BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 03 Maart 2022

GAAN ONS LUISTER NA DIE GEES?

- dis 'n saak van erns! (maak jou Bybel oop)

Verlede jaar het ons, hier in die NGK Tsumeb (dolerend) vir sewe weke saam gekyk na die boodskap van die briewe aan die sewe gemeentes in OPENBARING 2,3. Hopelik het dit ons diep laat nadink. Hopelik gaan dit daartoe lei dat ons dinge anders gaan DOEN in ons gemeente. Ons gaan nou net so bietjie oorsigtelik kyk na die sewe briewe se kern punte.

Dis ’n saak van erns. Aan die einde van elke brief lees ons telkens - “Laat die wat ore het luister na wat die GEES aan die gemeentes sê” (2:29 ens) Baie insiggewend, die Heilige Gees praat met ons deur die Woord. Hierdie Woord wat ons in ons hande het, wat ons nou hoor! Dis die stem van die Heilige Gees van God! Dis nie maar ‘n menslike opinie nie. Wee, ons as ons dit ignoreer!

Wat is die boodskap wat Jesus deur die Woord en die Gees aan ons bring? Eerstens. Jesus weet als van ons... Dis 'n deurlopende waarheid en tema. 'n Refrein deur die briewe…“Ek ken julle...” Jesus weet van die goeie dinge, maar ook van die slegtes. Hy sien en weet wat mense nie sien en weet nie. Hy is immers die Oorwinnaar Verlosser wat tussen die staanlampe (gemeentes) wandel… ons is sy eiendom. Ons moet sy opinie en opdragte ernstig opvat.

Jesus prys sy gemeentes en moedig hulle aan. Die dinge wat uitstaan waarvan Hy hou kry ons byv 2:2,3; 2:13; 2:19. Belangrik -Jesus kyk anders as mense. Vir ‘n gemeente wat arm is, prys Hy dat hulle eintlik ryk is. 

Hoor wat skryf Hy vir Smirna- 2:9 Hulle besit ware evangelierykdom al is hulle materiaal maar sleg daaraan toe. Terloops, Hy raas met nie een gemeente oor hulle lidmaatsgetalle of hulle geld te min is nie! (Oeps,... is dit nie die eerste dinge waaroor ’n kerkraad bekommerd raak nie?) Aan die anderkant is die gemeente van Laodisea ryk, maar eintlik is hulle geestelik bankrot. 3:17,18 Die ergste is, hierdie geestelik bankrot gemeente besef dit nie eers nie, hulle is selfvoldaan en heeltemal gelukkig met hulle self. Weereens Jesus kyk anders as ons. Ons kry dit ook in die brief aan die gemeente van Filadelfia (3:8b) Dit lyk maar na ‘n swak en onbeduidende gemeentetjie, maar eintlik is hulle sterk en word hulle geprys vir hulle volharding.




Jesus vermaan en waarsku sy gemeentes baie ernstig. Dis soms baie kras en kru. (2:4,5) Hierdie gemeente van Efese het wonderlike volharding en liefde vir die waarheid betoon, maar hulle het afgekoel in hulle persoonlike liefde vir Jesus. Hulle het die regte dinge gedoen, maar daardie eerste opgewondenheid oor Jesus was nie meer daar nie! Gevolge… skrikwekkend! Een van die verwyte wat telkens na die gemeentes kom is dat hulle dwalinge en losbandige gedrag in hulle eie geledere toelaat. 

Let op – Jesus raas nie oor die boosheid en goddeloosheid wat rondom hulle in die wêreld aangaan nie, Hy betig hulle oor die slegte dinge wat binne die kerk toegelaat het. (2:14; 2:20) Die probleem is dat daar nie meer dissipline en tug binne die gemeentes toegepas word nie. Almal word maar toegelaat om te leef soos hulle wil. Is dit nie baie aktueel nie? Een van die ergste beskuldigings teen ‘n gemeente kry ons in die brief aan Sardis. (3:1b) ‘n Aktiewe gemeente met ‘n goeie naam, maar in Jesus se oë is hulle dood!

Belangrik. Wat is die doel van Jesus se waarskuwings en bestraffings? 

Jesus se motief is liefde en sy doelwit is bekering!  



(Ook wanneer ons dit nodig vind om ander aan te spreek moet dit ons motief en doelwit wees!) Hoor ons – mense binne die kerk word opgeroep tot BEKERING. Waaroor gaan hierdie bekering? Dit gaan oor ‘n terugkeer na Jesus self. Om Hom weer lief te hê, om kerk te wees uit liefde vir Hom. (2:4,5) Dis erg – ‘n gemeente wat steeds aktief is en by die waarheid staan, maar wat nie meer opgewonde oor Jesus is nie. Maar daar is nog erger toestande van verval- soos wat in Laodisea gebeur het - dat ‘n gemeente van Jesus in so ‘n toestand van selftevredenheid kan verval dat Jesus eintlik buite staan. Dink daaraan – ‘n gemeente van Jesus, maar daar is nie meer plek vir Hom nie. Jesus staan buite sy eie gemeente. En tog – Jesus het selfs hierdie gemeente nie afgeskryf nie, maar nooi hulle uit om weer die gemeenskap met Hom te herstel – 3:20. 




