BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 17 Julie 2025

OUDERLINGE WORD VERMOOR EN ‘N OUDERLING PLEEG MOORD

 Leiding uit die lyding van die verlede (toe die helfte van 'n kerkraad in geweld sterf)

Plaasmoorde, geweld en verwoesting is algemene nuus. Maar dis nie iets nuuts nie. Dit bring ons as kinders van God sommer by ‘n aktuele vraag - HOE STERF ‘N OUDERLING?  


Ek bedoel dit letterlik.  Hoe sou ons dit hanteer en verwerk as ouderlinge en diakens (natuurlik ook ander gelowiges) brutaal vermoor word? Op watter wyse sou ek en jy self optree as ons ‘n moordenaar in die oë moet kyk wat ‘n einde aan my lewe wil maak? Hierdie is nie maar net ‘n hipotetiese situasie nie, dit was baie aktueel toe die helfte van die kerkraad van die pionier NG gemeente van  Gibeon in die suide van Duitswes (Namibië) hulle lewens op wreedaardige wyse verloor het. 

Ek deel graag met jou ietsie van hierdie gebeure soos veral opgeteken deur dr Thijs Nieuwoudt. (terloops eens op ‘n tyd ook leraar op Tsumeb) Vier van Gibeon se agt kerkraadslede is destyds vermoor – ouderlinge Smeer en Smit en diakens Booysen en Mähler.*   

Dit was die veelbewoë jaar 1904 – die tyd van bloedige opstande teen die Duitse koloniale bewind. Reeds in 1903 was daar ‘n opstand onder die Bondelswart stam by Warmbad in die suide wat redelik gou tot ‘n einde gebring word. Maar toe kom die groot moeilikheid nog. Met die meeste Duitse soldate in die verre die suide, breek die Herero opstand onder Samuel Maharero in die sentrale noorde uit. Dit sou uiteindelik bloedig onderdruk word en tot die tragiese uitwissing van ‘n groot deel van die Herero bevolking lei. Die omstrede Vernichtungsbefehl (uitwissingsbevel)  van Lothar von Trotha weerklink vandag nog in die psige van die Namibiese nasie.


Maar toe kom die derde fase. Hendrik Witbooi een van die groot Nama leiers het aanvanklik sy gewig by die Duitsers ingegooi teen die Herero’s. Na die Slag van Waterberg keer hy en sy manskappe terug. Nou terwyl die Duitsers nog in die Noorde besig is, sien hy sy kans om sy eie ideale te verwesentlik. Sy wrede plan en verwarde visie om ‘n Messiaanse Vrederyk** te verkry behels dat alle blanke manlike persone klein en groot summier vermoor moet word en die vroue en dogters uit die land gejaag moes word. (Blykbaar was sy beplande hoofaanslag nie teen die Boere nie, maar wel teen die Duitsers. In die hitte van 'n stryd loop dinge egter lelik skeef en word daar nie altyd by doelwitte gehou nie.) Soos dikwels in die geskiedenis kry bose planne ‘n christelike sousie deurdat sy profeet Ba
äl Stuurman uit die boek Jesaja aangevoer het dat die Namas en Basters die uitverkorenes was en die Blankes indringers. 



Orals in die suide kom Nama stamme in opstand en die blankes versamel in vlugtelingkampe soos by Maltahöhe, Aroab, Gibeon en Kub. (Kub is langs die Visrivier) Die gebeure by Kub is die agtergrond van W.A. de Klerk se aangrypende jeugroman, Die Gésel van Namaland. (lees dit gerus) Die NG Gemeente Gibeon (later word dit die NGK Mariental), die eerste en oudste gemeente van die NGK in Namibië spring nie die geweld, verwoesting en hartseer vry nie. Dis teen hierdie agtergrond waartydens die wrede moord op ouderling Smeer plaasvind maar juis ook  ‘n diep en egte Christelike boodskap oordra.

