit laat mens wonder...was Celliers nie baie reg nie?

Hier is die woorde van die GELOFTE:

In Nederlands

"Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven."

 

In Afrikaans

"Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan hom te gee." **


*Aangehaal deur GDJ Duvenhage,  Die Groot Trek,  Die eerste drie jaar DIE GELOFTE, p143

** Soos die geval met baie handgeskrewe historiese dokumente bestaan daar verskillende weergawes van die Gelofte wat onderling verskil. Vergelyk die weergawes van Hofstede, Cachet en Gerdener in Duvenhage.

Woensdag 18 November 2020

GOED OF SLEG?

EERLIK GEKYK NA DIE MENS

Is die mens goed of sleg? Is party mense sleg en party dalk goed? Is die meerderheid goed en die minderheid sleg of dalk andersom? Daar is baie opinies… Daar is egter net een betroubare opinie en dis God se opinie. Dis wat Hy ons in sy Woord leer. 

Ons vind die antwoord op hierdie vraag in Romeine 3:11-18

Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, 
daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
"Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
"Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
"Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." 

Wat 'n skokkende beskrywing van die mens se toestand! Alle mense. Die heel egste – geen ontsag vir God nie! Die mens het van nature geen respek vir God nie, geen liefde vir God nie, geen verlange om sy Woord te hoor nie, geen begeerte om sy opdragte te gehoorsaam nie… Ons sien orals rondom ons die bewyse : minagting vir God se wette oor die huwelik, verbreking van die beloftes wat ons aan God maak, plesier wat voor God gestel word, maar as ons in die nood is dan hardloop ons gou na Hom… 

Om saam te vat – God se opinie oor die mens is dat die mens ‘n totaal verdorwe diep gevalle sondaar en korrupte woestaard is! En onthou God is regtig lief vir mense, God se opinie is nie die van iemand wat negatief is nie, maar van iemand wat die mens regtig liefhet! Wat God van die mens sê, sê Hy dus omdat dit die waarheid is. God het dit reeds van die mense in die tyd van Noag gesê : “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.” (Genesis 6:5,6) Dis nog steeds die situasie... 

GEEN TOEGANG SONDER WEDERGEBOORTE 

Die implikasie is niemand kan God se Koninkryk ingaan as daar nie eers iets drasties gebeur nie. In die Johannes evangelie sien mens dit so duidelik – Nikodemuswas 'n goeie man, iemand wat die Bybel geken het, ‘n leraar in Israell. Maar Jesus sê vir hom: “Jy moet weergebore word!” Die punt is hy het Jesus nodig. Net in die volgende hoofstuk kry ons ‘n absolute kontras– die Samaritaanse vrou – ‘n slegte vrou (bly ongetroud saam met ‘n man – ja dit mag dalk ‘n verrassing wees vir sommige, maar die Bybel sien dit so) – 'n uitgeworpene. Dit kom aan die lig sy het al vyf mans gehad. Jesus bied vir haar die lewende water aan. Die punt is dieselfde – sy het Jesus nodig. 

Alle mense is helverdiende sondaars, alle mens het ‘n Middelaar en Verlosser nodig en die Enigste wat jou kan red is Jesus. 

Die doopformulier stel dit baie duidelik. Almal is aan die verdoemenis onderwerpe en kan slegs in die koninkryk van God ingaan as hulle weer gebore word! 

Die Goeie nuus is dat God uitreik (Sy hand uitsteek) na die diep gevalle sondige mens. God het die mens nie afgeskryf en in sy ellende net so alleen gelos nie. Reeds na Adam en Eva in die tuin kom soek God die emns op. Later op besondere manier reik Hy uit na Abram. God doen dit deur sy beloftes en die bevestiging daarvan in die verbond. Sy beloftes van redding. “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet my volk wees.” Die sigbare teken van God se beloftes in die ou bedeling was die besnydenis. Deur die besnydenis het God belowe : "Ek wil jou God wees en jy moet vir my ‘n kind wees." Maar luister mooi! Nie almal wat die teken ontvang het, het die beloftes aanvaar en God se kinders geword nie. Die Bybel praat van die mense wat besnede was, maar onbesnede van hart gebly het. Hulle het God se beloftes verwerp al was hulle besny en God se straf en oordele het hulle getref. 

In die nuwe Verbond is dit soortgelyk. God bevestig die waarheid van die evangeliebeloftes in die sigbare teken van die doop. Jesus se kruis en opstanding was vir ons genoeg. Maar ons moet dit aanvaar deur geloof en bekering. Sonder geloof en bekering sal gedooptes verlore gaan! Hoor ons dit? Daar gaan baie gedooptes in die hel wees! Maar dit sal nie God se skuld wees nie. Daar is niks verkeerd en vals aan God se beloftes nie. Daar kom niks te kort aan die volledigheid van Jesus se kruis en opstanding nie.

HOEKOM STEEDS VERLORE?

Hoekom gaan mense nog steeds verlore? Kom ons luister hoe die Johannes evangelie hierdie vraag beantwoord…

 "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 
Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is." (Johannes 3:16-21) 

BELOFTE EN EIS

God maak beloftes. Ons sien dit sigbaar by die DOOP. Ons MOET antwoord op God se beloftes deur geloof en bekering. Dis die eis van die verbond. Geloof in Jesus is nie net om van Jesus te weet nie, maar om na Hom wat die lig is te kom… Het jy al na Jesus gekom sodat Hy jou lewe nuut kan maak?



Dinsdag 10 November 2020

WIE IS GOD SE VOLK?

Is jy deel?

Dis beslis die grootste voorreg wat enige mens op aarde kan hê – om deel te wees van God se eie volk! Maar WIE is God se volk? Hierdie vraag is tans weer intens aktueel. Wat is die status en funksie of doel van hierdie volk! 

Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot van teoretiese belang nie. Dit ontbloot die kern van jou verstaan van die evangelie. En daarmee saam hoe jy die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond sien. Dit raak ook uiteindelik jou praktiese besluite as gelowige. Die apostel Petrus antwoord hierdie uiters belangrike vrae gelukkig baie duidelik. 

KOM ONS LEES 1 Petrus 2:9-10 

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 
Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." 

Petrus verwys amper woordeliks na ’n baie belangrike Ou Testamentiese gedeelte in Eksodus 19:4-6. ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." 

Onthou die konteks van hierdie woorde van God. Dis God wat met sy volk Israel praat by die berg Sinai nadat Hy aan hulle genade bewys het deur hulle uit Egipte te bevry. Dis opvallend die hele volk word “priesters” genoem. Oor die algemeen in alle volke was priesters destyds ’n besondere groep mense wat direk in kontak kon kom met die godheid. 

Wonderlik! Israel as nasie is almal in hierdie sin priesters, hulle almal (ook die gewone mense) staan in ’n besondere verhouding tot die lewende God. Priesters was destyds normaalweg ’n afgesonderde groep met voorregte en pligte en so het die verloste Israel ook gedeel in spesiale voorregte maar ook verpligtinge om God se heilige volk te wees. Maar nou weet ons almal hulle het die verbond verbreek deur onheilige optrede. Dit het God se oordeel oor hulle gebring. Dit het uitgeloop op die ballingskap. 

Die profeet Hosea het hierdie oordeel van God oor sy volk in baie skerp taal beskryf. Nadat sy vrou Gomer swanger geraak het kom die opdrag aan die profeet : "Noem hom "Nie-my-volk-nie", want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie." (Hosea 1:9)

Skrikwekkend! Pynlik hartseer! Maar as mens na die hele profesie kyk is daar ‘n belofte van hoop! ‘n Belofte van herstel!

“...Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: "Julle is Nie-my-volk-nie," sal vir hulle gesê word: "Julle is kinders van die lewende God." (Hosea 1:9,10) Sien, God beloof herstel. 

Ook Jesaja 61:6 verwys na hierdie herstel! En let op die hele volk gaan priesters wees! “Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God. Julle sal van die rykdom van die nasies geniet, die trotse eienaars word van hulle besittings.” 

OOK ANDER NASIES WORD INGESLUIT!

Hierdie herstel soos beloof in terme van die Nuwe Verbond het ook ‘n ander wonderlike faset. Iets wonderliks - ook ander nasies sal ingesluit word. Ons kry reeds 'n aanduiding daarvan in Jesaja 19:25. “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” 

God se verbondseën sal ook deur ander etniese volke gedeel word! 

En dis presies waarna Petrus hier verwys . Hy sê in effek vir hierdie voormalige heidene wat nou Christene geword het : “Julle, wat voorheen nie aan Israel behoort het nie, is nou deel van God se volk en dus ’n heilige priesterdom.” Petrus sê nie hier ‘n nuwe ding nie. Reeds by die apostelkonvent in Handelinge 15 lees ons hiervan. “Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen." (Handelinge 15:14-17) 

God se volk bestaan nou uit gelowiges wat Hy deur Jesus verlos het uit al die volke van die aarde! 

Nêrens word hierdie waarheid duideliker gestel as in die lied van die ouderlinge in Openbaring nie! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) 

So wie is God se volk? 




God se volk is nie die huidige staat Israel nie.





God se volk is nie die Boerevolk of die blanke volkere of enige spesifieke etniese groepering nie. 





God se volk is almal wat waarlik aan Jesus Christus behoort! 


Paulus laat ook geen twyfel hieroor nie : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) 

Net kortliks. Wat is die taak van God se volk hier op aarde? 

Petrus het reeds in 2: 5 verwys na geestelike offers. Wat word daarmee bedoel? Vers 9 verskaf die leidraad :“om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ” (OAV), “verlossingsdade moet verkondig”, (NAB) Dit gaan terug na Jesaja 43:21! Daar lees ons - “Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.” 

Nie meer bloedoffers nie, maar lofoffers! 

Ons doen dit deur geloofwaardige belydenis van Jesus se Naam, die verkondiging van die evangelie, die bring van lof wat fokus op God se dade en karakter soos geopenbaar deur Jesus. As jy die genade van Jesus beleef het, as jy deur Jesus se versoeningswerk deel van God se volk geword het, sal jy nie anders as spontane lof en dank aan God kan bring nie! 

Jy protesteer : "Ek kan nie goed praat nie, ek is skaam..." Gestel iemand help jou uit ’n groot verknorsing op die snelweg waar jy sonder petrol gaan staan het. Wat sal jy doen? Jy sal met verwondering daaroor praat teenoor ander mense al is jy nou nie juis ’n goeie spreker nie. Dit kom sommer net. Dit vloei voort uit jou dankbaarheid en blydskap... Die mense wat deur Jesus gered is, het as volk van God het ‘n wonderlike verlossing beleef. Vanuit duisternis tot lig! Net soos Israel destyds vanuit die duisternis van Egipte tot by die heerlikheid en lig van Sinai. Dis hoe die verlossingswerk ook in Jesaja 42:6-7 beskryf word. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.” Hierdie beloftes is finaal vervul in Jesus! 

Kind van God, Hy het jou verlos uit die duisternis van sonde, Satan, dood en hel en gebring tot die ewige LIG van GOD! Hy is die lig, daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n son wees nie! “Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer." (Openbaring 22:5) 

Kan JY God vir jou verlossing en deelwees van sy volk LOOF? Verkondig jy God se deugde, sy goeie eienskappe en sy goeie dade! Mag HY ons help!