Terloops, in hierdie sewe briewe kom ‘n baie belangrike waarheid na vore – nêrens en nooit roep Jesus lidmate op om hulle van ‘n dooie of vervalle gemeente af te skei nie. Ja, jy hoor reg – nêrens nie! Die opsie van afskeiding van ‘n gemeente – en onthou in sommige van hierdie gemeentes soos Sardis en Laodisea het dit beroerd sleg gegaan – word nie eens as ‘n uiterste alternatief genoem nie! Nee, die gemeente word tot bekering en vernuwing opgeroep! Die probleme, sonde, doodsheid en louheid moet binne in die gemeente reggemaak word.

Waarom is bekering en volharding so belangrik? Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Telkens word daar die heerlikste Goddelike beloftes gemaak aan wie oorwin! (2:7b; 3:21) Ja, God se mense is in ‘n stryd betrokke. Daar is geen maklike pad na die nuwe Jerusalem nie. Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Daar is ‘n heerlike ewige beloning vir die oorwinnaars. Ons mag dit nie misloop nie. Daarom moet ons die boodskap van Jesus aan sy gemeentes ernstig opneem, ons bekeer van alles waarvan Hy nie hou nie en volhard te midde van versoekings en swaarkry. (3:11) 

Ons moet mooi luister en vinnig reageer… Dit het baie laat geword! Jesus se koms is naby. Gaan ons luister na die Gees…?

Dinsdag 22 Februarie 2022

DIE EEN GROOT HAAKPLEK

- wat keer dat jy vergifnis en vrede beleef!

Die grootste ontdekking wat ‘n sondaar kan maak is die ontdekking van vergifnis! Dis die heerlike boodskap van Psalm 130. Dit bevry jou uit die diep put van moedeloosheid, selfverwyt, depressie en desperaatheid… ja, dit bevry jou van die angste van die hel. Anders gesê, almal wat in die hemelse Koninkryk sal ingaan, het een gemeenskaplike deler – dis almal wat vergifnis ontvang het! Toegang tot die Koninkryk hou direk verband met genade en dis deur genade dat ons vergifnis ontvang!

Tog lyk dit asof die geskenk van vergifnis party mense net ontwyk. Die lig van vergifnis wil net nie deurbreek nie. Miskien sê jy – "ek het my sonde voor God bely, Ek vertrou op Jesus, ek het Hom aanvaar, ek stel nie meer my hoop in myself nie, maar alleen op die verdienste van sy kruisdood… en tog, ek het nie vrede nie, ek sukkel om te beleef dat ek vergewe is…" Wat is fout?

In Matteus 6:14 en 15 kom daar ‘n baie belangrike uitspraak uit die mond van die Here Jesus. 




 Dis ‘n baie direkte skokkende uitspraak. En dis nie die enigste plek waar Jesus ons vergifnis wat ons by God kry, koppel aan die vergifnis wat ons aan ander mense moet gee nie. “En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.” Markus 11:25

Hierdie uitspraak oor vergifnis in Matteus, volg soos ons gesien het op die Onse Vader gebed. Volgens die verklaarder Van Bruggen gaan dit oor meer as net ‘n voetnoot op die een bede. Dit sluit aan by die Onse Vader gebed as geheel. In die Onse Vader gaan dit soos in die res van die Bergrede oor die groot saak van INGANG TOT DIE KONINKRYK VAN GOD! Om in die koninkryk in te gaan het ons genade nodig. Dis die enigste pad na die koninkryk. Genade, wat natuurlik die ontvangs van vergifnis behels. As ons wat bid om in die koninkryk te mag ingaan, hardvogtig en sonder genade is, dan kanselleer ons as’t ware ons eie gebed. As ons genade en vergifnis aan ander weier sal dit ook aan ons geweier word. 


Dis eintlik ‘n bevestiging van wat Jesus reeds in die inleiding tot die Bergrede geleer het. “Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.” (5:7) Sien jy, ook hier is ‘n duidelike verwantskap tussen die barmhartigheid wat ons aan ander gee en die barmhartigheid wat ons van God ontvang! Anders gestel - Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit ook aan ander mense!* Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie sê dus maar net ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie. Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus in Jesus glo. 



Martyn Lloyd-Jones  sê dit so :“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins , and I am unforgiven” Skrikwekkende woorde, maar so waar!






Gaan jy erns maak om ander te vergewe? Die groot beswaar is mos : “Ek kan nie, want ek voel nie so nie!” Ons moet duidelik verstaan – vergifnis is nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit in gehoorsaamheid aan God se opdrag. As ek waarlik my eie sonde voor God besef, as ek besef ek verdien nie vergifnis nie, maar God gee dit vir my uit genade omdat Jesus met sy lewe betaal het, omdat Jesus my straf aan die kruis gedra het... as ek weet dat ek absoluut afhanklik is van God se genade en vergifnis – dan kan en sal ek besluit om ander te vergewe. Dis nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit/keuse om niks meer teen die ander persoon te hou nie. Dis ’n besluit wat ek aan die voet van die kruis neem, wetende dat ekself ook nie God se genade verdien nie! In elk geval die sondes waarvoor God my vergewe is baie kleiner en minder as die sonde wat die ander persoon teen my gepleeg het.