Oudl. Frans de Villiers Smeer, sy vrou en hulle aangenome seuntjie Jannie was per ossewa vanaf ‘n kerkgeleentheid by Kub op pad na hulle opstal op die plaas Marienthal*** wat hulle gehuur het. Volgens ‘n vertelling van mevrou Smeer het hy die oggend baie uit sy Bybel gelees en naby die huis met Psalm 42 afgesluit. Hy het ook ‘n gebed gedoen en  blykbaar ook gesê : "So Bybel, nou is ek met jou klaar.” By die huis aangekom is hy deur Namas oorrompel en is ‘n osriem om sy nek vasgemaak, Mev. Smeer is ook van die wa afgeruk met ‘n riem om die nek.  Hulle word na die polisie gebou op die plaas gelei, die polisie is reeds die vorige dag vermoor.  Smeer pleit tevergeefs vir hulle lewens. Hy versoek toe om die geleentheid te kry vir ‘n gebed. Dit word toegestaan. Hy bid hardop – ook vir sy voornemende moordenaars. Een van die Namas het begin huil en vir sy lewe gepleit, maar die leier het beveel dat hy geskiet moes word. Hy word weggelei en geskiet. Mevrou Smeer kon hom nie eens groet nie. Sy word na haar huis terug gelei en beveel om op die traporreltjie te speel sodat die Namas kon dans. Ja -Sy speel geestelike liedere maar dit keer hulle nie om te dans nie.

Hoe sterf ‘n kind van die Here in sulke omstandighede? Biddend. Ook biddend vir sy vyande. Net soos Jesus aan die kruis en  Stefanus in Handelinge. (Handelinge 7:60) Daar kan nog wrede verhale uit hierdie tydperk vertel word. Veral die grusame gebeure op die plaas Swartmodder van ouderling Hendrik Smit. Hier is ‘n massaslagting aangerig, ook onder kinders. Merkwaardig is die ontkoming van klein Dirkie Smit wat oorleef het omdat hy soos ‘n dogtertjie aangetrek was en ‘n sewejarige seuntjie wat net deur sy armpies geskiet is. Ek gaan nie hieroor uitwei nie.  My punt wat ek wil maak is nie ‘n fokus op die wreedheid en barbarisme nie, maar die belangrikheid van getrouheid aan ons Verlosser in woord en daad, juis ook in die manier hoe ons teen ons vyande optree. Geweld en oorlog is nooit goed nie, vir niemand nie – Op die ou end was dit juis die Nama volk self wat die swaarste gely het as nagevolg van Duitse weerwraak! Baie sterf. Sommiges moes uiterste weerstoestande op Shark eiland by Luderitz verduur waar hulle aangehoudenes was. Witbooi sterf self ook by Vaalgras naby Keetmanshoop op 29 Oktober 1905.




Geskiedenis, ook van ons kerk in Namibië herinner ons aan baie donker dae van die verlede, maar dit onderstreep ook juis die boodskap van hoop in ‘n stukkende somber sonde geteisterde wêreld.  Hierdie helder hoop is moontlik deur die helder lig van die evangelie van genade en vergifnis .

Hoe wreed en sinloos ‘n oorlog kan word, blyk ook uit die moord op die Duitse sendeling eerwaarde Holzapfel.**** ‘n Wa met vroue en kinders onder geleide van Nama vegters het naby Rietmond die wa van die Holzapfel gesin teegekom. Pastoor Holzapfel wou nog die mense troos, maar word afgekeer en deur ses gewapende Namas geskiet; en skrikwekkend - een van hulle was ‘n ouderling in sy gemeente. Ouderlingskap is nie 'n waarborg vir heiligheid nie! Die Bose is ook werksaam binne die kerk. Mag ons altyd waaksaam wees teen die listige planne van die Satan wat kan probeer om enigeen van ons ook te verlei!


Die evangeliese getuienis en roeping van ons kerk se pionier lidmate word pragtig onderstreep wanneer Meester Albertus Kooij die onderwyser van Kub, in die afwesigheid van ‘n predikant ‘n roudiens vir die vermoordes lei  in 1906.(die getal vermoorde NG lidmate was 29) 

Sy teks was Openbaring 7:14 “Deze zijn het, die uit de groote verdrukking komen: en zij hebben hunne lange kleederen wit gemaakt in het bloed des Lams.” 

“Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam.” (2020 Vert,)

Ons leef vandag nog steeds in die tyd van die groot verdrukking, watter vorme dit nog kan aanneem weet ons nie, maar mag ons gereed wees, gewas in die bloed van Jesus! Mag ons die genade ontvang om altyd die gesindheid van Jesus te vertoon.

