IN GOD SE KONINKRYK!
Baie mense loop met ‘n skewe
idee rond – dis die idee dat God in die Ou Testament baie heilig en streng was,
maar in die Nuwe Testament vandat Jesus gekom het, is God nie so streng en
heilig nie, God is nou net liefde; so ons hoef nou nie meer so erg heilig te
wees nie. En verder, so word geredeneer...Paulus
stel dit mos duidelik dat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die
genade – so ons hoef die opdragte in die Bybel nie meer so ernstig op te vat
nie, want Jesus sal mos maar net verstaan as ek nie vrede wil maak met my
buurman nie, Jesus sal verstaan as ek maar so af en toe vir ’n ander vrou loer en die kat in die donker
knyp... (veral by geleenthede soos die Visfees, Wildsfees of agter die skuur na
die onskuldige boeredans...)
Maar wat sê Jesus self? In die Bergrede (Matteus 5-7) vertel Jesus aan mense hoe om toegang te verkry tot die Koninkryk van God. Die grondbeginsels het Hy nou reeds neergelê in die Saligsprekinge (5:3-12) Die basiese lering daarin is – “Julle moet besef julle kwalifiseer nie vir die Koninkryk nie...treur daaroor! Julle het ’n groter geregtigheid, rein harte nodig wat net Jesus vir julle kan gee. Alles draai om Jesus en julle sal weet julle behoort aan Hom as die mense julle vervolg en beledig ter wille van Hom! Nou werk Jesus die praktiese implikasies van die saligsprekinge verder uit.
Jesus het dit reeds duidelik gestel dat ’n groter geregtigheid as die van die Fariseërs vereis word om in te gaan in die Koninkryk. (20)
"Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie."
Wat bedoel Jesus? Iets meer as net wetsgehoorsaamheid i.t.v. die Ou Verbond is
nodig vir die nuwe bedeling van die Koninkryk. Die fariseers het nog net gebly
by die letter van die Ou Verbond m.a.w. hulle was tevrede dat as ek nie iemand
doodgemaak het nie, dan was ek gehoorsaam aan die sesde gebod – “Jy mag nie
moord pleeg nie” of as ek darem nou nog nie fisies egbreuk of owerspel gepleeg
het nie, dan was ek gelukkig darem nie skuldig aan die sewende gevod van “Jy
mag nie egbreuk pleeg” nie. So as ek by die tegniese reëls van die tien gebooie
en ander wette gehou het, was ek eintlik oraait en het God van my gehou.
Jesus gooi nou die appelkar om en skok almal. Hy stel nou sy leringe teenoor die Wet van Moses. Die Fariseërs se gebooie was nog net die gebooie van die Ou Verbond - Jesus bring die Nuwe Verbond tot stand en die standaarde daarvan gaan verder as die wet van Moses. Hy verwerp dit nie, Hy gaan net verder en dieper! Jesus stel ’n duidelike kontras...“Julle het gehoor...... maar ek sê vir julle” (Terloops - Jesus sê : “Julle het gehoor” , want onthou die meerderheid van die skare wat hier na Jesus luister, het nie die wet gelees nie, maar dit gehoor het in die voorlesings in die sinagoges.)
Kom ons kyk nou na Matteus 5:21-26 :
“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.
“Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.
Die eerste voorbeeld van Jesus se hoër standaard kry ons
in sy hantering van die sesde gebod “Jy mag nie moord pleeg nie” Hierdie
gebod impliseer dus duidelik dat ’n moordenaar skuldig staan. Die wet het iemand
wat moord pleeg onontkombaar en regmatig tot veroordeling en straf verdoem.
Nou kom Jesus – “Ek sê vir julle.” Jesus stel sy uitspraak op die selfde vlak as God se uitspraak in die sesde gebod. (Hy kan dit doen want as die nuwe Moses, ja groter as Moses, as die Seun van God, het Hy Goddelike volmag!) Op skokkende wyse verklaar Jesus elkeen skuldig wat boos optree teenoor sy broer. In hierdie konteks gaan dit oor elke mede Israeliet. Jesus praat met die skare uit Israel. In ons konteks gaan dit in die eerste plek oor onmin tussen gemeentelede – die volk van God in die Nuwe Verbond.
Jesus lê sy vinger op alle konflik, kwaaivriendskap, onmin, aggressie, beledigings en woede. Woede as sodanig is nie deur die wet van Moses veroordeel nie, maar volgens Jesus se hoër standaard is sulke woede ’n ernstige oortreding. Moord het in die Ou Testament doodstraf verdien, Jesus verklaar onregverdige woede tot ’n halsmisdaad in die Koninkryk van God. Die beledigings “Raka” (nikswerd/gek, "jou stupid") en “dwaas” moet nie te sterk teenoor mekaar afgespeel word nie (die betekenis is maar min of meer gelykwaardig) – dis waarskynlik gekies vir woordvariasie.
Die punt is - Volgens Jesus is ’n
slegte beledigende woord teenoor jou broer al ’n saak vir die hoogste regbank en verdien
dit ’n vonnis wat verder gaan as die
hoogste straf op aarde naamlik die helse vuur . Gehenna verwys na die stinkende
en smeulende ashoop in die Himnon dal wat ‘n kragtige en afgryslike metafoor
vir die hel is.
Deur die erns van broederlike onmin so sterk te stel beklemtoon Jesus maar net weer wat Hy reeds in die Saligsprekinge gesê het oor die sagmoediges en die vredemakers!
Besef ek en jy die erns van Jesus se
lering hier? En wat gaan ons hieraan doen? Jesus gaan nou voort en gee ’n positiewe
opdrag wat voortvloei uit hierdie besondere hoë standaard van die Koninkryk
waar dit gaan oor menseverhoudings. Dis so ’n ernstige saak - wel, “Gaan
versoen jou met jou broer!” Dis ‘n Goddelike opdrag! God duld nie ’n bose
gesindheid teenoor mekaar nie! Die oplossing is : spoedige versoening!
Versoening weeg vir God so swaar, dis selfs belangriker as ’n offer! Hierdie
moes ’n skokkende uitspraak gewees het vir ’n skare wat gewoond was aan offers en geweldig onder die
indruk was van die heiligheid en gewigtigheid van ’n offer. Die gedagte dat ’n
offerhandeling eers onderbreek moet word om met ’n broer te gaan versoen sou na
heiligskennis/lastering klink. Jesus wil
hulle dus goed laat verstaan, dat om onversoen te bly met ’n broer in God se oë
nog ’n groter heiligskennis/lastering, ’n groter euwel is! Kon Jesus dit nog
ernstiger gestel het? Gaan ons hoor wat Hy vir ons wil sê?
Nog ‘n keer beklemtoon Jesus die dringende noodsaaklikheid van onderlinge versoening in die praktiese beeld van 25-26. Die noodsaaklikheid van versoening word beskryf in die lig van dreigende straf. Wees goedgesind, welwillend, maak vrede, word weer vriendelik teenoor jou teenstander, opponent. Doen dit haastig sonder versuim (net soos in die voorbeeld van iemand wat gaan offer). Jesus verduidelik die saak met ’n alledaagse praktiese beeld van teenstanders wat op pad is na ’n regter om tussen hulle te beslis. Die punt is - ’n Spoedige tydige skikking is in jou belang! Onversoendheid laat ’n mens vir ewig skuldig staan voor God!
Versoening met mekaar is nie ’n ekstra of ’n luukse nie. Dis ’n allernoodsaaklikheid.
Daar is geen toegang tot die Vader sonder versoening met die broer nie!