As ek vergifnis aan ander weier dan wys dit eintlik maar net dat ek nog nie ’n eerlike skuldbesef het van die grootheid en aakligheid van my eie sonde nie. As ek aanhou om wraakgedagtes te koester dan kan ek hoegenaamd nie die Onse Vader bid nie, want dan wys dit maar net dat my eie eer en ego belangriker is as die heiligheid en eer van GOD se Naam! Met onvergewensgesindheid kan ek nie opreg bid : “Laat U Naam geheilig word.” nie! 


 My bitterheid belemmer my gebed as geheel.



Laat die bitterheid in jou lewe vervang word deur – Bedink, Berou, Besef, Bely en Besluit!

Bedink dus eers die erns van jou eie sonde. Hoe groot is my sonde! Ek het al tien van God se gebooie op een of ander manier oortree. Ek het God nie so lief soos ek moet nie, ek het my medemens nie so lief soos myself nie. Mag God jou dan berou skenk, ware berou soos die van Dawid en Petrus... wat mens laat uitroep om genade!

Besef dat jou enigste hoop lê in die vergifnis wat jy van God ontvang, omdat Jesus vir jou gesterf het toe jy nog ‘n sondaar was.

Bely jou sonde en bring dit na Jesus. En vertrou volkome dat Sy sterwe ’n genoegsame offer was daarvoor.

Besluit om dan die vergifnis wat jy van God nodig het, ook aan ander te skenk – maak nie saak wat jou eie gevoelens is nie! Dit gaan oor gehoorsaamheid en nie gevoel nie!


Saterdag 29 Januarie 2022

Boerseun van Migdol

My hart breek vir my Boerevolk wat so herderloos en leierloos is dat hulle na enige strooihalm gryp en die naaste of luidrugtigste valse profeet omhels. Die sogenaamde boerseun van Migdol (ene Japie van Zyl) is ‘n tipiese voorbeeld van laasgenoemde.

Japie herhaal al die ou dwalings en geykte ketterye van die Israelvisie en die Neser volgelinge, (kliek ISRAELVISIE) maar hy gaan ook nog verder. Hy bespreek Lukas 23 vers 34 en maak dan ‘n skokkende uitlating. Kom ons lees eers die teks. Kyk na al drie Afrikaanse vertalings. “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Ou Afrikaanse Vertaling) “Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" (1983 Vertaling) Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (2020 Vertaling) En sommer ook 'n Engelse vertaling. “Then said Jesus, Father, forgive them; for they know not what they do.” (King James) Japie beweer dat hierdie teks opsetlik verkeerd vertaal is en dat die Griekse negatief “ouvertaal moet word as sou Jesus gesê het “Vader vergeef hulle nie, want hulle weet wat hulle doen.” Nou ja, vir twee duisend jaar vertaal alle vertalings dit verkeerd, maar kenner Japie van Migdol weet nou skielik hoe om dit reg te vertaal! Hy sê “hulle” het dit doelbewus verkeerd vertaal. Ek vra jou Japie, wie is die hulle? (Die King James vertalers in die 1600’s. Totius of wie?) Het Japie al ooit Grieks 1 bestudeer en geleer dat woordorde in Grieks en Afrikaans verskil? Interessant dat Japie die woord “blerrie” gebruik in sy tirade oor die kwansuise verkeerde vertaling! Het profeet Japie se ouers hom nooit geleer dat “blerrie” ‘n lasterlike woord is wat afgelei is van “the bloody Christ” nie? Skaam jou Japie! Gaan was jou mond met seep, skryf in vir Grieks 1, maar belangriker, bekeer jou tot Jesus Christus!

Hoekom maak Japie sulke bewerings? Hy moet die Bybel laat inpas by sy nasionalistiese godsdiens van haat. Hy vergeet dat Jesus hier aan die kruis sy vyande vergewe, en vir hulle bid net soos Hy dit van al sy volgelinge verwag. “Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg," (Matteus 5:43,44) Japie het seker ook nog nooit raakgelees nie dat die martelaar Stefanus tydens sy steniging Jesus se voorbeeld gevolg het, en ook vir sy vervolgers gebid het! “En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” (Handelinge 7:60)

Dis nie al nie... Japie ontken die basiese kernleerstelling van die Christelike geloof naamlik die Drie-eenheid. Hierdeur plaas hy homself buite die grense van die historiese Christelike kerk.

Japie is ‘n misleier en ‘n verdraaier van God se Woord. Mag die Here hom ware bekering skenk.

Ek treur oor almal wat Japie se onkunde opslurp... hierdie nonsens gaan nie vrede tussen jou en God bring nie. Kom ek stel dit nog eerliker... as jy hel toe wil gaan, luister na Japie...

Woensdag 12 Januarie 2022

HET JY DIE MERK?