 Voetnote

*Nieuwoudt, M.M; Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suidwes-Afrika, 1979, p125

** Buys, GL en Kritzinger, JJ, Salig die vredemakers, 1989, p89ev

***Die bronne verskil oor die plaas waar Smeer vermoor is. Wat dit sy eie plaas Enkelekameelboom of 'n huurplaas Marienthal? Dit sal seker maklik vasgestel kan word deur 'n ter plaatse ondersoek, want naby die opstal waar hy vermoor is, was 'n Duitse polisiepos. As jy hiermee kan help.laat weet my asseblief.

**** Nieuwoudt, M.M; Bakermat van ‘n kerkverband – Mariental, ‘n eeufees, 1998, p100

Naskrif 1 In hierdie tyd waar ek aan my video werk oor die Smeer geskiedenis, trou my dogter Marisja in Windhoek. En wie ontmoet ek by die troue? Vir Hennie Smeer 'n nasaat van die aangenome seuntjie Jannie! Dit kan sekerlik nie toevallig wees nie!

 



Naskrif 2 Die traporreltjie waarop Mevrou Smeer moes speel word in Windhoek bewaar. Ek sou graag self 'n foto daarvan wou neem, maar vir tyd en wyl gebruik ek die foto van dr. Nieuwoudt in "Bakermat van 'n Kerkverband."




Saterdag 01 Februarie 2025

MAAK DIE MAAGDELIKE GEBOORTE REGTIG SAAK?

 


In ‘n onlangse woordewisseling tussen predikante van die NGK in Namibië op ‘n Whatsapp groep het hierdie saak weer ter sprake gekom. Daarom die belangrike vraag wat elke gelowige en spesifiek ook elke bedienaar van die Woord in selfondersoek moet vra : Glo ek in die maagdelike geboorte van Jesus ons Verlosser? Moet ek glo in Jesus se geboorte uit die maagd Maria, ‘n jong meisie wat nie geslagsgemeenskap gehad het nie? Ja, beslis! Dis deel van die kern belydenis van die historiese Christelike kerk van die vroegste tye af. Dit word immers duidelik verwoord in die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis (Twaalf Artikels)

“Ek glo in Jesus Christus sy eniggebore Seun, wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria...”

Nou waarom is hierdie ‘n ononderhandelbare deel van die Christelike belydenis?

Ons hoef nie hieroor te spekuleer nie, die Heidelbergse kategismus is glashelder oor hierdie leerstelling.

SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 35

Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly , die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het . So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid , in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde .

SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 36

Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

Kortliks kom dit daarop neer dat Jesus se verwekking sonder menslike toedoen en sy geboorte uit ‘n maagd die heerlike implikasie het, dat Hy waarlik God is, maar ook waarlik mens en tog sonder sonde. So kwalifiseer Jesus op unieke wyse om ons enigste Middelaar en volkome Redder te wees!

Net baie belangrik – natuurlik is Jesus se maagdelike geboorte nie gegrond op kerklike tradisie en belydenisse nie – dis die direkte lering van die Skrif.

Kom ons kyk net weer na ‘n uittreksel uit die aangrypende gebeure in Lukas 1 en 2. (Ons vind dit natuurlik ook in die Matteus geboorte geskiedenis waar dit vanuit die Ou Testament bevestig word) Die engel Gabriël kom na die niksvermoedende jongmeisie Maria en maak die aankondiging oor die geboorte van seun van die Allerhoogste God! Natuurlik is Maria totaal onkant gevang en verstom.

Lukas 1:34,35

34. Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?”

35. Die engel het haar geantwoord:

“Die Heilige Gees sal oor jou kom

en die krag van die Allerhoogste

sal jou oorskadu.

Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;

Hy sal Seun van God genoem word.

Die verloofde meisie Maria weet genoeg van biologie om te besef dat sy nie swanger kan wees nie. (Daar was nog destyds meer respek vir die uniekheid van die huwelik as in vandag se houvrou/saambly kultuur)  Die engel gee vir haar die antwoord en oplossing van die raaisel.

