BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

LUTHER 500

Die jaar 2017 behoort vir almal wat hulle hoop op Jesus alleen plaas ‘n besondere jaar te wees. Hoekom? VYF HONDERD JAAR gelede op 31 Oktober 1517 het Martin Luther die bom laat bars wat tradisioneel as die begin van die groot Protestantse Reformasie beskou word toe hy 95 stellings teen die Kasteelkerk van Wittenberg in Duitsland se deur gespyker het. Dit was veral gemik teen die Rooms Katolieke aflaatstelsel, maar was baie meer as net ‘n oppervlakkige protes teen bygeloof en uitbuiting. Die suiwer evangelie is as’t ware herontdek. Die kerk en trouens die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie en ons kan net met groot dankbaarheid terugkyk na God se genadewerk in hierdie tyd. 



Natuurlik was Luther nie die eerste persoon wat opgestaan het teen die valsheid en misbruike van Rome nie. Natuurlik het baie faktore soos die Renaissance, humanisme en opkomende nasionalisme ‘n rol gespeel, maar bo alles kan dit as ‘n genadige ingrype van God in die geskiedenis beskou word. Daar was alreeds jare van te vore pogings tot reformasie deur manne soos Girolamo Savonarola (Italië), John Wycliffe (Engeland) en Johannes Hus (Boheme), maar die tyd was nog nie ryp genoeg vir permanente vrug nie.



Martin Luther sou die man wees wat deur God gebruik sou word om die vals kerk in die fondamente te skud en die stimulus te verskaf wat sou lei tot die reformasie van die kerk oor ‘n wye front in verskeie lande. 



Wie was hierdie man en hoe het dit gekom dat hy sou opstaan teen die magtige en korrupte Roomse kerk van die middeleeue?* Ja, hy was ‘n mens (met baie foute en tot vandag nog ‘n omstrede figuur), maar hy was veral ‘n begenadigde instrument in God se hand. ‘n Man van die Woord en ook ‘n man van gebed!



MET ‘N WEERLIGSTRAAL TOT BINNE IN ‘N KLOOSTER



Op 17 Julie 1505 het die jong Duitser, Martin Luther, wat op 10 November 1483 in Eisleben gebore is, hom aangemeld by ‘n Augustynse klooster in die dorpie Erfurt onder leiding van Johann von Staupitz. Dit was nooit sy aanvanklike plan om ‘n monnik te word nie, maar ‘n storm het ‘n drastiese koersverandering in Luther se lewe, maar ook uiteindelik in die geskiedenis van die kerk tot gevolg gehad. ‘n Weerligstraal tydens ‘n donderstorm op pad het die beangste Luther na die Heilige Anna laat roep. “Red, my Sint Anna en ek sal ‘n monnik word!” Luther het sy woord gehou. Heel waarskynlik het die Gees van God alreeds voor die weerligervaring in hom gewerk en onrustig gemaak oor sy persoonlike saligheid.

Tog, ten spyte van al die kloosterlike strengheid en verpligtinge kon Luther met al sy worstelinge in sy sel geen vrede in sy siel ervaar nie. Die besef van sy eie sondigheid voor die aangesig van ‘n heilige God het hom oorweldig, en al sy boetedoening en asketisme het geen verligting gebring nie. Von Staupitz, die kloosterowerste het hom probeer help deur daarop te wys dat ware berou nie begin by vrees vir ‘n God wat straf nie, maar by liefde vir God. 

Op akademiese gebied het die briljante Luther goeie vordering gemaak. In 1508 het hy oorgeskuif na die nuwe universiteit van Wittenberg waar hy ‘n Baccalareus Biblicus graad in 1509 en ‘n doktersgraad in teologie in 1512 van Dr. Andreas von Karlstadt ontvang het. Akademiese kennis en sielevrede is egter nie dieselfde ding nie. 

Selfs ook ‘n reis na die heilige stad Rome in 1510 kon hom nie verligting bring nie. Soos ‘n toegewyde Katoliek betaam het hy pligsgetrou uitgekruip op die Scala sancta (Pilatustrappe) en op elke trap die Onse Vader opgesê. Sy besoek aan Rome was ‘n teleurstellende ervaring ook vanweë die sonde en oppervlakkigheid wat hy daar moes aanskou. Met groot verwagting in sy hart en die woorde : “O heilige Rome, driemaal heilig weens die bloed van die martelare, ek groet u,” het hy Rome binnegegaan, maar in retrospek was dit ‘n groot ontnugtering. “Ek het met uie gegaan en met knoffel is ek daar weg,” was sy latere kommentaar.