Ek gaan nie oor nuwejaarsvoornemens praat nie... ek wil net vir jou vra:


“Het jy die merk?” Gaan jy met die regte merk in die nuwe jaar in? Die kruisie op die voorkop wat tel? Die profeet Esegiël sien hoofstuk 9 ’n visioen van God se oordele oor Jerusalem. Dis ’n oordeel wat almal gaan tref...oud en jonk, man en vrou. Dis ook opvallend dat God se oordele by sy tempel, sy heiligdom begin het. Ja, dis dikwels so - in die aanbiddingsplekke, onder God se mense word die grootste gruwels aangetref! Die goddeloosheid het binne die tempel plaasgevind. Die konteks en agtergrond van die oordeelsaankondigings in Esegiël 9 God se oordeel weens die afskuwelikhede wat in Jerusalem aangaan wat breedvoering in hoofstuk 8 beskryf word.




Almal gaan geoordeel word behalwe diegene wat gemerk is! (6) 








DIE VRAAG

Die interessante en baie belangrike vraag is : Wie is die gemerktes wat die oordele van God sal vryspring? Wie gaan gered word? Waaroor gaan die merk van God?

DIE ANTWOORD

Ons vind die antwoord in vers vier.


 Dis almal wat sug en kla oor die ongeregtigheid. Dis met ander woorde die mense wat ontsteld, verontwaardig en hartseer is oor die sonde wat rondom hulle aangaan. Dis diegene wat nie met die sonde saamstem en kompromie maak nie. Dis diegene wat stroomop swem – en nie saam met die stroom afdryf nie!



God se ware kinders kan uitgeken word aan die feit dat sonde en die gevolge van sonde hulle ontstel, bekommerd maak, hartseer maak, met weersin en afgryse vervul. Sonde is ’n pyniging vir ’n regverdige! Die sonde in die samelewing kan nie ongesiens by God se kinders verbygaan nie. Dit raak ons elkeen wat Jesus liefhet.

Dis ‘n waarheid wat dwarsdeur die Skrif na vore kom. Kyk na 'n paar voorbeelde :

Psalm 119:53 “Woede het my beetgepak oor goddeloses – hulle wat U wet verlaat.”

Lot se siel word gepynig deur die goddeloosheid wat hy moet aanskou in Sodom. 
2 Petrus 2:7 “Terwyl hy (Lot) tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ‘n foltering was vir sy opregte gemoed.”

Ware kinders van God is ontsteld oor sonde, want....

Ons besef sonde tas God se eer aan. Dis opstand teen God, dis ’n vertrapping van sy goeie en heilige wette. Sonde beteken eintlik dat klein mensies hulle vuis wys vir die Almagtige God en Hom uittart. Skrikwekkend!

Ons weet dat dit Jesus se bittere smart en kosbare bloed gekos het om ons sondes te vergewe. Sonde is dus ’n belediging van Jesus se liefde en genade. Dis ’n gruwelike ondankbaarheid teenoor Jesus wat sy lewe vir ons gegee het. Dis vreeslik en afgryslik ondankbaar as mense onbeskaamd net aangaan met sonde!

Ons beleef en sien sonde is ’n verwoestende en verslawende mag. Dit veroorsaak soveel ellende en hartseer in huwelike, huisgesinne, gemeenskappe. Dit maak mense seer en nog erger dit skend God se beeld in die mens en maak dat ons erger as diere optree. Dis ‘n parasiet wat als besmet...als wat deur God goed en mooi gemaak is ly onder hierdie parasiet – huwelike, gesinne, menseverhoudings, besittings, geluk, vrede.... als word aangetas deur hierdie parasiet. Dis een aaklige toneel van verwoesting en ellende!

Ons weet sonde is gevaarlik want dit bring God se wraak oor mense en lei tot ’n ewige hel. Mense wat aanhou sondig en die plesier van sonde geniet is soos motte wat al nader aan ’n kersvlam vlieg. Die mense wat nou in sonde volhard en sonde geniet is op ’n glyplank wat sonder dat hulle besef eindig in ’n bodemlose afgrond van ewige duisternis en pyn. Onkundig en niksvermoedend is hulle op pad na ’n grusame bestemming!

Sonde keer dat ons ons skeppingsdoel bereik naamlik om Hom te eer en te loof en te prys. Sonde keer dat ons ‘n ware loflied met ons lippe en ons lewe tot God kan sing.

Ek as kind van God weet (en dis baie persoonlik) - hoe maklik ekself vir die leuens van die duiwel val en self kan struikel en sondig. En ek weet watter hartseer dit veroorsaak... Daar is NIKS goeds in sonde nie!

Dis waarom die profeet Jesaja so diep bedroef was oor sy eie sonde en sy volk se sonde. Nadat hy die heerlikheid van God gesien het roep hy uit : “Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is;” Jesaja 6:5

ONTSTELD?

Ontstel sonde jou nog? Maak dit jou hartseer en kwaad? As dit nie die geval is nie, moet jy ernstig selfondersoek doen of jy self al die genade van God aanvaar het. Of jy self al vergifnis en bevryding van sonde beleef het. Daar is niks mooi of positief in sonde nie! Ons durf dit nie ignoreer nie, ons durf nie daaroor grappe maak nie! Ons moet dit tog net nooit gewoond raak nie...

MERK VAN DIE DIER


Baie mense is bang vir die merk van die dier. Die eintlike vraag moet wees : "Het ek God se merk? God se merk is presies die teenoorgestelde as die merk van die dier. Die merk van die dier is kompromie- die 666 op die voorkop en op die hand - dink soos die wêreld, doen soos die wêreld. God se kinders wat sy merk dra is die wat NIE kompromie met sonde maak nie, maar daaroor treur, sug, ontsteld en verontwaardig is!