Opvallend dat die heilige Drie – eenheid hier so treffend ter sprake kom. “Heilige Gees, krag van die Allerhoogste, Seun van God”

Dis skokkend dat sekere teoloë en predikante selfs binne die NGK nie meer hierdie waarheid glo nie.  Hulle afgryslike suggestie (deur woorde of deur implisering) is dat Maria maar ‘n “stout Joodse meisie” was wat oor die tou getrap het. Dis natuurlik ‘n baie ou aanval op Jesus self.  Hierdie denkwyse binne ‘n kerkverband wat nie meer aan die Skrif getrou is nie en onbeholpe voorkom as dit kom by sake soos geslag, huwelik en seksualiteit behoort ons nie te verbaas nie. Die oorsprong van hierdie betwyfeling van God se Woord is die Satan self. Die slang wat vir Eva aan God se Woord wou laat twyfel werk hard om mense selfs binne die kerk, die maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding van Jesus te laat bevraagteken.

As iemand die maagdelike geboorte van Jesus verwerp, verwerp hy ook die uniekheid van Jesus as Seun van God – hoe so ‘n persoon dan nog kan beweer dat hy in die histories liggaamlike opstanding sou kon glo is moeilik te verduidelik. Dan kom die hele evangelie en ons verlossing in gedrang.

Bevraagtekening van kern Christelike leerstellings moet ons verontrus en verontwaardig maak. Dit kom neer op lastering teen die Heilige Maagd. Sy is ‘n besonder begenadigde, sy speel ‘n baie belangrike rol in ons geloofslewe soos die belofte van die engel aan haar dit bevestig het. (Terloops, dis nie om dowe neute dat die antieke kerk, Maria,  die Ark van die Nuwe Verbond (kliek) genoem het nie. Dis nie uit die duim gesuig nie, maar het ‘n sterk eksegetiese basis.) Maar dit gaan nog verder, wie Maria laster, laster ook haar Seun en verwerp die verlossing wat Hy vir sondaars gebring het!

Teoloë en predikante wat die maagdelike geboorte van Jesus verwerp, behoort die eerbare weg te volg en summier te bedank uit die kerk.

Woensdag 01 Januarie 2025

‘n Rowwe roete wat ek nog nooit gery het nie!


Die nuwe jaar lê soos ‘n onbekende pad voor ons, ‘n rowwe 4x4 roete wat ons nog nooit gery het nie... (En nie eens Nostradamus, Baba Vanga of Siener van Rensburg kan vir ons vertel wat gaan gebeur nie.) 




Die NUWE JAAR maak jou miskien baie opgewonde, maar dalk ook bang en vreesbevange....daar wag moontlik moeilike bulte, skerp draaie, vurk paaie wat my laat twyfel oor die regte rigting, vreugdes, verrassings, gevare, vol riviere van hartseer of teleurstellings, eensame vlaktes van worsteling en verlatenheid, maar gelukkig tog ook heerlike rusplekke en die aanmoediging van medereisigers... Maar bo alles, dis op hierdie pad wat die kind van God, uitroep – “Here, as U nie saamgaan nie, kan ek nie verder gaan nie!”  

Dit was natuurlik ook die hartskreet en versugting van Moses destyds op die trekpad na die beloofde land Kanaän geuiter het. (Eksodus 33:15 - jy kan gerus hierdie aangrypende hoofstuk biddend deurlees!) 




Vir Moses het dit egter oor baie meer gegaan dat God maar net ‘n veilige reis moes waarborg – Dit het gegaan oor die sin van die lewe self, die wese van ons bestaan as mense. Hoor wat sê Moses in vers 13 : “Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë, besef tog dat hierdie nasie u volk is.”
 

Miskien moet ons net vinnig terug gaan na die agtergrond van Moses se hartstogtelike gebed tot God. Op hierdie stadium het God reeds sy volk met ‘n kragtige hand uit die slawerny van Egipte verlos, die volk het reeds die wonders van God se beskerming en versorging ervaar... manna en kwartels. Hulle was nou by die berg Sinai waar God sy wet aan Moses bekend gemaak het- als so heerlik en wonderlik – maar daar is ook ‘n afgryslike donker kant – die volk met die kort geheue en die bose harte het ‘n goue kalf gemaak en afvallig geword. Ondankbaar, ongelowig, hardnekkig... 

Dit het God se toorn laat ontbrand, soveel so dat Hy die volk wou vernietig en ‘n nuwe volk uit Moses begin. (Eksodus 32:9,10) 




Dit het Moses diep ontstel en hy het vurig by God gepleit op grond van God se beloftes aan Abram, Isak en Jakob. En ja, God is ‘n Hoorder van gebed. Hy verhoor Moses se gebed en dan lees ons iets verbysterend – 32:14. Gebed het God se hart gedraai – moenie vir my vra om dit te probeer verduidelik nie, maar dis presies wat gebeur het! God besluit om nie meer die volk te vernietig nie! – in antwoord op gebed! 