TURM ERLEBNIS

Gedurende die jare van sy studies het Luther nog steeds met die probleem van sy persoonlike redding geworstel. Iewers het die evangeliese lig toe deurgebreek. Wanneer het die groot evangeliese deurbraak, ook genoem sy Turmerlebnis (toringervaring) plaasgevind toe hy die volle betekenis van vryspraak alleen deur die geloof in Jesus begryp het? Dis ‘n saak van hewige debat onder geleerde kenners van Luther. Die presiese tydstip sal seker nooit bekend wees nie. Verskeie insette het waarskynlik ‘n rol in hierdie heerlike ontdekking gespeel. Die invloed van Augustinus, die geskrifte van Johan Tauler, die Psalterium van Jacques Levèfvre d’Etaples en die wyse advies van Von Staupitz. En natuurlik, bowenal die bestudering van die Bybel! Luther het nou Romeine 1:17 op ‘n nuwe manier verstaan. Eers het die term, “die geregtigheid van God” vrees by hom ingeboesem, maar nou het dit in die konteks van die evangelie van genade ‘n nuwe betekenis vir hom gekry. God spreek sondaars vry omdat hulle glo! Die presiese datum van ‘n evangeliese verligting in Luther se lewe sal altyd ‘n raaisel bly, maar oor die feit dat Luther ‘n nuwe mens geword het deur die genade van God hoef ons nooit te twyfel nie. Sy evangeliese oortuigings sou hom voortaan in direkte botsing met die Roomse kerk en haar onevangeliese gebruike bring.

DIE SKAT VAN DIE KERK

Die openlike botsing het gekom in reaksie op die kerklike smous Johannes Tetzel se verkoop van aflaatbriewe op die grens van Wittenberg. Die koop van aflaatbriewe sou na bewering geliefdes wat in die vagevuur ly se tyd daar kon verkort. (sien AFLAATSTELSEL) Luther kon nie langer stilbly nie en het sy oortuigings oor hierdie saak in 95 stellings verwoord wat volgens oorlewering op 31 Oktober 1517 aan die kerkdeur van die Schlosskirche (Kasteelkerk) te Wittenberg vasgespyker is.

Die dokument, wat in Latyn geskryf was, is ook aan Albert, die aartsbiskop van Mainz gestuur. Luther het versoek dat die aartsbiskop sy stellinge aan die Skrif toets en dat die verkoop van aflaatbriewe onmiddellik stopgesit moes word.

Verskeie kopieë is deur Johann Grünenburg van Wittenberg gedruk en die 95 stellinge is binne dae in Duits vertaal. Dit het soos ’n veldbrand oor die hele Europa versprei en na ’n maand was dit ook in Engeland beskikbaar. Die hele polemiek het gegaan oor veel meer as net ‘n enkele misbruik of korrupte gedrag. Die hele Middeleeuse denkskema van verlossing soos geformuleer deur die skolastici het nou in gedrang gekom. Die evangelie is helder op die voorgrond gestel. “Die ware skat van die kerk is die mees heilige evangelie van die heerlikheid en die genade van God.” (Stelling 62)

SKRIF ALLEEN

Aanvanklik het die besige pous hom nie veel aan die gebeure in Duitsland gesteur nie en dit bloot beskou as ‘n geskil tussen die Augustyne en Dominikane. Daar was immers voorheen ook kritiek op die aflaatstelsel.

Toe die verkope van aflate skerp begin afneem het die onrus in Augsburg, Mainz en Rome egter begin toeneem. Luther se lering het duidelik finansiële implikasies gehad! Geld praat en nou kon die pous nie meer alles net so laat begaan nie. Luther is gedagvaar om voor die jaarlikse vergadering van die Duitse Augustyners te Heidelberg verskyn. Ten spyte van waarskuwings deur vriende was Luther vasbeslote om te gaan. Luther het die geleentheid gebruik om die skolastiese teologie aan te val en sy “teologie van die kruis” daarteenoor te stel. Luther het die valse teologie voor die deur van Aristoteles en Aquinas gelê en Paulus en Augustinus as die hoofargitekte van Bybelse teologie voorgehou.