Ontstel sonde ons nog? Maak dit ons nog seer as God se wette vertrap word en sy liefde geminag word? Net ’n praktiese vraag... As sonde jou met afgryse vervul hoe kan jy dit geniet om daarna in die sepies te kyk? Hoe kan jy dit geniet op plekke soos die dansbaan en drinkpartytjies waar sonde uitgestal en gevier word? As ons nie ontsteld is oor sonde nie, is daar net een gebed wat ons moet bid : “O, God skep vir my ’n rein hart!” Psalm 51 Kom ons maak dit ons gebed vir die nuwe jaar! Mag ons die erns van sonde besef en daarvan bekeer. 

Kom ons vlug met ons sonde in berou na Jesus. Sodat Hy ons kan merk met die Heilige Gees... dan alleen is ons veilig teen die oordele van God!

Maandag 03 Januarie 2022

Dis amper dag – word wakker!

- die boodskap wat 'n bandelose jongman tot sy sinne geruk het, en wat elkeen van ons nodig het om weer te hoor...

Elke minuut, elke dag, elke jaar wat verby is bring ons nader aan die groot en heerlike dag van Jesus se wederkoms. Dis die dag van ons finale verlossing. Besef jy die implikasies daarvan? Maak dit jou opgewonde? Raak dit jou gedagtes en leefstyl en beplanning?

Paulus praat hier in Romeine 13:11-14 met mense wat reeds God se kinders is – “ja, ons verlossing is nou nader as toe ons tot geloof gekom het.” En dis hierdie kinders van God vir wie hy nou aanmoedig om wakker te word. (11a) 


Hier is ‘n dringendheid in Paulus se spraak. Mense daar is nie nou meer tyd vir sluimer en slaap nie! Word wakker, staan op! Inderdaad, kinders van God, ja mense wat waarlik die verlossing in Jesus beleef het, word maklik slaperig, lui, laks en lam! Die simptome daarvan is kompromie met sonde… “Ag dit en dat is darem nie so erg nie! Ag ons hoef darem nie so streng en eng te wees nie…” en dan begin ons saamdoen met die sondige wêreld rondom ons. Dis egter nie net verkeerde dinge wat ons doen nie, maar ook sondes van versuim – dinge wat ons nalaat… ons raak meegevoer deur die partytjie en vermaaklikheidsgees van hierdie wêreld, deur die groot afgod van “entertainment” en dit stomp ons af en bederf ons verlange na God en sy dinge– ons begin die Woord en gebed en die gemeenskap van die gelowiges afskeep. Kyk maar dis die dinge wat menige Christen se val voorafgaan. Dis die gevaartekens… "ag, ek is nou nie lus vir die Bybel nie, nie lus vir ware gebed nie, nie lus vir die erediens nie…"

DRIE TYE

Paulus herinner ons – die finale verlossing is voor die deur! Die Bybel praat in drie tye oor die verlossing van God se kinders –





Verlossing is iets wat reeds afgehandel is, soos  ons dit kry in Efesiërs 2:8; 











Verlossing is iets wat nou besig is om te gebeur soos 1 Korintiërs 1:18 dit stel.




 









Verlossing is iets wat nog in die toekoms sal gebeur volgens Romeine 5:9.






DRINGEND BELANGRIK

Paulus herinner ons. “Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag.” (12) Dis ‘n metafoor wat Paulus gebruik om dit onder ons aandag te bring dat hierdie huidige bedeling op hierdie aarde nie vir altyd gaan duur nie. Hierdie wêreld met sy sondeduisternis en ellendes gaan nie vir altyd aangaan nie. Die finale en heerlike voltooiing van ons verlossing kom al hoe nader! Hierdie feit moet julle laat wakker skrik. Hierdie feit moet ons leefstyl laat verander. Ons lewens moet pas by die dag wat aan die kom is. Die gewoontes en lewenswyse van die nag moet ons van ontslae raak. Kies teen die duisternis, kies vir die lig. Ja en onthou dit behels ‘n stryd. Maar ten spyte van hierdie stryd moet ons ‘n lewe leef wat by die daglig van Jesus se heerlikheid en verlossing pas. En dan raak Paulus baie prakties. Hy noem konkrete dinge wat deel is van die duisternis en glad nie meer pas by ‘n kind van die lig nie. Dis baie aktuele dinge. Destyds en nog steeds. (13)





Dis drie groepe van sondes wat hy hier noem. 

Eerstens - gefuif en dronkenskap – dis sonde van selfsug en gebrek aan selfbeheersing. Dis ‘n meesleuring deur die vermaak en plesier van die oomblik – ‘n verslawing aan “entertainment.” Wilde drink partytjies en uitspattigheid. 

Tweedens - “ontug en losbandigheid.” Dit gaan oor alle vorme van sedeloosheid en seksuele losbandigheid. Dit skyn mos die hoogste ideaal en norm van ons tyd te wees – doen als waartoe jou luste jou lei. Hoerery is maar reg. Daar is geen respek vir God se ordes oor die huwelik en reinheid nie. Dis ‘n goedkoop bandelose rondgefladder van een persoon na die ander. Die geboorte van buite egtelike kinders word selfs toegejuig op sosiale media! Die opperste vorm van rebellie teen God se wette en die aakligste vorm van selfsug. 