Moet nooit ophou bid en smeek nie!

Maar dis nog nie die einde van die storie nie, God het wel besluit om nie die volk te vernietig nie – al het Hy hulle inderdaad swaar gestraf, maar Hy het gesê Hy gaan nie meer saam met hulle trek nie, Hy sal net ‘n engel saamstuur. En die rede waarom God nie saam  met hulle wou trek nie, was juis dat sy heiligheid hulle sou vernietig, want hulle was ‘n hardnekkige onheilige volk! En dis hier waar Moses opnuut weer by God gepleit het. (15) Moses weet dat hulle dit nie durf waag om verder te gaan as God se teenwoordigheid nie met hulle is nie!

Vriende, ek en jy kan nie, ons durf nie waag om sonder God ons lewensreis voltooi nie, ook nie die skof van hierdie jaar nie! En dit gaan nie bloot oor die Here se hulp en versorging in hierdie jaar nie – dit gaan oor die kern doel en sin van ons bestaan! Wat maak hierdie onbekende jaar sinvol en die moeite werd?  Waaroor gaan ons lewe hier op aarde?? 

Om God te ken! Dis die sin van my aardse bestaan! Als gaan oor Hom! 

Dit gaan daaroor om sy heerlikheid raak te sien. Dis die passievolle hartsbegeerte van Moses. (18!) Onthou, God alleen is oneindig, onuitputlik heerlik!



NUWEJAARSVOORNEMS? Jy weet, hier aan die begin van die jaar kan ons baie mooi doelwitte en ideale hê. Party is realisties, ander dalk naïef...maar daar is baie goeie dinge en doelwitte waarna mens kan streef. Ons het egter een, net een doelwit hier op aarde wat bo-alles belangrik is – om God te ken. Dis waarvoor ons op aarde geplaas is. Om God te ken en Hom te bewonder en ons in Hom te verlustig, ons vreugde en vrede in Hom te vind. Hy kan en sal jou nooit verveel nie... tot in alle ewigheid.

Dalk wonder jy nou- hoe kan ek God leer ken, hoe kan ek sy heerlikheid sien? Dit was ook vir Moses ‘n probleem. (20) 



Hierdie dilemma bring ons by die evangelie van ons Here Jesus Christus. Johannes skryf in sy proloog oor Jesus – die Woord wat mens (vleis) geword het – 14, 18!  




Moses moes na die tent van samekoms gaan (sien Eksodus 33:7-11) om die heerlikheid van die Here te ervaar en Hom te raadpleeg. Jesus, die Woord wat vlees geword het het onder ons kom woon, skryf Johannes. Die Griekse woord wat ons met "woon" vertaal beteken letterlik, "tent opslaan." Heerlik nê? 

Die heerlikheid van God word nou in Jesus openbaar! As ek Jesus as my Here aanvaar het, begin ek die heerlikheid van God ken en sien. In Jesus se wonders en optredes begin ek leer wie God is en hoe God is – ek leer ken sy waarheid en genade persoonlik. Dis veral wanneer die kruis gebeure vir my sin begin maak dat ek begin besef – hoe oneindig heilig God is, maar ook hoe oneindig genadig en barmhartig is. Saam met hierdie wonderlike God sien ek kans vir die nuwe jaar met al sy bulte en draaie. Saan met Hom is dit ‘n avontuur. Saam met Hom is dit nog steeds nie altyd maklik nie, want Hy plaas ons in ‘n leerskool – dikwels ‘n baie harde leerskool net soos die woestyn reis van die Israeliete, maar saam met Hom weet ek, ek is vir seker op pad na my ewige Vaderland, waar ek vir altyd my sal verlustig in die heerlikheid van God. Waar ek vir altyd Hom wat op die troon is en die Lam sal aanbid!

Mag ek en jy in gehoorsaamheid aan Jesus, God ons Vader baie diep leer ken in hierdie jaar! Kom ons weet God gaan saam met ons. Hy gaan saam met ons nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat Jesus ons Middelaar vir ons pleit. Moses het vir die volk gepleit en God het gehoor. Jesus pleit vir ons by die Vader!

Kliek : JESUS PLEIT VIR ONS BY DIE VADER