Die Augustyners kon nie Luther tot stilswye bring nie en Tetzel het druk op pous Leo X uitgeoefen om Luther formeel te vervolg. Luther moes in Rome verskyn. Gelukkig vir hom het sy ondersteuner, Frederik die Wyse, keurvors van Sakse dit so kon bewimpel dat hy eerder na Augsburg kon gaan. Daar sou hy voor kardinaal Cajetanus verskyn. In sy onderhoude met Cajetanus het Luther vasgestaan op die Skrif en dit duidelik gestel dat ‘n pous foute kon maak! “Ek ontken dat die pous bo die Skrifte is. Sy edele misbruik die Skrif!” Hierna het die kardinaal sy humeur verloor... Luther was gelukkig om te kon ontsnap en arrestasie vry te spring.

Luther was in 1519 betrokke in ‘n debat met ‘n beroemde redenaar Johann Eck. Die geleentheid is met groot fanfare geopen. Eck kon nie die oorhand oor Luther kry nie en het hom toe tot ‘n ander taktiek gewend. Hy het Luther daarvan beskuldig dat hy dieselfde standpunte huldig as Marsiglio van Padua, John Wycliff en Johannes Hus – almal mense wat deur die kerk veroordeel is!

Luther het toe ‘n skokkende erkenning gemaak deur te beweer dat nie als wat Hus geleer het vals was nie! (Onthou Hus het op die brandstapel gesterf!) Die implikasies het nou ernstig begin geraak....

Luther het uiteindelik moeg geraak vir Eck se buite konteks aanhalings uit die Skrif en op kenmerkende wyse skerp gereageer : “Ek betreur dat die Heilige Doktor die Skrifte binnedring so diep as ‘n waterspinnekop die water; inderdaad hy vlug van hulle soos die duiwel van die kruis. Daarom, met alle respek aan die Vaders, ek verkies die gesag van die Skrifte, wat ek aanbeveel by die toekomstige regters.” Deur die Roomse kerk se leringe en aansprake te verwerp het Luther die dapperste openbare standpunt ingeneem tot op hierdie tydstip. Luther het her dus duidelik standpunt ingeneem vir die beginsel van “Sola Scriptura” – die Skrif alleen. Ja, die Skrif alleen en nie pouse of konsilies nie, is die enigste gesagsbron vir die Christen.

‘N WILDEVARK IN DIE WINGERD

In die jaar 1520 sou dinge ‘n ernstige wending neem... Die pous kon nie anders as om drasties op te tree nie.

“Staan op, o Here en beoordeel U saak. ‘n Wildevark het U wingerd binnegedring…” So begin die inleiding van die pouslike bul, “Exsurge Domine”, ‘n dokument waarmee Luther deur pous Leo X geëkskommunikeer is. Die deur vir Luther is wel nog effens oopgelaat, maar dit het vir alle praktiese doeleindes daarop neergekom dat Luther en die Rooms Katolieke kerk se paaie geskei het. Die breuk met Rome was duidelik sigbaar toe Luther, sy medeprofessore en studente die kopie van hierdie dokument wat in Wittenberg aangekom het, op feestelike wyse in die vuur gegooi het!

Luther is finaal uit die Roomse kerk verban op 3 Januarie 1521 met die bul, “Decet Romanum Pontificem” (“Dit pas die Roomse priester...”)

ALLE GELOWIGES IS PRIESTERS

Die breuk met die Roomse kerk is nie net bevestig deur die pouslike bul nie, maar het van Luther se kant af ook vroeër reeds al hoe meer onherroeplik duidelik geword met die verskyning van baie belangrike en koersaanduidende reformatoriese geskrifte uit sy pen in 1520.

In sy BRIEF AAN DIE ADEL VAN DIE DUITSE NASIE rig hy ‘n appel tot die politieke leiers van die Duitse volk om by die hervorming van die kerk betrokke te raak. Hierin stel Luther ook sy lering oor die priesterskap van alle gelowiges. Daar is nie ‘n wesenlike onderskeid tussen geestelikes en leke nie.

Luther se VOORSPEL OOR DIE BABILONIESE GEVANGENSKAP VAN DIE KERK handel oor die kerk wat deur ‘n verkeerde sakramentsopvatting gevange gehou word. In die plek van die sewe Roomse sakramente erken Luther net drie naamlik doop, nagmaal en bieg.