Derdens. “rusie en afguns” Onmin en gevegte tussen mense. Dis alle vorme van liefdeloosheid wat uit harte van haat en jaloesie opborrel en jou medemens skade aandoen. Dis alle vorme van geweld – van skinder en minagting tot openlike vyandskap en moord! 

Al hierdie voorbeelde in Paulus se lys vorm deel van die domein van die duisternis! En al hierdie sondes kom neer op ‘n mislukking van egte liefde, die oortreding van die liefdesgebod teenoor jou medemens! Paulus verwys in die voorafgaande gedeelte na die liefdesgebod. (10) 


Al hierdie dinge kom neer op ‘n flagrante oortreding van die liefdesgebod. Wie homself aan hierdie sondes skuldig maak, wys dat hy nie omgee vir sy medemens nie en dus ook nie omgee vir God nie.






TREK JESUS AAN!

Paulus stel teenoor hierdie bose lewe ‘n heerlike alternatief. (14a) “Beklee julle egter met die Here Jesus Christus.” Dis ‘n kragtige metafoor vir radikale toewyding – trek daagliks vir Jesus aan! Dis ‘n daaglikse assosiasie en identifisering met Jesus. Wees soos Jesus. Dis meer as net ‘n eenmalige besluit – dis ‘n daaglikse volg van Hom, dis ‘n daaglikse bekering om te kies om Hom te gehoorsaam, dis ‘n daaglikse wandel met Hom en die opsoek van sy teenwoordigheid. Dis ‘n lewe van oorgawe aan Jesus, wat daaglikse dissipline behels. En let op hierdie navolging van Jesus gaan saam met ‘n baie sterk keuse teen alle vorme van sonde! (14)


VERKLAAR OORLOG TEEN ALLE SONDE!

Moenie ruimte vir enige sonde in jou lewe maak nie! Moet op geen manier eers vir die moontlikheid van sonde beplan of voorsiening maak nie. Gun die sonde geen duimbreedte nie. Reeds as sonde net by die voorhekkie verskyn, jaag dit weg dan sal dit nooit in jou huis en lewe kom nes maak nie! Bewaar jou gedagtes, wees versigtig wat jy luister, kyk en lees… Roei elke geringste teken van sonde uit! 


Mag ons vers 14 onthou as ‘n duidelike koerswyser vir die nuwe jaar.
Mag hierdie oproep van die apostel Paulus ‘n kragtige verskil in jou lewe maak, net soos dit baie eeue vantevore gelei het tot ‘n lewensveranderende bekering by die latere beroemde kerkvader Augustinus! Hy was ‘n regte bandelose rokjagter maar hierdie woorde het hom tot besinning geruk en hy het ‘n nuwe mens geword!


Ware voorspoed en seën vir die nuwe jaar!

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD



Donderdag 04 November 2021

EK TWYFEL...

WAT NOU?


Kan God se ware kinders tye van twyfel beleef? Kan egte gelowiges se geloof wankel? Die antwoord is JA! Ons is baie keer skaam of bang om daaroor te praat, maar dis die realiteit. 

Spoel die golwe van twyfelangste oor jou? Is jy dalk vasgevang in ‘n wurggreep van twyfelaanvegtinge? Ek vertrou die Woord gaan vir jou HOOP bring! Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van twyfel by God se kinders. Die Bybel is verrassend eerlik oor die twyfel van die geloofshelde...

Abraham. Hy word genoem die vader van die gelowiges. Hy is ‘n geloofsheld. En tog was sy geloof nie altyd so rotsvas nie. Toe hy bang was en vir sy lewe gevrees het, het hy gelieg oor Sara en gesê dat sy, sy suster was. Toe die belofte van ‘n eie seun te lank vat het hy na Sara se verkeerde raad geluister en Hagar as byvrou gevat… Ismael is gebore en dit het groot ellende veroorsaak... (tot vandag toe nog) Maar op die lange duur het Abram volhard in die geloof en word hy as ‘n voorbeeld vir ons voorgehou in Romeine 4 en Hebreërs 11.

Johannes die Doper. Hy was die kragtige profeet van die Jordaanrivier wat met oortuiging en geloof na Jesus gewys het en gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Maar toe hy in die tronk was het daar ‘n twyfel hom beetgepak en hy het sy dissipels na Jesus gestuur om te vra : “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” (Matteus 11:3) Kan dit wees? Ja, hierdie dapper man van God het begin twyfel. Jesus het hom egter nie afgeskryf nie en hom bemoedig deur hom te herinner aan die OuTestamentiese profesieë wat in Jesus vervul is.

Ja, dissipels van Jesus (insluitend sy uitgestuurde apostels) kan twyfel oomblikke ervaar. Ons het lees in Matteus 28 hiervan  kort voor sy hemelvaart, toe Jesus vir hulle die sendingopdrag gegee het en hulle uitgestuur het na al die nasies. 