Een van Luther se beroemdste geskrifte is OOR DIE VRYHEID VAN ‘N CHRISTEN, wat ook in 1520 verskyn het. Hy het dit aan die pous gestuur as ‘n samevatting van sy lering. Hierin maak hy ‘n merkwaardige stelling : "‘n Christen is in vryheid heer van alle dinge en van niemand ‘n onderdaan nie; ‘n Christen is in diensbaarheid kneg van alle dinge en van elkeen ‘n onderdaan." In die midde van die felle stryd teen Rome en al die gevaar daaraan verbonde, lewer Luther ‘n lofwaardige getuienis oor die vryheid van God se kinders. Vry van die dwang van die wet, vry van die angs vir dood en hel, maar juis deur geloof in Christus verlos tot ‘n vrywillige diensbaarheid in ‘n lewe van liefde! Die Christen is iemand wat nie in homself leef nie, maar in Christus en sy naaste. In Christus deur die geloof, in die naaste deur die liefde! ‘n Pragtige evangeliese balans!

GEHEIMSINNIGE INWONER VAN DIE WARTBURG KASTEEL

Weens die bemoeienis van sy vors en ondersteuner, Frederik die Wyse, keurvors van Sakse, kry Luther die geleentheid om sy saak voor die keiser, Karel V op die Ryksdag van Worms te stel. ‘n Gebeurtenis van onmeetlike groot betekenis. Een man, oortuig van die waarheid van die suiwer evangelie, staan voor die wêreldmagte van sy tyd en weier dapper om kompromie te maak en sy geskrifte terug te trek! Sy gewete is gevange deur God se Woord! Dis onseker of Luther die welbekende woorde : “Hier staan ek, ek kan nie anders nie.” wel geuiter het, maar dis in elk geval ‘n goeie weergawe van sy houding.

Die uiteinde was dat Luther voëlvry verklaar is. (enigiemand kon hom dus op sig doodmaak)

Op reis deur die Turinger woud word Luther deur geheimsinnige aanvallers oorrompel en ontvoer. Dit was al die tyd in opdrag van Luther se vors en groot ondersteuner, Frederik die Wyse. Hy het Luther vir sy eie veiligheid laat ontvoer en na die kasteel Wartburg laat neem. Hier het Luther vir bykans ‘n jaar onder die skuilnaam jonker (ridder) Jörg gebly. Luther was natuurlik allesbehalwe ledig en hy vertaal die Nuwe Testament in Duits. Hiervoor maak hy ook gebruik van die resente uitgawe van Erasmus se Griekse Nuwe Testament. Luthers se vertaling word in 1522 gepubliseer. Een van sy grootste prestasies was om uiteindelik (1534) die hele Bybel in Duits te vertaal en so ook ‘n geweldige vormende bydrae te lewer tot die Duitse taal.

Dit was egter nie als so maklik as wat dit dalk mag klink nie. Luther se tyd in die Wartburg is gekenmerk deur die aanvegtinge van Satan op verskeie maniere. Op geestelike en liggaamlike gebied het hy ernstige stryd beleef. (Kliek AANVEGTINGE)

Luther was immers nie ‘n bo-aardse geestelike held wat op die wolke gedryf het nie, maar is soos alle gelowiges geteister deur versoekings, swakheid en beproewings!

DIE PROFETE VAN ZWICKAU

Terwyl Luther in die Wartburg was het die reformasie onder leiding van sy vriende soos Melanchton en Von Karlstadt voortgegaan. Melanchton was die gematigde en versigtige een, terwyl Von Karlstadt hom maklik aan oorywerige en voortvarende gedrag skuldig gemaak het. Hy wou die selibaat afskaf, die kloosters sluit en die bieg ophef. Alles dinge wat uit Luther se werk sou voortvloei, maar sy oorhaastige optrede kon dinge maklik verongeluk. Om sake nog onstuimiger te maak het daar lekepredikers uit die wewersdorpie Zwickau op die toneel verskyn wat aanspraak gemaak het op direkte openbarings en so ‘n eensydige klem op die Gees geplaas het. Melanchton het getwyfel oor hulle aansprake, maar Von Karlstadt het hom deur hulle oorreding laat meevoer. Die gevolg was ‘n beeldestorm wat in Februarie 1522 losgebreek het. Dinge kon maklik hand uitruk en Luther het besluit dat dit tyd geword het om die Wartburg te verlaat en weer orde te probeer skep. Luther het die geloofsbesieling en sondebesef van die leiers erken, maar was van mening dat mens nie by uiterlike hervormings moet begin nie, maar dat vernuwing eers in die prediking moes plaasvind.

Die Zwickauers moes die aftog blaas, maar die radikalisme van Luther se volgelinge wat verder (en veral vinniger) wou gaan as hy het steeds probleme veroorsaak. Een van hierdie radikale voormalige aanhangers was Thomas Müntzer.

VET VARK!

Müntzer was eers ‘n ondersteuner van Luther, maar het weens sy radikale sienings later ‘n bittere vyand van hom geword en hom “broeder vetgemaakte vark en broeder sagte lewe” genoem! (“bruder mastschwein und bruder sanffteleben”) Müntzer se radikalisme het daartoe gelei dat hy by die kleinboer opstand betrokke geraak het en homself as ‘n Ou Testamentiese oorlogsfiguur soos Gideon beskou het. Die boere opstand is met geweld deur die vorste onderdruk en Müntzer is onthoof. Alhoewel Luther aanvanklik simpatie vir sommige van die onderdrukte kleinboere se eise gehad het, kon hy homself weens verskeie redes natuurlik nie met ‘n opstand teen die owerhede vereenselwig nie. Opstand teen die owerheid was nie met die evangelie te rym nie. Luther het verder gegaan as om net die opstand te veroordeel en het selfs die vorste op sy kenmerkende kru manier aangemoedig om die opstand te onderdruk. “Mens moet hulle stukkend smyt, wurg en steek, heimlik en in die openbaar, waar dit moontlik is, soos ‘n mens ‘n dol hond moet doodslaan!” ("Man soll sie zerschmeißen, würgen und stechen, heimlich und öffentlich, wer da kann, wie man einen tollen Hund totschlagen muß!")

Dis te verstane dat vele ondersteuners na die boere opstand wat op bloedige wyse onderdruk is, hulle rug op Luther gekeer het en van sy kant af was Luther voortaan baie meer pessimisties teenoor die massas.

DIE GEKNEGTE WIL

Luther was van alle kante in stryd gewikkel. Juis in die tyd van die boere opstand het hy met ‘n nuwe teenstander, die humanis Desiderius Erasmus te doen gekry. Erasmus was natuurlik ook erg krities oor die Roomse kerk, maar wou nie so ver soos Luther gaan nie. Erasmus is verwyt dat hy deur sy kritiek die weg vir Luther gebaan het en was dus onder druk om hom teenoor Luther te stel. Dit het hy gedoen met ‘n skrywe genaamd DIATRIBE DE LIBERO ARBITRIO (Verhandeling oor die vrye wil). Volgens Erasmus bied God sy verlossing aan elke mens aan, maar die mens is vry om dit te aanvaar of te verwerp. Luther het hierop geantwoord met sy DE SERVO LIBERO. (Oor die geknegte wil) Luther beklemtoon dat die verlossing heeltemal van God af kom en ook die menslike aanvaarding van hierdie verlossing word deur God bewerkstellig. Luther beklemtoon die magteloosheid van die mens om homself te red. In hierdie opsig pas Luther se siening in by die leerstellings wat later deur Calvyn geformuleer sou word.

‘N ONTSNAPTE NON WORD SY VROU

Die radikale vryheid en vernuwing wat die reformasie teweeggebring het is prakties gedemonstreer in Luther se huwelik met ‘n weggeloopte non, Katharina von Bora. Luther se leerstellings het natuurlik ook die kloosters bereik en Katharina en verskeie ander nonne het in die reformasie begin belangstel en ontevrede geraak met die kloosterlewe. Hulle het planne gemaak om te vlug, kontak gemaak met Luther en sy hulp gevra. Tydens Pase in April 1523 het Luther vir Leonhard Köppe wat gereeld vis afgelewer het by die klooster gestuur om te help. So kon die groepie nonne ontsnap deur op Köppe se bedekte wa tussen die visvaatjies te skuil. Binne twee jaar kon Luther huise, huwelike of werk vir al die ontsnapte nonne reël, behalwe vir Katharina. Niemand wat in Katharina belangestel het, het haar geval nie. Uiteindelik het sy vir Luther se vriend en mede hervormer Nikolaus von Amsdorf vertel dat sy net gewillig sou wees om met hom of met Luther self te trou... Nou ja, die res is geskiedenis. Sy was ‘n goeie vrou vir Luther en dit was ‘n gelukkige huwelik. Luther het haar die “morester van Wittenberg” genoem weens haar gewoonte om vier uur die oggend op te staan vir die aanpak van die baie daaglikse verpligtinge!