Sommige aanbid, sommige twyfel! Dis opmerklik dat Jesus nie vasgehaak het by hulle twyfel nie (Hy moes mos daarvan geweet het), maar voortgaan om hulle uit te stuur. Hy verwag maar net gehoorsaamheid. En dan maak Hy die heerlike belofte aan die wat gehoorsaam is : “En kyk Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt 28:20b)





John Bunyan
Daar is ook baie voorbeelde uit die kerkgeskiedenis van God se kinders wat twyfelwroegings ervaar het.. John Bunyan, die skrywer van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” was eerstehands baie goed bekend met geestelike stryd. Dis sekerlik juis hierdie worstelinge wat tot gevolg gehad het dat dié boek so ̕n akkurate beskrywing van die Christen se wel en weë op die pad van geloof is. Aan die einde van “Grace Abounding to the Chief of Sinners” (die boekie wat sy persoonlike getuienis bevat) maak hy ̕n paar slotopmerkings wat vir elke Christen wat deur geestelike stryd gaan tot groot bemoediging en seën behoort te wees. Ek deel die eerste versoeking wat hy noem. 



Bunyan skryf : “Van al die versoekings wat ek ooit in my lewe teëgekom het, is om die bestaan van God en die waarheid van die evangelie te bevraagteken die ergste en die ergste om te verduur. As hierdie versoeking kom vat dit die gordel van my af weg en verwyder dit die fondament onder my uit.” (Wat ‘n troos om te weet dat die sterkste Christene en geestelike reuse ook soms deur twyfel aangeval word!) Ook Luther die bekende reformator het geweldige geloofsworstelinge beleef – hy noem dit aanvegtinge.

Daar is natuurlik soorte twyfel. 

Twyfel oor die waarheid van die Bybel.  Twyfel oor die bestaan van God of oor Jesus se kruis en opstanding. Twyfel oor jou eie geloof – is dit eg? Is dit nie maar net iets wat ek van my ouers outomaties aangeleer het nie? Twyfel of ek sal kan volhard tot die einde toe? Hierdie verskillende soorte twyfel vereis verskillende benaderings, en tog is daar uiteindelik EEN OPLOSSING!*

Wat is die oplossing? 

Bring jou twyfel in gebrokenheid na Jesus! Hy verwerp geen gebroke sondaar nie, ook nie twyfelaars nie!

Dis hier waar die verhaal in Markus 9:14-29 ons baie help. Dis ‘n pa wat sy seun wat die gees van stuiptrekkings gehad het na Jesus gebring het. Hy sê vir Jesus : “As U iets kan doen, ontferm U tog oor ons en help ons.” Jesus sê toe vir hom : “As U kan? Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.” “Onmiddelik roep die vader uit : ‘Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!” (vers 24) 

Kyk mooi wat gebeur hier. Hierdie pa is eerlik oor sy twyfel. Hy glo wel, maar dit voel vir homself soos ongeloof. Hy is nie baie seker van sy geloof nie. Tog het hy die essensie van geloof gehad, al het hy dit klaarblyklik self nie besef nie - hy bring sy probleem (sy geteisterde seun) na Jesus toe! 

Om na Jesus uit te reik en uit te roep is tog die kern van geloof! 

Jesus eer sy geloof, al is dit ‘n brose en gebrekkige geloof. Hy maak die seun gesond. Hier is ‘n belangrike les – die vraag is nie hoe groot of sterk my geloof is nie.  Die belangrikste is om te weet hoe sterk, Jesus is! Jesus self is die oplossing vir al ons sonde en swakheid ook die sonde van ons twyfel. Ja, twyfel is verkeerd, maar Jesus wys nie twyfelaars weg nie. Hy skryf jou nie af as jy begin twyfel nie.


Ons het dit mos nou telkens gesien. Dink maar ook aan Thomas na die opstanding. Hy werk saggies en geduldig met Thomas. Mag ek en jy soos Thomas ook weer opnuut voor Hom neerval in aanbidding en uitroep : “My Here en my God!” (Johannes 20:28)





Net 'n PRAKTIESE WENK. Die beste teenvoeter teen twyfel is nie om te konsentreer op die twyfel nie, maar jou geloofsplantjie water te gee uit die Woord. Spandeer tyd in die Woord van God! Lees en bedink byvoorbeeld die wonderlike  Johannes evangelie met sy rykdom en fyn struktuur en nuanses. Jy sal besef dit is onmoontlik dat dit sommer net deur ‘n mens uitgedink kon wees.  Jy sal jou ook verwonder oor Jesus self en die geloof sal in jou hart begin groei! Die belangrikste -Begin net gehoorsaam raak aan Jesus selfs al is daar nog twyfelvrae wat aan jou siel knaag...

Jesus ontmoet jou in sy Woord deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees!

*As jou twyfel veral van intellektuele aard is kliek op TWYFELVRAE

Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


Donderdag 09 September 2021

PREDIKANTE WAT LIEG...

RIP/RIV - RUS IN VREDE?

Ek is bekommerd. Bekommerd oor predikante wat vir mense lieg. Bekommerd oor mense wat vir hulleself lieg. Wat is die leuen? Om vir en van goddeloses te sê : "Rus in vrede!" Dis ‘n leuen, want goddeloses gaan nie rus hê nie en ook geen vrede nie! Nie nou nie, nie in die hiernamaals nie...