VERVOLGING EN VOORUITGANG

Soos die leerstellings van Luther versprei het oor die Duitse gebiede en die res van Europa het vervolging natuurlik nie uitgebly nie. Aanvaarding van reformatoriese beginsels kon tot die doodstraf lei. So is Hendrik Voes en Johan van Essen reeds so vroeg as 1 Julie 1523 te Brussels verbrand.

Waar die jare 1517-1521 as ‘n tydperk van herontdekking getipeer sou kon word, was die volgende vier jaar (1521-1525) jare van ongeorganiseerde reformasie. Daar was geen vaste program tot kerkvernuwing nie en baie het maar afgehang van die bepaalde owerhede se houding. Luther het hoofsaaklik homself opgehou met die Woordverkondiging en die erediens.

Vanaf 1523 het hy kerkliedere in die volkstaal begin skryf. Luther het ‘n baie positiewe houding teenoor musiek gehad. “Musiek is ‘n gawe en geskenk van God wat die duiwel verdryf en die mense vrolik maak.” Sy bekendste strydgesang is “ ‘n Vaste burg is onse God.” Dis lied 476 in ons Gesangboek.

By die Ryksdag van Spiers in 1526 is daar voorlopig besluit dat elke vors in sy eie gebied geloofsake moet reël soos hy homself teenoor God en die keiser kon verantwoord. So het “landskerke” los van Rome ontstaan, eers in Sakse en ook in Hesse. Die owerhede het gesorg vir organisasie, geboue en finansiering.

Tydens ‘n visitasie van gemeentes het Luther en Melanchton geskrik oor die onkunde van die leraars. Luther het probeer help met ‘n Kleine en ‘n Grote Kategismus wat in 1529 verskyn het. Die Kleine Kategismus was vir gemeentelede bedoel en het onderwerpe soos die tien gebooie, die Apostoliese geloofsbelydenis, die Onse Vader, die bieg, die doop en die nagmaal behandel. Natuurlik het Luther ook talle geskrifte die lig laat sien oor ‘n wye verskeidenheid van onderwerpe.

PROTESTANTE

Die Ryksdag van Spiers van 1529 het die besluite van 1526 herroep. Dit het in praktyk neergekom op ‘n verbod op die verdere uitvoering van die reformasie. Die minderheid van die teenwoordiges wat van Lutherse oortuiging was het hierteen geprotesteer. Die woord “protes” het bly vassteek en die Lutherane het as Protestante bekend geword. Mettertyd het die woord “Protestant” ‘n benaming vir alle nie-Roomse Christene geword.

MILSLUKTE MARBURG GESPREK

Landgraaf Filips van Hesse het gepoog om groter eenheid met reformatories gesindes in Switserse geledere te bewerkstellig en het ‘n gesprek in Marburg gereël waar Luther, Melanchton, Zwingli die hervormer van Zürich, Martin Bucer van Straatsburg en andere teenwoordig was. Oor veertien geloofspunte kon hulle by ‘n gemeenskaplike formulering uitkom, maar oor die nagmaal het die verskille bly voortbestaan. Luther het die woorde van Jesus “Dis my liggaam” baie letterlik verstaan teenoor Zwingli wat dit as simbolies beskou het.

‘n Duidelike formulering van wat die Lutherane glo het eers tot stand gekom in 1530 met die Belydenis van Augsburg. Melanchton het ‘n groot aandeel hierin gehad. Vorste en stede wat aan die Augsburgse belydenis onderskryf het, het in 1531 die Smalkaldiese Bond gestig. Die ontstaan van Protestantse en Roomse politieke groeperings het uiteindelik skrikwekkende gevolge gehad toe dit vorentoe sou lei tot oorloë met afgryslike lewensverlies en verwoesting.




Zwingli







OOR DIE GRENSE TOT BY ONS

Luther se leerstellings het ook na gebiede buite Duitsland versprei. In Swede is daar in 1527 amptelik goedkeuring gegee aan Lutherse lering met ‘n ryksdag besluit. Die broers Olaus en Laurentius Petri het hier ‘n leidende rol gespeel. Denemarke volg in 1536. Luther se vriend Bugenhagen het hier baie gehelp. Na Denemarke het Noorweë en Ysland gevolg. Ook Finland het Luthers geword, veral weens die werk van die Bybelvertaler Mikael Agricola. Dit sou ons hier in Namibië ook permanent raak. Die Lutherse kerk hier te lande se invloed is baie groot weens die pionierswerk van Lutherse Finse sendelinge soos Martin Rautanen in Ovamboland. Voor hulle het Duitse sendelinge soos Kleinschmidt, Krönlein, Hahn en baie andere reeds in die suidelike en sentrale dele onder veral die Namas en die Herero's gewerk.

LAASTE MOEILIKE JARE

Luther se laaste jare was glad nie maklik nie. Siekte, teleurstellings en stryd was tot die einde deel van sy lewe.
Sy vriend Melanchton het dinge probeer makliker maak deur als wat ergernis kon veroorsaak van hom te probeer weghou.

Luther was baie radikaal in sy uitsprake. Vir die Jode het hy baie harde en onvleiende woorde toegesnou. Hy was teleurgesteld dat hulle nou na die herontdekking van die suiwer evangelie hulle nog steeds nie bekeer het nie. Luther het herhaaldelik die pous as die “antichris” bestempel, maar nou was hy nog krasser en het gesê dat die pousdom deur die duiwel ingestel is.

In die winter van 1546 het Luther na sy geboortedorp Eisleben gereis om te bemiddel in ‘n rusie. Hy sterf daar op 18 Februarie 1546 en word in Wittenberg begrawe.

ERFENIS

In ‘n beoordeling en waardering van Luther moet mens onthou dat hy baanbrekerswerk gedoen het. Ander teoloë sou die reformasie verfyn, verder bedink en uitvoer. Anders gestel, dis baie belangrik om Luther (soos ook ander leiersfigure van die geskiedenis) in eietydse konteks te verstaan. Uiteraard sal ons bewondering vir Luther dus nooit mag oorgaan tot ‘n klakkelose navolging van als wat hy geleer het nie. Veral wat betref sy verstaan van die sakramente is daar heelwat gronde om van hom te verskil.

Nietemin, Luther se evangeliese nalatenskap is verfrissend kosbaar en het ‘n onmeetbare invloed op die Christelike kerk gehad. Dit was die voorlesing uit ‘n kommentaar van Luther op Romeine wat die evangeliese lig in John Wesley se hart laat deurbreek het...

Dis nie altyd maklik om die komplekse Luther te verstaan nie. Hy was lief daarvoor om sy gedagtes op paradoksale wyse te stel. Dit kom voor as onversoenbare teenstrydighede en kwaadwillige mense kan dit maklik verdraai ter wille van hulle eie bose bedoelings. Een van Luther se bekendste paradokse is “simul justus et peccator.” (tegelyk regverdige en sondaar) Daarmee bring Luther die duidelike Bybelse lering dat God sondaars (goddeloses vgl. Rom 4:4) vryspreek skerp na vore. God reken ons ons sondes nie meer toe nie, al is ons ver van volmaak. Dit beteken glad nie dat Luther geleer het dat Christene maar lustig kan voortgaan met die sonde nie! Hierdie uitspraak is bedoel as ‘n troos vir die kind van God wat pynlik bewus is van die voortdurende stryd teen sonde. Ons word aanvaar deur God nie op grond van ons sondeloosheid nie, maar enkel en alleen op grond van Jesus se verdienste wat uit genade toegereken word aan elkeen wat in Hom glo. (Terloops, vir die heerlike betekenis van regverdiging uit genade is Luther se kommentaar op Galasiërs bykans onverbeterlik!)

Luther het die voorrang van die Woord van God (sola Scriptura) bo alle menslike gesag en tradisies duidelik uitgespel. Die fokus op die Woord het hom gebring by die kruisteologie van Christus se genoegsame sterwe vir al ons skuld. Sy verdienste word deur die geloof alleen vir ons toegereken. Omdat gelowiges dus almal uit genade alleen deur geloof alleen gered word is ons almal priesters. Daar is nie verskil in rang tussen Christene nie, maar slegs verskille ten opsigte van ons funksie in die liggaam van Christus.