VREDE

Kom ons kyk wat sê God se Woord oor VREDE.  Lees gerus Jesaja 57:14-21. Die konteks is ‘n wonderlike hoofstuk van genade, vergifnis en herstel. (Dis natuurlik gerig in die eerste plek aan die bannelinge in Babilonië) “Vrede, vrede, vir die wat naby is en vir dié wat ver is,’ sê die Here. (19) Hierdie vrede wat God beloof is nie sommer los praatjies en goedkoop beloftes nie, dis gewortel, dit groei uit God se karakter. Dit staan vas omdat God, God is. Kom ons kyk bietjie wie God is en wat beloof Hy volgens hierdie gedeelte:

God is die heilige, verhewe, heerlike God. "Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek..."  (15) God is nie soos mense nie. (reeds in Jesaja 6 kry ons met sy ontsagwekkende heerlikheid te doen…) Hy is ook nie die skepping of uitdinksel van mense nie. (so anders as byv. die Griekse gode wat net so immoreel soos die mense was, want mense het hulle uitgedink!)  God is ver verhewe bo die mens! “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” (Jesaja 55:8,9) God is hoog en verhewe, maar Hy is Hy is nie ‘n veraf en onbetrokke God nie. Hy word geraak deur die menslike ellende. Hy kry die verdruktes en nederiges jammer.

God is ‘n genadige God.  "Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie," (16) God bly nie vir altyd kwaad nie, want dit sou beteken dat alle mense totaal vernietig sou word. Dit sluit so mooi aan by Psalm 130 waar dit gaan oor die wonder van genadige vergifnis : “As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?” (Psalm 130:3) God se genade en vergifnis is ons enigste hoop tot oorlewing! Maar dit gaan oor baie meer as oorlewing en voortbestaan. God se genade stel voorheen afvallige en gebroke mense weer in staat om Hom te loof! "Ek stel hulle in staat om My weer te loof." (19)

God is die toornige God , maar ook die vertroostende en genesende God. "Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan.
Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee." (17,18) God is toornig oor sonde en Hy straf dit. Die volk Israel met wie die profeet hier praat het dit op die harde manier geleer. Hulle het dit aan hulle eie lyf gevoel. Dit het groot ellende en smart tot gevolg gehad. Spesifiek die ellende van die ballingskap. Daar in die verre land het hulle getreur. “By die riviere van Babel, daar het ons gesit, en ons trane het gevloei as ons aan Sion dink.” (Psalm 137:1) Hierdie treurendes hoor nou die goeie nuus dat God troos gaan bring. (18) En dis ‘n volledige herstellende troos wat gaan maak dat hulle God weer sal loof. (19a)


WIE GAAN VREDE ONTVANG?

Nou is die groot vraag : Vir wie is God genadig? Wie gaan sy vrede beleef? Alle mense? Ja, vir alle soorte mense ver en naby, maar daar is een voorwaarde : bekering. Ons het reeds gesien God se herstellende genade is bedoel vir die treurendes. Hulle treur en daarom is daar verootmoediging, berou en bekering. Ons sien hierdie aspek byvoorbeeld in Daniel se beroemde gebed in Daniël 9. Hy treur oor die toestand van sy volk en hierdie treur gaan saam met sondebelydenis – hy bely sy eie sonde sowel as sy volk se sonde! Treur is in ‘n sin een van die eerste stappe tot die ontvangs van vrede. Treur is ‘n eienskap van ‘n koninkryksmens. Dis waarom Jesus kon sê dat die treurendes eintlik die gelukkiges is! "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." (Matteus 5:4)  Het jy al getreur oor die toestand van die vervalle kerk van God en veral oor die toestand van jou eie bose en afvallige hart? Weet, die vrede is naby!

Aan die anderkant : Vir die wat volhard in goddeloosheid en hulle nie bekeer is daar nie vrede nie. (21) “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God. Die genade, die Goddelike amnestie gaan by hulle verby! Hulle verpas die hemelse trein! Dit stem ooreen met wat die profeet Jesaja reeds vroeër geleer het. “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:7)   Genade, vrede en bekering is onlosmaaklik aan mekaar verbind. 

Vergeet van vrede, vergeet van hemelse rus sonder bekering!

Juis omdat daar geen vrede en rus vir die goddelose is nie kom die opdrag na God se profeet in Jesaja 58:1 “…Maak aan my volk hulle oortredings bekend,…” Hoor ons nog van kansels wat sonde is…? Hoor ons nog daar is ‘n heilige God wat sonde haat? Is ons bly dat Jesus ons sondestraf op Hom geneem het? Wys die blydskap in 'n lewe van bekering?




Die vrede wat God skenk is kosbaar en heerlik. Dis ‘n vrede vir nou, dis ‘n vrede anderkant die graf, dis ‘n vrede vir ewig. Jy kry hierdie vrede nie deurdat jy ‘n foto van jouself kerk toe stuur die dag met jou roudiens nie. 




Jy kry vrede deur self kerk toe te kom, die Woord te hoor en jou tot die genadige God te bekeer weens die goeie nuus van Jesus se kruis en opstanding! So skenk Hy vir ons vrede deur Jesus ons Verlosser!