In vandag se tyd van dwalings, verwarring en toenemende afvalligheid en sekularisasie sou Luther se hoofboodskap aan ons moontlik wees : “Keer terug na God se Woord!” Die erns maak met die Woord was nie vir Luther bloot ‘n teologiese beginsel nie, maar ‘n praktiese leefstyl. So verklaar hy : “Vir verskeie jare nou het ek twee keer ‘n jaar deur die Bybel gelees. As jy die Bybel voorstel as ‘n magtige boom en elke woord ‘n klein takkie, dan het ek elkeen van hierdie takkies geskud omdat ek wou weet wat dit was en wat dit beteken.” Die Woord moet ons enigste norm en maatstaf wees vir ‘n lewe op alle terreine. ‘n Mens dink maar sommer net weer onwillekeurig aan dit wat Luther oor die onderwys gesê het : “Ek is baie bevrees dat skole die grootste poorte na die hel sal wees, tensy hulle die Heilige Skrif toegewyd uitlê en verduidelik, en dit op die harte van die jeug graveer. Ek sou niemand aanraai om sy kind na ʼn instelling te stuur waar die Skrif nie vooropgestel word nie. Elke instelling waar die mens nie voortdurend met die Woord van God besig is nie, moet uiteindelike ontaard en korrup word.” 

Wie ore het om te hoor, laat hom hoor...

En ten slotte... laat ons onthou dat die herdenking van die Reformasie nie oor mense as sodanig gaan nie, maar ons weer moet uitdaag om te fokus op die allesoortreffende genoegsame heerlikheid van ons Verlosser Jesus Christus!



*Hierdie kort skets oor Luther wil geensins voorgee om ‘n volledige weergawe van sy lewe en teologie te wees nie. Dis bloot ‘n inleidende bekendstelling en hopelik ook ‘n stimulus vir verdere leeswerk.

4 opmerkings:

  1. Ja,die Skrif is inderdaad die maatstaf waar teenoor alles gemeet moet word. Ek wonder net hoeveel kerk vandag nog glo dat die Skrif selfverklarend is. Dit is juis die essensie van die Skrif, die watermerk van die regte vertaling van die Skrif of die bloudruk van die WAARHEID. Enige vertaling van die Skrif wat nie hierdie kenmerk bevat nie, kan nie na verwys word as die SKRIF/WOORD van God nie. Die SKRIF/WOORD van God is die Verteenwoordiger van die WAARHEID wat God in ons midde geplaas het en in dit het Hy die Volle WAARHEID aan die mens openbaar, sowel as al die antwoorde op alle vrae rakende die Kennis van God Drie-Enig. Enige vertaling wat dus nie voldoen aan hierdie vereistes nie, moet dus, ek wil dit noem, SPONTAAN VERWERP WORD.
    In ons tyd van modernisering moet alles aangepas word om vir die MENNS aanvaarbaar te wees. Vertalings word onder die voorwendsel gedoen sodat die mense die Skrif beter kan verstaan, Tog sien jy nie dat die mens dit gekry nie. My vraag aan die Vertalers van die Skrif is: "Verstaan jy die Skrif of het jy die kennis van die Skrif, sodat jy dit vir die mens eenvoudiger kan oordra. My stelling is: Dat enige mens wat werklik die kennis van die Skrif het, dit nie het uit homself nie, maar van God af gekry het. Die mens sal die eerste wees wat vir jou getuig dat die Skrif op geen ander manier vertaal kan word as 'n letterlike vertaling van die oorspronklike Skrif nie.
    Duisende "Bybel Vertalings" wat in ons tyd na vore kom, veroorsaak dat die mens toegang tot die waarheid verloor het en dus KAN HIERDIE Bybels nie meer gebruik word as die maatstaf vir/van die Waarheid nie, omdat daarin GEEN WAARHEID IN IS NIE.

    AntwoordVee uit
  2. Uitstekende en baie leersame artikel wat wyd bekend gestel behoort te word.

    AntwoordVee uit
  3. Johannes. Ek ondersteun Jan Louw se gedagte. Wil jy nie hierdie artike met aanvulling oor 'aanvegtinge' en 'aflaatstelsel' in 'n boekvorm laat publiseer nie. Ek sal dit graag in die hande van elke lidmaat wil sien in ons eie gemeente. Maar ook vir die res van die kerk. Dit hoef nie 'n dik boek te wees nie. Dis 'n smeek versoek. Coen Sutton

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Sjoe, Coen dis lekker om van jou te hoor en dankie vir die positiewe waardering. Van 'n boek uitgee weet ek darem nie (dis 'n baie duur onderneming). Dit staan jou natuurlik vry om met die inhoud te maak wat jy wil en dit te vermeerder en te versprei soos jy wil... Groetnis.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.